Kuberklas Kreatief-kortverhaal: 'n Tyd om te lewe

  • 1

Drup. Drup. Drup. Klik klak. Klik-klik klak. Iewers gaan ’n babatjie aan die huil. Iemand hoes heftig. Weer die klik-klak van ’n trollie wat die gang af gestoot word. Ek sug en staar na die plafon. Dis nooit stil hier nie. Tog is die geluide nog meer onheilspelend as enige stilte. Ek wonder vir ’n oomblik wat gebeur as ... Nee, liewer nie nou daaraan dink nie. Ek skiet ’n geirriteerde blik na die drup langs die bed wat aanhoudend ’n sagte geluid maak. So asof die ding my uittart, so asof hy weet dat ek van hom afhanklik is. Ek haat dit om van iets afhanklik te moet wees. Dis ’n pes om op iets, of iemand, te moet staat maak. Dit voel deesdae of alles en almal daarop uit is om my in die steek te laat. My gedagtes word onderbreek deur stemme in die gang voor die deur, dan word dit oopgestoot. Ek draai my kop weg. Wat soek hulle nou weer? Die vrou se boepie staan ’n myl ver, en die man hou ’n gerustellende hand op haar skouer. Hulle albei lyk moeg, maar tog is daar ’n vreemde geluksaligheid waaraan ek nie deel het nie in hulle houdings. Die vrou plaas ’n hand vertroostend op haar maag, streel daaroor. “Ons het kom kuier, liefling.” “Ek het mos gese Pa’le hoef nie te kom nie. Ek kan na my self kyk,” brom ek vies. Hoekom spandeer hulle nie liewer hulle tyd in die baba-afdeling nie? Dis mos waar hulle eintlik wil wees. My pa sug. Ek draai my kop om beter na hulle te kyk. Dis nie dat ek hulle wil sien nie, maar hulle het nou die moeite gedoen om te kom, so ek kan hulle seker nie ignoreer nie. “Hoe voel jy?” wil my ma weet, en steek ’n hand uit om oor myne te streel wat bleek en maer op die kant van die bed le. Ek ruk vinnig weg. Te vinnig. Ek byt op my tande om nie die pyn te registreer wat saam met die beweging kom nie. My ma maak of sy dit nie sien nie, verplaas bloot haar hand en streel my haarlose kop. “Ons ... het dalk goeie nuus,” sê sy na ’n ruk van stilte en ek verstrar. Ek wil nie nog “goeie nuus” hoor nie. Een keer was genoeg om my lewe te verwoes ...

“Lorret, ons het goeie nuus ... nee ... wonderlike nuus.” Ek kyk my ma en pa vol opwagting aan. Het ons ’n vakansie Mauritius toe gewen? Miskien ’n Celine Deon-konsert in Times Square? Of iets meer plaaslik, soos ’n naweek weg by ’n luukse oord in Kwa-Zulu Natal? Die opsies is eindeloos. Ek brand van nuuskierigheid. Sê dit net, smeek ek met my oë. Hulle kyk mekaar aan soos twee stoute kinders wat weet dat hulle in die moelikheid is en hoop om darem nie te swaar daarvoor gestraf te word nie. “O,” begin my ma senuweeagtig, en dit lyk of haar opgewondenheid die dak gaan tref as sy dit nie vinnig uitkry nie. “Ons weet dit is skielik, en glo my, ons het dit ook nie verwag nie. Wel, dis soos jy weet eintlik totaal onmoontlik. Maar, Lorret, raai wat? Jy gaan ousus word!”

My mondspiere verslap sodat ek hulle aangaap. Ek vergeet vir ’n oomblik hoe om asem te haal. Stadig begin die woorde deur my kop druis. Dit maak glad nie sin nie. Ousus? Wat beteken dit? Ek vat skielik ’n groot asemteug, want dis op daardie staduim wat my lyf besluit dat hy nou te lank sonder asem was. Die wêreld begin weer meer sin maak.

Dan bars iets binne my soos ’n stoompot wat se deksel te lank op was. Ek is briesend. “Hoe ... Nee. Jy kan nie ... HOE KAN JY DIT AAN MY DOEN?!” My oë rek en ek spring van die bank af op. Sy kan nie swanger wees nie. Die woord proe soos aalwynsap in my keel. Ek is haar enigste kind! En dit moet so bly! Ek soek nie ’n klein snotneus, spoiled brat babatjie in die huis om ons lewens oor te neem en te veroorsaak dat niemand ’n oog kan toemaak in die nag nie, en dit sal maak dat niemand meer in my belangstel nie! Ek het al te veel boeke gelees, en flieks gesien, waar dit gebeur. Die oudste kind word altyd verstoot en die babatjie word alleen op die hande gedra. En ek kan dit boonop nie verstaan nie. Vir sestien jaar is ek my ma en pa se sonskyn, die een persoon wie hulle die liefste het op aarde. Ek weet dit oor hulle dit elke dag vir my sê. En wat van die geld wat dit kos om ’n ekstra lyf groot te maak? Gaan ek my dansklasse en my kitaarlesse moet los om vir daardie ... ding te help betaal? Nee. Uh-uh. Ek dink nie so nie! Ek gluur hulle aan. Hulle het sopas my hele lewe verwoes! Want dis niemand anders se skuld as hulle s’n nie! En hoe is dit in elk geval moontlik? Na my het die dokters vir my ma gesê daar is geen manier wat sy ooit weer kan swanger raak nie. Haar skildklier is uitgehaal en sonder daardie klier is dit totaal onmoontlik. Nie eens met behandeling is dit ’n moontlikheid nie! Hoe dan?

Hoe?! Hoe kan sy dit aan my doen? Sy is nog altyd die een persoon waarmee ek alles deel. Met wie ek oor enige iets kan praat. Ons doen altyd alles saam. Mense sê dikwels ons is meer soos vriendinne as ma en dogter. En nou gaan dit seker alles tot niet gaan. Sy gaan net oë hê vir daardie baba en sy gaan te besig wees om met my te praat, want ’n baba is mos ’n vier-en-twintig uur werk.

Al hierdie gedagtes maal binne ’n sekond deur my kop en hulle sit my bekommerd en aankyk. “Lorret....?” begin my ma en frons. Ek skud net woordeloos my kop en vlug na my kamer toe. Nou wil ek net alleen wees. Dit is seker maar hoe dinge van nou af gaan wees. Ek gaan totaal en al alleen wees. Ek kan net sowel my goed vat en loop. Ek is darem oor twee jaar volwasse. Die beeld van my ma as my held is stadig besig om te verbrokkel. Sy het my nie eens vertel dat sy vermoed sy is swanger nie. Wanneer het hulle getoets? Vandag? Was hulle selfs by die dokter sonder my? Soveel vra en nog meer woede. Ek val op my bed neer en staar na die dak. Dis nie reg nie. En my ma is al veertig! Sy is te blerrie oud om nog ’n kind te hê! Ek ken niemand anders wie se boetie of sussie sestien jaar jonger as hulle is nie! Hoe gaan dit lyk? Teen die tyd wat ek my eie kinders het gaan my ma nog ’n skoolleerling in die huis hê wat hulle oom of tannie is. Nee. Dit werk mos nie so nie. Dit gaan vir my totaal teen die norm. Mense het kinders ’n paar jaar uitmekaar en dan is dit klaar. Een val nie net sommer uit die lug uit nie! Veral nie as dit onmoontlik is vir daardie spesifieke paartjie om nog kinders te kry nie! Ek sal ook nie my kamer opgee nie! Hulle kan dit vergeet. Of miskien sal ons dan moet trek ... Maar hierdie is al my hele lewe lank ons huis! Ek wil nie trek nie! Ek wil nie ... Daar is baie wat ek nie wil nie. Meeste van alles wil ek nie dit aanvaar nie.

Ek trek my gesig op ’n plooi. Die herinnering dateer al amper agt maande terug. Dit is moeilik om te glo hoe die tyd verby gaan. Daardie dag het ek besluit om nooit weer op enige iemand staat te maak nie. Veral nie my ouers nie. Want kyk net hoe het dit uitgedraai! Ek was my hele lewe afhanklik van hulle en het nooit gedink aan die gevolge as iets gebeur om dit te verander nie. Die drup tart my nog steeds. So ook my ma en pa se uitdrukkings.
“Ek wil dit regtig nie hoor nie,” fluister ek en kyk na die vloer. Die bed waarop ek lê, die bed wat my vasgekeer laat voel, is een van daardie hoe affêres met staal relings langs die kant en die ongemaklikste matras wat jy in jou lewe al op moes lê.
Daardie gedagte verskuif my aandag na my ongemak. Ek vroetel, karring met my blou en wit jurkie se mou, wat alreeds besig is om uit te rafel weens die alewige getorring. Wel, ek moet iets doen om myself besig te hou, anders was ek al lankal van my trollie af. As dit nie soveel moeite geverg het nie sou ek die hele dag eerder op en af in die gang gepeins het, want dan sou ek my frustaries meer effektief kon uitwerk. As ’n mens so geanker is op ’n bed voel dit of alles net opkrop en daar geen uitlaatkans is nie. En die ergste is dat niemand dit blykbaar verstaan nie. Nie eens my ouers nie. Al woorde wat hulle deesdae verstaan is doek, bottel en kraaminrigting. Nie die woorde wat hulle eintlik moet verstaan nie. Belangrike woorde vir hulle, maar dis nog in die toekoms. Hulle moet aan woorde dink wat nou belangrik is. Vir my. Woorde soos chemo en leukemia en ... en ... doodgaan.

“Dokter dink tog nie daars iets ernstigs fout nie?” “Dis nog te vroeg om te sê, Mevrou Alberts, ons sal oor ’n week die uitslae van die toetse hê en dan sal ons dit van daar af vat.” Ek kan sommer aanvoel Dokter Mills soek my nie in die vertrek nie. Al gaan dit oor my toekoms wil hy dit nie eens met my praatl nie. Wel, ek gaan hom nie die satisfaksie gee nie. As hy my wil uit hê, dan sal hy my moet uitgooi. Ek vou my arms voor my bors. My ooglede voel swaar en ek gaap. Dokter Mills staan op, ons ook. Word by die deur uitgeboender. Kar toe. Iewers tussen die spreekkamer en die huis moes ek aan die slaap geraak het, want dis al donker toe ek in my kamer op my bed wakker word.

Dit het drie maande gelede begin. So ’n paar weke na my ma en pa die aaklige nuus gebreek het. Ek het gedink dis die ergste. En toe word ek siek. Dit was eers net ’n verkoue. Toe begin ek erger voel. Seker maar griep, het almal gedink. Ek het na ’n ruk darem beter geword, maar duskant twee weke het dinge drasties vererger. Ek het die oggend wakker geword met ’n spierwit gesig en donker swart kringe onder my oë. Dis die eerste keer wat ek agtergekom het dat ek gewig verloor het, want skielik het my skoolrok nie meer reg gepas nie. Dit was vir my vreemd. Darem het ek nie siek gevoel nie. Maar toe begin dit regtig. Die hele skool was op die vierkant saamgedrom vir aankondigings toe ek skielik vreeslik moeg begin voel het, asof ek ’n pakkie slaappille gesluk het. Ek het my eers nie daaraan gesteur nie. Seker nog ’n maand het verbygegaan. Ek was nie seker of my ma bekommerd was nie, want ek het baie erg begin lyk ... en voel. Maar dit het gevoel of sy my nie eens raaksien nie. Sy’t net heeldag en aldag vir die baba beplan. Sy was op daardie tyd vyf maande swanger. En toe een oggend, sonder enige waarskuwing of aanduiding dat daar wel iets verkeerd was, val ek op pad kar toe flou. Toe ek bykom was ek so bleek en bewerig dit het gevoel of ek dae laas iets geëet het. Die flouvallery het blykbaar my ouers se aandag getrek. Want na drie maande van so lyk en so bitter moeg voel, het hulle uiteindelik besluit om my dokter toe te vat. Ek het hulle nie vertel van die kere by my dansklasse wat ek ook amper flou geval het, of by atletiek-oefening wat my neus vir geen rede begin bloei het nie. Ek het hulle van niks vertel nie. Ek kon nie verstaan dat hulle nie self kon agterkom dat iets fout was nie. Want ek het. Ek kon dit in my hart voel. Daar was iets met my fout wat baie erger was as net ’n verkoue of die yuppiegriep. Na ons by die dokter was, het dinge vererger. Ek het sommer ’n hele week se skool gemis en in my bed gelê. My ma het wel vir my glase koeldrank en peuselhappies aangedra, maar ek was nie lus vir haar geselskap nie. In my oë was sy die verraaier van ouds. Want al waaroor sy kon praat as sy wel met my gepraat het, was oor haar ”wonderwerk-babatjie”. Sy sou net aangaan en aangaan oor hoe opgewonde sy was en hoe sy en Pa nie kon glo dat dit moontlik is nie en dat sy naam Josh gaan wees, omdat dit beteken dat die Here hom vir haar gestuur het en blah blah blah. Ek het nie meer aan sulke goed geglo nie. Miskien was ek besig om dood te gaan. Hoe werk dit? Gee die Here dan vir haar die nuwe kind in my plek? Ek kon nie sien hoe dit regverdig kan wees nie. Of het Hy geweet dat sy net plek in haar hart het vir een kind, en toe sy swanger raak het Hy sommer besluit dat ek nou maar moet doodgaan sodat sy vir die ander kind kan lief wees? Die uitslae van my bloedtoetse was ’n week later beskikbaar. “Lorret, ek wil gou met Mamma en Pappa praat, sal jy buite wag?”. Dokter Mills vra dit op so ’n manier dat ek nie kan weier nie. Ek weet sommer. Dis nie goeie nuus nie. Ek huiwer wel ’n oomblik in die deur. “Dit sal nie lank vat nie, skat,” sê hy, en ek draai om en klap die deur agter my toe. Skat? As ek nie so moeg was nie het ek hom vertel wat ek daarvan dink. Byna vyf en veertig minute later gaan die deur weer oop. Intussen het ek op die koue vloer gaan sit met my kop op my knieë. “Nee, dit het glad nie lank gevat nie,” dink ek vies. My ma en pa lyk albei wit ... amper so wit soos wat ek nou permanent lyk. “Liefie, ons moet gou huis toe gaan en vir jou ’n paar goedjies kry. Hulle wil jou ... deur die nag observeer by die hospitaal, ok?” Dis my pa wat praat, maar dit voel of alles in ’n dwaal gebeur. “Ek’s fine, ek hoef nie hospitaal toe ... ”. Al drie volwassenes gee my ’n hartseer kyk en ek weet dat ek nie fine is nie.

En hier lê ek nou. Drie maande later en niks het verbeter nie. Die chemo maak dit net erger. En ’n week gelede het die ergste nuus gekom. As ek nie binnekort ’n beenmurgoorplanting kry nie, gaan ek nie oorleef nie. Dit is die heel moeilikste om aan te dink. En daar is niemand in my familie wat die geskikte beenmurg het nie.
Ek was so lank in my gedagtes vasgevang dat ek myself amper in ’n koma in skrik toe die glasdeur weer oopskuif en Dokter Mills die vertrek binnestap. Hy glimlag vir my, knik in my ouers se rigting. “En, het julle haar al vertel?” wil hy weet. O, so hy deel in die goeie nuus? “As dit iets met die baba te doen het, gaan ek skreeu,” dink ek. Ek wil niks meer van die baba hoor nie. Dis sy skuld dat ek gaan doodgaan.
“Nee. Sy ... is alweer omgekrap,” sê my ma en frons weer. “Nou, dan sal ek sommer vir haar sê.” Ek trek my oë op skrefies, voorbereid op die ergste. “Ons het iemand ... eintlik iets, wat jou lewe gaan red,” sê hy sag. Ek kan myself nie keer nie. “Wie? Wanneer? Hoe?” Skielik klink dit regtig nie soos slegte nuus nie. Dit is hierdie keer werklik goeie nuus. Ek kyk van die dokter na my ouers. Dit is duidelik dat hulle in my opwinding deel. Snaaks, want ek het nie gedink hulle kan opgewonde wees oor enige iets behalwe daardie ...
“Stadig. Wel, ek is spyt dat ek nie voorheen daaraan gedink het nie ... ” begin Dokter Mills en ek wens hy wil net tot die punt kom. Dis my toekoms op die spel en hier staan en rek hy dit so uit. “Ons gaan jou bababoetie se naelstring gebruik vir die murg wat jy nodig het! Indirek gaan hy ons skenker wees! En om te dink dat my een pasgebore wonderwerkie my spesiale meisiekind gaan red! Is dit nie great nie, liefie?” spring my ma die dokter voor, so vinnig soos ’n sneltrein wat besig is om van die spoor af te foeter.
My mond word kurkdroog en ek voel hoe trane oor my wange glip. Skielik is dit asof ’n berg van skaamte en berou oor my kom. Ek kyk na my pa. Ek kyk na my ma, waar daar ’n klein wonderwerkie wag wat my lewe kan red. Gaan red.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top