In ’n Tanzaniese tronk

  • 2

Sibongile Ndashe, ’n bekende Suid-Afrikaanse menseregteprokureur, is onlangs saam met nog ’n regsverteenwoordiger en hul kliënte in Dar es Salaam in hegtenis geneem.1

Hul misdryf? Volgens die polisie het hulle homoseksualiteit promoveer. Volgens ISLA, Institute for Strategic Litigation in Africa, waarvan Ndashe die uitvoerende direkteur is, was sy besig om te konsulteer ter voorbereiding van ’n hofgeding om die Tanzaniese regering te verhoed om gesondheidsorg, onder andere vir MIV-positiewe persone, te beëindig. Die enigste afleiding is dat die Tanzaniese owerhede nog steeds glo dat MIV en Vigs homoseksuele siektes is, iets wat in die res van die wêreld, en selfs in ander dele van Afrika, lankal as ’n gevaarlike mite ontmasker is.

Volgens ISLA is daar nie ’n misdryf soos promovering van homoseksualiteit op die Tanzaniese wetboeke nie, en hulle voer dus aan dat Ndashe onwettig in aanhouding is. Die feit dat sy, en die ander, teenstrydig met die Tanzaniese grondwet nie binne 24 uur voor ’n hof gebring is nie, versterk ISLA se argument. Dit help Ndashe egter maar min. Ten einde ’n regsargument te kan bring moet sy voor ’n hof gebring word, en dit gebeur nie.

Om in ’n vreemde land in aanhouding te wees moet seer sekerlik enigeen se ergste nagmerrie wees. Die oomblik as ’n mens immers voet in ’n ander land sit, onderwerp jy jouself aan die regstelsel en die norme van daardie land. Daar is vroeër vandeesweek juis berig oor ’n Britse burger wat in die Midde-Ooste tot gevangenisstraf gevonnis is nadat hy aan ’n ander man se heup gevat het. Ter verdediging het hy aangevoer dat hy wou keer dat hy nie sy bier stort nie. Toe word hy op sy eie weergawe ook daarvan aangekla dat hy alkohol misbruik het.

Dis dan wanneer mens regtig steun op jou land se ambassade. Ek wonder of die Tanzaniese polisie daaraan gedink het, of daarvoor omgegee het, dat hulle ’n internasionale insident veroorsaak met die volgehoue aanhouding.

In terme van aanvaarde diplomatieke praktyke moes Tanzanië dadelik die Suid-Afrikaanse ambassade in kennis gestel het dat twee van hul burgers in aanhouding is. Hulle moes verder die ambassade toegelaat het om met die burgers in aanhouding in verbinding te tree.

Volgens berigte is die ambassade wel in kontak met Ndashe.

Die Suid-Afrikaanse regering was nog altyd baie versigtig daarvoor om nie in te meng in ’n ander land se regsprosesse, of om voorskriftelik of onnodig krities skyn te wees in die wyse waarop hulle optree nie. Veral in die konteks van die Afrika-Unie, en die feit dat daar uitstekende verhoudinge tussen Suid-Afrika en Tanzanië is, verwag ek dat hulle ekstra-versigtig sal wees om nie in te meng nie. Die goeie verhoudinge is natuurlik ook ons beste hoop op goeie diplomatieke uitkomste in hierdie saak. Dit verstom my egter dat Tanzanië skynbaar nie dieselfde omsigtigheid aan die dag lê nie.

Ons kan net hoop dat die ambassade besig is om hard agter die skerms te werk om ’n diplomatieke oplossing te vind.

Daar is ook ’n ander kant om in ag te neem. Ndashe is in hegtenis geneem terwyl sy kliënte oor hul regsposisie geadviseer het. Om haar, en haar kliënte, in die tronk te stop, is die grofste vorm van intimidasie wat daar kan wees. Die boodskap wat die Tanzaniese regering nou uitstuur, is baie duidelik: kritiseer ons of tree teen ons op tot jul eie nadeel. Regsverteenwoordigers sal nou twee keer dink voordat hulle regsaksie teen die regering begin. Burgers sal lank en hard nadink voordat hulle hul regering kritiseer.

Dis hoe demokrasie treetjie vir treetjie in tirannie omskep word.

Dink byvoorbeeld wat sou gebeur indien ons regering die EFF of die DA of enige van die ander opposisiepartye wat regsaksie teen die regering begin, met regsverteenwoordigers en al, sou toesluit. Dink wat sou gebeur indien daar nie die vryheid was om op wettige wyse, deur die howe, aksie teen die regerende party in te stel nie. Dink wat sou gebeur as nie een van die regsoorwinnings wat die afgelope tyd in ons howe behaal was, gebeur het nie omdat prokureurs te bang was om die sake voor die hof te bring.

Dis hoekom daar soveel protes teen Ndashe se arrestasie was. Dis hoekom daar hierdie week protesaksie by die Tanzaniese ambassade in Tshwane gehou word. Dis hoekom #FreeSibongile oral op sosiale media te sien is. Dis hoekom ek, en vele ander, ’n petisie geteken het wat vra dat sy en die ander aangehoudenes vrygelaat moet word.

Die oomblik as regsverteenwoordigers nie meer met vrymoedigheid sake kan aanneem nie, dan is intimidasie van regters ook nie ver agter nie. Die oomblik as regters nie “without fear or favour” kan regspraak lewer nie, is demokrasie in sy kanon in.

Ons kan nie bekostig dat een enkele land in Afrika hulle demokratiese beginsels prysgee en hul burgers onderdruk nie. Ons kan nie een oomblik rus en ophou druk toepas op ons eie regering om diplomatieke oplossings te vind en ons burgers in ander lande te beskerm nie.

As ons op ons louere rus en toelaat dat wat hierdie week in Tanzanië gebeur, die nuwe normaal word, dan is dit nie lank voordat ons ook in Suid-Afrika pogings sal sien om ons regstelsel te intimideer en manipuleer nie.

1 Ndashe is op 26 Oktober op borg vrygelaat en op 27 Oktober gedeporteer.

  • 2

Kommentaar

  • Afrika en demokratiese beginsels werk maar moeilik saam. Dubbele standaarde wie veroordeel word. Kyk maar in ons eie land wie kry die swaarste straf vir dieselfde oortredings en wie loop skotvry vir menseregtevergrype.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top