’n Taalplan vir Afrikaanse skole: ’n reaksie

  • 6

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

Ek verwys na die berig ’n Taalplan vir Afrikaans, waarin Theuns Eloff ’n toekomsvisie gee oor hoe Afrikaanse onderwys deur middel van private Afrikaanse skole behou kan word.

Ek stem tot ’n groot mate saam met Eloff, want Afrikaanse onderrig getuig van uitnemendheid. Afrikaanse openbare skole presteer goed en lewer ’n groot bydrae tot die verhoging van die nasionale matriekslaagsyfer. Die toppresteerders word jaarliks deur Afrikaanse skole opgelewer en is weer eens ’n bewys dat moedertaalonderrig die antwoord vir gehalte-onderrig is. Die toppresterende onderwysdistrikte in die Wes-Kaap, asook nasionaal, is byna jaarliks Eden/Karoo, Wynland en Overberg — almal Afrikaanse skole in Afrikaanse gemeenskappe.

Afrikaanse skole in agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe gaan gebuk onder ’n magdom uitdagings. Skole beskik nie altyd oor basiese studie- en onderrigmateriaal nie, en het dit ’n uitwerking op die akademiese prestasies van hierdie skole. Ondersteuning vir hierdie openbare skole, waarvan die grootste persentasie in die Wes-Kaap geleë is, is uiters belangrik vir die oorlewing van Afrikaans. Skoolbeheerliggame moet duidelikheid hê oor hul rolle en funksies, asook hul regte en magte, soos vervat in die Suid-Afrikaanse Skolewet. Daar moet ’n bewuswording by ouers gekweek word om hul grondwetlike regte uit te oefen as dit kom by besluitneming van wat in die beste belang van hul kinders of die skole in hul gemeenskappe is.

Ek twyfel egter of die daarstelling van ’n private Afrikaanse skool in hierdie gemeenskappe groot aftrek sal kry of byval sal vind. Dit is ’n proses wat beslis met omsigtigheid bestuur sal moet word. Faktore wat in ag geneem moet word, is waar die skool geleë gaan wees, wie die onderwysers sal wees en hoe die toelatingsvereistes (buiten die feit dat die leerders Afrikaans moet wees) sal verskil van dié van Afrikaanse openbare skole. Die daarstelling van ’n skool is ’n groot belegging in ’n gemeenskap. Die inkoop van die gemeenskap sal verkry moet word en daar sal spesifiek genoem moet word hoe ouers die skool gaan befonds sodat dit op lang termyn volhoubaar kan wees. Ouers sukkel tans om hul skoolgelde te betaal en baie van hulle doen aansoek om kwytskelding van skoolfgelde, wat dan deur die onderwysdepartement verreken word tot die toewysing aan die skool.

Die demografiese samestelling van die personeel van so ’n private skool sal ook die diverse realiteit van die Afrikaanse gemeenskap moet weerspieël. Afrikaans was te lank gesien as ’n witmanstaal en dit is ’n persepsie wat reggestel en aangespreek moet word. Hierdie stap sal die ideale geleentheid wees om hierdie wanpersepsies aan te spreek. Die diversiteit van die Afrikaanse taalgemeenskap kan en moet nie buite rekening gelaat word nie. Die argument wat altyd teen Afrikaans gebruik word, is dat dit kulturele en etniese verdeling in die hand werk. Afrikaanse private skole sal daardie realiteit in ag moet neem. Die skool sal dit moontlik moet maak vir bruin en swart Afrikaanssprekende kinders om toegang tot gehalte-onderrig te verkry  sonder inagneming van hul sosio-ekonomiese omstandighede. Dit is waar die groot uitdaging gaan lê.

Daar was nie veel gesê oor die beheer of bestuur van hierdie Afrikaanse privaat skole nie. Wat gaan die model wees wat hulle gaan volg? Dit is onduidelikhede wat  ook uitgeklaar moet word.

Ek ondersteun egter die taalplan. Dit is ’n revolusionêre plan wat nie daarop gemik is om Afrikaans te isoleer nie, maar wel ’n geleentheid te skep om te verseker dat gehalte-onderrig in en deur Afrikaans geskep en verseker  word. Nog minder moet dit uitgebeeld word as ’n keuse vir eksklusiewe en negatiewe afstigting. Dit spreek die dilemma aan waarin onderwys hom in Suid-Afrika bevind. Afrikaanse privaat skole sal, soos Engelse privaat skole, ’n reusebydrae kan lewer tot die verbetering van die gehalte van onderwys waar dit benodig word. Dit is duidelik dat die politieke wil by die regering ontbreek om groter fokus op moedertaalonderrig te plaas. Vir my lê die sukses van onderwys in ontwikkelende lande daarin dat inheemse tale ontwikkel moet word tot tale van hoër onderwys. Slegs dan sal ons kan meeding in die internasionale wêreld van die ekonomie, die wetenskap en die akademie. Afrikaanse skole — privaat of openbaar — kan hierdie rol vervul.

  • Danie van Wyk, Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust

Toegang vs taalregte: ’n ander ingesteldheid

“Rassistiese identiteite”, meertaligheid en die toekoms van Afrikaanse skole

Buiteperspektief op tale in die onderwys

Is djy dom of is djy free, wan dié issie freedomie

http://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

  • 6

Kommentaar

  • Theodorus du Plessis

    Danie van Wyk stel belangrike vrae aan die orde.
    Dit is van strategiese belang dat die onderhawige taalplan 'n nuwe generasie Afrikaansgebruikers oor 'n wye front sal teiken en doelgerig betrek.
    Tegelykertyd moet toegesien word dat die aanleer van Engels as eerste addisionele taal van die hoogste moontlike gehalte is en dat 'n effektiewe program vir die aanleer van 'n Khoesantaal of Sintu-taal (Suidelike Swart tale) as tweede addisionele taal ook daargestel word. So kan help verseker word dat taalgrense binne 'n Afrikaanse leeromgewing oorbrug en linguistiese burgerskap bevorder word.

  • Johannes Comestor

    Ek verkies die frase "agtergeblewe gemeenskappe" bo "agtergestelde gemeenskappe" omdat eersgenoemde frase 'n feitelike beskrywing is terwyl laasgenoemde frase impliseer dat daar skuldiges is.
    Skoolpersoneel behoort suiwer op grond van tersaaklike meriete aangestel te word en nie op grond van ras- en geslagskwotas nie.
    Ek het 'n beginselbeswaar teen die huidige manie om private skole en universiteite te stig weens die al hoe minder leefruimte wat aan onderrig in Afrikaans gegun word. Afrikaanssprekendes betaal in dieselfde mate as anderstaliges belasting en is dus in dieselfde mate as ander geregtig op moedertaalonderrig in staatskole en -universiteite.
    Private onderrig is duur. Omdat almal gelyk verklaar is, moet almal in gelyke mate vir daardie onderrig betaal. Sosio-ekonomiese omstandighede kan nie by private instansies in ag geneem word nie. As jy te arm of nie ryk genoeg is nie, is staatsinstansies jou voorland. Juis daarom moet die voortbestaan van onderrig in Afrikaans daar ononderhandelbaar wees. Sodanige onderrig moet nie net voortgesit word nie maar deurlopend uitgebrei word.

    • Doelbewus afgeskeep is agtergestel, niemand kies om agter te bly nie. Of jy dink dalk net was daar iemand daaraan aandadig is 'n saak vir jou gewete.

  • De Villiers Hauptfleisch

    En nou het sommige mense `n probleem met die beoogde private Afrikaanse skole en universiteite. Moenie die mense blameer wat die inisiatief neem om sodanige skole en universiteite te stig nie. Blameer die regering en ander instansies (veral ons huidige universiteite en hulle rektore) wat uit hul pad gaan om die voortbestaan van Afrikaans op alle terreine te opponeer en teen te staan. Daar is vandag net eenvoudig nie meer plek vir Afrikaans op ons universiteite nie en ook al hoe minder in openbare skole.

  • Wilhelm Fourie

    Dis 'n baie geldige punte wat Danie van Wyk hier aanraak. Nogtans is ek seker dat Theuns Eloff alle Afrikaanssprekendes hierby wil betrek. Hy het ook onlangs op RSG genoem dat privaatskole nie die eerste stap is nie. Hy wil graag Afrikaanse skole (veral in minderbevoorregte gebiede) help.

  • Hans Richardt

    Theuns en FW kan maar hul agtergeblewe Afrikaanse skole self finansier.
    Ek het ook nou genoeg van politieke korrektheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top