ʼn Taalles vir Jan: nog steeds sukkel hy met grammatika

  • 3

Ek gaan nou vir jou stap vir stap verduidelik hoe die vurk in die hef steek, en hoe taalkundiges met grammatika omgaan. Aangesien die “I am....” in Engels jou so beïndruk, gaan ek dit as voorbeeld neem.

Die Engelse baba/kleuter word blootgestel aan die Engelse taal en oa hoor hy hoe “I am” gebruik word. Hy hoor ook “He is” en “We are” Deur hierdie blootstelling aan Engels, raak hy naderhand die stelsel baas waaronder Engels funksioneer. Wat meer is, hy leer ook dat ʼn mens nie net “I am” kan sê nie, maar dat dit skakel met iets anders: “I am naughty. I am a boy”. Spoedig praat hy fluks Engels; hy het sy taal aan moedersknie geleer.

Nou kom die linguis/taalkundige en hy maak ʼn studie van Engels en hoe mense Engels praat. Hy is ʼn kundige op die gebied van tale, het kennis van die Latynse grammatika, en ook van ander tale; dus kan hy dit toepas op wat hy waarneem van die struktuur van Engels. Volgens die woordbetekenis en die posisie wat “I” in ʼn sin neem, beskryf hy dit as persoonlike voornaamwoord, eerstepersoon, enkelvoud, in die nominatiewe posisie (eerste naamval). Die “am” beskryf hy as afkomstig van die infinitief “to be”, en verder beskryf hy dit as koppelwerkwoord, daar moet iets op volg. Dit koppel aan ʼn byvoeglike naamwoord of ʼn selfstandige naamwoord. Hy sal dit ook beskryf as attributief gebruik. Die taalkundige kan nou, na aanleiding van wat hy hoor en lees, hoe Engels gepraat word, selfs reëls opstel hoe persoonlike voornaamwoorde en koppelwerkwoorde gebruik word. Dit is wat ons noem die grammatika van ʼn taal. (Ek gebruik nou maar Afrikaanse grammatikaterme, want ek skryf in Afrikaans. Dis ook maar elementêr; die grammatikabeskrywing van ʼn taal is oneindig.)

As iemand aan ʼn taal blootgestel word, leer hy onbewus die stelsel van daardie taal aan. Die grammatikus beskryf slegs hoe daardie stelsel werk in tegniese terme. Die spreker van ʼn taal hoef nie die tegniese beskrywing, grammatika te ken om te kan praat nie. Die grammatika is daar vir ander taalkundiges wat ʼn insig in ʼn taal se innerlike werkinge wil bekom. Dit is ook goed as ʼn taalonderwyser onderlê is in grammatika, want hy moet die binnewerking van die taal verstaan. Die beste manier om ʼn taal vir iemand te leer, is dmv die direkte metode; grammatika word dan nie eens genoem nie.  Jan, het jy ondervinding in die aanbieding van die Berlitzmetode? Dit is soortgelyk aan die Direkte metode, behalwe dat dit effens verouderd is. Verstaan jy jou eie aanhaling: “vocabulary and grammatical training techniques”? Die Berlitzmetode het ʼn sekere manier waarop woordeskat geleer word, en die “grammatical training” is niks anders as herhaalde taaloefeninge om ʼn grammatikale situasie in te skerp nie, bv: Vul die ontbrekende woord in: “ I...... a boy. She.... a girl.” Die Direkte metode het ander maniere as net skriftelik om dit by leerlinge in te skerp. Gaan lees weer die skakel wat ek vir jou voorheen gegee het en jy sal sien dat die Berlitzmetode juis ontstaan het omdat die grammatika-vertaalmetode ʼn mislukking was: https://www.berlitz.us/en/About/The-Berlitz-Method

Die grammatika-vertaalmetode is seker die bekendste manier van taalonderrig. Die onderwyser neem dit wat die taalkundige geskryf oor ʼn taal, die taalreëls, en hy wend dit preskriptief aan. Hy skryf nou voor dat ʼn koppelwerkwoord gevolg moet word deur ʼn attributief.

Grammatika leer jy nie aan moedersknie soos jy beweer nie. Jy hoef ook nie grammatika te ken om ʼn taal te kan praat, soos jy beweer nie. Grammatika is slegs daar vir die student van ʼn taal

Jan, jy moet so bietjie nalees oor die ontstaan van Afrikaans. Dit was agv ʼn renons aan die onderdrukking van die Engelse bewind aan die Kaap. Dit het nie net die Groot Trek veroorsaak nie.

Een taal kan nie ʼn ander taal word nie. Die Skotte, Walliesers en Iere het verengels, soos baie Afrikaanssprekendes hier by ons verengels het. Duits kan nie Engels word nie, maar Duitsers kan verengels. Afrikaans kan nie Engels word nie, maar Afrikaners kan verengels. Skots, Wallies en Iers is ander tale as Engels; dis nie die tale wat Engels geword het nie, dis die mense wat verengels het.

Jan, ek stry nie. Ek vertel jou wat werklik gebeur en dan stry jy daaroor. Afrikaans is besig om ʼn hele klomp Engelse woorde by te kry. Dis die waarheid: gaan luister maar hoe mense praat. Jy wil Afrikaans in ʼn blik druk met die deksel toe en beskerm. Jy stry dus. Volgens jou mag mense nie Engelse woorde gebruik as hulle Afrikaans praat nie, en daarom stry jy dat Afrikaans nie hierdie woorde in sy woordeskat opneem nie. Jy stry as ek vir jou sê dat enige taal enige woord van enige ander taal in sy woordeskat kan opneem. Jy stry as ek vir jou daarop wys dat Afrikaans so ontstaan het deur kontak van Hollands met vreemde tale. As ek vir jou uit die geskiedenis aanhaal hoe Afrikaans as taal gestig is deur die Genootskap van Regte Afrikaners, en dat hulle dit gedoen het omdat hulle ʼn renons gehad het in die Engelse onderdrukking, dan stry jy.

As ek kyk na die geskiedenis van tale en hoe hulle ontstaan het, en ek maak die gevolgtrekking dat dit vir my lyk asof hier dalk ʼn nuwe taal in wording is as Afrikaans so baie Engelse woorde inneem, dan stry ek nie. Dis ʼn berekende raaiskoot, maar as jy net sê “issie”, dan stry jy.

Angus

 

  • 3

Kommentaar

  • Beste Angus
    Jan sal seker kommentaar lewer. Persoonlik glo ek jy verstaan hom verkeerd.
    Hier is 'n uittreksel uit die Low countries Jaargang 4. (http://www.dbnl.org/tekst/_low001199601_01/_low001199601_01_0023.php)
    "In the north the process of standardisation of the language continued. From the seventeenth century onwards the standard language has been based on the dialect of the province of Holland (mixed with southern elements on account of the large numbers of immigrants). The other (northern) provinces turned increasingly to the language of Holland. From the sixteenth century onwards dictionaries, grammars and spelling books appeared. Dutch was used for all areas of life, including scholarly circles and the (Protestant) church. An important step in the history of the standard language is the appearance of an official translation of the Bible in 1637. Far more than in earlier translations of the Bible into Dutch, the translation of 1637 is a deliberate attempt at compromise in language: this translation had to be one which could be used throughout the whole of what is now known as the Netherlands. Indeed, it has served in this capacity right into the twentieth century.'
    Dit is dan die taal wat tot die moderne Nederlands ontwikkel het en wat die teikentaal van ander tale aan die Kaap was toe Jan van Riebeeck in 1652 hier aangeland het.
    Maar dit het verskil van dialekte wat die matrose en ander gepraat het. Alhoewel dit 'n die teikentaal was en onder die invloed van ander tale tot Afrikaans ontwikkel het, is dit nie so verander dat dit totaal onherkenbaar is en geen verwantskap met Nederlands het of toon nie.
    Nederlanders en Afrikaanssprekers kan mekaar dus nog verstaan. Vandag is Afrikaans die teikentaal onder die huidige regering en word verder geteiken deur al die dinge wat Jan tot nou toe gelys het.
    Nou sê jy dit gaan 'n beter nuwe taal word. Wat ek bevrees is wat gaan gebeur dat Afrikaans so gaan verengels dat dit op die ou einde gaan lyk of die nuwe taal uit Engels en nie Nederlands ontstaan het nie.
    So word die taalbande wat nou nog bestaan tussen Afrikaans en Nederlands totaal vernietig en is ek bevrees gaan kulturele bande ook in die slag bly. Taal bly tog maar die draer van kultuur en soms lyk dit my of jy graag die Engelse kultuur wil saamdra in die nuwe taal wat weens luiheid en traagheid van Afrikaanssprekendes tans hier ontwikkel.
    Jy is reg dat 'n mens leer op die manier wat jy beskryf, maar as die onderwyser swak is ,is die leerling swak, want iemand moes tog in die ontstaan van Engels besluit het dat “I am” korrek en “I is” verkeerd is, ongeag hoe taalkundiges die taal nadat ontstaan ontleed en oor spelling ens besluit het.
    Lekker dag

  • Beste FC Boot,
    Nou vra ek jou met trane in my nywie bloe aais, wat staan in jou aaanhaling wat ek nie alreeds herhaalde kere gesê het nie? En hoe bewys dit dat ek Jan nie reg verstaan nie?
    Natuurlik is Afrikaans besig om te verengels, dit betwis ek nie. Al staan Afrikaans ook op sy kop, dit kan nie Queen's English word nie.

    Die taal van die onderwyser of ouers word die taal van die kind: dit stry ek nie. As die ouers sê: "I is very pragtig", sal die kind ook so praat. Dis dan mos sy moedertaal!
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    "I is very pragtig", sal die kind ook so praat. Dis dan mos sy moedertaal!
    En wie het die moeder so geleer? Ouens soos jy wat dit goedpraat!

    Lekker dag

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top