’n Resep vir leesliefmaak

  • 2

Na aanleiding van LitNet se onlangse kompetisie Hoe maak jy jou kind lief vir lees? deel Magdel Vorster haar wenke vir die kweek van ’n liefde vir lees.

As mens maar net ’n resep vir leesliefmaak met leesbalju's by deure kon laat aflewer het …

Maar nes jy nie ’n resep saam met jou wegneemete kry nie, is daar ook nie ’n kitsresep vir leesliefmaak nie. Tog, soos met ’n goeie Kook en geniet-resep wat die toets van tyd deurstaan het, is daar bestanddele en stappe wat gevolg kan word.

Voor ek my resep gee, is daar ’n paar basiese beginsels wat vir my belangrik is. Die leesliefmaak-proses is myns insiens onlosmaaklik deel van ’n verhouding met boeke, en spesifiek gedrukte boeke. Fisiese boeke – van badboeke en kartonboeke voor die kind nog kan praat tot aktiwiteitsboeke, feiteboeke en storieboeke. Terwyl kosbare tyd saam deurgebring word, word daar aan ’n verhouding met boeke gebou.

Die jong kind se leesavontuur skop gewoonlik op ’n skoot af, en interaksie tussen ouer en kind is natuurliker met die lees van ’n gedrukte boek as via enige elektroniese medium. By die e-boek of tablet sal die jong kind waarskynlik meer op die skerm en gepaardgaande aksies as die inhoud en beelde (illustrasies) fokus. Verder het navorsing bewys dat alle sintuie met die lees van ’n gedrukte boek betrek word, wat beter konsentrasie, interpretasie en begrip van die inhoud tot gevolg het. 

En wat nou gemaak as jy om redes van jou eie nie jou oond opgewarm kry nie? Jy het nog nooit van lees vir ontspanning gehou nie, het ’n paar kookboeke, ’n woordeboek, ’n paar ensiklopedieë wat jy geërf het en sentimenteel oor is, ’n ouerhandleiding van jou ouma en ’n Bybel langs jou bed. Dan moet jy, soos jy waarskynlik in elk geval in ander ouerafdelings maak, voorgee. Soos die Engelsman sê: "Fake it till you make it."

Jou kind moet jou sien lees. "Mamma kom nou saam met jou lego speel, ek wil net gou hierdie hoofstuk klaar lees." Soos ’n peuter van vroeg af sy vingertjie heen-en-weer oor jou foon of tablet kan vee om by prentjies uit te kom, gaan hy jou ook namaak en deur ’n boek blaai.

Hier is dan ’n beproefde, vir sommige dalk outydse, resep:

Hoofbestanddele:

Tyd
Geduld
Gedrukte boeke
Insig in jou kind se belangstellings – sport, drake, verhoudings, die ruimte
Biblioteke

Opsioneel:

Boekrakke
Boekklubs
Boekwinkels
Boekuitruilskemas

Metode:

(Stappe kan gevolg word na gelang behoeftes en omstandighede)

  • Knyp elke dag tyd af om dit saam met jou jong kind (te jonk bestaan nie, daar is materiaal vir alle ouderdomme beskikbaar) aan ’n boek te bestee.
  • Wees geduldig as hy elke aand dieselfde storie wil hoor of deur dieselfde boek wil blaai en al die eendjies aan jou wil uitwys.
  • Moenie aanhoudend vir jou vierjarige rabbedoe-dogtertjie feetjie-boeke lees as sy net wil bal skop nie. Waarin stel sy belang? Hoor by haar watter stories sy wil hoor.
  • Neem jou kind biblioteek toe. Kry vir haar haar eie biblioteekkaartjie (hopelik het jy self een) en laat sy haar eie boeke by die rak vir haar ouderdomsgroep kies.
  • Wanneer jy daardie boek dan veertien dae lank elke aand moet lees, doen dit geduldig. Party bestanddele neem langer om te marineer of te rys.
  • Is daar ’n boekrak in jou huis? En in jou kind se kamer? As die spaarvarkie-inhoud vir boeke bedoel is, neem ’n doen-dit-self-boek by die biblioteek uit en bou saam met jou kind ’n rak van stene en los planke wat al lankal in jou motorhuis lê.
  • Jou elfjarige seun kla dat die biblioteek se nuwe vakliteratuur altyd uitgeneem is en dat hy nie vir stories lus is nie. Neem hom na ’n boekwinkel toe. Benader die sentrum van die ander kant af sodat julle nie by die speletjiesarkade verby hoef te stoei nie. Laat hy vir homself ’n blinknuwe boek, wat hy wil lees, kies. Google sal hom wel kan leer hoe ’n helikopter aanmekaargesit is, maar min jong, entoesiastiese helikoptervlieëniers sal verbyloop by ’n hoe-werk-dit-boek waar jy in ’n japtrap kan omblaai en meer as wat jy wou weet, raaksien.
  • En terwyl jy in die boekwinkel is, koop miskien vir hom die nuutste Guinness Book of World Records vir Kersfees. Of beter nog, koop vir hom ’n geskenkbewys.
  • Hou jou kind net van strokiesprentboeke? Alle kinders eet nie dadelik gestoomde blomkool nie. Sommige hou daarvan met baie kaassous. Strokiesprentboeke of grafiese romans is ook boeke en kan dus help om ’n verhouding met alle boeke te bou.
  • Jou tienerseun hou baie van lees, maar jou begroting kan nie by sy leeslus voorbly nie. Stel voor dat hy ’n boekuitruilskema begin.
  • Jou dogtertjie wil jou alles van haar boeke vertel en vra jou opinies daaroor, maar jy het nie tyd om ook al haar boeke te lees nie. Soek vir haar ’n boekklub, of stig saam met haar ’n jeugboekklub. Word ’n jeugboekklub-pionier met die enigste vereiste ’n liefde vir lees of boeke, boeke van hulle keuse.
  • Gaan snuffel gedurende die vakansie saam met jou kind in jou kusdorp se tweedehandse boekwinkels.

Wenke:

  • Moenie toelaat dat jou kind op skool vir die eerste keer besef mens lees nie net op jou foon, tablet of rekenaar nie.
  • Versprei die goeie nuus: Boeke is nie net vir leer nie.
  • Moedig boekgesprekke aan. Hou jou tienerdogter van haar voorgeskrewe boek? Indien nie, vind uit hoekom en kry vir haar nog ’n boek om te lees. Moenie dat sy van lees afgeskrik word deur een of twee boeke nie.
  • Is jou tienjarige bang vir die donker? Laat hom toe om sy leeslampie aan te los en te lees tot hy aan die slaap raak.
  • Loer na boekresensies, in koerante, tydskrifte of op die internet. Moenie net in die massamarkstrik trap nie. Dalk is jou aspirant-leesliefhebber nie een vir dié mark nie. Daar is ’n goudmyn om te ontgin op die boekwinkel- en biblioteekrakke.
  • Begin ’n Meksikaanse leesbrander deur boeke of boekgeskenkbewyse present te gee vir jou eie en ander kinders.

Ten slotte glo ek dat die geheim tot leesliefmaak daarin lê om die regte boek op die regte tyd in die regte kind se hand te stop. Bestee tyd aan jou kind en kry sy neusie so vroeg as moontlik in ’n boek.

Lees ook ander ouers se wenke hier:

Hoe maak jy jou kind lief vir lees? Ouers deel hul wenke

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top