’n Onderhoud met Catherine du Toit oor Afrique mon désir en die Rabearivelo-poësievertaalprojek

  • 1

In 2014 inisieer Catherine du Toit van die Universiteit Stellenbosch die meertalige Rabearivelo-poësievertaalprojek; in 2017 word Laurinda Hofmeyr genader om die toonsettings te doen van ’n aantal gedigte deur Afrika-skrywers (wat Afrikaanse digters insluit) as deel van ’n musiekprojek saam met die groep Afrique mon désir. Naòmi Morgan gesels met Catherine oor die projek.

Catherine du Toit (Foto: Naomi Bruwer)

Jy is die inisieerder van die Rabearivelo-vertaalprojek – wat was die inspirasie (hoekom hy, hoekom toe)?

My eerste bekendstelling aan Rabearivelo was in verwysings na hom in literatuur oor die francophonie. Maar dit was nooit uitgebreid nie en die gedigte wat aangehaal is, was telkens dieselfdes. ’n Groot openbaring was egter die eerste volume van sy volledige werke wat uitgegee is deur die CNRS en deur onder andere ’n kollega en vriendin in Madagaskar, Liliane Ramarosoa, geredigeer is. Ek het ’n bundel as geskenk ontvang tydens een van my reise na Madagaskar as medewerker aan ’n doktorale skool en was onmiddellik begeester deur die werk, deur Rabearivelo se insig in die problematiek van taal en die manier waarop sy moedertaal, Malgassies, verweef word in sy werk: aanvanklik in die ritme en tematiek van sommige gedigte in Frans, later in die vertalings wat hy self volledig van twee van sy Franse bundels gedoen het, en ten slotte die manier waarop hy Frans warm vryf en soepel buig tot die vorm en inslag van tradisionele Malgassiese digvorme.

Vier van Rabearivelo se gedigte is in die Afrique mon désir-CD ingesluit. Waarom hierdie vier – is dit die tema, die gehalte van die Afrikaanse vertaling, die musikaliteit van die gedigte? (Het jy gedink aan gedigte wat hulle tot toonsetting leen?)

Toonsetting was ’n belangrike oorweging by die keuse van al die gedigte op die album. Ek en Laurinda het ure lank gepraat en ek het gaandeweg ook begrip ontwikkel vir haar eie affiniteite. Ek het gekyk na gedigte in hulle oorspronklike vorm wat die potensiaal van ’n musikale vertolking ingehou het en wat ’n soort hunkering ingehou het wat sou aansluit by die tema van die musiekprojek.

Daar word later in 2018 ’n veeltalige bundel vertalings van Rabearivelo gepubliseer, ’n eerste in die wêreld. Sy gedigte is in die meerderheid op die CD. Wat kan jy ter inleiding oor hom sê wat luisteraars na die CD sal help om hierdie nuwe stem te waardeer?

Die idee agter die bundel was om erkenning te gee aan die wonder van taal, van die uitdrukkingsvermoë in verskillende tale in ons streek, om verbande te lê oor die grense van taal en kultuur tussen elemente van ons menswees hier in Afrika, dinge wat ons almal gemeen het – of dit nou beeste is of die wemelende lewe van die oseaan of ons eie verganklikheid. Daar is tans (en in my posisie neem ek dit veral waar in die stiksiende beleide wat deur toenemend tegnokratiese universiteitsowerhede vasgelê word) ’n groeiende neiging tot eentaligheid – in Engels, natuurlik – wat ’n absolute ramp voorstel vir enige vrydenkende en kreatiewe uitlewing van diversiteit. ’n Veeltalige bundel soos hierdie is bedoel as teenvoeter teen hierdie nuwe breinbedwelming.

Rabearivelo was in vele opsigte ’n revolusionêre stem in Afrika. Hy word dikwels aangehaal as ’n invloed op skrywers van die négritude en op Afrika-denkers soos Franz Fanon. Maar in hierdie konteks word sy status as hoogs kreatiewe skrywer dikwels misken. Vir my was hy in die eerste plek ’n skrywer wat aan die begin van die 20ste eeu op ’n beduidende wyse die beperkinge van die koloniale bestel begin deurbreek het deur letterkunde te skep wat sy eie belewing van sy land en die geskiedenis sowel as die mees ekstreme moontlikhede van taal (syne en ander s’n) op ’n unieke wyse ondersoek.

Volgens watter kriteria het jy die ander gedigte op die CD gekies? Persoonlike voorkeur? Gedigte ingesluit in die kanon? Gedigte wat hulle tot toonsetting leen?

Ek het hoofsaaklik gewerk met digters wie se werk ek goed ken. Vir my het dit sin gemaak om eers gedigte te soek wat werk en die projek dan daarrondom te stuur. Daarom het ons aanvanklik begin met Rabearivelo (ons sou ’n hele CD net van sy gedigte kon maak) en Nimrod – ’n wonderlike, sensitiewe kontemporêre digter uit Tsjaad. Die projekbestuurders het op ’n stadium ’n versoek gerig spesifiek vir gedigte uit Senegal (ek dink dit het te doen gehad met die herdenking van die Dakar-besoek). Dit was vir my ’n vreemde invalshoek, maar ek het nogtans gesoek en die net baie wyd gegooi. Die probleem is dat daar, buiten ou en oorbekende gedigte uit daardie geweste, min is wat werklik liries is en sou ingepas het by die tematiek van die CD. Die oorblywende gedigte is egter met daardie perspektief gekies – twee van hulle ook met die opsetlike doel om te wys dat daar ook uit Afrika ’n mate van kritiek gelewer word op ’n valse “mitologisering” van Afrika.

Die CD is meestal in Frans: Laurinda sing byvoorbeeld saam met ’n Kongolese trio in pragtige Frans. Sy het Frans op universiteit gehad, maar jy het ook haar diksie verfyn. Dit is ook iets wat jy by die US doen met operastudente? Is daar ’n verskil tussen opleiding van operastudente en sangers van ligter musiek?

Ja, ons het nogal intensief deur die diksie gewerk en Laurinda was ’n vinnige en knap leerder! Daar is ’n groot verskil in Frans wat diksie betref vir klassieke sang en ligte sang. Selfs in klassieke opleiding is daar belangrike verskille wat byvoorbeeld liaison betref tussen verskillende genres. Laurinda het wel reeds ’n goeie begrip gehad van uitspraak, maar is nie bekend met sang in Frans nie. Veral elemente van uitspraak wat die musiek beïnvloed, soos die schwa of neutrale e aan die einde van woorde, was nie vir haar ’n vanselfsprekendheid nie en moes uitgelig word en die musiek waar nodig aangepas word.

Op die CD is daar bekende Afrikaanse gedigte wat vir die eerste keer in Frans vertaal is, soos die ikoniese “Die dans van die reën” (’n mantra in hierdie droë reënboogseisoen). Laurinda sing dit nie in Frans nie, maar in Afrikaans. Was jou idee om alles tweetalig te hê?

Ek wou graag alles in die projek ten minste in Afrikaans en in Frans hê. Die teenwoordigheid in Frans van ’n gedig soos “Die dans van die reën” is ’n geleentheid om so ’n ikoniese en wonderlike gedig van Afrika ook uit te brei na ander tale van die kontinent. Die Engelse vertalings het later gevolg. Daar bestaan vir my ’n natuurlike en fassinerende affiniteit tussen Frans en Afrikaans – veral miskien in poësie. Op ’n stadium was daar ’n gedagte onder die projekbestuurders om die gedigte net in Engels en Frans aan te bied in die CD-boekie – ter wille van internasionale kommersialisering. Dit was vir my jammer en miskien ook tekenend van hoe mense deesdae dink en waarom Afrikaans dikwels weggelaat word – asof dit mense sou afskrik! Só ’n besluit sou, bloot wat hierdie projek betref, nie koherent gewees het nie. Laurinda sing in Afrikaans en in Frans en die natuurlike mark vir die CD is die Afrikaanse en (miskien) Franssprekende mark. Vir my was dit ’n gegewe dat anderstaliges wat in so ’n veeltalige CD belang sou stel, nie afgeskrik sou word as hulle eie taal nie daarop verskyn nie. Begrippe rondom veeltaligheid en die praktiese implikasies van ’n opregte keuse vir veeltaligheid is nog lank nie duidelik ontwikkel nie.

Wou jy met jou vertalings na Frans ’n verstaanbare ekwivalent skep of ’n singbare een? Wat was jou invalshoek as vertaler?

Dit het in die eerste plek daarom gegaan om die gees van die oorspronklike getrou weer te gee, nie dat dit singbaar moet wees nie. Ek het byvoorbeeld ’n kleintjie dood aan rymdwang – dit hinder my oor en verdraai in die meeste gevalle die oorspronklike. Maar die vertalings is (hopelik) in alle gevalle steeds liries, digterlik – en as sulks was dit wel moontlik om hulle soms daar in te glip in die vorm van ’n refrein of ’n herhaling.

Wat dink jy van die toonsettings?

Ons het nogal baie ook oor die toonsettings gesels. Laurinda se toonsettings spruit voort uit ’n baie nou verhouding en ’n intieme begrip van die teks: sy maak die woorde haar eie “besit” op ’n besondere manier voor sy aan musiek dink. So ons het lank gesels oor die spesifieke betekenis van elke teks voor sy met die toonsettings begin het. Vir my skep dit in elke geval ’n besondere atmosfeer wat die kleure en klanke van elke gedig weerspieël. Soms is dit baie subtiel. My gunsteling is die toonsetting van “Mon pays” van die Mauritaniese digter Ousmane Diagana. Die musiek is sag en subtiel soos die lig en drogbeelde oor die woestynsand.

Dink jy daar vind musikale vertaling sowel as literêre vertaling op die CD plaas? Met ander woorde, word die Malgassiese musiek van die gedigte ’n Kongolese wysie?

Ja, beslis. Dit is ’n interessante idee. Die manier waarop die CD aanmekaar gesit is, beteken wel dat die vertolking van die Kongolese musikante nie in alle gevalle heeltemal dieselfde is as Laurinda se interpretasie nie. Daar bestaan seker ’n gevaar dat dit ’n blote uitbundige musikale vertolking word van woorde wat dan nie so intiem omgaan met die teks as wat sy oorspronklik gedoen het nie. Maar ek het nog nie die vertoning gesien nie en ek weet nie of David Kramer hom op dieselfde manier as Laurinda ingegrawe het in die geskiedenis en moontlike betekenisse van elke teks nie.

Lees ook Naòmi Morgan se resensie van die CD:

Afrique mon désir: ’n CD-resensie

  • 1

Kommentaar

  • Naòmi Morgan

    Dankie Catherine vir jou weldeurdagte, wyse antwoorde. Dit sal ook nuttig wees vir studente wat literêre vertaling doen. Au bon plaisir!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top