’n Onderhoud met bekroonde navorser Michelle Barnard

  • 0

’n LitNet Akademies (Regte)-artikel deur Michelle Barnard is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon. Michelle vertel vir Naomi Meyer van haar navorsing en wat die prys vir haar beteken. 

Michelle, geluk met die onlangse SA Akademie-prys wat jou artikel, “Koolstofbelasting as voorgestelde ekologiese fiskalehervormingsmaatreël in Suid-Afrika”, ontvang het. Wat beteken so ’n bekroning vir jou?

Baie dankie – ek waardeer die erkenning wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan my en ander navorsers gee met hierdie toekennings. Op ’n persoonlike vlak beteken hierdie prys vir my dat navorsing oor belangrike onderwerpe groter blootstelling geniet as bloot die lesers van die tydskrifte waarin die bekroonde artikels aanvanklik gepubliseer is. Pryse soos hierdie is ook ’n aansporing vir akademici om in Afrikaans te publiseer en aan te hou publiseer.

Hoe pas hierdie artikel in jou oorkoepelende navorsingsfokus in?

My navorsing fokus op twee pertinente, maar verwante onderwerpe, naamlik klimaatsverandering en die tempering daarvan deur middel van energiesektorhervorming en fiskale beleid. Die potensiaal van hierdie twee temperingsmaatreëls word nie net op nasionale vlak beoordeel nie, maar ook op substreeksvlak (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en kontinentale vlak (Afrika-Unie) beskou. 

In die regswese word al hoe minder Afrikaans gebruik. Was dit vir jou ’n uitdaging om Afrikaanse terminologie te vind om in jou artikel te gebruik, of wat was jou ervaring om ’n artikel in so ’n gespesialiseerde onderwerp in Afrikaans te skryf?

Beslis – dit was my eerste Afrikaanse artikel wat ek geskryf het en dit was inderdaad ’n uitdaging om tegniese terme te vertaal – ’n baie spesifieke voorbeeld is die gebruik van die woord tempering in plaas van mitigasie. Dit was vir my baie belangrik dat die artikel ’n oorspronklike bydrae tot die vakgebied moes beliggaam en moontlik die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal sou bevorder.

Klimaatsverandering is op almal se lippe as mense begin praat van droogtes in een deel van die land en oorstrominge op ’n ander plek. Dink jy dat die regswêreld ’n etiese of morele verantwoordelikheid het om sulke kwessies deur middel van strafopleggings, soos belasting, aan te spreek?

Definitief. Die tempering van klimaatsverandering moet statutêr gereguleer word en ’n komponent hiervan behoort sanksies in te sluit. Dit is ’n groot stap vorentoe dat Suid-Afrika reeds in die proses is om wetgewing oor koolstofbelasting te promulgeer, maar die feit dat geen spesifieke stuk wetgewing oor klimaatsverandering bestaan nie, bly problematies. Sonder klinkklare temperingsdoelwitte vir spesifieke sektore wat met sanksies vir nienakoming gepaard gaan, kan ek nie voorsien hoe ons land se huidige kweekhuisgasvrystellingsvlakke beduidend sal verminder nie.

Daar is ook praktiese kwessies ter sprake wanneer dit kom by gasse in die atmosfeer. Sekere fabrieke of motors of toestelle word op ’n sekere manier gebou en dit is buite die beheer van mense om die inherente aard en werking hiervan te verander. Dus kan daar seker geredeneer word: Wie moet belas word? En wat gebeur as die een wat die fabriek gebou het (ter voorbeeld) nie eens meer leef nie, en nie eens meer aandadig gehou kan word nie? Moet vandag se mense belasting betaal vir iets wat hulle dalk nie kan verander nie?

Dit is ’n baie interessante vraag en een wat verband hou met die beginsels van gemeenskaplike dog verskillende verantwoordelikhede en vermoëns. In kort behels hierdie beginsel dat die mate waartoe ’n party bydra (en in die verlede bygedra het) tot klimaatsverandering in direkte verhouding moet staan tot die mate waartoe daardie party verantwoordelik is vir tempering. As ons in ag neem dat Suid-Afrika onder die top 15 lande is op die globale kweekhuisgasvrystellingslys, staan dit nie teen twyfel dat ons op nasionale vlak ernstige stappe moet doen om ons temperingsverpligting na te kom nie. Die belasting wat gehef sal word op partye wat aktiwiteite uitvoer wat tot die vrystelling van sekere gelyste kweekhuisgasse lei, is oorwegend daarop gemik om produksie-aktiwiteite en verbruikerspatrone te wysig.

Is dit jou gevoel dat die juridiese wêreld vandag nog ’n rol kan speel om daadwerklike en praktiese veranderinge aan te bring en ’n positiewe uitwerking op die samelewing kan hê? Is daar nog voorbeelde waaraan jy kan dink van wat die regswese na jou mening kan bewerkstellig?

Met spesifieke verwysing na klimaatreg in Suid-Afrika dink ek dat die howe toenemend ’n belangrike rol gaan speel in die skep van nuwe reg deur middel van uitsprake. Ons het maar so onlangs soos 2017 die eerste litigasie rakende klimaatsverandering in Suid-Afrika gesien waarin die hof klimaatsverandering as spesifieke omgewingsaspek binne omgewingsimpakassesserings erken het. Ek is van mening dat omgewingsorganisasies hulle tot die howe gaan wend om verandering te weeg te bring wat te stadig deur wetgewing gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top