’n Nuwe, kommerwekkende poging om Suid-Afrikaanse kopiereg te hervorm

  • 3

Die hersiene weergawe van die wetsontwerp wat veranderinge aan die Wet op Outeursreg voorstel, is op 16 Mei 2017 by die parlement ingedien. Indien hierdie wet aanvaar word, kan dit verreikende negatiewe gevolge vir skrywers en uitgewers hê.

Hier is die kopieregkonsultant Catrina Wessels se kommentaar op die hersiene wetsontwerp:

Die hersiene wetsontwerp bevat ’n paar verbeteringe maar steeds heelwat foute, en doen nie afstand van die inhoudelike wysigings tot die bestaande wet wat die uitgewersbedryf negatief sal beïnvloed nie.

Die volgende aspekte van die wetsontwerp het uit uitgewersgeledere teenkanting gekry, en is nog in plek in hierdie weergawe van die wetsontwerp:

- Die instel van die begrip “billike gebruik” vir onder meer opvoedkundige doeleindes.

- Naas die algemene billike gebruik-vergunning, maak die wetsontwerp ook voorsiening vir spesifieke kopiereg-uitsonderings vir opvoedkundige doeleindes. Opvoedkundige instellings mag dele van outeursregwerke byvoorbeeld sonder toestemming en sonder vergoeding insluit by hul voorgeskrewe materiaal. Indien ’n handboek uit druk is of nie beskikbaar is om teen ’n redelike prys aan te koop nie, mag opvoedkundige instellings voortgaan om die hele handboek te kopieer, sonder toestemming of vergoeding.

- Die wetsontwerp maak voorsiening daarvoor dat die staat in sekere omstandighede lisensies mag toestaan vir die vertaling van ’n outeursregwerk, selfs wanneer die outeursregeienaar toestemming geweier het.

- Kontrakte bied nie ’n uitweg nie. Kontraksbepalings wat in stryd is met bepalings oor billike gebruik sal nie afdwingbaar wees nie.

’n Nuwe toevoeging is dat daar ’n uitsondering sal wees vir verskaffing van outeursregwerke aan ‘under-served populations’, sonder toestemming van of vergoeding aan outeursreghouers, met geen beperking op wie hierdie werke aan hierdie gemeenskappe kan verskaf nie, en geen perke op die koste wat die verskaffers daarvoor kan vra nie.

Skrywers wat hul brood en botter verdien uit werke wat vir die skole- of universiteitsmark voorgeskryf word, kan ’n aansienlike afname in inkomste verwag indien hierdie wysigings aanvaar word. Akademiese en opvoedkundige uitgewerye, asook algemene uitgewerye wat letterkunde publiseer wat in klaskamers onderrig word, sal ook ’n knou hierdeur toegedien word. Die presiese aard van dié knou is onduidelik, want ten spyte van die Departement van Handel en Nywerheid se onderneming aan belanghebbendes tydens die konsultasieproses in 2015, het hul nie ’n onafhanklike ekonomiese impakstudie laat doen nie.

Die wetsontwerp sal na verwagting in Augustus 2017 in die parlement bespreek word. Die datum(s) behoort teen 30 Junie bekendgemaak te word. Skriftelike voorleggings oor die wetsontwerp moet teen 30 Junie ingedien word.

****

PEN Afrikaans beplan om ’n voorlegging te maak. Die bestuur van PEN Afrikaans doen daarom hiermee ’n beroep op sy lede en ander belanghebbendes om die wetsontwerp te lees en terugvoer te gee met die oog op hierdie skriftelike voorlegging. (Die hersiene wetsontwerp is hier in PDF-formaat beskikbaar.)

Insette kan gestuur word na penafrikaans@gmail.com.

 

  • 3

Kommentaar

  • Theresa Papenfus

    Dis die dood in die pot. Dis die stroping en sloping van alle soorte regte, nes eiendomsreg. Dit probeer vroom voorkom, maar is gewoon slu.

  • Braam de Vries

    Ek vermoed dat die voorsiening vir kopiereg-uitsonderings, die voorsiening vir vertalings al weier die kopiereghouer, en die verskaffing van outeursregwerke aan ‘under-served populations’ sonder toestemming van of vergoeding aan outeursreghouers, almal teen die internasionale Verdrag is wat alle kopiereg beheer en waarvan Suid-Afrika 'n ondertekenaar is. Dis boonop diefstal met veel weier konsekwensies as waaraan die opstellers waarskynlik gedink het of van bewus is.

  • Alyzzander Fourie

    Gaan die wetgewing geld op internasionale vlak? Ek kan my nie indink dat Europese of Amerikaanse skrywers hiervoor te vinde sal wees nie. Die beoogde aanpassings gaan tot gevolg hê dat skrywers hulle na ander velde wend. Die wetgewing gaan tot gevolg hê dat SA op die lange duur aan die kortste ent trek. Volg die geld. Wie gaan baat hierby? Dis betreurenswaardig dat mens die wat ons moet lei nie kan vertrou op enige vlak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top