'n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: 'n Direkte Vertaling)

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

1. ’n Nuwe Afrikaanse Bybel

Poolshoogte kyk na allerlei vorme van kanonisering en ’n verskeidenheid nuwe Afrikaanse tekste – wat het ’n Bybelvertaling daarmee te maak? Dit is ’n ou teks en daar is reeds ’n hele aantal vertalings daarvan in Afrikaans beskikbaar; sommige dinamies en redelik vry vertaal, ander wel bedoel as Kerkbybels. Die Bybel: ’n Direkte Vertaling (BDV) is anders in dié sin dat dit ten volle bronteks-georiënteer is, en alhoewel vorige vertalings ook redelik na aan die brontekste was, is die BDV werklik die enigste een wat ’n direkte vertaling van die brontekste is. Let daarop dat dit nie ’n letterlike vertaling is nie, maar dat die brontekste aangebied word in goeie en stylvolle Afrikaans. Die BDV word dus tegelyk ook ’n letterkundig-georiënteerde teks. Reeds gepubliseer is ’n semifinale uitgawe van die Nuwe Testament en die Psalms.

Henning Snyman
Joan Hambidge
Sheila Cussons

Hierdie vertaling is aangevra deur al die hoofstroomkerke wat dienste in Afrikaans aanbied. Dit is nie net die NG Kerk, die Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk en die Verenigde Gereformeerde Kerk nie, maar ook die Afrikaanse dele van die Rooms-Katolieke Kerk, die Metodiste, die Anglikaanse en Presbiteriaanse Kerk en dies meer. Die Rooms-Katolieke Kerk het ongeveer 300 000 Afrikaanse lidmate. Van kerklike kant word die BDV ’n Afrikaanse teks wat deur talle mense gelees word en gaan word wanneer die hele Bybel klaar vertaal sal wees. Kerklik word dit dus die Kerkbybel (“authorised version”) van die Bybel in Afrikaans. Alhoewel daar ’n vertaling in Afrikaans bestaan van die Deuterokanonieke boeke wat deel vorm van die Rooms-Katolieke Bybel, word dit ook opnuut vertaal in die BDV. Daar sal in die finale uitgawes ’n BDV wees met hierdie boeke saam met die Ou en Nuwe Testament, ook een met slegs die Ou en Nuwe Testament. Vanselfsprekend gaan dit Afrikaans dus op vele plekke en in vele omstandighede verteenwoordig, en is dit ’n enorme bate vir Afrikaans as sodanig. Die Deuterokanonieke boeke sluit pragtige poëtiese boeke in, soos Sirag en Wysheid, en verhale soos Judith en Tobit.

In sy rubriek "Geestelike waardes" haal Dirkie Smit die digter Joan Hambidge aan: "Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie?", en verder: "Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie" (Die Burger, 27 September 2014). Hier kan nog talle ander skrywers en digters en temas bygevoeg word, bv die Rooms-Katolieke mistiek by Sheila Cussons. Die Bybel is ’n broodnodige verwysingsbron vir die begrip van die letterkunde, in Afrikaans maar ook in ander tale. Hambidge self is ter sprake, soos onder meer in haar bundel Lot se vrou. Die BDV bring die ou-ou kennis opnuut na die lesers, maar aangesien dit so absoluut bronteksgerig is, met nóg meer verrykende moontlikhede en ontginnings.

Die rykdom van segswyses en idiomatiese taal uit die Bybel, onontbeerlik in Afrikaans, is ’n bron vir ’n omvattende studie. In dié verband open hierdie nuwe vertaling nuwe perspektiewe in die vrygewige inligting in die voetnote, waarin die letterlike Hebreeus of Grieks gegee word, in Afrikaans natuurlik! Romeinse leenwoorde in veral die Grieks vind, met toeligting, ook ’n plek in die Afrikaanse leksikon. Alhoewel die BDV in verstaanbare Afrikaans vertaal word, en groot klem lê op eenvoud, is die taal van die Bybel ook ’n bron van opvoeding vir die jonger geslag. By die King James Bible van 400 jaar gelede was een van die opdragte immers dat die vertaling ’n monument moes wees vir die Engelse taal, en dit is so tot op die jongste dag. Op ’n beskeie manier is dit ook die BDV ten doel. Die uitgebreide voetnote bring verklarings van woorde en begrippe en sosiokulturele inligting wat by die lees van die teks openbarend inwerk. Die voetnote is nie interpretasies nie, net toepaslike inligting.

2. Die Bybel in die Afrikaanse letterkunde

Soos Hambidge genoem het, sou ’n mens ’n behoorlike inventaris kon saamstel oor die invloed van die Bybel in die Afrikaanse letterkunde. Talle skrywers kan by hierdie inventaris ingesluit word. Waar NP Van Wyk Louw se werk ’n sterk religieuse inslag toon, en hy as digter hom ook met die godsdiens vereenselwig, is dieselfde nie die geval by DJ Opperman nie. Tog is die Bybelse inslag so sterk in die werk van hierdie digter. Twee grootse gedigte waarin die Bybel volkome ingeweef is, is "Legende van die drie versoekinge" en "Legende van die drenkelinge" (albei gedigte uit Negester oor Ninevé). Hierdie verse maak weinig sin sonder die Bybelse agtergrond, en alhoewel dit nie gelees hoef te word in religieuse konteks nie, gee dit wesenlik ’n poëtiese konstruk van twee Bybelverhale: Jesus se versoeking deur die Satan in die woestyn en die sondvloed in die tyd van Noag. Sekerlik beweeg die eerste gedig weg van die brongegewe tot ’n vers oor menslike weerloosheid, maar dit keer terug tot ’n nuwe perspektief op die opdrag van Jesus. In die geval van die tweede gedig word die mens se weerloosheid teenoor die groot natuurmagte verbeeld, maar ook hier is ’n terugkeer na die mens in verhouding tot Skepper en skepping:

 Maar die blink sens
van die golwe maai oor die rots.
"Ag, alles bly stroming en donker geklots
van diep branders ... buite U Ark van genade.
En wat is die mens, en wat is sy dade
sonder U? Ek spartel in seë, snik
in U branding, sink tot slik ..."

DJ Opperman

Talle ander niereligieuse verse, soos "Kersliedjie" met sy sterk sosiaal-politiese aard, en "Sprokie van die spikkelkoei" met die broedermoordtema uit die verhaal van Kain en Abel, speel terug op Bybelse gegewens. ’n Besonder interessante voorkoms van die Bybel in ’n gedig van Opperman is "Gereedskapsgesels Lei tot Omhels" uit Komas uit ’n bamboesstok. Hierdie gedig gaan primêr oor die skep/skryf van ’n gedig. Dit het ook ’n ondertoon van biologiese skepping, eerder die erotiese:

Daar is ’n stil gesels
wat die skryf verskaf
wanneer, asof vanself,
die sleutel
die verband begryp
en vir die hand
in die knyp
gereed lê vir die verwagte gryp

 as die vasgeroeste moer
vasskop en weerstand
bied, maar onder
die dubbel druk
en met behulp
van olie, drie-in-een,
begin te roer,

sodat Gereedskap
Bout en Moer
onder die gesels
die draad die gleuf
laat vat
en die spirale
dans volvoer.

As deel van artistieke skepping en seksuele omgang wat tot biologiese skepping lei, is die idee van die Skepper inbegryp. Meer nog, is dit die idee van drie-in-een. Die volledige begrip van hierdie gedig vereis van die leser om te weet van die Goddelike Drie-eenheid. Die spirale dans wat geen einde ooit bereik nie, dui ook op die ewigheid van konstante skepping en voortplanting. Die begrip van die Heilige Drie-eenheid is nie in die eerste plek ’n Bybelse begrip nie, maar ’n teologiese begrip, sterk gebaseer op die Evangelie van Johannes, waar die eenheid tussen God, Christus en die Heilige Gees ’n kragtige tema vorm.

Daar is talle gedigte, romans, kortverhale en ander literatuurvorme waarin die Bybel ’n geringe of dominante rol speel. Maar sekerlik is en bly die Bybel ’n literêre verwysingspunt.

3. Die Bybel as letterkunde

Die Bybel is ’n klein biblioteek op sy eie; elke denkbare genre is verteenwoordig. Daar is enorm groot verhale en romans. In die Nuwe Testament is daar die allergrootste verhaal van alle tye: die verhaal van Jesus Christus. Vir die gelowige leser is dit die allerbelangrikste openbaring van geloof en vertroosting. Maar in Christus se volledige ervarings is ’n reeks subkategorieë ingebed. Daar is verhale van wonderwerke wat strek van die verandering van water in wyn tot klein en groot genesings en die opwekking uit die dood. Sentraal is Christus se lyding, dood, opstanding en hemelvaart – die verhaal wat die grootste persentasie mense raak en beïnvloed deur meer as 2 000 jaar heen. Selfs niegelowiges kan hierdie verhaal nie vermy nie. As ’n mens na Jesus se lewe kyk in al die fasette waarin dit uitgebeeld en vertel word, tot by die konsep van offer, is daar geen groter menslike literatuur nie, en kan dit ook nie bestaan nie. Dit is ’n verhaal van liefde, vergifnis, verraad, van oorwinnings en van die allergrootste patos. Uiteindelik ’n verhaal van grootse triomf. Die gebeure aan die kruis en Jesus se kruiswoorde het talle skrywers en komponiste geïnspireer.

Individue soos Jakob en Dawid dien as prototipes van karakters wat altyd weer in die letterkunde voorkom. Dawid is die groot koning, leier, dapper held, krygsman, maar ook ’n moordenaar wat die vrou wat hy begeer se man laat omkom in ’n oorlog. Hy is ook die vader wat treur oor die dood van sy seun Absalom, die seun wat oorlogsrebellie teen sy vader lei. Sy vriend Jonathan se liefde is vir hom meer werd as die liefde van vroue. Ook is hy gou berouvol en intens menslik, ’n kunstenaar op die harp en ’n digter. Min romans kan daarin slaag om so ’n karakter te skep en in ’n verhaal van stryd, weemoed en verraad in te weef. Om nog ’n enkele voorbeeld te noem, is daar Job. Die verhaal van Job is enersyds ’n sprokie wat dan ontwikkel tot die totale aftakeling van die mens. Job is nie ’n geduldig lydende figuur nie, maar is woedend oor sy ondergang, en hy rig sy woede teen God. Hy gaan so ver om God uit te daag. God kom self aarde toe om Job te konfronteer, en God stel Homself daardeur bloot, volgens Carl Jung se boek oor Job. ’n Enorme gegewe waarvoor ’n skrywer beswaarlik opgewasse kan wees.

Beroemde verhale soos die een oor Simson en Delila, die mooi kortverhaal oor Rut met sy duidelike erotiek, groot karakters soos Moses, en ’n karakter soos Petrus, wat wissel van toewyding aan Christus tot verraad, is so groot dat dit die Bybel se letterkundige krag bo alle menslike letterkunde bevestig. En Hooglied is erotiese literatuur so duidelik as kan kom, maar geskryf in subtiele styl en pragtige beelde.

Genres beweeg van prosatekste tot groot toesprake as ’n aparte genre, soos Christus se groot redes, bv die Saligsprekinge, of die magistrale toespraak van Stefanus wat tot sy steniging lei. Daar is volop poësie, nie net in die psalms nie, maar dwarsdeur die Bybelse kanon. Evangelies is ’n genre eiesoortig aan die Bybel; profetiese redes is ewe eiesoortig en so ook die gelykenis soos deur Jesus beoefen. Geen apokaliptiese literatuur kan vergelyk met die boeke Daniël en Openbaring nie. Briefliteratuur word uitvoerig bedryf, veral deur Paulus.

Die Bybelse literatuur bied ’n opgaaf van talle stylfigure en implikasieverskynsels. Jesus se gelykenisse is gelaai met metafore en sy uitsprake met ironie; dwarsdeur die Bybel, en veral in die apokaliptiese literatuur, word die teks gedra deur simbole en simboliek. Hiperbole was ’n algemene kenmerk van taalgebruik in Bybelse tye. ’n Stylfiguur wat selde voorkom, is die litotes, maar ook daarvan is daar heelwat voorbeelde, veral in Handelinge. Van die genotvolste satire kom voor in die verhale van die rigters in die gelyknamige boek.

4. Vergelykings tussen Afrikaanse vertalings van die Bybel: ’n enkele voorbeeld

Ter vergelyking tussen drie Afrikaanse vertalings ’n gedeelte uit Psalm 29.

A. Die vertaling van 1933, soos hersien in 1953, algemeen bekend as die Ou Vertaling, Ps 29:1–7:

1 Gee aan die Here, o hemelinge, gee aan die Here eer en sterkte!
2 Gee aan die Here die eer van sy Naam; aanbid die Here in heilige sieraad!
3 Die stem van die Here is op die waters, die God van eer donder; die Here is op die groot waters.
4 Die stem van die Here is met krag; die stem van die Here is met heerlikheid.
5 Die stem van die Here breek seders; ja, die Here verbreek die seders van Libanon;
6 en Hy laat hulle opspring soos ’n kalf, die Libanon en Sirjon soos ’n jong buffel.
7 Die stem van die Here slaan daar vuurvlamme uit.

B. Die vertaling van 1983, tans nog bekend as die Nuwe Vertaling:

1 Prys die Here, julle hemelinge! Prys die Here om sy eer en mag!
2 Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige verskyning!
3 Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters!
4 Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit.
5 Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.
6 Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf en die Sirjon soos ’n jong bees.
7 Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.

c. Die Bybel, ’n Direkte Vertaling (BDV):

1 Erken die Here, godeseuns; erken die Here – sy majesteit en krag; erken die Here – sy majesteit en krag;
2 erken die Here – die majesteit van sy Naam. Buig in aanbidding voor die Here in glansryke heiligheid.
3 Die stem van die Here, oor die waters, die God van majesteit laat dreun, die Here, bo die magtige waters,
4 Die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk.
5 Die stem van die Here breek seders, die Here verpletter die seders van Libanon.
6 Hy laat hulle bokspring soos ’n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels.
7 Die stem van die Here kap klip met vlamme.

Dié psalm word gesien as ’n onweerspsalm, of as ’n psalm oor die magtige stem van God. Dit is nie een van die bekendste psalms nie, en die oorspronklike sintaksis en ritme is nie glashelder nie. Vertaling A probeer die poësie behou, maar is bra lomp en onduidelik. Weergawe B lê die klem op lofprysing, maar neig na interpretasie. Vertaling C is getrou aan die bronteks, sover moontlik ook getrou aan die oorspronklike sintaksis van die bronteks. Dit probeer nie om die sinne te veel af te rond nie, maar laat ook ruimte vir suggestie. Elkeen van hierdie vertalings het ’n eie waarde, maar die BDV gee meer poëtiese krag aan die teks en skep die ritme wat die teks vereis.

5. Die universele waarde van die Bybel

Enersyds is die Bybel ’n geloofsboek, en verreweg die meeste Bybellesers sal dit so ervaar en beleef. Die Bybel is dan ook allereers universeel in die religieuse sin. Die Bybel het egter ook universele betekenis en waarde daarin dat dit universele menswees belig in ’n omvang en intensiteit wat geen letterkunde ooit in daardie mate en in daardie sin kan doen nie. In die sentrale kern van die Bybel staan God, en daarnaas is die verhouding tussen God, die Vader, en Jesus Christus, die Seun. Hierdie patroon word voltooi deur die intrinsieke eenheid tussen God, Christus en die Heilige Gees. Alles wat hiermee saamhang, is prominent vir die gelowige mens wat die Bybel sien as die bron van sy godsdiens.

Andersyds is die Bybel ook die groot bron van alle aspekte van menswees. Daar is geen menslike emosie wat nie bewoord word in die psalms nie. Menslike wysheid word gemeet teen die wysheid van die Wysheidsboeke soos Spreuke en Prediker. Ook die menslike seksualiteit word belig deur verskillende verhale in die Ou Testament, by name in Hooglied. Maar regdeur die Bybel is daar die mens se weerloosheid, koppigheid, armoede en lyding. Die dood word nie geïgnoreer nie, maar die boodskap is dat die lewe groter is as die dood.

Die Bybel is ’n verhaal van skepping en bevryding, ook ’n verhaal van verraad. Die verraadstema is oral te vinde, in die Ou Testament en in die Evangelies, beklemtoon deur die verraad van Judas en Petrus. En die mens wat staan teenoor die mag van die natuur, word poëties bewoord in Psalm 8:4-5:

 Wanneer ek na u hemelruim kyk,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre wat U gevestig het –
wat is ’n mens dan dat U hom in gedagte hou.
’n mensekind dat U aan hom aandag skenk?

’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans is belangrike nuus. Dat dit nou, vir die eerste keer, ’n werklik bronteksgetroue vertaling is, is opwindende nuus.

Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Poolshoogte
Afrikaans se grootste topverkoper
– Pieter GR de Villiers
2014-07-10
LitNet Akademies (Gespreksruimte)
Vertaling as oortekening - Leon de Kock gee sy mening
– Leon de Kock
2011-09-14

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over
– Pieter Odendaal
2011-08-18

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Afrikaners is nostalgierig: Afri-Frans as vertaling van identiteit
– Jaco Alant
2013-07-24
Reispapier
Om ’n wêreldbeeld te vertaal
– Rentia Bartlett-Möhl
2013-11-06
Taal
Valse vriende – die gevaarlike avontuur van vertaal uit Nederlands
– Daniël Hugo
2008-07-16
Feeste
Dansende Digters: Digkuns móét deur digters vertaal word
– Gerdus Senekal
2013-05-15
Briewe deur die lug
Verlos ons van godsdienstige taal
– Christina Landman
2000

Young Voices Conference 2004
The editor
– Henrietta Rose-Innes
2004-11-22

Menings
’n Helse gedoente: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk
– Johannes Bertus de Villiers
2014-02-05

 

 

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top