’n Muishond is nie ’n Springbok nie

  • 1

Ek skryf hierdie rubriek aan die vooraand van die tweede toets teen Nieu-Seeland op Nuweland. Die meeste lesers sal seker al die uitslag ken teen die tyd dat hulle hier lees. Maar nietemin, soos altyd wonder ek: Wat het, of doen, die Nieu-Seelanders wat ons nie het of doen nie wat maak dat hulle ons deesdae so klokslag klop?

As ’n mens Suid-Afrika se rugbyprestasie wil meet, dan is dit seker maar te verstane dat ons onsself teen die goudstandaard in wêreldrugby wil meet, en dit is Nieu-Seeland. Nieu-Seeland word nou al vir ’n paar dekades as die beste span beskou. Dit beteken natuurlik nie dat hulle elke wedstryd wen, elke jaar die beste is, of – betekenisvol vir Suid-Afrikaners – elke vier jaar die Wêreldrugbybeker wen nie. Maar wen wen hulle wel, en meestal. En daarom wil ons weet: Hoekom wen hulle so baie, en ons nie?

En dan is dit gebruiklik om die twee lande te vergelyk met verwysing na hulle afrigters, afrigtingstelsels, klubstelsels, skoolstelsels, natuurlike talent, oefenmetodes, spelpatroon en dies meer, ten einde te probeer vasstel wat die geheim van die Kiwi’s is.

En daar is sekerlik heelwat te sê vir die meeste van hierdie faktore. Maar daar is een probleem met die meeste van hierdie benaderings, en dit het te doen met die vraag: Wat is dit wat maak dat elkeen van hierdie faktore bestaan, en so effektief is, hetsy gesamentlik of afsonderlik? As hulle dinge reg doen, as hulle reg speel, as hulle die regte strategie volg, as hulle spelers oënskynlik instinktief weet wat om op die veld te doen, is daar ’n meer basiese rede voor?

Ek besluit toe desnoods om bietjie terug te staan en na die groter prentjie te kyk.

Ek begin met die teorie dat ons vermoë as ’n land om goeie toetsrugby te speel, ten nouste verband hou met die bestuur van ons ekonomie. As ons na die eerste tien lande op die toetsranglys van wêreldrugby kyk, dan sien ons dat die meeste lande se posisie ooreenstem met hulle plek op die ranglys vir ekonomiese vryheid – hoe vryer die ekonomie, hoe beter die rugby, met ook ’n los verhouding tussen inkomste en prestasie.

Land

Toetsrang

Ekonomiese- vryheid-rang

Per kapita-BBP

Nieu-Seeland

1

3

$39 059

Engeland

2

10

$42 609

Suid-Afrika

3

105

$13 225

Ierland

4

5

$68 883

Australië

5

10

$46 790

Skotland

6

10

$33 791

Wallis

7

10

$25 947

Frankryk

8

57

$41 466

Fidji

9

82

$9 561

Argentinië

10

156

$19 934

 

Maar met die eerste oogopslag is dit duidelik daar is een ooglopende uitsondering, en dit is Suid-Afrika. Suid-Afrika pas nie in die patroon nie.

Beteken dit dus Suid-Afrika is nie onderhewig aan die beginsel dat goeie ekonomiese bestuur beter rugby help verseker nie?

Nie so vinnig nie.

Wat my terugbring by die lakmoestoets wat Nieu-Seeland is. Hier onder is ’n vergelyking tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Ek neem die vierjaarsiklusse wat saamval met die Wêreldbeker sedert 1992 as basis, en kyk dan hoe die twee lande se ekonomies oorheersing/ondergeskiktheid met hulle toetsrekord in dié tydperke klop (in elke kolom, hoe groter die waarde, hoe beter Suid-Afrika se prestasie, hetsy ekonomies teenoor Nieu-Seeland, of itv toetsuitslae of punteverskil).

 

Jaar

SA:NS-groei

SA:NS -toetsrekord

Punteverskil

1992

-3,27

-1

-3

1993

0,192

0

0

1994

0,629

-2,5

-12

1995

0,657

+1

3

 

-0,448

-0,625

-12

1996

1,12

-3

-15

1997

1,3

-2

-23

1998

0,635

+2

11

1999

0,43

-1

-40

 

0,871

-1,15

-67

2000

1,43

0

-7

2001

0,793

-2

-20

2002

0,785

-2

-28

2003

0,64

-3

-64

 

0,912

-2,03

-119

2004

1,15

0

12

2005

1,747

0

2

2006

1,998

-1

-33

2007

1,85

-2

-32

 

1,68

-0,75

-51

2008

2,85

-1

-26

2009

-1,842

3

23

2010

1,99

-3

-41

2011

1,446

0

-20

 

1,111

-0,43

-64

2012

0,948

-2

-26

2013

1,01

-2

-25

2014

0,499

0

-2

2015

0,534

-2

-8

 

0,747

-1,5

-61

2016

0,07

-2

-276

 

Wat ons hier sien, is dat Nieu-Seeland se groei oor die algemeen tydperk vir tydperk beter was as dié van Suid-Afrika, en dat NS se voorsprong met elke tydperk progressief groter geword het.

En terselfdertyd het NS se prestasie op die rugbyveld beter as Suid-Afrika s’n geword. Die maklikste manier om dit te sien, is met die punteverskil tussen die twee spanne in elke opeenvolgende vierjaartydperk: -12, -67, -119, -51, -64, -61, -276. Ja, dit is nie ’n 100%-korrelasie nie, maar die neiging is onmiskenbaar. Namate NS se ekonomiese groei relatief beter as Suid-Afrika s’n vertoon het, het ons prestasie agteruitgegaan.

Maar weer is daar een dramatiese uitsondering. En dit is die vierjaarsiklus toe Suid-Afrika in 1995 die Wêreldbeker gewen het. Toe, ten spyte van die feit dat ons ekonomies maar treurig teenoor NS vertoon het, het ons hulle nie net in die Wêreldeindstryd geklop nie, maar ook die naaste gekom aan ’n gelykopuitslag in die puntevergelyking (-12).

Wat was die verskil in 1995? Dit was natuurlik die tyd van Nelson Mandela en Francois Pienaar, en dáárdie skepskop op Ellispark. Dit was die tyd toe ons teruggekeer het na die boesem van internasionale sport, en alles vergewe was. Toe ons weer die land kon wees wat die rugbywêreld vir soveel dekades só bewonder het. Toe ons weer ons gesigte daar buite kon wys.

1992–1995 was dus ’n tyd toe Suid-Afrika in ekonomiese terme bo sy gewig geboks het. En die rede was duidelik nie ekonomiese prestasie nie. Dit was nasionale trots.

Vandag, wat het gebeur? Ons is nie meer die Suid-Afrika van Mandela nie.

Dit is redelik om te spekuleer dat goeie regering, ’n groeiende ekonomie en nasionale trots hand aan hand loop. En daarmee saam ook sportprestasie.

En daar is natuurlik voor die hand liggende redes hoekom ons rugby onder ’n swak ekonomie ly: die belangrikste is seker die feit dat die swak rand spelers Europa toe lok. Nieu-Seeland, aan die ander kant, het in die laaste klompie jare een van die ekonomies mededingendste lande in die wêreld geword. Dieselfde geld Australië. En albei se sportprestasies gedy.

Maar daar is ’n meer fundamentele rede as rand en sent, en dit is dié: ’n muishond is nou maar eenmaal nie ’n Springbok nie.

  • 1

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Ek was altyd onder die indruk dat LitNet ten doel het die bevordering van (Afrikaanse) literatuur. En nou hierdie bydrae oor koning rugby - nogals statistiek om die All Blacks beter te bewys! Ek het juis so 'n hekel aan (S-A) statistieke. Hoor nou sopas oor die nuus dat die vlak van alle damme gemiddeld 62% vol is, in vergelyking met 50% die tyd verlede jaar. Vir die arme Wes- en Oos-Kaap help dit baie!
    Maar synde Frans Rautenbach so baie moeite gedoen het om al die statistieke byeen te bring en in die afwesigheid van ander kommentaar, net kortliks die volgende.
    Ons spelers besef nog nie dat die bal nie rond is nie en sy wip bly onvoorspelbaar, veral as ons ons liefde vir skop uitoefen en hoe harder die veld (soos in Kimberley) hoe meer onvoorspelbaar raak die wip.
    Ja, goed, ek is 'n sentimentalis - nee, ek verlang nie na die goeie ou dae nie want dan is ek mos 'n rassis. Maar magties, spelers soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, John Gainsford en Carel du Plessis (die Prins van vleuels) het instinktief geweet van vaartversnelling en verdediging en wat om met die bal te maak. Ek is bevrees dis juis ons huidige agterspelers wat nie kan kers vashou met die All Blacks/Wallabies agterspelers nie. Haai mense, is Elton Jantjies regtig ons beste losskakel en dan nog liewe Pollard as 'n 2de keuse.
    Nico M Ferreira
    Pretoria

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top