Fiksie: 'n Moerse klug?

  • 1

Advertensieborde met erekte kondome, wat in verskillende groottes en teksture en die allerkleurigste reënbooggeure uit hul geskeurde verpakkings beur, toorn oral - met dié trefreël: “Let’s come together – in a condom.”

Dis iewers in die toekoms. Verkiesingskoors is weer verby. Kruisies is getrek, bederf en weerhou.

En ai, verlang ons nie na die goeie ou dae nie! Daardie tyd toe onse president Jacob Zuma die genesende stimulasie van ‘n stortkop propageer het. Toe Julius Malema en sy ekonomiese vryheidsvegters die Nag van die Lang Messe afge(s)weer het, as Die Parlementêre Narre van die Dekade bekroon is en met hul revolusionêre Rooijurksirkus wêreldwyd gewilder as die Russiese Kosakke geword het.

Lees ook:
Begrafnis op Stilbaai
Vrydagaand se kroeg

Daardie dae toe Madiba se verjaardag nog elke jaar op sy verjaardag ‘n wyle as portretleier vir politieke gewin misbruik is, terwyl hy steeds onverpoosd welwillendheid tussen hemel en hel probeer kweek het.

Nkosi Sikelel' iAfrika.

Hier was ook vrede. Almal het aan boerewors en koesisters, krummelpap en chakalaka, bunny-chows en samoesas gesmul. Ons het die seties, vastrap en die wals gedans. Ons het gatgeswaai, gehip-hop en getoi-toi. En kón ons braai terwyl die vure knetter en die vryheidsvlamme ons drome ver(r)as het.

Ons lippe het die woorde “Jy vir ons, Suid-Afrika!” ver verby Nkandla se tralies en Marikana se koppies laat zoem. Maar ai, daardie eens welige tuin het ‘n onkruid-oerwoud geword weens ‘n gebrek aan wanbestede fondse wat vir instandhouding bewillig is. Dis nou Post-Rhino Park, wat wêreldtoeriste lok om te kom kyk hoe ‘n renoster sónder ‘n horing lyk.

(Maar iewers in ‘n broeikas grynslag ‘n dreigende ogie …)

Die Lem het wel nooit weer soos ‘n koeël uit ‘n pistool genael nie, maar ons ander atlete, skutters, swemmers, roeier, rolbalspelers en Blitzbokke het Olimpiese medaljes huis toe gebring. Selfs die Bafana Bafana en Banyana Banyana was fiks en het doele aangeteken, die Proteas het uit sy smoorklep ontsnap en alles wat reggestel kon word, is reggepluk.

Die oorblyfsels van apartheid, omgekeerde rassisme, griep, ebola en vigs is in die kiem gesmoor, maar vir geweldsmisdaad teen vroue en kinders, grusame gesinsmoorde én die korrupsiekakkerlak, is daar nog g’n kuur gevind.

Danksy gratis tersiêre onderrig in al die amptelike landstale is die tronke leeg en die universiteite vol; ‘n opwindende misdaadakademie. Akroniemmaatskappye kon nog nie - ondanks talle ondersoeke - reggeruk word nie, maar hul name is verander. Belastingbetalers praat nou sommer net van onder meer die kragplek, die geldplek, die spoorplek, die vliegplek, die olieplek, die geldplek en die eisplek; alles gerieflik onder een sambreel saamgegroepeer as betaalplekke.

Die ou dinge het verby gegaan en alles het nuut geword.

Ons is van (on)kunde verlos.

En toe gebeur daardie ding …

Terwyl politici nóg leë beloftes maak en beeld poets, gons dit op Ouland, die nuwe sport-safaripark. Onwaarskynlik, maar onvermydelik: die allerlaaste rugbywedstryd word gespeel. Skeidsregters se onvermoë om die reëls te interpreteer, spelers se betreurenswaardige gebrek aan dissipline en die toepassing daarvan, kykweer-beslissings wat punte omkeer en die telbord belemmer, kleurbehepdheid, borgskap-onttrekking en gewelddadige toeskouergedrag het sport vernietig.

Dok Danie Craven het uit sy graf omgedraai, vlerkies gekry en het reeds plek hoog bo op die pawiljoendak ingeneem. ‘n Titaniese afskeidstryd lê tussen die Springbokke en ‘n gekombineerde Protea-Bafana Bafanaspan voor.

Weens verskerpte sigaret-, drank- en kitskoswette is daar nie meer geskikte borge nie. Die wetmakers meen hoe meer kinders aan sulke advertensies blootgestel word, hoe meer wil hulle rook, drink en vreet. Eksperimentering.

Daarom het die department van gesondheid, in samewerking met die department van opvoeding, dié kragmeting en uitsaairegte met ‘n ruim bedrag (met die komplimente van die belastingbetaler) ingespuit. Advertensieborde met erekte kondome, wat in verskillende groottes en teksture en die allerkleurigste reënbooggeureuit hul geskeurde verpakkings beur, toorn oral - met dié trefreël: “Let’s come together – in a condom.”

Mense het van oral gekom. Selfs ‘n vooraanstaande koerant- en TV-kanaalfamilie is daar. Hulle het verkies om nie die paaie – ná die talmende ineenstorting van die e-tolstelsel – of die spore in te hoë lokomotiewe aan te durf nie. Hulle wou ook nie weer by die Waterkloof miltêre basis opstyg nie en hulle wou ook nie die kans vat om op die lughawe in ontlasting te trap nie. Hulle het toe maar ‘n weeldeskip gehuur en uit die Durbanhawe gevaar en by die Militêre Vlootbasis Simonstad vasgemeer. Travel Gate Revisited word reeds deur ‘n kommissie ondersoek.

Op Pretparkstadion, waar die wedstryd eintlik gespeel moes word, drom die skare saam vir nóg ‘n wêreldtoerkonsert deur ‘n internasionale musiekspook. Die promotor van Pension Promotions bespreek altyd dié datum jare vooruit. Kort voor die spertyd loer hy op sy lysie van vergete gistersterre, bespreek dan een (wat darem nog effens beweegbaar is en sónder asemhalingbystand kan reis) om ‘n bietjie aftreegeld in Suid-Afrika te kom skep.

Die plakkaatfoto’s is jonk gekuur en ‘n versamelaar-CD is beskikbaar, met ‘n albumbonus van sogenaamde snitte wat kwansuis toevallig deur ‘n skoonmaker in die argiewe opgediep en afgestof is. Keer op keer val mense vir daardie foefie. Die kunstenaars doen dan selfs moeite om hul bewonderaars in Afrikaans te groet: “Hello Zuid-Africa!” en “Ghoebaai Zuid-Africa!”

Gelukkig is die verhoog ver en swak belig en kan ‘n mens nie juis sien hoe die eertydse glorie vervaag het nie. ‘n Stoere bewonderaar, wat aan sy Klippies & Coke slurp, vertel sy vriend: "F@k, maar die klank is k@k. Ek het ‘n ou Game-hi-fi’tjie, maar my plate klink baie beter daarop!"

Viniel is immers deesdae mos weer in!

In die Stadskouburg, met perfekte klank en akoestiek, stem die lede van die simfonieorkes hul instrumente in, terwyl briljante operasterre en balletdansers agter die skerms stem en lyf soepel hou vir die premiere van nóg ‘n gehalteproduksie. Maar toe die gordyn lig, die dirigent sy buiging maak en die kollig op die asemrowend-ingeklede verhoog skyn, is die opkoms skraal. Selfs die getrouste kuns- en kultuurliefhebber bly vanaand tuis om die laaste rugbystryd nóg te volg. Die resensente is wel daar en The Show Must Go On.

Terug op Ouland steier die spanne ook nie en toe die Franse skeidsregter, Sluwe Slang, sy fluitjie blaas, mik die Springbokkaptein, Flink Ferreira, met ‘n skepskop pale toe.

Ja, die sweet tap en die afrigter, Wagter Wagenaar, maai in sy glashok met sy tweerigtingradio al agter die wenspan aan. Strek in die lynstaan, sak in die skrum, haak daai bal, dan spoed oopdraai. Duik oor die doellyn en druk in die hoek, want die dwarslat wink. Die agterspelers vat flink raak en die voordenkers dryf die bal. Ons nerwe is gaar as die stilte bedaar …

Die skare sing:

Die Springbok is ‘n wonderlike ding
Hy draf op die veld, dis ‘n spel vir geld
Shosholoza
Hy duik in die hek, maar hy rek sy bek
Ja, die Springbok is ‘n kleurryke ding
Shosholoza

Op die pawiljoen maak vernuf die skare mal en die teenstanders is poegaai! Vier dit vanaand, vreugde vanaand. Kom kuier, daar’s samesyn … en ons skink nóg wyn!

Nie vir lank nie! Toe daar weer geskrum word, sien jy net liesrieme waai en die manne speel nou nie net die bal nie, maar ook die mán, terwyl hulle die afbeeldings van die reusekondome, wat op die veld kafoefel, met hul spykerskoene verrinneweer.

Die bloed spat soos hulle mekaar soos mensvreters vertrap en aan die ore byt. Dis ‘n orgie van testosteroon. Sluwe Slang, fyntjies in pienk gelap, blaas sy fluitjie onbeheersd en hy en die kykweerbeslisser, Verneuk Vermaak, is in ‘n warbekgeveg betrokke. Jy sien net geel en rooi kaarte na alle kante toe, tot die boefblik oorloop en die deksel nie meer kan pas nie. Die skare gaan woes te kere, bestorm die veld en uiteindelik blaas Sluwe Slang homself van die veld af en ruk ‘n wit vlaggie uit!

Tuis en op die reuse-stadionskerms kry die nasie nóg ‘n skok, want daar is hy meteens weer. Kykers het aanvanklik gemeen hy is dalk kunsmatig en/of kosmeties aan ‘t uitsaai gehou, maar besef toe dis ‘n robotkloon van ons geliefde Riaan Cruywagen!

Die Kloon se stem verkoop steeds verantwoordelike versekering en gehoorverlies-apparate en sy gunstelingmusiekreeks CD’s waaarop sy gesig pryk, het al meer volumes as toendertyd se Springbok Hits- en Pop Shop-plate verbygesteek.

Ai, die nostalgie tog!

Agter Die Kloon rafel die Springbok-embleem uit. Groen en goue gare val uit die skerm vloer toe …

En toe, verlos van sy lot, spring daardie bok - óp Die Kloon. Die Bok belek hom van oor tot oor en begin lustig aan sy rooibruin haardeksel kou.

Maar niks werp dié TV-nuusverteraan – al hy is nou ‘n robotkloon - omver nie; amper nog net ‘n slapende kat wat van ‘n TV afgemoer het! Hy glimlag genoegdoenend en sê in sy terugaankondiging, verwysend na Sluwe Slang se fluitjieblasery op die veld; nie in keurige Afrikaans nie, maar in verdomde Engels: "That’s a blowjob that sucks!"

Toe’s die skerm pikgietswart: die borgskap vir die uitsaairegte is nie betaal nie ...

Op die veld is daar egter chaos. Meteens verswelg allerlei balle – van rugby en krieket tot sokker, gholf en snoeker - die spelers, terwyl arende en voëltjies, kolskote en vloekskote, verbysterende sesse, verbroude vangkanse en vertoonstrafdoele egos krenk …

En, doer bó op die pawiljoendak, vermy Dok Danie die scoreboard. Hy mymer: "Ver in die verlede, daar sou die breiers vra: gee ons weer baniere wat maniere dra. Wyd pronk die eindlose helde, oorwinnings van rugbyland. Roemryke, trotse gebeure van ons ou Springbokland. Gee ons weer baniere wat maniere dra, hier in die sportsafari tot daar waar gewetens nie meer pla’ie …"

‘n Internasionale sindikaat, met ‘n Sjinese vervaardiger, ontwikkel ‘n blyspel en kom maak ‘n rolprent oor wat régtig daardie dag op Ouland gebeur het … Dit word in verskeie tale oorgeklank en wêreldwyd uitgereik - met ‘n stylplofbare klankbaan. Almal is daarop: van Jurie Els se "Hoe sê ‘n mens dankie?", PJ "Thandeka" Powers en Ladysmith Black Mambazo met "The World in Union", Leon Schuster met "Hie’ kommie’ Bokke" en Steve Hofmeyr met "Pampoen" tot Mimi Coertse & Pumeza Matshikiza in duet met "O Boereplaas", Dr Victor & Die Rasta Rebels met "Wie se kind is jy?", Chris Chamelion met "Die onverkrygbare" en Van Coke Kartel met die temalied "Bloed, Sweet & Trane".

Die wêreldkritici basuin luidkeels:

“Un Tour de force” (die Franse Exposé)

“What a Fart!”(die Britse poniepers)

en “What a Farce!” (die American Review).

Die sit- én staanplekke van die Stadskouburg is nou al jare lank uitverkoop met die blyspelweergawe – wat in vier bedrywe multi-visueel op ‘n reuse-verhoog met drie hysbakvlakke en inter-aktiewe gehoordeelname voltrek word.

Die Naweekspieël berig “’Wat ‘n Poespas!” en die splinternuwe Afrikaanse skandekoerant, Onse Wêreld, besin: “’n Moerse klug!”

In die stadion wag die spook van ‘n voormalige Nommer Een nie sy beurt vir krag en water af nie. Hy talm nog tussen hemel, die ANC en hel en hy steel nóg ‘n skaterbeurt, terwyl ander geeste stemloos op die maat Vuvuzelas in Mandaryns prewel: "Halleluja!"

  • 1

Kommentaar

  • Robert Timmerman

    Pragtig geskryf ou CJ, heerlik om van ver in doer Nederland te lees wat aangaan daar by julle innie verre Zuiden van Afrika. Ons het nou net op Facebook daai video met skok bekyk van 'n man wat grof tekere gaan teen 'n dame in ’n restaurant, maar een van die redes hoekom ek na 60 jaar vertoef in ZA vertrek het. ANC miskien net een van die redes maar die grof en aggressiewe gedrag van Suid-Afrikaners het ook daartoe stoot gegee. Wat ons mis is die lekker goed waaroor jy skryf, maar dis net nie genoeg om te bly nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top