’n Leeftyd later deur Marthie Prinsloo-Voigt: ’n resensie

  • 3

’n Leeftyd later. Herinneringe aan Angola
Marthie Prinsloo-Voigt
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 9781485307686

’n Leeftyd later is Marthie Prinsloo-Voigt se stip herinneringe aan Angola. Dit is verstommend dat hierdie skrywer die pen opgeneem het op die ouderdom van 85 en elke bestemming, insident, verlies, avontuur en mense wat oor haar pad gekom het met soveel helderheid, deernis en presisie beskryf het. Plekke soos Congo, Cusese, Panguelo, Monguavolo, Caprici en Tzaneen.

Vir die skrywer, haar sussie en vier broers is die rondtrek ’n oneindige avontuur. Tyd het hulle nooit verveel nie. Daar was altyd iets nuuts om te ontdek. Hulle beleef die Ossewatrek van 1938 met ’n ossewa wat van Angola af gekom het. ’n Tentseiltjie word deur haar ma met die hand gemaak. So ook die bulsak-matrasse. Hulle help met die kuipe en die watervaatjie aan die onderstel van die waentjie. As die sweep klap, word die briek losgemaak en die wiele rol ’n vreemde toekoms in.

Elkeen van die gesin was raakvatters. Telkens word daar in ’n kort bestek van tyd lande geploeg, gesaai en ’n hartbeeshuisie gebou. Op hulle plaas in Angola is die wêreld geil en vrugbaar. Die skrywer se pa ry transport vir die Portugese winkeltjies vir ’n ekstra inkomste. Die kinders melk die koeie, ry water aan na die huis. Hulle versorg hoenders en varke en beeste. En hulle jag met vernuf. Dis is ’n vry buiteluglewe van kruisbessies pluk, doringboomgom vind, tarentaaleiers soek en om omring te wees van voëls, hasies, duikers en jakkalse. Later ook wildehonde en leeus.

Die Prinsloos hou getrou aan tradisies vas. Op die 15de Desember trek die Dorslandmense saam onder ’n reuse-maroelaboom op Tunda. Die jongklomp hou hulle besig met volkspele, jukskei gooi en toutrek. Die vroue kook en saans om die kampvuur trek die stories terug na die geskiedenis van Bloedrivier.

Op 12 Januarie 1949 tydens die trek na Gaingongo, word die skrywer se suster, Nanna, siek. Op 15 Januarie, is sy op die ouderdom van 19 oorlede aan malaria. Dit is ’n verlies wat diep sny en die eerste van die hopies rooi grond wat die skrywer moes agterlaat tydens hulle omswerwinge.

Op Cusese is almal gelukkig. Die kinders haal heuningneste uit en soek heeldag na veldvrugte. Dis ook hier waar die plaaslike mense vir hulle ’n baba-blouapie, met sy naeltjie nog nat, aandra. Hy word Adoons gedoop. Die gesin leer praat die plaaslike taal vlot. Werkers dra vir hulle soetriet en groenmielies aan. Die lande lyk goed en die tuin staan in blom. Die selfversorgende Prinsloos maak hulle eie kaas en verkoop aan die Portugese winkels.

Maar die winters is nat en mistig en ongesond vir die diere wat brandsiek opdoen. “Daar kom ’n tyd wanneer ’n mens moet besluit en handel, en ons het altyd geglo dat ons Vader met alles ’n doel het, en later sou ons baie daaroor praat. Ons maak klaar, span die osse in, en die trek terug suide toe begin.”

Die skrywer se eerste werk, as jong volwassene, is as kelnerin in Otjiwarongo se Astoria Kafee. Dit is hier waar DF Malan haar bedank vir flinke diens en groet met die woorde : “Mik altyd hoër, my kind, jy hoort nie hier nie.” Later word sy opgelei as verpleegster op Outjo en hierdie beroep sou haar goed te staan kom regdeur haar lewe. Haar pad kruis in dié tyd met die Duitser Carl Wilhelm Voigt en hulle gaan boer saam op sy familiekoffieplaas in Angola. Hier speel die skrywer ’n belangrike rol as tolk en verpleegster vir honderde Angolese vlugtelinge. Sy versorg, met toewyding, die siekes en hanteer geboortes in moeilike omstandighede. In die proses hoor sy ook die gruwelstories van die oorlog aan. Sy verloor self familie in die oorlog. Haar geliefde skoonpa word op 25 Augustus 1975 op Monguavolo vermoor.

Sy beskryf die verskrikking van die oorlog: hoe huisgesinne in die nag aangeval en gemartel is, vroue verkrag is en swanger vroue se mae oopgesny is. Sy self word in ’n stadium saam met haar huishulp aangerand en vir dood agtergelaat. Die oorlog laat sy merke.

Maar telkens is daar ’n nuwe hoofstuk met nuwe uitdagings in haar lewe. ’n Leeftyd later is die memoires van ’n besondere sterk vrou wat haar nooit laat onderkry het deur ontbering, geweld en verlies nie. 

  • 3

Kommentaar

  • Pieter Reyneke

    Ek ken Marthie sedert 1971 en het groot bewondering vir haar en familie.
    Die boek is van my kosbaarste besittings en ek beveel dit vir almal aan.

  • 'n Besonderse vrou is my moeder ... die blote publikasie van die boek is getuienis daarvan. Baie trots op haar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top