’n Kortetjie (met erkenning) aan PG du Plessis

  • 2

Dis die sewentigerjare, in NALN. Die twee groot manne, PJ Nienaber en PG du Plessis, gesels. Oor baie dinge praat hulle, want hulle kom ’n lang pad, dié twee: Nadat  PJ Nienaber op 1 Januarie 1970  na die RGN toe is om ’n Instituut vir Taal, Lettere en Kuns in te rig, en sy eie versameling, die Nienaber-versameling nr 21, as basis vir daardie dokumentasiesentrum geskenk het, is PG du Plessis as die eerste direkteur van die instituut aangestel. So saam-saam sit en onthou hulle daardie eerste insamelingsreis, op soek na skatte om die voorraad van die sentrum aan te vul: “’n Sewe-ton-spoorwegtrok was nodig om die duisende manuskripte (holograwe, eerste- en tweedegraadse tikskrifmanuskripte) na Pretoria te neem. Ons het ook baie boeke gekry, Pieter,” onthou prof Nienaber. Skielik leun PG effe vorentoe, die blou oë kry ’n vonkel in hulle. Iets in die gesprek het hom aan hulle vriend  Ernst van Heerden laat dink. Hy vra of Prof nou dink dat hy “so” is? Ja-nee, hulle stem saam. “Maar darem nie praktiserend nie,” sê ons gas, en sit hulle gesprek voort.

Varserig uit die universiteit, steeds dom oor wat “so” sou kon beteken, het ek daardie dag pas ’n moment beleef van gedeelde sentimente tussen leermeester en student. Iewers tussen dié twee was ’n begrip, want hulle het dieselfde liefdes gedeel: die geskiedenis, die Afrikaanse taal (“Ek is baie lief vir die ding,” het Du Plessis aan meer as een joernalis gebieg), en die belangrikheid daarvan dat historiese gebeure, en die nadraai en invloede daarvan, die standhoudende straaltjie water deur geslagte se gang deur die tyd is. “Ons mond”, ’n kortverhaal waarin Pieter Georg (sónder die e, want dis ’n Ingelse verdraaiing) dit oor die spinnerak van die gene het, vang die leser met hierdie openingsin: “In die oggend voor my spieël, my ontbrilde gesig wollerig van bruisroom, skeer ek my oupa Venter se mond oop uit die wit. Elke keer herken ek die plooie wat afloop van die mondhoeke na die weerskante van my ken – die voutjies wat ’n ou Minora safety blade kon vang om ’n bloedstrepie te laat ... Die onder- en bolip is syne, die spierwit in die baard nou ook myne.”

Ek het dit toe nog nie geweet nie, want ek sou nog ’n Du Plessis-leser moes word, maar hy’t dáárdie oggend ook te sê gehad oor prof Nienaber se skeerroomoorblyfsels hier kenlangs. Iewers het die baie menslike klein glipsies sy skrywersoog nooit ontgaan nie.

Toe hy later, ’n jaar of wat voordat hy 50 sou word, voltyds die skryfberoep aanpak, het hy verál meer begin skryf oor die stukkendes hier rondom en baie naby ’n mens. As jy van die lewe iets wil weet, praat soms met driejariges, word daar gesê. Die vertellers in PG du Plessis se  verhale volg hierdie raad dikwels, natuurlik onbepland: dié enetjie wil by hom weet of olifante elmboë het, terwyl Saar met die bruin oë vir kort wyles “moederlike dinge” met die pop Sarina doen terwyl sy ’n steekse inkopietrollie deur die winkelgange help skop. Of hy luister as Samie, “wat skeef uitgekom het”, vir hom sê hy kry ook swaar.

Sy intellektuele en emosionele internskap het hy by mense soos sy ma en pa deurloop, en later by NP Van Wyk Louw, onder wie se leiding en oor wie se werk hy sy doktorsgraad gedoen het. “Omdat ek die man so afgryslik bewonder, is ek altyd so bang ’n mens probeer, onbewus selfs, probeer jy ’n bietjie ‘reflected glory’ optel, jy weet? ... Ek het hom liefgehad. Hy was die grootste mens wat ek ooit teëgekom het.”  Van sy pa het PG die heel eerste roeringe van die denker, of eensame  intellektueel, ervaar. Met hóm kon hy praat oor sy “binnetwyfels”, oor denkers en skrywers soos Milton, Keats, Shelley, Tennyson en Dickens.

En dan kon sy ma, ’n góéie ma, dinge wat sy kwytgeraak het, so goed formuleer. “Ek het nou die dag weer ’n ding gebruik wat sy gesê het. Sy sê ‘Jong, dié’s so hoogmoedig, sy loop met haar stuitjie agter haar nek.’” Van hierdie raaksêdinge van sy ma het baie tuisgekom in Koöperasiestories,  in Mietie se dialoog. Dat hierdie stories steeds ’n lewe van hul eie het, ook op die verhoog, was seker nie in sy beplanning toe dit as Donderdagrubrieke in Die Transvaler, waarvan hy in 1978 die assistentredakteur geword het, geskryf is nie.

Dramas soos Die nag van Legio, Siener in die suburbs, Plaston: DNS-kind, Vereeniging, Vereniging en ’n Seder val in Waterkloof het ikoniese merkers in Du Plessis se oeuvre geword. Maar dis die stories wat hy “tussen die riewe” en uit die koöperasie en die diegens loop haal het wat by ’n mens bly spook lank nadat jy klaar gelees het en die lig afgesit het. Dán eers sien jy die blink steentjies wat gedistilleer is uit ’n vlymskerp brein, ’n oer-Calvinis se vermoë tot selfkennis, en die tollende werklikheid van rondom.

Tydens ’n slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, wat Du Plessis vir aspirantskrywers in 2010 opgevoer het (want hy had ’n swaar verkoue, en hy’t daardie hele lang Saterdag sy eie drama man-alleen gespeel, en vertel hoe die kuns van storieskryf soms werk), kon ’n mens hom eerstehands beleef: die romanskrywer, die dramaturg, die koerantman en tydskrifredakteur, die onderwyser, die akteur, die boer, die skrynwerker en bouer, die filmmaker, die man wat weet dat potyster nie sweis nie. Hy wou stories maak vir ’n mens wat ’n hart het, en “het probeer om vir die slimmes ook iets in te sit. Ek wil weet wat mense raak ...”

Sy bekende gesprekke saans met Beëllie, veral daar op sy plasie waar hy graag sy sit gesit het, het sy skryfvuurtjies ten goede gestook. Want Beëlsebub Satan kom gewapen, met bekende kollegas van die swartspan: Broedertwis, Wellus, Persoonlike Ambisie, Geweld, die Lieg- en Nydafdeling, en soms ook Juffrou Bellie Shataan. Dan stoot hy sy voete in die vuurtjie in, en drink van die verteller se kookwater, en laat hom, veel veel later, huis in vlug met sy gewete. Sy stories, het PG du Plessis gesê, is “outobiografiese verdigsels”, en “bygelieg”.  Vir ’n man wat óók genoem het dat skryf maar soos hek-maak is, en dat jy deur jou eie skrootwerf loop en jou eie ysters optel, was hierdie verhale sekerlik dikwels flentertjies van die eie werklikheid. Maar die slim man wat hulle geslyp het, het die grens tussen weet, vermoed en wonder netjies uitgevee, saggies, soos met ’n duim oor ’n potloodstreep.

Daar was so baie mense wat die werklike voorreg gehad het om hom goed te kon ken: sy gesin, familie, vriende, beroepsmense. Vir ons ander sal hy die skrywer moet bly wat ons ook net liefhet (sonder om nou “soppy” te raak, soos hy nie oor Van Wyk Louw wou nie). Wat hy tot stand gebring het, is groter as die gene, en sal aanloop met die geskiedenis van die Afrikaanse woord.

“Ek smous met my groot bek voor die wêreld en baie mense dink ek is arrogant. Maar dis net een van baie maskers. Selfs al lag ek vir myself, is dit ’n verdedigingsmeganisme. Niemand lag vir homself nie, behalwe miskien soms so ’n hol lag as jy met ’n fiets geval het en dink iemand kyk vir jou. In my agterhart is ek eintlik ’n half hartseer mens. Want niks is permanent nie. As jy eers die ingeboude kortstondigheid van skoonheid verstaan, verstaan jy aansienlik meer van die letterkunde en die sin van die lewe. Dan skree jy baie minder teen die gode.”

(Aanhalings uit verskeie bronne in NALN se navorsingsversameling)

  • 2

Kommentaar

  • Andries van der Walt

    Het PG nie in die sewentigerjare by Die Transvaler met sy reeks kortverhale onder die titel "Koöperasiestories" begin nie? Ek het ook toe daar gewerk en die reeks verhale van PG het op die middelblad van die koerant verskyn. Dit was 'n groot genot om elke keer as 'n nuwe storie geplaas is dit te kon lees. PG op sy beste! En as ek reg onthou was Wimpie de Klerk toe ook nog redakteur van die koerant. Twee groot geeste saam.

    • Leana Lategan

      PG is in Julie 1978 as assisent-redakeur van Die Transvaler aangestel. Die reeks het verskyn as "Koöperasiestories op 'n Donderdag", en daarna in boekvorm onder dieselfde titel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top