Kuberklas Kreatief-kortverhaal: 'n Kindjie se hart

  • 0

Zani lê op die koel groen gras. Sy sien ’n groot wolk in die helder blou lug bokant haar. Daar verskyn in die wolk ’n hart; hy is bietjie vervormd, maar Zani kan sien dat dit ’n hart is. Dan dink sy aan wat Juffrou vandag gesê het oor hoe lief die Here vir ons is.

Haar sussie versteur haar gedagtes met: “Zani waarna kyk jy so?”

Zani skrik groot en spring op. Haar lieflike lang goudbruin hare hang en sy het sproetjies wat lyk of elkeen opgeplak is.

“Jy het my laat skrik Elmie,” sê sy vir die dogtertjie met die stokkielekker in haar mond.

“Ek is jammer, ek wou maar net weet waar na jy so kyk, en ek wil dit nog steeds weet.”

Zani wonder of sy haar sussie moet vertel waaraan sy dink en waarna sy staar. Sy sal maar net sê waarna sy kyk. “Ek kyk sommer na die wolke. Kom lê langs my, dan wys ek jou wat ek sien.”

Elmie kom lê gemaklik langs Zani op die gras. Die kind is klein en skraal en het twee swart vlegsels wat op haar skouers rus. Sy het groot lewendige bruin oë wat na die wolke kyk. Zani sit haar kop teen haar sussie se kop en wys met haar vinger na die wolk wat ’n hart vorm en vertel haar sussie ook wat Juffrou vandag in die klas vertel het.

Juffrou Miemi is ’n mooi vrou; haar gesig is sag en haar oë straal van liefde. Zani sien ’n vrede in haar. Vandag toe sy in die klas praat oor Jesus se liefde, het sy vertel dat ons iets kan uitdeel net as ons baie daarvan het. Sy het vir ons verduidelik dat as ons oorloop van Jesus se liefde, ons dit ook met ander sal kan deel. Sy sê ons sal mense kan lief hê met die liefde van Jesus al hou ons nie baie van hulle nie. Zani het gewonder of dit moontlik is om iemand só lief te hê.

Elmie luister aandagtig na elke woord, tot hulle ma hulle roep om te kom eet.

Zani se ma en pa weet van Jesus, maar dit pla hulle nie, hulle wil niks met hom te doen hê nie. As die son sak, trek hulle die wyn nader, haar pa skink altyd en sorg dat die glasies vol bly tot die bottel leeg is. As Zani of Elmie dan iets durf vra of sê, gluur hulle ma hulle aan en kyk met vuur in haar oë na hulle. Soms raak hulle sommer in die sitkamer aan die slaap, dan sal Zani die skottelgoed was en wegpak en daarna vir Elmi in die bed gaan sit en vir haar ’n storie lees. Moes dit gebeur? Met hulle? Zani voel asof dit haar skuld is. Haar hart word baie seer en partykeer word sy sommer kwaad, maar sy geniet dit om saam met haar sussie te wees en wonder net of sy die liefde wat Juffrou van praat, ooit met hulle sal kan deel.

Daardie aand in die bed sit Zani met haar Bybel. Dit is ’n klein rooi Bybeltjie wat hulle by die skool uitgedeel het. Sy het dit nog nooit vantevore gebruik nie, maar as sy hoor hoe juffrou Miemie van die Bybel praat, maak dit haar nuuskierig. Sy maak die Bybeltjie oop en lees weer waar Juffrou in die klas gelees het, 1 Korinthiërs 13 . Sy sien daar dat al het jy alles in die lewe, maar jy kan nie lief hê nie, is jy eintlik niks nie. Sy lees verder. “Liefde is lankmoedig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken nie kwaad toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Soe, dis ’n mondvol, dink Zani. Juffrou Miemie het vandag vir hulle mooi verduidelik wat al die groot woorde beteken. Zani sit haar Bybel op haar bedkassie neer en lê agteroor op haar sagte verekussing. Sy sal graag so wil kan lief hê. Sy sal môre vir Juffrou vra hoe sy dit kan regkry.

Die volgende dag in die Afrikaans-klas sukkel Zani om te konsentreer. Hulle is veronderstel om te lees vandag, maar haar gedagtes bly dwaal. Sy bly dink aan juffrou Miemie se woorde: “Ons moet leer om onvoorwaardelik lief te hê.” Die groot horlosie teen die muur sê dit is vyf voor tien. Dit is amper pouse, dan sal sy gou na juffrou Miemie toe gaan.

Die son skyn te heerlik deur die vensters en juffrou Miemie se klas is lekker warm op die koue dag. Zani stap stilletjies in en sien Juffrou is besig om boeke na te sien. Sy kyk op toe sy besef dat Zani langs haar staan en vra: “Hallo Zani, kan ek jou help?”

“Ja, asseblief Juffrou,” antwoord Zani.

Juffrou Miemie draai haar stoel na Zani toe en vra: “Waarmee kan ek help?”

Zani trek ’n stoel nader en sit voor haar juffrou. “ Juffrou, Juffrou het gister vir ons vertel van liefde, hoe Jesus ons lief het en hoe ons ander moet lief hê met dieselfde liefde.” Zani haal diep asem en praat verder: “Ek het gisteraand weer die stukkie in Korinthiërs gelees, maar Juffrou, dit lyk moeilik om só lief te hê. Daar is so baie dinge wat ons moet kan doen.”

“Dit lyk en voel dalk so Zani, maar die Byble sê ook vir ons in Filippense 4 vers 13 dat ons tot alles in staat is deur Christus Jesus wat ons die krag gee. So, met die hulp van Jesus af kan ons só lief hê.”

“Ek wil só kan lief hê,” pleit Zani. “Ek wil soos Juffrou vir almal kan lief wees.”

“Dit is nie ek wat dit doen nie Zani, dit is Jesus wat my help. Sonder hom sou ek dit nie kon regkry nie.”

“Sal Hy my ook help?” vra Zani saggies.

“Natuurlik, kom ons vra Hom,” sê die juffrou en neem die meisie se hande in hare.

“Kom ons bid saam.”

Juffrou Miemie bid dat die Here vir Zani sal help om lief te hê, maak nie saak wat sou gebeur nie. Sy weet wat die meisie by die huis deurmaak en weet ook dat dit vir haar soms baie moeilik moet wees.

Die juffrou se warm hande druk Zani s’n en sy sê: “Nou sál die Here jou help – jy moet dit net glo.”

Dié aand toe Zani in die bed gaan klim, slaap sy lekker vas

Die volgende paar weke bid Zani baie, nie net vir haarself nie, maar vir haar ma en pa ook. Sy onthou dat Juffrou gesê het dat sy net moet bly glo. Soos die dae verbygaan, voel sy dat dinge verander; sy word nie meer so kwaad vir haar ma en pa nie. Die hartseer het verdwyn en sy besef dat haar ouers eintlik swaar kry.

Dit is sewe-uur die aand en Zani lê opgekrul op die bank ’n fliek en kyk: Faith like Potatoes. Dit is verskriklik mooi en hartseer. Sy probeer hard om die trane weg te hou, maar dit is nie so maklik nie, want sy weet haar pa gaan vir haar lag as sy net ewe skielik in trane uitbars oor ’n fliek.

Die fliek staan einde se kant toe en Zani se oë is vasgenael op die TV. Sy lê op haar sy met haar klein wollerige swart hondjie wat tussen haar arms lê en rus. Zani kyk so nou en dan of Wollie al wakker geword het en of sy hom gou moet uit vat dat hy ’n draai kan gaan loop, maar nee, hy slaap te heerlik en sy wonder waaroor Wollie droom as hy so in lekker in haar arms lê.

Terwyl sy nog so lê, vang iets haar oog. Dit is haar pa. Sy sit regop en trek haar knieë op en kom nie eers agter dat die nuus al wys nie. Haar pa kyk vir haar oor sy bril. Hy skakel die klank van die TV af en gaan sit langs Zani. Sy kyk na haar pa; hy lyk anders vanaand, dink sy by haarself. Sy trek haar bene tot teen haar bors. Sy verstaan nie, haar pa het nog nooit langs haar kom sit nie. Hy het laat by die huis gekom vandag, maar sy vra eerder niks nie. Haar pa sit sy hand op haar rug en en sê: “Zani, ek en jou ma was vanaand by die skool vir oueraand. Juffrou Miemie het met ons gesels.” Skielik klop Zani se hart blitsvinnig en sy raak yskoud.

“Ons het agtergekom dat jy anders is die laaste paar weke en het gewonder wat aangaan, daarom het ons met jou juffrou gaan praat. Zani, sy sê jy het jou hart vir die Here gegee en dat jy baie bid vir ons en om te kan lief hê soos Jesus ons lief het,” sê haar pa.

“Ja,” sê Zani versigtig.

“My kind, dit is wat ek en jou ma in jou gesien het, Jesus se liefde.”

Dit voel so onwerklik. Kan dit wees?

“Rêrig?” vra Zani.

“Ja, en daarom het ons laat juffrou Miemie vir ons ook bid. Ek en Mamma het vanaand ook ons harte vir die Here gegee.” Sy verstaan nie die prentjie wat sy voor haar sien nie; sy wonder of dit net in haar gedagtes is. Sy knip haar oë ’n paar keer.

Haar pa vryf haar rug met sy groot hand en sê: “Dankie, my kind.”

Dié aand sit Zani op haar bed en kyk na haar rooi Bybeltjie. “Kan dit wees?” dink sy hardop.

Sy maak haar Bybel oop waar sy gisteraand gelees het: Jesaja 51. Sy lees dit weer: “Die redding wat ek bring kom baie gou, die verlossing wat ek bewerk, is op pad.” Sy glimlag en druk haar Bybel styf teen haar bors vas. Sy maak haar oë toe en bid: “Dankie Here,” sê Zani saggies, “U is Wonderlik.”

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top