’n Kanniedood-koerantman: ’n onderhoud met Hennie van Deventer

  • 8

Laatoes – Kykweer van ’n kanniedood-koerantman
Hennie van Deventer

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316995

http://naledi.online/

Laatoes is ’n versameling indrukke en profielstukke deur die oudkoerantman Hennie van Deventer. In die voorwoord skryf die digter en teksredakteur Louis Esterhuizen: “Wat ons voor ons het, is in wese die lewenservaring van iemand wat nie net geskakeerd geleef het nie, maar ook dit wat die lewe in sy pad geplaas het – hetsy persone óf gebeure – met toepaslike begrip en waardering onder pen gebring het.”

Herman Lategan het die boek gelees en geniet, en vra ’n paar kort vrae daaroor en oor ander sake van die dag.

Hennie, vir lesers wat jou dalk nie ken nie, wie is jy, wat het jy met jou lewe gedoen en waaroor gaan hierdie boek?

Desember 1958 – byna 60 jaar gelede – het ek my as 17-jarige beurshouer vir my eerste proesel vakansiewerk by Die Volksblad in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein aangemeld. Van doerie tyd af is my lewe onlosmaaklik met koerante vervleg. In my vroeë loopbaan was ek parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur van Die Volksblad; daarna eerste nuusredakteur en adjunkredakteur by Beeld, wat in 1974 die eerste lewenslig gesien het.

In my 18de jaar as joernalis keer ek in 1980 op 39 jaar terug na Bloemfontein as redakteur van Die Volksblad. ’n Hele 12 jaar lank het ek verbete aan daardie stoel vasgeklou. Ek wou eenvoudig nie weg nie, al was daar aanbiedinge en druk van bowe. In 1992 verras ek myself: ek aanvaar die uitnodiging van Ton Vosloo om vir my laaste skof ietwat koers te verander. Ek kom Kaap toe in ’n bestuurspos: as Naspers se eerste uitvoerende hoof van koerante.

In die sewe jaar aan die Heerengracht het ek die eerste drie van my 18 boeke gepubliseer, al drie met koeranttemas: die humorboeke Scoops en skandes (Tafelberg, 1993) en Flaters en kraters (Tafelberg, 1996), asook die biografiese Kroniek van ’n koerantman (Tarlehoet, 1998). ’n Vierde koerantboek sou later volg: In kamera (Protea Boekhuis, 2003) en 14 jaar later ’n vyfde, die nimlike Laatoes (Naledi, 2017).

Elke joernalis is ’n getuie van sy tyd (’n Getuie van groot tye is die titel van Schalk Pienaar se boek). Oor die "groot tye" wat ek beleef het, getuig ek in Laatoes. By sekere bakendatums staan ek stil en dink terug: 50 jaar ná die moord op Hendrik Verwoerd, 50 jaar ná die eerste hartoorplanting deur Chris Barnard, 30 jaar ná die verowering van die swaargewigbokstitel van die wêreld deur Gerrie Coetzee ...

Oor alles en nog wat, ernstig en ook nie altyd juis so doodernstig nie, rakel ek stories op. Vele indrukwekkende mense wat in daardie groot tye groot skaduwees gegooi het, maak hul buiging in my boek.

Hennie van Deventer

Blog jy, en indien wel, waar kan mense daardie blog te lese kry?

Henriëtte Loubser, een van my Volksblad-kuikens wat grootbaas van Netwerk 24 geword het, het my ’n keer ’n "kranige blogger" genoem. Die liewe Henriette sal nooit weet hoe seer gevlei die ouman gevoel het nie. Ja, ek blog, blog en blog: op my eie webblad, www.hennievandeventer.com, en op LitNet. Facebook is een van my gunstelingtydverdrywe.

Vertel vir ons van die koerantwese en ’n bietjie meer oor hoe jy in dié bedryf beland het?

Ek is in standerd 7 (vandag se graad 9) koshuis toe op Volkies op Potchefstroom om Latyn te kan neem ten einde advokaat te word. Ek was altyd lief vir praat en het graag van seepkissies af my neefs en niggies welluidend toegespreek. Maar voor skool al het ek aan my oupa Herklaas Visser se voete op die vloer in Kimberley Die Volksblad van hoek tot kant gelees. Dalk was ek tog in die wieg gelê om eerder koerantman te word.

In 1957 word ek die eerste leerlingredakteur van Volkies se jaarblad (ons het nog nie van leerders gepraat nie). Die koeël was deur die kerk. Alle advokaatdrome is terstond begrawe. Ek het vir ’n beurs by Die Volksblad aansoek gedoen en aan Tukkies gaan swotby verstek ook ’n bietjie in die regte! Daar was ek, terloops, in 1961 redakteur van Die Perdeby, die studentekoerant.

In jou loopbaan, as jy terugkyk, wat staan vir jou uit as koerantman? Waarna verlang jy? Die mense wat jy ontmoet het, kollegas, die opwinding van spertye?

Die woord "koerant" word by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) deur my eksklusief geborg. Dit is veelseggend van my holistiese passie vir die koerant as entiteit. Elke element het tot my loopbaangenot bygedra: mense, kollegas, spertye, die lot.

Jy vra dat ek tog iets uitsonder. Dan sou ek reken: die eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk, hetsy oor jou "scoop" op die voorblad, jou rol as sub, jou hoofartikel … of sommer net as leser in jou katel met die eerste koppie koffie langs jou.

Ek borg darem ook die woord "joernalis" nie-eksklusief. Dit is my klein hulde aan daardie spesiale spesie van "salaried eccentrics" (lord Thomson van Fleet se raak beskrywing) wat hul brood in my tyd by koerante (dubbel en dwars) verdien het. Om name te noem, is sonde soek. Ek spog nietemin graag dat ek Pirow Bekker en Jaap Steyn opgevolg het as hoofsub, en dat Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg (voorste spanningskrywers) gelyktydig in my Volksblad-redaksie was. Dit was ook die era van daardie onvergelyklike rubriekskrywer Johan van Wyk.

Watter genre van joernalistiek was vir jou die lekkerste om te beoefen?

Dit is in my bloed om mense voor te sê. Die hoofartikelkolom was dus ’n forum so reg in my kraal. Jy kon mense behoorlik oor die vingers tik, soos ek ’n keer vir PW Botha oor sy bemoeienis met die politieke rigting van sy opvolger, FW de Klerk. Sy oproep uit George sal ek nooit vergeet nie. Die uiters ontstelde man sou my fisiek te lyf wou gegaan het as 1 000 kilometer ons nie geskei het nie.

Ook in die kolom was plek vir humor, waarvoor ek lief is. ’n Persoonlike gunsteling onder die duisende hoofartikels uit my pen is ’n kortetjie waarin die koerant die spot dryf met ’n dekreet dat koerante nie sonder skriftelike verlof oor veiligheidsoptredes mag skryf nie en dat joernaliste haastig spore moet maak as oproer binne hul sig voorkom.

In hierdie artikel is geskryf: “Omdat dit dalk vertolk kan word as kommentaar op veiligheidsoptrede sonder die nodige verlof, weerhou Die Volksblad hom van enige opmerking oor die stap. Wel wil hy beding vir ’n klein toegewing. Dit is dat dit tog maar as versagtende omstandighede beskou word as minder rats joernaliste in die geval van toevallige teenwoordigheid by ’n toneel van oproer die oë styf toeknyp. So sal hulle ook nie sien wat vir hulle verbode is nie.”

As jy moet bieg jy het al ’n fout gemaak, wat sou die grootste een in jou loopbaan wees? En wat het jy daaruit geleer?

Nie een fout nie, Herman, sommer ’n klomp foute. My grootste fout was nie soseer hierdie of daardie bal wat ek misgevat het nie, eerder ’n onplesierige "karaktertrek" wat ’n jonger kollega, die gewaardeerde Constant Steyn, by sy aftrede einde Januarie soos volg verwoord: "Aan die stuur was ’n meestal vreesaanjaende Hennie van Deventer. Álmal, ook sy hoofredaksie, was bang vir hom. Dié wat sê hulle was nie, jok."

Die goeie Constant het sekerlik nie bedoel om sy oudredakteur by te kom nie. Sy woorde herinner egter my opnuut aan ’n beklaenswaardige geaardheid. Ek het, helaas, eie foute makliker vergewe as dié van my kollegas. Dan het ek te hard geraas en mense selfs verneder. Dit is ’n stukkie nalatenskap wat ek graag sou wou uitwis.

In Laatoes betuig ek ’n kollektiewe apologie, vir "ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan." Mag ek dit maar herhaal ter wille van kollegas wat nie my boek lees nie?

Die subkantoor

Ek voel subs is die onbesonge helde van die gedrukte media. Hulle kan nogal eksentriek of baie knorrig wees. Watter subs uit jou dae staan vir jou uit en hoekom?

Jy praat na my hart, Herman. Nie almal hou egter van subs nie. Die knorrige Langenhoven het botweg geweier om sy skryfsels aan subs te onderwerp. Hul enigste funksie is om simpatiek saam te swets oor die drukkersduiwel se dinge, het hy gemeen.

Maar vir subs wat moet kophou in die dolste omstandighede het ek heilige respek. Ek onthou byvoorbeeld die krisisatmosfeer waarin my span subs – ek was toe hoofsub – ’n spesiale uitgawe moes uitbring na die moord op dr Verwoerd in 1966. Hulde aan hulle vir ’n kragtoer.

’n Goeie sub moet nie net kan kop hou nie. Hy of sy moet ook ’n goeie kop (opskrif) kan skryf. Een meester was die verstrooide maar briljante Goëthe Olwagen (algemeen bekend as Ollie) wat later by Huisgenoot onder meer met die Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit vereer is. ’n Keer was daar absoluut vir slegs ’n kort eenreëlkop plek vir ’n stoepberiggie op die voorblad oor die prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ’n opvoering totaal onder die blomme toegegooi is. Ollie se skepping: "’n Blom-Fonteyn”.

Moshe Dayan, die bekende Israelse politikus met ’n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ’n artikel oor daardie voorliefde was Ollie se kop: “Moshe het ’n oog vir oudhede”. Ene L Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.

Wyle EP (Eddie) du Plessis was die vader van die klassieke opskrif: "Die sool is die kous nie werd nie." Dit was bo ’n berig oor swak Russiese weermagstewels.

Miskien die puntenerigste in ’n tegniese sin was Ben van Rensburg, later ’n gerekende motorskrywer. In ’n skitterende subspan in die ’60's by Die Volksblad – byna almal het redakteurs geword – was hy die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder.

Jy was vir ’n jaar weg tydens jou loopbaan. Waarheen het jy gegaan en wat het jy gedoen?

My "verlore jaar" was toe eintlik dalk die beste jaar van my lewe in die koerantesfeer. Ek was bevoorreg om in 1976/77 ’n sabbatsjaar as Nieman-genoot aan die befaamde Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, deur te bring. Ons klas het bestaan uit 13 Amerikaners, ’n Maleisier uit Koeala Loempoer, ’n Israeli, ’n Spanjaard en ek self – almal gesoute joernaliste. Hoe salig was dit nie vir elkeen van ons nie om ’n hele jaar lank te vergeet van roetine, spertye, en ongenaakbare base en ons in ’n stimulerende andersoortige omgewing te verdiep! Geen hoë akademiese eise word gestel nie – die klem is op persoonlike verryking. En hoe verryk het ek nie daarna gevoel nie! Daar is net een Harvard.

Nieman Fellows van 1977

Kan jy die “persoonlikhede” van die drie dagblaaie soos hulle in jou tye was vir ons uitlê? Behalwe hul geografiese fokus, hoe het Die Burger, Beeld en Volksblad van mekaar verskil?

Ek sal graag probeer antwoord aan die hand van drie aanhalings.

Een: ’n Omie bid iewers op die Kaapse platteland: “Here, soos u seker vanoggend in Die Burger gelees het ... Die Burger was vir sy lesers inderdaad ook ’n bybel; ’n tweede bron van ewige waarhede.

Twee: Oor Die Volksblad het Peter de Lange, rektor van die RAU, die volgende kwytgeraak: "Ek weet van geen ander koerant wat nader aan sy gemeenskap leef nie." ’n Hegte, intieme band het bestaan.

Drie: Oor Beeld haal ek graag myself aan. Dis seker onbehoorlik onbeskeie, maar ek dink nogal my woorde wat ’n keer in ’n Beeld-herdenkingsuitgawe opgeduik het, is van pas. Dit is dat ek van geen koerant weet "waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie". Die woord "energie" kon bygevoeg word. Liefde en energie – dit was die resep vir die opwindendste joernalistiek in my era.

Om op te som: Die Burger was die waardige vlagskip, ’n gehalteproduk van sy kroontjie tot sy toontjie, en polities nogal verkennend. Die Volksblad was geliefd, diep ingegrawe in sy lesers se harte, geag as ’n soort kommunale volksbesit, maar in ’n stadium dalk ietwat droog. ’n Ou bynaam was die "vaal Boertjie". Dit het my nie geval nie. Hopelik kon ek iets bydra om dié onvleiende persepsie nek om te draai. Beeld was dinamies; die koerant wat "skouers oopmaak" met ’n groot storie, wat hom nie juis gebonde ag aan allerlei konvensietjies nie en heilige koeie graag slag. Die entoesiasme van sy redaksie het hom ’n turbo-element gegee. Sy swakheid, daarmee saam, was ’n te losse verbintenis met sy lesersgemeenskap, wat teen hom getel het.

Hennie van Deventer en Ton Vosloo

Wanneer dink jy was die goue era van joernalistiek in Suid-Afrika en hoekom was dit ’n blink tydperk? Wat was die bestanddele van of redes vir daardie sukses?

Nou is ek in tamatiestraat. Hoe antwoord ek sonder dat iemand sal dink: "A, jakkals prys darem alte lekker sy eie stert!" Die waarheid is egter dat die jare ’90 ongetwyfeld ons goue era was. Ton Vosloo se vriendelike oordeel by my afskeid in 1998 was: “Hierdie tydperk [...] sal in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken word as ’n tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ’n groot omswaai."

Synde nie oorbeskeie nie, laat ek my die woorde van Naspers se gedugte kaptein welgeval. Ek moet egter tog byvoeg dat ek myself nie as ’n wafferse bestuurder beskou nie. Ek was gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees, omring deur die regte mense.

Die ’90’s – die Ton Vosloo-era – was natuurlik oor die spektrum ’n goue tydvak vir Nasionale Pers, met vele hoogtepunte, soos die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs, die verkryging van ’n vastrapplek in die swart lesersmark met ’n koerant soos City Press en verskeie tydskrifte, asook, natuurlik, die naderhark van die kwiksilwer-Koos Bekker met sy verbeeldingryke M-drome. Hy is die man wat in die volgende dekade die Pers se vlerke skouspelagtig sou kom sprei.

Vir koerante was dit ’n era van vet winste, stygende leserstalle en sirkulasies, asook kragtige advertensiesteun. Hulle het bekers by die Naspers-prysuitdeling gewen; die dagblaaie het met hul kollektiewe lesersgetalle deur die miljoenkerf gebars, en Die Burger het die lank gekoesterde ideaal verwesenlik om die grootste dagblad in Wes-Kaapland te word. Danksy soliede produkte en hul onbeskaamde Afrikaansheid het die koerante lesers se harte klaarblyklik opnuut bly gemaak.

’n Hoogtepunt was bepaald ons koerante se deurslaggewende sleutelrol in die tuisbring van politieke realisme by die land se wit bevolking en die ommekeer tot politieke gelykheid op die grondslag van regverdigheid teenoor almal.

As jy vandag ’n sukkelende koerant kon oorneem, hoe sou jy die sirkulasie opstoot?

Die klem sal val op nuus, nuus, nuus. Nuus "breek" in die moderne tyd op elektroniese platforms, nie meer op die voorblaaie van koerante nie. Om op te hou sukkel sal ’n koerant weer ’n primêre nuusbron moet word. Ek sou onmiddellik ’n verbod daarop plaas dat verslaggewers hul "scoops" vir die netwerk pasella gee. Dink net watter betekenis kon dit nie vir die dagblaaie gehad het as byvoorbeeld die Oscar Pistorius-"scoop" eerste op hul voorblaaie en straatplakkate sou gewees het nie!

Ondersoekende joernalistiek in die gedrukte media het ongelukkig heelwat stoom verloor. Ook daarin sal ’n ommekeer moet kom.

Hoe is vroue destyds by koerante behandel? Was dit ’n wêreld vir manne, sigarette en wilde jaagtogte agter stories aan? Hoe het vroue ingepas en hoe het die tye verander?

Rowwejêks was daar wel in die koerantgeledere, maar as ’n persepsie bestaan dat dit net "’n wereld vir manne, sigarette en wilde jaagtogte agter stories aan" was, is dit ’n fout. Vroue het nie soveel kanse gekry soos vandag nie, maar hul rol was toe al allesbehalwe minderwaardig.

Toegegee, buiten die Rykie van Reenens, Martie Retiefs, Fleur de Villiers's en ’n paar ander was vroue meestal in die tweede linie, maar watter gedugte bydrae het hulle nie as subs en verslaggewers gelewer nie! Van destyds se jong vroulike sterre is vandag in leiersposisies. Ek is nie verras dat hulle uitgestyg het nie; hul talent en potensiaal was vir almal sigbaar.

Verskoon my as ek tog byvoeg dat ek al tekens gesien het van vrugte wat te gou ryp gedruk is. Nie elke vrou met wie in ’n hoë koeranterol gewaag is, was ’n ongekwalifiseerde sukses nie!

Vandag word daar gereeld oor Iqbal Survé van Independent Media gekla. Daar word tereg gesê dat sy koerante, soos die Cape Times, Cape Argus, The Star en vele ander, bloot propagandablaaie vir die ANC is. Kan dieselfde nie gesê word van Naspers se koerante gedurende die NP se bewind nie?

Die Burger en Die Volksblad was in ’n stadium mondstukke van die NP. Beeld was dit nooit nie, maar was in die breë ook die NP goedgesind. Dit sou ’n verhandeling verg om oor die Afrikaanse koerante se rol ’n ewewigtige evaluering te doen, maar aan die negatiewe kant kan hulle bepaald beskuldig word van meermale te naby aan die party loop, veral in verkiesingstye. Anders as die koerante wat jy noem, was die Afrikaanse koerante, ondanks gedeelde waardes en ideale, egter nooit ontmande napraters nie. Hulle was vennote, maar ook ongebonde verkenners met onafhanklike denke en insigte wat hulle van Verwoerd se dae af gereeld in konflik met partyleiers gebring het.

In vele opsigte was hulle die onverskrokke pad-oopbrekers. Dat met die ANC gepraat word, het Ton Vosloo byvoorbeeld al in Januarie 1981 in Beeld voorgestel – sewe jaar voor Niël Barnard se eerste gesprek met Nelson Mandela in Pollsmoor, agt jaar voor PW Botha s’n in Tuynhuys, en amper ’n dekade voordat die aanstaande president en internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 uit die Victor Verster-gevangenis sou stap. Dit beskou ek as ’n betekenisvolle antwoord op diegene wat redakteurs van daardie era wil kleineer.

Iemand wat ek graag in hierdie verband aanhaal, is die perskommentator James McClurg van die Cape Times wat soos volg oor die pogings van verligte Afrikaanse redakteurs geoordeel het: “That they [verligte Afrikaanse editors] have succeeded at all [in discarding the myths and visions with which Afrikanerdom has long encumbered its sons], given the pressures to which they have been subjected, is a mark of courage.” En meer persoonlik: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksblad has shown consistent courage. Its present editor, JH van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”

Onlangs is ’n boek met die titel South Africa’s resistance press: Alternative voices in the last generation under apartheid deur Les Switzer en Mohamed Adhikari (Ohio University Press, 2000) onder my aandag gebring. Ek haal daaruit aan: “Real opposition in Afrikaner press circles against grand apartheid, however, stems from the 1980’s, and it came from newspapers in the Transvaal and Orange Free State. Ton Vosloo, editor of Beeld, and Hennie van Deventer, editor of Die Volksblad, for example, were critical of the government’s ban on the ANC and other opposition groups.”

Ek herhaal dat ons koerante in uiters moeilike omstandighede en teen die grein van ’n kernkorps van lesers in ’n deurslaggewende sleutelrol gespeel het in die tuisbring van politieke realisme by die land se wit bevolking en die ommekeer tot politieke gelykheid op die grondslag van regverdigheid teenoor almal. Maar kom ons los dié komplekse onderwerp vir eers maar daar.

By ’n Protea-bekendstelling van een van Chris Karsten se boeke

Watter soort joernalistiek geniet jy vandag om te lees, en lees jy wyd?

Ek stel intens belang in vars nuus. Dit dwing my tot lang sessies voor die rekenaar. My eerste liefde bly egter die gedrukte media. Ek lees Sondae Rapport en, afhangend van waar ek my bevind, een van die dagblaaie gereeld. Van Media24 se gerf tydskrifte ken ek nie eens al die name nie, maar ek tel graag een op as dit oor my pad kom. By was in ’n stadium wonderlik. Die snoeiskêr is helaas ingesteek. Die huidige publikasie is ’n floue skadu van wat dit was.

Goeie skryfwerk wek altyd my bewondering. ’n Hele galery rubriekskrywers blink deesdae uit. Charles Smith van Volksblad (wat ná my tyd sy “Die” verloor het) se rubrieke is meesal juwele.

Lees ek wyd? Die kort antwoord is nee, ek lees nie naastenby wyd genoeg nie, al besef ek steeds: jy moet wyd lees as jy ingelig wil wees, en as jy nie ingelig is nie, is jy nie toegerus om ’n sinryke bydrae tot gesprekke te lewer of die regte keuses by kruispaaie te maak nie.

Wat is die belangrikste blaaie van ’n koerant? Die sport, politiek, rubrieke, kunsblaaie, nuus, spotprent, briewe, profiele, meningstukke, reisverhale of lewenstyl? As jou antwoord is dat elkeen ’n belangrike rol speel, maar jy word gedwing om ’n koerant se blaaie te verminder, wat sou eerste opgeoffer moet word?

Die Engelse het ’n uitdrukking "stick to your knitting". Dit beteken rofweg: skoenmaker, hou jou by jou lees. Koerante moet eerstens nuusblaaie wees. Die klem moet val op aktualiteit. Party lekkerlees-onderwerpe verryk wel die produk, maar kan goedskiks voldoende deur ander media gedek word. Wat eerste in die slag sou moet bly indien die uwe die septer swaai, is blaaie met stories oor die glanslewe van rondrits, lekker eet en lekker speel wat rykes beskore is.

As ’n jongmens na jou toe moet kom en vir jou vra: “Mnr Van Deventer, wat is u raad vir my pad vorentoe in hierdie bedryf? Hoe gaan ek ’n sukses daarvan maak? Waarvoor moet ek versigtig wees en wat moet ek doen om vooruit te boer?”, wat sou jy antwoord?

Om in die rugby-idioom te praat: ek sou dit nie waag om vir so ’n jongmens ’n wedstrydplan te gee nie. My opdrag sou wees: “Gaan speel voluit in die veld wat jy kies.” Vuur, toewyding en veral entoesiasme is vir my sleuteleienskappe. Daarmee kon jy in my tyd berge versit. Ek glo dit is steeds die regte resep vir elke vertakking van die opwindende mediabedryf.

En nou? Met jou ervaring, wat dink jy is die pad vorentoe vir die Afrikaanse media?

Dit tref my as waarnemer nie juis met welgevalle nie dat die Afrikaanse koerante se hande kwalik gesterk word vir hul uitdagende stryd in ’n uiters mededingende omgewing, waarin die sogenaamde nuwe media, sosiale media en watse media nie nog nie steeds al hoe dieper inkeep. Hul hande word, soos dit vir my lyk, eerder agter die rug vasgeknoop. Dit word vir hulle ’n uitmergelende, ongelyke stryd teen die omvattende aanslag van nuwe tegnologieë.

Dat Naspers se "CEO" (sic), die Nederlander Bob van Dyk, vir koerante net ’n rakleeftyd van vyf jaar voorsien, is kwalik ’n mosie van vertroue!

Nietemin, die behoefte om in Afrikaans ingelig te word, gaan nie verdamp nie; dalk eerder versterk word deur die toenemende politieke inbreuk op die lewensruimte van ons taal. Vir Afrikaanse e-media voorsien ek dus stelselmatige groei namate rekenaargeletterdheid en -gebruik toeneem. Afrikaanse tydskrifte is dalk te getalryk, maar die mark gaan nie kleiner word nie. Afrikaanse koerante gaan, ondanks die grafgrawers, waarskynlik nog lank deel van die medialandskap wees – veel langer in elk geval as die "vensterperiode" van net vyf jaar wat mnr Van Dyk dalk in ’n onbewaakte oomblik voorspel het.

Dankie Hennie, ek het jou boek geniet en kan dit aanbeveel. Is daar dalk iets wat jy wil byvoeg?

Dankie, Herman, vir die prikkelende vraag-en-antwoord-sessie. Dankie vir jou en nog ’n Herman, my oudkollega Herman le Roux, se aanstigting om tog maar ’n keur van my blogs en ander skrywes ná my aftrede aan ’n uitgewer – in dié geval Naledi – te gaan aanbied.

  • Alle foto's is deur Hennie van Deventer verskaf
  • 8

Kommentaar

  • Anton Lombard

    As'n ou skoolmaat van Hennie en inderdaad lid van sy eerste redaksie (Potch Volkskool se jaarblad) was dit vir my 'n riem onder die hart om die ou maat van ons te hoor praat oor sy loopbaan. Dit getuig van iemand wat met sy talente die regte rigting ingeslaan het na skool en met entoesiasme, ywer en deursettingsvermoë'n groot sukses daarvan gemaak het. Mooi gedaan ou maat ons is trots op jou.

    • Hennie van Deventer

      Anton, watter groot tye het ons nie saam op Volkies beleef nie! Dankie vir die heuningkwas. Hoe ouer ek word des te meer geniet ek om gevlei te word.

  • Ansie Lotriet Coetzee

    Groot bewondering vir Hennie van Deventer gehad: Hy was so gaaf om my gedurende Varsity vakansies as sg verslaggeefster (eintlik afkyker) By Beeld te akkommodeer. Geleenthede gehad om te sien hoe groot kanon-verslaggwers oa die Bos-oorlog hanteer, Max du Preez, die ewige besige hommelby, Julia Brink, peinsend en wiegend op haar stoel, Martie Meiring, Lorna Vosloo, Johann Holzapfel ... ag,so baie om te noem - elkeen wat 'n onwisbare indruk gelaat het. Dankie Meneer, jou aandeel in my vorming was geweldig groot.

    • Hennie van Deventer

      Ansie, hoe goed onthou ek nie daardie dae in "Voorhoutstraat"nie. Ek onthou ook al die mense wie se name jy noem - en heelparty ander - met nostalgie oor wat was. Onthou ook die knap jong Ansie. Wees verseker: jy was veel meer as net 'n "afkyker" by die groot kanonne.

  • Die Internet is hier. Dis elektroniese media teen gedrukte media. Die twee is nie eers van dieselfde spesies nie. Gedrukte media staan geen kans nie. Dit is die harde werklikheid. Tegnologie het voortbeweeg. Moontlik onder die koerantwese se voete uit.

    • Hennie van Deventer

      Toe radio sy verskyning maak, is die einde van koerante voorspel. Toe TV kom, is die einde van koerante voorspel. Koerante oorleef nog altyd. Ek voorspel koerante gaan veel langer by ons wees as wat baie mense hoop en dink. Koerante bied gerieflike toegang tot 'n geselekteerde pakkie inligting op 'n bevatlike manier. Niks kan die plek van my koerant in my lewe neem nie.

  • Pedro Diederichs

    Opregte passie en toewyding vir die joernalistiek is opvallend in hierdie onderhoud. Hennie van Deventer en kollegas wat ek ken en geken het, se loopbanre getuig hiervan. Die huidige joernalistieke korps kan gerus uit hul voorbeeld (ook die erkenning en verskoning vir bedonnerdgeit!) leer en 'n mens sou hoop dat hulle die artikel en die boeke van oudredakeurs sal lees. 'n Treffende onderhoud Herman.

    • Hennie van Deventer

      Jou kommentaar word hoogs waardeer, Pedro. Jou huiging na Herman Lategan is gepas. Dit was sy inisiatief. Sy vrae was prikkelend en op die punt af.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top