’n Helse gedoente: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk

  • 0

Titel: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk
Skrywer: Prof JS (Kobus) Krüger
Uitgewer: Sentrum vir Mistiek
ISBN: 9780621416022

Een van die groot raaisels in die Westerse godsdienstige lewe is hoekom ordentlike mense, goeie Christene wat in hul daaglikse wandel nouliks ’n vlieg seer sal maak, so dikwels die mees sadistiese en groteske beskrywings kan uitdink oor wat op sondaars en ongelowiges in die hel wag.

Kyk byvoorbeeld na die apostel Petrus. In die Openbaring van Petrus, ’n Gnostiese geskrif uit die tweede eeu, word die dissipel as volg aangehaal oor booswigte se lot in die hiernamaals: “Ek het moordenaars en hul meelopers aanskou wat in ’n dal vol slange gewerp is. Hulle het gewriemel soos wat die slange hulle teister. Daar was ook wurms, so baie dat hulle soos ’n donker wolk gelyk het, wat die sondaars bedek het. Die siele van hul slagoffers het die moordenaars se straf aanskou en verklaar, O God, U oordeel is regverdig.”

Of nader aan ons eie tyd is daar die voorbeeld van Kowie Maritz, ’n Suid-Afrikaanse skrywer van kinderboeke, wat ná haar bekering ’n paar jaar gelede ’n boek getiteld Geheime van die Hel Ontbloot geskryf het, waarin sy vertel dat sy deur Jesus op ’n reis deur die hel geneem is. “Daar was donkergrys, amper swart, spekvet, grillerige rotte. Die rotte het in verwarring rondom die troon begin skarrel. Onmiddellik daarna het ’n enorme slang, wat soos ’n bruingeel kobra-agtige reptiel gelyk het, regop gekom en sy groot, skubagtige kop bak getrek. Hy het na my gemik om na my te pik.”

Maar tussen al dié morbiede verbeeldingsvlugte is daar een wat uittroon soos die setel van die duiwel bo Gehenna. In “Inferno”, die eerste kantiek van die 14de-eeuse digter Dante Alighieri se Goddelike Blyspel, skets dié digter, wyd beskou as die vader van moderne Westerse letterkunde en na sommiges se mening die grootste digter wat Europa al opgelewer het, helse gruwels wat dié van Petrus en Maritz mak laat lyk.

Die volgende uittreksel uit ‘n nuwe Afrikaanse vertaling deur Kobus Kruger, afgetrede godsdienskunde-professor van Unisa, is langerig, maar so boeiend soos enige grilfliek. Dit beskryf die lot van drie skarminkels wat Dante teëgekom het tydens ’n begeleide toer deur die verderf:

Terwyl ek hulle nog so dophou, het ’n sespoot-slang teen een van die drie opgeskiet en hom vollyf beetgepak. Met die middelste pote het hy hom teen die dief se buik vasgeklamp. Met die voorstes het hy sy arms vasgepen. Toe het hy deur altwee wange gebyt. Die agterbene het hy om die dief se dye uitgesprei. Sy stert het hy tussen die dief se bene deur teen sy rug opgestoot en hom styf vasgedruk. Nooit het ’n klimop stywer teen ’n dier opgerank as wat daardie aaklige ongedierte sy ledemate om die van die ander wese gevleg het nie. Soos warm as het hulle aan mekaar vasgemelt ... Die twee koppe was al een. Die twee gesigte was al weg en twee voorkomste het in een gesig vermeng verskyn. Die twee arms was vier repe vleis. Dye en kuite en buik en borskas het ongekende dele uitgemaak.

Goeie hel! Wie sou nou aan so ’n straf kon dink?

Illustrasie: Mimi van der Merwe

In Dante se hel word almal, van korrupte pouse tot homoseksuele tot die profeet Mohammed, aan ’n verskeidenheid verbeeldingryke strawwe onderwerp. (Laasgenoemde se liggaam word die ewigheid lank oor en weer aan flarde geruk omdat hy ’n skeurmaker binne die religieuse wêreld was.) Hier en daar beland sondaars in riviere van ekskrement. Die arme Alexander die Grote word tot by sy wenkbroue in kokende bloed onderdompel. Sommige sondaars se “gesigte was besmeer met bloed, wat, gemeng met trane, by hul voete deur vieslike ettermaaiers opgeslurp is”.

Die vertaler merk tereg al in die voorwoord op dat die geloof in so ’n hel van folterings in ons hedendaagse, minder bloeddorstige wêreld nie meer maklik aanvaar word nie. “En die denkbeeld van ’n hatende, wrekende God wat mense tot ewige foltering verdoem, is nie aanvaarbaar nie.”

Maar hoekom word dié werk dan so hoog aangeslaan? En hoekom nog ’n vertaling?

Dante se Goddelike Blyspel (en die “Inferno” spesifiek) is moontlik naas die Bybel die mees vertaalde werk in die Westerse letterkunde. Met die verskyning van die jongste twee Engelse vertalings verlede jaar het The New Yorker berig dat daar al minstens 100 Engelse weergawes gepubliseer is. Kruger s’n is die tweede in Afrikaans, nadat Delamaine du Toit al drie kantieke omtrent twee dekades gelede in Afrikaanse vertaal het. En dit neem nie eens in ag die honderde sekondêre werke oor Dante se epos (insluitende Dan “Da Vinci Code” Brown se jongste roman, Inferno) nie.

Illustrasie: Mimi van der Merwe

In sy besonder erudiete voorwoord argumenteer Kruger dat as mens verby die hellevuur-konvensies kyk wat ’n deel van Dante se kulturele bagasie was, daar in sy reis na die hel, vagevuur en uiteindelik die hemel, ’n universele verhaal van ’n siel se mistieke omswerwinge is. (Kruger se titel vir die vertaling is dan ook “Dante se mistieke reis”.)

Uit die voorwoord:

Die gedig vertel die verhaal van ’n man se innerlike reis. Hy skryf oor ’n spesifieke, konkrete mens: homself. Teen die einde van sy jeug, aan die begin van die tweede helfte van sy lewe, het hierdie man hom in ’n ernstige persoonlike krisis, in ’n toestand van magteloosheid en depressie, bevind. Die verhaal gaan ten diepste oor hoe hy, verlangend na sin en suiwerheid van gees, in homself gekeer het, hoe hy deur ’n proses van loutering gegaan het en hoe hy mettertyd ’n gevorderde staat van persoonlike intergrasie, geluk en insig bereik het.

Die verhaallyn lui kortom as volg: Dante is een nag op reis deur ’n woud, waar hy deur gevaarlike ongediertes voorgelê word. Die Romeinse digter Vergilius verskyn en red hom van die diere. Saam met Vergilius, en later sy geliefde Beatrice, vertrek hy op ’n mistieke reis na die hiernamaals. Die drie dele van die reis (hel, vagevuur en hemel) vorm die drie kantieke van die Goddelike Blyspel en Kruger se vertaling dek die eerste, mees grusame van dié drie. In die hel wys Vergilius aan Dante die strawwe wat ’n verskeidenheid ellendelinge deurmaak; en dis opvallend hoe baie van die lydendes wat hulle met die reis teëkom, mense blyk te wees wat vir Dante in sy lewe te na gekom het. Dante was aktief in die Italiaanse politiek van sy dag, en waar hy nie sy opponente in die Florentynse stadspolitiek kon uitoorlê nie, het hy gesorg dat hy darem vir elkeen van hulle ’n spesiale straf in die verderf uitdink. Dis moeilik om die gevolgtrekking te vermy dat Dante in die hiernamaals byltjies wou slyp; sy Schadenfreude oor sy opponente se lot is duidelik. Nie besonder Christelik vanuit ’n 21ste-eeuse perspektief nie, maar in die 1300’s het mense waarskynlik anders oor dié tipe ding gedink.

Dante se digkuns word as die eerste groot werk in die Europese omgangstale gesien, so invloedryk dat dit ’n sleutelrol in die standaardisering van Italiaans en die verloop van die Renaissance gespeel het. Dit het operas geïnspireer, asook ’n legio vertalings – rymvertalings, prosavertalings, strokiesprent-vertalings en na dese twee Afrikaanse vertalings.

Kruger se vertaling verskil van Du Toit se vroeëre werk, omdat dit die teks in prosavorm weergee – waarskynlik ’n wyse besluit, aangesien die skrywer nie ingehok is deur rymstrukture en ’n ritme wat vreemd aan Afrikaans is nie. In die vryer prosa kon Kruger Dante se beeldende taal meer effektief weergee, iets waarvoor Afrikaans besonder geskik is. (Vra jou af of Engels die klankrykdom van ’n frase soos die volgende sou kon weergee: “’n Warboel van tale, geradbraakte geluide, smartkrete, woede-gille, stemme hoog-skril en hees-grommend en hande wat saamgeklap word.”)

Maar die belangrikste vernuwing in Kruger se vertaling is dat hy, as godsdienskundige eerder as letterkundige, sy lens op Dante se metafisika en mistiek eerder as op letterkundige meriete fokus. As daar ’n vorige vertalings is wat iets soortgelyk probeer het, is dit nie wyd bekend nie.

Kruger het in sy tyd by Unisa ‘n reputasie vir sy verstommende wydbelesenheid oor die mistieke tradisies van sowel Europa as Asië opgebou. Oor die dekades het hy stilweg ’n korpus van mistieke literatuur van regoor die wêreld in Afrikaans vertaal en gepubliseer. Hy het reeds werke oor die Christelike mistiek van Jan van Ruusbroec en Giordano Bruno die lig laat sien, maar selfs nog meer indrukwekkend: in 1984 het hy ’n jaar in Sri Lanka deurgebring om Pali (die taal van die Theravada Boeddhistiese kanon) te leer en sedertdien het hy die Sutta Nipata as Skep die skip leeg en ander vroeë Boeddhistiese gedigte vertaal. Die hoogtepunt van Kruger se vertaalwerk was Aandag, kalmte en insig, ’n Afrikaanse vertaling van die Boeddhistiese Satipatthana-Sutta, ’n antieke Pali-geskrif waarin die Boeddha sy meditasietegniek uiteensit. Dit lees in Kruger se Afrikaans so toeganklik soos ‘n moderne meditasiehandleiding.

In die lig van al dié sublieme geestelikheid lyk dit op die oog af raar dat Kruger hom nou na Dante se hellereis gewend het. Kruger meen egter dat die verheffende momente in veral Dante se tweede en derde kantieke (“Purgatorium” en “Paradiso”) ’n teenvoeter vir die hellevaart vorm – ’n beweging in die klassieke mistieke tradisies waarin die siel vanuit die diepste verderf gaandeweg tot by ’n regstreekse belewenis van God opstyg.

En voorts is daar in die laaste sowat 50 bladsye van Kruger se boek ’n fassinerende bespreking van die plek van Dante se reis binne die breër mistieke wêreld, ’n tradisie wat interreligieus en veel meer ekumenies as ons stereotiepe verwagtings oor die laat Middeleeue is. Kort voor Dante se loopbaan is byvoorbeeld ’n teks oor die hemelreis van die profeet Mohammed in Europa gepubliseer en wyd versprei. Kruger argumenteer dat die moontlikheid opreg ondersoek moet word dat Dante se apokaliptiese visioen deur dié Moslem-tradisie beïnvloed is. Daar is ook omvattende besprekings van die raakpunte tussen Dante se mistiek en dié van die Vedantiese, Boeddhistiese en selfs Chinese mistiek. Hoewel ’n oor-en-weer-beïnvloeding tussen Dante se Middeleeuse mistiek en dié van Suid- en Oos-Asië onwaarskynlik is, meen Kruger daar kan tog tekens gesien word van ’n “gemeenskaplike ou Indo-Europese voedingsbodem” wat in dié tradisies uitkom. Die Berg van Loutering in Dante se hel het byvoorbeeld ekwivalente in Asiese mitologie. En die Indiese idee van karma herinner sterk aan Dante se beginsel van contrapasso, waar sondaars in sy hel telkens gestraf word op maniere wat hul eie oortredings weerspieël (soos Mohammed wat verskeur word as straf vir sy eie skeurmakery).

Dante was volledig ’n kind van sy tyd, argumenteer Kruger. Meer nog, hy was ’n mééster van sy tyd, iemand wat ’n omvattende sintese van die denke (Christelik, klassiek, volksgelowe) op skrif gestel het om so die kosmologie van sy beskawing te verewig. Maar as mens by dié tydgebonde tekselemente verby kyk, vind jy in die Goddelike Blyspel die universele tema van die mistiek, ’n siel wat deur skuld, twyfel, soeke en ekstase worstel op weg na ’n Visio Dei. Dante eindig sy reis aan die voet van God se troon en beskryf daar ’n epifanie wat aan mistieke belewenisse vanaf die Boeddha se nirvana tot by Freud se oseaniese gevoel herinner.

Die vraag waarmee Kruger sy teks afsluit, is of dié godsbelewenis ’n blote mitopoëtiese konstruksie is en of Dante inderdaad ’n direkte belewenis van die diepste werklikheid gehad het. Kruger sluit in sy bespreking vertaalgrepe uit die “Paradiso” in waar Dante dié godsbelewenis probeer verwoord:

Van dié oomblik af was my sien groter as wat taal kan toon – dit faal voor so ’n sig soos die geheue faal voor iets só buitensporig. Soos een wat dromend sien, maar ná die droom net ’n indruk oorhou van die gevoel (die ervaring self is onherroeplik weg), só is ek, want my visioen is so te sê verby – en tog drup nog in my hart die nákoel van die soet daaruit gebore.

Dante se antwoord is dus: ja, sy ervaring was eg. “Die universele vorm van hierdie verknoping het ek gesien – glo ek – want as ek dit sê – voel ek – word my vreugde meer.”

Dit is dié laaste strofes wat uiteindelik ook vir Dante ’n reddende element vorm – nie net omdat sy siel in die taal van sy tyd na ’n reiner hemelsfeer opgevaar het nie, maar ook omdat hy gedwing word om die beperkinge van sy eie woorde en kennis te erken voor ’n heilservaring wat selfs ’n digter van sy taal beroof. Die wraakgierige skrywer van die “Inferno” kan uiteindelik in ’n goddelike vuur iets van nederigheid en genade leer.

 

  • Dante se mistieke reis, eerste tog: Inferno, vertaal deur JS Kruger is gepubliseer deur die Sentrum vir Mistiek, ‘n niewinsgewende organisasie wat deur Kruger gestig is vir die bestudering van die mistiek. Dit bevat illustrasies deur Mimi van der Merwe en kan van die skrywer bestel word by jskruger@mysticism.co.za.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top