’n Getuigskrif oor die LOK-simposium

  • 0

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se jaarlikse LOK-simposium (LOK: Letterkunde-ondersteuningskomitee), aangebied in samewerking met die UWK en US, vind vanjaar op 17 en 18 Februarie in Stellenbosch plaas. Die simposium is gemik op onderwysers in die Wes-Kaap wat Afrikaans as vak aanbied, hoewel onderwysers uit ander provinsies dit ook graag bywoon. Hier is die volledige program:
http://www.wcedcurriculum.westerncape.gov.za/jdownloads/Afrikaans/OnderwysBronne/PROGRAM_LOKSIMPOSIUM%202017.pdf.

Op die vooraand van die geleentheid, deel Hanneke Basson haar gedagtes.

Vir my as groentjie-onderwyser en eenvrou-Afrikaans-departement was die LOK-simposium ’n oase.

Hier kon ek skouer skuur met gesoute legendes wat hul kennis en idees met graagte deel. Ek sal nooit my ongeloof vergeet toe Saretta Otto vir meer as 600 onderwysers ’n hele pakkie met Valentynsdag-taaloefeninge plus die memo uitgedeel het nie. Soveel vrygewigheid! Om na ’n simposiumnaweek in die Kaap op Prins Albert in die klas in te stap, slaggereed met splinternuwe aktiwiteite, was absolute genade. (Daardie jaar was Valentynsdag ná die simposium.)

Ek het mettertyd soveel inspirasie by die LOK-simposium gekry. Aanbieders het klaspraktyke, insig in letterkundetekste, tegnologiewenke, werkkaarte, skyfie-aanbiedings en baie meer gedeel. Baie daarvan het ek net so gebruik en ander het weer idees in my kop losgemaak om my eie aanslag te verander en te vernuwe. Selfs om net te aanskou hoeveel moeite aanbieders met hul lesings doen of jaloers toe te kyk hoe vaardig sprekers met die tegnologie omgaan, het my aangespoor om myself te ontwikkel. En daar was oor die jare báie uitstekende aanbieders.

Niemand mis ’n Adinda-aanbieding nie, want jy weet: dié vrou doen moeite. Jy word beloon met ’n dik dokument vol pitkos. Chris Banda herinner ons gereeld aan die fynere kunsies van taalonderrig en hy doen dit met soveel humor – die tyd vlieg verby! Selfs ná middagete hang die gehoor aan Louise Viljoen se lippe wanneer sy vir ons die gedigte oopbreek en ons in staat stel om met selfvertroue na ons klasse terug te keer: nou kén ons die tekste.

Deesdae begin ’n akademiese jaar nie op die regte noot as my LOK-inskrywing nie gedoen is nie. Dit bly vir my ’n noodsaaklike bron. En as die aanbiedings, na jare van dieselfde letterkunde, effe flou is, dan maak die lekker kuier om die koffiekan die LOK-simposium die moeite werd!

Soveel van ons het al alleen in ’n Afrikaans-departement gewerk. Dan is selfs die saamkuier en staaltjies uitruil kosbaar. Jy hoor dat dit maar by ander skole ook rof gaan. Jy word vertroos deur kollegas wie se idees ook nie altyd werk nie. Jy hoor ’n belangrike brokkie inligting oor puntelyste, klustervergaderings of vraestelformate. Jy gesels met mense wat jou daaglikse frustrasies, roetine en merklading verstaan. Dit voel soos familie.

Mag die LOK-simposium ons nog vir jare inlig, inspireer en bymekaarbring!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top