'n Geheuekiekie …

  • 0

… is 'n insident wat 'n mens onthou, baie keer heeltemal onbenullig maar tog is dit in jou kop ingeprent om een of ander onverklaarbare rede.

Een so 'n insident was terwyl ek weer op een van die vele KKPK's was (kak-in-die-kop-pomp-kursusse) wat die instansie waarvoor ek gewerk het mens verplig het om, van tyd tot tyd, by te woon.  As fasiliteerders vir hierdie kursus het die instansie akteurs ingespan en een van hulle was Ben Kruger, meneer De Wet van die destydse Skooldae.

Die fasiliteerder van die groep waarin ek ingedeel was vra toe op 'n stadium vir volunteers om een of ander absurde toneeltjie op te voer maar die ouens staan, niemand steek hand op nie.  Ek sê toe vir die ou hy moet maar aanwys, almal van ons wat in die army was destyds volunteer uit beginsel uit nie.  Die ou vra my toe in Engels – als is Engels want daar was swartes ook op die kursus – of dit maar die manier van ons Afrikaners is; staan terug sodat ander die werk doen.

Nou, net voor dit, het ek per ongeluk van 'n 'hot bed' in plaas van 'n 'warm bed' gepraat en einste fasiliteerder, 'n Engelssprekende Hollander, het 'n smalende opmerking daaroor gemaak wat natuurlik my klaar half die moer in gehad het.  Toe hy nou daarna nog beweer die Afrikaners staan maar hande gevou dat ander die werk doen vra ek hom toe heel kortaf "Wat sê jy!?"

Op 'n kol stap ek verby die klomp fasiliteerders wat koppe bymekaar staan en Ben Kruger breek toe weg van die groep af en kom vra my of ek 'n probleem het.  Ek was onder die indruk hy reken ek was verdwaal want op daardie stadium was my groep met een of ander taak besig.  Ek was nog besig om te antwoord toe hy omdraai en wegstap. 

Ek het later twee en twee bymekaar gesit; die Hollander moes oor my gekla het want vir die hele tydsduur van die kursus was Ben Kruger half stug.  Die laaste dag, met die afsluitbraai, het ek hom iets gevra en hy het wel geantwoord maar sonder oogkontak, net doer in die verte in getuur.  Ek wonder nog steeds of die Hollander hom die hele storie vertel het.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top