Biebouw-resensie: 'n Duisend stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer

  • 0

Titel: 'n Duisend stories oor Johannesburg
Outeur: Harry Kalmer
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780795800801

Koop 'n Duisend stories oor Johannesburg by Kalahari.com

Beginnende met die laptente waarin Johannesburg se eerste myners, ’n geroesemoes van regoor die wêreld heen, hul tuisgemaak het, was Johannesburg nog altyd bekend as ’n stad waar die meeste inwoners eintlik van elders kom.

Trek jy Johannesburg toe, uit sê nou maar Kaapstad of Durban, vertel mense jou jy gaan maklik vriende maak, want “al die ander mense is ook inkomelinge”. Ry jy deur selfs ’n bourgeois voorstad soos Roodepoort of Edenvale, is dit opvallend hoe baie Thai, Ethiopiese, Portugese en ander etniese sake-ondernemings mens sien.

En dan die ironie: terwyl ander immigrantestede hul setlaartradisies met museums vier (dink Ellis Island), is dit in Johannesburg waar Suid-Afrikaners in 2008 begin het om ons uitlanders aan die brand te steek.

Wanneer Harry Kalmer in sy aangrypende ’n Duisend Stories oor Johannesburg die verhaal van die Goudstad vertel, gaan dit oor mense wat kom en gaan. Selfs by diegene wat in Johannesburg gebore of grootgeword het, spook die stories van hul ouers en grootouers wat as ontwortelde Boere of Chinese trekarbeiders na die stad gekom het.

Mense sou dalk kon verskil oor wie die hoofkarakter van dié gefragmenteerde roman, bestaande uit ’n aantal verweefde narratiewe, werklik is, maar die storie neem uiteindelik vorm aan rondom Zweig van Niekerk, ’n Suid-Afrikaner wat dekades reeds in Londen woon nadat hy en sy Indiërvrou voor die Ontugwet moes vlug.

Zweig keer terug na sy Johannesburg om sy suster te besoek, maar selfs hy, wat hier gebore is, beleef die stad soos ’n vreemdeling en inkomeling.

En vir inkomelinge brand die stad. Dis 2008 en “makwerekwere” in die townships vlug vir hul lewens.

Terwyl Alexandria brand, bly Zweig in ’n boetiekhotel in Belgravia, omring van die karakters wie se verhale (en familieverhale) die roman vorm. Hulle sluit in ’n Afrikaanse digter en die buite-egtelike dogter wat hy eers as volwasse vrou leer ken het. ’n Fotograaf wie se voorouers uit China Johannesburg toe getrek het. ’n Tsjeggiese immigrant.

Die interessantste van dié karakters (en een wie se storie mens wens verder ontwikkel was) is ’n vrou uit Franssprekende Afrika wat in die gastehuis teen die vreemdelingehaat kom skuil. Mens verwag aanvanklik dié vrou gaan ’n belangrike narratiewe spil word waarom die roman uiteindelik grotendeels wentel. Parallelle word in die teks selfs getrek tussen Suid-Afrika se xenofobiese geweld en Kristalnacht, ’n gebeurtenis wat op ’n karakter uit ‘n vroeëre generasie ’n bepalende invloed gehad het. Maar gaandeweg verdrink die tema van vreemdelingehaat so bietjie tussen die ander verhaallyne totdat mens teen die einde die indruk kry die skrywer het effens daarvan vergeet.

Die struktuur van die verhaal beteken dat daar nog ’n paar voorbeelde is van storielyne wat onderbreek word sonder dat dit voel of hulle hul volledige verloop gehad het. Maar vernaamlik vorm die magdom stories egter ’n boeiende geheel.

In die teks word herhaaldelik melding gemaak van ’n Duisend en Een Arabiese Nagte. Heelwat van wat al oor Kalmer se roman geskryf is, vergelyk die boek met dié klassieke Arabiese werk in die opsig dat mens dit (soos sommige werke van Italo Calvino en Felipe Alfau) op enige plek sou kon begin lees en steeds ’n samehangende storie sou aantref. Ek stem nie heeltemal hiermee saam nie. Ek het in ’n Duisend stories oor Johannesburg ’n besliste narratiewe boog gevind, gebou om die verloop van Zweig se besoek en die geleidelike onthulling van sy familiegeskiedenis (sy grootouers wat die Anglo-Boereoorlog, oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog, oorleef het; sy pa ’n verloopte predikant wat in die 1950’s by die struggle teen apartheid betrokke raak).

’n Interessanter vraag na aanleiding van die titel is eerder waar mens die “duisend stories” van die titel sou aantref. Want op die oog af lewer Zweig en die ander hoofkarakters net ’n handvol verhaallyne op.

Die krag van die roman – en ek moet benadruk dat dit ’n boeiende roman is wat ek, ondanks die meer as 300 bladsye, moeiteloos in een dag deurgelees het – lê daarin dat dit binne ’n stad geplaas word waar elke gebou ’n magdom stories vertel. Soms kry Kalmer dit reg om in een beskrywing van ’n straattoneel ’n hele wêreld van stories te suggereer; ’n duisend geskiedenisse van ’n stad wat vinnig opgeskiet het, uitspattig gebloei het, en nou in die nagloed van dié goue dae teen ’n vorm van selfverwoesting veg.

Die beste passasies is dié waar Kalmer skryf oor stadsgegewens soos “die Groot Sinagoge in Claimstraat met ’n gepatineerde groen koperkoepel wat geïnspireer is deur die Hagia Sofia in Istanboel, maar wat nou ’n Nigeriese charismatiese kerk, ’n drankwinkel en ’n hoenderverkoper was; oor die Standard-teater wat nie eers deur ’n brief van Noël Coward en optogte deur Berdine Groenewald en Taubie Kuschlick van Johannesburg se slopers gered kon word nie; oor John Stanislaus se troukoekagtige 1895 Palace Building op die hoek van Rissik- en Pritchardstraat wat in 1959 gesloop is …”

Baie selde is daar al in Afrikaans met so ’n “spirit of place” oor Johannesburg geskryf. Geen leser wat al sy of haar hart vir Johannesburg gegee het, sal daardeur onaangeraak bly nie.

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top