’n Berlynse dagboek

  • 1

Verhale, musiek en rolprente kan jou help om jou by ’n stad in te verbeel. Ek wou al vir jare meer weet van die Berlyn van Wim Wenders se stad in Der Himmel über Berlin, ook hoe die groep Einstürzende Neubauten sy skrootsimfonieë in die stad geskep het. Vir eers is enigiets potlood-aantekeninge onderweg na München waarvandaan ons na Berlyn se Tegel-lughawe vlieg.  

Op die vlug van 11,5 uur is die eerste oop stuk wêreld die sandskakerings van die Namib, die branding aan die Skedelkus.

(’n Voorskou: Berlyn is nie ’n plek waar mense hulself vind nie, maar waar jy jouself opnuut uitvind. Die plakkaat waarop dit geskryf staan, is ’n romantiese idee oor die stad, maar wat tot in die geboue daar neerslag vind.)

Karel Schoeman skep in Deelstad ’n psigiese stadskaart aan die hand van verskeie reise daarheen met sy lees van die geskiedenis daarby ingereken. Hy laat blyk Berlyn is ’n stad van fragmente wat van sy reisigers en inwoners vra om bindingsteks te verskaf en nuwe verbande uit te lig. Daarmee saam hang die feit dat die lewe-in-aanbou daar onstuitbaar is.

Bo Noord-Afrika: Die dag is vlakke en kleure, spikkelgroot en onverwags: ’n Potloodstreep van ’n pad verbind nedersettings met die droom van plekke elders. Twee en ’n halwe uur voor München, twee kilometer bo die aarde, sien ’n mens verder aan windriwwe, met hier en daar net stanings. 

Op die elektroniese kaart teen die sitplek voor my is dit asof die geskiedenis verbyspoel soos wat plekname verskyn en verdwyn.

Hoe oud is die skemer? Vir ons is dit ’n nuwe soort verdonkering wat voor ons afspeel. Die vliegtuig stryk sekuur neer te midde van buurte en paaie.

Ons groet die waardinne, dan is ons by die luik uit, deur die konsertina-elmboog en op met die looptonnel na die geboue. Ons stap deur die dekor van ’n groot lughawe, die gepoleerde, leë gange.

In ’n saal keur en gradeer Paspoortbeheer die aankomelinge. Van elkeen word verwag om ’n plat robot na te aap. ’n Amptenaar, met geoefende hande, bietjie soos ’n staatsbetaalde sakkeroller, rond die effens surreële bekendstelling aan München af. Dan volg ’n volgende vertrek, weer die tussenwêreld van helder gange, die aanmeldplekke van glas, en maak ons ons dan tuis in ’n wagsaal.

Tussen dié vlug en die een na die Tegel-lughawe het buurte al aangegroei tot eilande sterlig en swerms vuurvliegies. Op Tegel bring ’n hortende vervoerband ons reistasse saam met die koue na bo. Ons taxibestuurder bely sy eentaligheid en ons albei maak versigtig sin met my Biltongduits. Van Tegel na ons blyplek in Uhlandstrasse is die reis korter as wat ons verwag het.

In die ontvangsarea van die Max Brown Hotel is na links ’n groot glasplaat waarop ’n haan pryk. Soggens is dit ’n ontbythoek, saans ’n stil kroeg. Dag en nag sit die besige Benedict-restaurant in die hotel ontbyte voor. ’n Aand-ontbyt is byvoorbeeld ’n eiergereg wat soos gnocchi lyk en sampioensous bykry. 

Op pad na die hotelkamers is die muurpapier in die gang ’n donkergroen blaredek wat dit laat lyk soos ’n tropiese woud in ’n ou strokiesprentboek.

In ons kamer, knap en nie sonder persoonlikheid nie, is daar geen kaste nie, maar wel “18de-eeuse” gloeilampe, ’n kaktus en ’n platespeler, asook drie nuwe plate om na te luister. Die plate en die speler is te koop. Ons reisdokumente en geld stoor ons in ’n kluis wat met batterye werk en dit lyk effens soos ’n gepantserde mikrogolfoond. Agter groot wit houtluike en die venster is die straat, met breë sypaadjies, winkels en restaurante. Ons gaan lê om te slaap en reis dan onder die dakwaaier verder, die skroef draai al hoe hoër.

Knus en warm soos varsgebakte brode word ons op Dinsdag 28 Februarie wakker om met die Berlynse oggend kennis te maak. Ons stap by die makgemaakte oerwoud-muurpapier verby en gaan sit aan vir koffie. In die loop van die week stem ons elke oggend saam die ontbyt is die lekkerste wat ons al geëet het. Daarna stap ons op in die rustigheid van Uhlandstraat in die rigting van die gegoede Kurfürstendamm. Ons is aangetrek vir die 7°C wat voorspel is.

’n Kwartier te voet van die hotel is die herrese ruïne van die Kaiser Wilhelm Gedächtniskirche, asook die Nuwe Kerk, en daar naby die groot Zoologische Garten-stasie, asook die Europa Center. (Dit herinner om die een of ander rede aan die Tuinesentrum in Kaapstad in vroeër jare. Jy verwag half om ’n Zerbans-restaurant daar te sien.) 

Die Kaiser Wilhelm Gedächtniskirche en die Neue Kirche

In die Nuwe Kerk

Die aansig van winkels uit verskeie tydperke is behoue. Dit maak die buurt ongedateer. Die Europa Center staan steeds asof dit die 1990's se sake doen, met moderne elemente onopsigtelik bygewerk. Die sentrum het ’n opeenvolging van modieuse koshowe, ingetoë watervalle, sonlig wat daklangs binnestroom en orals vriendelike verwarming.

In ’n inligtingsburo koop ons Welcome Berlin-kaarte (€84 vir twee). Dit is ons kortingskaart vir ses dae van museumbesoeke, gratis ritte op die rondom-lekkerkyk-paaie en bane van die openbare vervoer, die hier-en-daar trems, die vinnige treine en kort-kort een van vele busse.

Met Bus 200 het ons gou vertroud  geraak. Die roete neem ’n mens tot ondermeer vlak buite die Berliner Philharmoniker. Die geboue met ’n dak soos ’n anderwêreldse tent van goud is oorkant die fyn boslandskap van die Tiergarten. Dit lyk asof dit uit daardie sprokieslandskap getel is en toe aan die oorkant van die pad staangemaak is. Die voorkoms gee geen indruk van die ruim afmetings binne die gebou nie. Met die eerste oogopslag al raak jy bewus van Berlyn se teenstrydighede. 

In die Tiergarten

Mense het al buite die geslote foyerdeure kom staan om toegelaat te word tot die weeklikse gratis konsert. Tot 1 500 mense kan vir só ’n uitvoering op die talle trappe in die foyer gaan sit. Personeel sorg vir gangbare paadjies vir laatkommers. Al stoele wat uitgepak is, staan reg voor die verhoog waarop die klavier staan. (Van die oorspronklike Berlynse Filharmonie is  een oorblywende stoel te sien as deel van ’n terugblik op die oorlogsgeskiedenis. Daaragter is foto’s van ’n tot skroot gebombardeerde konsertsaal.)

Die reservering van die beste sitplekke vir senior burgers en mense met gestremdhede herinner aan die ouer busbestuurders van die stad se manier van doen wat ons op pad soontoe opgemerk het: Hulle werk opmerklik mooi met die skuifelendes en diegene in rolstoele. Geskiedenis prent ons dit in as ’n soort diepliggend naoorlogse verskynsel, die besef van medemenslikheid, van op mekaar aangewese te wees. Hoe broos mooi is hoflikheid in so ’n groot stad. Die klein, betekenisvolle gebare teen die agtergrond van die geskiedenis.

Vir die broer en suster se klavier-en klarinetuitvoering die middag is die foyer vol. Op Robert en Bettina Aust se program was werk van Rossini (1792–1868) en Brahms (1833–1897) en ’n eweneens hoogs luisterbare, melodieuse werk deur Jean Francaix (1912–1997). Ná die konsert koop ek in die Filharmonie-winkelhoekie ’n CD van Argerich, Maisky en Kramer, ’n klankposkaart om my aan die besoek te herinner. Ons is na die museumsingel met ’n kop nog vol musiek.

Die Unesco-terrein en onmiddellike omgewing is Berlyn-in-die-klein gemeet aan die hoeveelheid restourasie én modernisering in aanbou. Waar ter wêreld elders bou hulle vandag nog ’n egte kasteel, een wat as kunsgalery gaan dien? Groot museums vorm ’n onvoltooide raam aan die vreedsame Lustgarden. Oorkant ’n straat staan ’n avant-garde krat, klaar gebou en twee verdiepings hoog. Dit heet die Humboldt Box waar ’n eetplek op die eerste verdieping ’n mooi stuk uitsig sal bied. Die bus hou stil in die omgewing van die Brandenburg-hek. Ek koop bockwurst en by Starbucks koffie vir die internetverbinding daar. Tot in die Starbucks hoor jy kamermusiek. Aan die oorkant is die hotel Adlon, herbou, ’n herrese stuk ou Berlyn, in wese veel ouer as die naburige geboue, en ’n adres vir verskeie verhale uit die stadsgeskiedenis.

Aan Potzdamer Platz stap ons verby drie moderne toringgeboue toe ’n ordelike, toetende menigte onder polisiegeleide daar verbyry. Aan voertuigdeure, op kappe en dakke, fladderend aan fietsmandjies is by herhaling die één eis: "Free Deniz!" Verder op in die straat word dieselfde boodskap op ’n flikkerende reklamebord hoog bo aan ’n gebou herhaal.

Turkye se Erdogan het nié die joernalis  sy vryheid van meningsuiting gegun nie en hom tronkstraf opgelê. In Berlyn word beslis nie anderpad gekyk as dit met joernaliste gebeur nie. Wat reg is, is reg: Die voertuigbetoging duur ’n hele tyd, maak sy punt en haal koerante en ander nuusdienste.

Berlyn het eerbied vir die beskrywings van ondenkbare onreg en mag se diepste ongerymdhede, asook versamelings van die beste kunswerke uit die mens se dromende vermoë oor die eeue heen, skryfwerk wat die beproewinge van tyd en sensuur deurstaan. 

Magiërs én moorde word met duisend-en-een aanbiedinge onthou. Diegene wat weggeval het, kry ’n laaste rusplek in simboliek, geboue wat ook gebare is (soos Liebeskind se ontroerende Joodse Museum). Die plek van geheue is ooglopend deel van die stadsplan. Tot in bushaltes en ou treinstasies vertel inligtingsborde in besonderhede van die vernietigingsgolf van die Nazisme wat nie net van die regering nie, maar vanuit die Duitse mense self plaasgevind het; met daarna die verskriklike “Messianisme sonder mededoë” van die Kommunisme in die era van die Muur.  

By ’n halte lees ek van die Amerikaanse joernalis Varian Fry wat verskeie kunstenaars en intellektuele help ontsnap het, mense soos Max Ernst, Hannah Arendt en Marc Chagall. Ek lees elders dat onder diegene was ook Claude Lévi-Strauss en André Breton. Fry het duisende mense na veiligheid gebring. Hy het eers onlangs erkenning vir sy rol gekry.

’n Staptoer die volgende dag beloof ’n onverbeterlike manier te wees om verbande tussen die stad se groter verhale te lê.

Die oggend by die busterminus van Terrassen am Zoo klim ons weer op Lyn 200. Ons sukkel aanvanklik om die stapgeselskap op te spoor. Die gids is ’n verloopte Ierse Katoliek wat sedert 2012 hier praat-en-kyktoere aanbied. Hy vertel hy het klaargemaak met die werk aan sy PhD oor die rol van die siviele diens in die Tweede Wêreldoorlog. Dit voel asof ons saam met hom deur sy studieterrein stap.

Ons begin by die Lustgarten, daarna is ons na onder meer die plein waar die sogenaamd “Onduitse” boeke verbrand is. Ons bekyk verskeie staatsgeboue, besoek die Monument vir die Vermoorde Jode van Europa, doen aan by Hitler se bunker, kyk na Checkpoint Charlie, bekyk ’n gedeelte van die Muur by die Topografie van Verskrikking waar die Nazi-administrasie eers was, en verken met die gesels die Brandenburg-hek en omgewing. (Die historiese Brandenburg-gebied omsluit die veel nuwer stad van Berlyn. In die onmiddellike omgewing van die hek is die meeste van die geboue maar 27 jaar oud. Tot Australië is ouer as wat die hedendaagse Berlyn is, noem die gids.)

In die Topografie van Verskrikking

 Aan die Lustgarten is die Berliner Dom: ’n kykfees, ’n Protestantse katedraal wat met Kerkgeld gebou is. Die toergids deel ’n staaltjie: In die Kommunistiese era is kruise in kerke nie toegelaat nie omdat dit die gesag van die staat sou uitdaag. Op die dag wat die bonkige naald van die TV-toring in Berlyn onthul is, dis skuins agter die Dom te sien, het die son op die silwer gholfbal-daar-bo ’n perfekte kruis geskyn. Die Kommuniste het bly aandring dat dit ’n plus is vir die Kommunisme en niks anders nie.

Berliner Dom en die TV-toring skuins daaragter

Die breë gebou van die Alte Museum staan een sy van die Lustgarden vol. Die museum is in die pas met die gedagte aan Berlyn as ’n Athene aan die Spree, maar, meen die gids, dalk is Berlyn in gees nader aan ’n Chicago.

In die Neue Wacht-gebou is die beeld van ’n vrou met ’n sterwende soldaatseun in daardie leë ruimte ’n ru oorlogs-piëta. (Onder vyf regimes die afgelope 100 jaar was die gebou elke keer van iets anders die simbool, sê die gids.)

So ontvanklik was die Nazis vir die Duitse studentevereniging se voorstel dat Onduitse boeke verbrand word, dat  hulle dit wyd en syd toegepas het. Die gids het in die gang van sy studies al hoe meer onder die indruk gekom dat as jy van iets ’n “vraagstuk” maak, is die volgende stap om ’n “oplossing” daarvoor te vind. Onder Nazisme is ’n hele volk tot vraagstuk verklaar. 

Op die boekbrandingsplein is ’n aanhaling van Heinrich Heine wat die Tweede Wêreldoorlog voorafgaan en daaraan ’n profetiese karakter gee: As jy boeke verbrand, is mense volgende.

Onder die plein is ’n geseëlde, heeltemal wit biblioteek met leë boekrakke in. Teen die uur van ons besoek, is die ondergrondse monument al donker. 

Die opkoms van die Nazisme was van die grond af op, benadruk die gids. Ekonomieë gaan telkens aan die opswaai ná ’n resessie. Kom iemand dan aan bewind, wil dit lyk of die bestel verander word deur daardie persoon, wat egter nie die geval is nie, sê die gids. Hy noem Trump en Hitler as soortgelyk vir die tydperke waarin hulle regeer. 

Vandat ’n mens aankom by die Monument vir die Vermoorde Jode van Europa wil jy dit interpreteer. Vir my vrou is die blokke graniet van wisselende hoogtes, teen die agtergrond van ’n bos, strak bome wat op verskillende hoogtes afgekap is. Dit is ’n woud van statistiek, koue oorlogfeite, onherroeplik soos grafstene. (Elders, in die Kultuurhistoriese Museum, lees ons die vervolging van die Jode had sy oorsprong in die Middeleeue as synde kwansuis die oorsaak van die Pes.) Ons loop verder, en gaan staan dan op ’n parkeerterrein. Die plek is doelbewus ’n leemte in ’n stad vol monumente: Onder ons is die opgevulde Führerbunker.

Op betreklik min van die terreine van historiese belang is die fokus suiwer op die daders (die Topografie van Verskrikking is ’n belangrike uitsondering, wys die gids uit). 

Die destydse Luftwaffe-gebou waar Göring se kwartier was, het later ’n administrasieblok van die Kommuniste geword. Dat ’n plek só naatloos opeenvolgende regimes gehuisves het, is die verskrikking van funksionele geboue. Ons looptoer vorder tot duskant Checkpoint Charlie. Ook hier, vertel die gids, gaan dit hoofsaaklik oor opgetekende ontsnappingspogings. Anders as wat ’n mens sou verwag, kom Checkpoint Charlie op ’n afstand oor as ’n groot, blink winkelsentrum.

In ’n ou gebou waarin die restaurant Augustiner am Gendarmenmarkt is, met sy hoë plafon, donker houtwerk en groot ruitjiesvensters sit ons aan vir ’n koffie. Ons bespreek hoe welvaart ironieë tot stand bring. As jy winsgewend was onder ’n vorige regime en vandag steeds is, is dit waarskynlik so: Die dure Hugo Boss het voorheen Nazi-soldateklere gemaak. Die maatskappy Degussa, wat die teengraffiti-middel vir die Monument vir die Vermoorde Jode van Europa geskep het, is in verband gebring met die verspreiding van Zyklon B na die Nazi-kampe, het The Guardian berig.

Die Lyn 200-bus vervoer ons na die Museum-eiland.  Ons is weer voor die Berliner Dom – ’n Rooms-Katolieke droom vir die Protestantisme. Nadat ons ingangsgeld betaal het, betree ons ’n groot ruimte waar met marmer getoor is. Ons is net betyds vir ’n kort orreluitvoering wat die hele gewelf vul. Heel voor in die kerk kyk ’n mens feitlik loodreg op om die vers te lees wat twee klip-engele vashou: “Lasse euch versöhnen mit Gott.” Ons steek elkeen ’n kers aan in die gewyde, stil ruimte.

Die Berliner Dom en die TV-toring

Daarna is die Alte Museum ’n geleentheid om oudhede en die Oudheid in ’n groot verskeidenheid uitstallings te verken. Hier is baie brokke en oorblyfsels uit die huislewe uit die jare en eeue voor Christus. Ons sien vroeë geld: beeldjies van diertjies wat die waarde van munte gehad het. Tussen hierdie brokke voel dit na iets van ’n wêreld van oorspronge wat vir die nageslagte versamel is.

Telkens lyk iets baie moderns en strak, al is dit antiek. Eintlik is dit alles deel van ’n kulturele onbewuste. (Dit was die voorkoms van nasionalisme in Duitsland, Italië, Denemarke en elders wat institusionele argeologie as ’n wetenskap geskep het en daarmee saam die museums wat die herwonne artefakte huisves, skryf Eric Cline in Three Stones Make A Wall: The Story of Archeology.)

Een uitstalling heet “A Dangerous Perfection”, oor die probleem van dit wat behoue gebly het en dit waarop  meesterlik voortborduur is om ’n stuk meer intak te laat lyk. Hierby ingesluit is Griekse, Romeinse en Etruskiese werke. In die uitstalling word vervalsing in die herstel van werke bekyk as deel van ’n soeke na oorspronklikheid, ’n fassinerende, ingewikkelde speurtog na outentisiteit.

Ons begeef ons in die antieke Egipte van die Neues Museum: 3 500 m2 groot en met 2 500 Egiptiese artefakte en 200 papirusse wat oor drie verdiepings versprei is. Hier, ten dele, is ook Heinrich Schliemann se Skat van Priamos en aanverwante stukke. Versamelings, in hul volledigheid en onvolledigheid, druk iets van internasionale politiek uit, van die sogerekende Schliemann-stukke is in Rusland.

’n Filosofie van herstel, geld vir die museum self ook, met deels behoue vertrekke en vooroorlogse beskrywings van hoe die ruimtes destyds daaruit gesien het. Hier is papirusfragmente van 3nC, ’n gekleurde borsbeeld van Nefertiti, aber nicht fotografieren. Ons sien ook ’n replika van ’n verlore werk: ’n vrouefiguur se kaal kurwes gekerf in klip in ongeveer 30 000vC. Dié werk, die Berliner Venus, is glo ook in Rusland. Ook – amper onmoontlik – glaswerke en bakkies van 1nC. ’n Ridder se knoetsige metaalfrok van 3nC lyk soos iets wat uit die see gehaal is.  Van Schliemann se opgrawings, erdeware van Troje en elders, is ook hier – kruike van 4 300vC–3 200vC. Die toringagtige Berlynse bronshoed, een van drie ter wêreld, het beelde van die son en maan daarop wat ’n siklus van 19 jaar uitbeeld.

Hier is ’n verbysterende versameling antieke werke, brokkig soos die geskiedenis, geheue en die plek self. Die vertrekke val nie op as ’n liniêre behandeling van die geskiedenis nie, asof dit iets eerder vasvang van die beurende, dikwels wederstrewige magte wat die tyd vervorm en vorm gee, die strominge beskawings en kulture.

By die instapslag in die Pergamon-museum kyk jy vas teen een van die sewe wonders van die Ou Wêreld – die hek van Isjtar, een van die buitepoorte van Babilonië. Dit is gebou met geglasuurde, merendeels blou kleurbakstene in 604–562vC.

Uit Nineve is reliëfwerk in albaster (704–689vC).  In ’n ander groot fasade is daar eweneens ’n antieke vakmanskap: die buitemuur van ’n Bedoeïene-paleis, met mitiese kreature soos ’n half-hond wat ook half-fisant is. Griffoene kom vry algemeen voor. Ons stap tussen twee sfinkse deur. 

Anderkant die vroegoggend gebak- en koffiegeure van die Benedict, oorkant die straat, op balkonne van woonstelle, is bakke kruie, en loop mense die volgende oggend met honde of hulle frons teen die wind.

Ons besoek die Gedächtniskirche met daarlangs die Nuwe Kerk. Jy besef, soos op min ander plekke op ons reis, geloof voor die Tweede Wêreldoorlog en daarna was nie op dieselfde manier meer moontlik gewees nie. Die Gedächtniskirche was eers bedoel om te verheerlik, die Nuwe Kerk is na binne opgerig. Die ervaring word des te meer skreiend: Buite, op die trappe aan die Nuwe Kerk se kant, is honderde, honderde kerse en blomme van mense in die gemeenskappe van Berlyn ter nagedagtenis aan diegene wat in Desember verlede jaar hier tydens ’n Kersmark in terreur omgekom het. 

Blomme en kerse ter nagedagtenis aan die slagoffers van terreur buite die Nuwe Kerk in Berlyn

Die geskiedenis en verhale uit die geskiedenis bly in hierdie stad aanwesig. Tot aan betonblokke onderweg na die Bode-museum is aanhalings aangebring, van Heiner Muller, van Seneca, Einstein en ander. ’n Waarskuwing van Primo Levi in die Sentrum onder die Monument vir die Vermoorde Jode van Europa: Dit het gebeur en daarom kan dit weer gebeur. Dit is die kern van wat ons te sê het.  

In die Bode-museum is marmerwerk-liggame wat tjoepstil staan onder materiaal wat lyk asof dit beweeg. Dit is soos om te loop deur ’n reeks koorsdrome waarin klassieke werke in ’n verbystering van style en posture die klip laat leef. Hier is ook mosaïek van Ravenna, ’n baie vroeë een van Christus uit die 1500’s. Die museums vra om ’n leeftyd van herbesoeke.

By die Ampelmann-restaurant sit mense op strandstoele en kyk uit op die Spree en die Berliner Dom. ’n Ent verder, anderkant ’n brug agter die Lustgarten, is koffie en meellose kersiekoek behaaglik.

In die Alte Nationale Galerie is wonderlike werke van die 1700’s en later. Verskeie meesterwerke staan daar: Courbet se “Brander”, werke van Constable, ’n uitstalling van Adolph Menzel se skilderye, minder bekende werk van Van Gogh, Monet, Manet en Renoir, ook uit die hoogromantiek, “Die Eiland van die Dood” en ander werke deur Arnold Böcklin.

Ons is na ’n Dalí-uitstalling vir ’n magdom van sy sketse. Dit sluit in tekeninge vir kostuums en stelle vir Tristan und Isolde (die tekenkunstenaar Ralph Steadman is sekerlik hierdeur geïnspireer), Don Quixote, Hieronymus Bosch-beelde, La Divina Commedia, Don Juan, Vogue-voorblaaie, beeldhouwerke, ’n nydige tekening van Picasso as Caesar. Ook ’n videowerk wat Dalí saam met Walt Disney begin skep het, en een deur hom en Luis Bunuel. Veral in sy sketse is daar die wonderlike, verstrengelde opborreling van die droom in al sy grille, vol ladings erotiek, magies-realistiese beelde, herverbeelding en vervreemding. En dan het hy nog so ’n weglê-snor ook gehad.

Ons haal die S-bahn na Nordbahnhoff, verby die woonstelle waar ’n groter Berlyn woon. Ons lees oor spookstasies waarby treine onder die Kommunisme nooit  mag stilgehou het nie. Die weermag het die stasies bewaak en die wagte is dopgehou deur ander wagte om te keer dat hierdie plekke ontsnaproetes word. Hierdie plekke is behoue laat bly – dis nog die oorspronklike teëls en letters in die stasienaam, inligtingsborde verskaf verdere konteks.

Ons gaan na die Mauerweg: Hier is die wêreld van Oos en Wes en die die verhaal van die muur tussen hulle. Jy sien herfskleurige metaalpale wat voorheen in beton was. Op heelwat plekke is storie- en videohaltes wat die era van die Kommunisme uitsaai as waarskuwing vir diegene wat vandag ore het.

Aan die ou ooskant van die Berlynse Muur

Die muurroete is ’n intensief gedenkte stuk wêreld waar selfs die basis van ’n ou straatlamp individuele aandag kry. ’n Tweede muur, dié van herinnering, het glas-afdrukke op van die gesigte van die mense wat oor die Muur probeer wegkom het. Onder hierdie publieke sterftes tel meestal mans, ’n handjie vol vroue en enkele, baie jong kinders. Een kind van ’n jaar of vyf het gehardloop agter ’n bal aan wat sy pa per ongeluk te ver geskop het. Die kind is in die gebied by die Muur doodgeskiet. So iets, op hierdie sonnige dag, met die vryelik bewegende toeriste hier, maak dit net des te meer ondenkbaar. ’n Klein hommeltuig vlieg op ’n afstand. Aan die een kant van die Muur sien jy die graffiti, aan die ander kant die geroeste kalligrafie van verweerde, gewapende beton wat tot ou bouletsels verweer het.

’n Eenvoudige, treffende gebou is die graansilo-agtige Kapel van Versoening. Dit is van die gekompakteerde gruis en materiaal van vernietigde geboue van die omgewing gemaak. Net ná die Kapel van Versoening koop ons koffies en wafels by ’n driemanskap van ’n jaar of tien. Die papierkoppies het glimlaggende gesigte op en my vrou voel dadelik opgebeur deur die entrepreneurs. Die heel lekkerste koffie in Berlyn koop ons egter niksvermoedend op die Hackeser Markt waar ’n markdag met sonnige weer talle mense aan die wandel het.

Buite-aansig van die Kapel van Versoening op die Mauerweg

In die omgewing van ’n teologiese fakulteit – ’n groot leë winkelvenster met ’n leërige ruim behalwe vir ’n paar stoele en tafel – sien ons ’n sonderlinge studentefiets. Dit is omgebou sodat mense rondom ’n tafeltjie sit terwyl die bestuurder die fiets stuur. Ses meisies sit-sit so en sing drinkliedjies terwyl die bestuurder probeer inskat of hy enigiets of iemand per ongeluk gaan omry.

Gedenkmuur op die Mauerweg

’n Ent daarvandaan, in die DDR-museum se voorvenster, is een van die toentertydse Kommunistiese motorvoertuie, dit het die reputasie van karton met wiele gehad. Mense moes vir tot 16 jaar lank op ’n waglys wees vir een. Tot ’n ganse woonstel uit die DDR is in die museum ingerig. Maak jy daar ’n kombuiskas oop, sien jy tot produkte uit daardie jare (kookboeke wil-wil na ou Suid-Afrikaanses lyk), eweso die bad- en slaapkamer. Omdat sóveel ander goed verbied is onder die Kommunisme was veral seks en verveling pasmaats. Vir die Kommunisme was nudisme trouens ’n uiting van klasseloosheid.

Op Sondae staan winkels, restaurante en galerye meestal gesluit. Tot busse met ander nommers is dan op die bekende roetes. Ons besoek die Joodse gedenksentrum onder die Monument vir die Vermoorde Jode van Europa. Die plafon gee die teenoorgestelde prent van die bogrond weer. Ons loop deur ’n lughawegebou-verklikker en ontvang oudiogidse. Dit, saam met die Topografie van Verskrikking, is deel van ’n beeld van die onbeskryflike onregte wat mense in ekstreme onverskilligheid aan mekaar gedoen het.

Die Gedenkplek vir die Vermoorde Jode van Europa is geskep deur Peter Eisenman en Buro Happold

Die plek waar ons ’n multimedia-tentoonstelling van die Middeleeuse verbeelding van Hieronymus Bosch sou sien, ontdek ons in ’n wandelingsdwaal, is eintlik baie nader aan die museumbuurt as wat ons vermoed het. Die uitstalling is iets besonders. Besonderhede uit die skilderye is vergroot en van beperkte animasie voorsien, asook ’n klankbaan. Die beelde word teen groot wit mure geprojekteer. Galerygangers sit op kussings en bankies en kyk na die stadig skuiwende, ontvouende beelde.

Die buurt waar die Bosch-uitstalling plaasgevind het, is ’n deel van die stad met nou strate, gesellige winkels en bierplekke. Hier naby is die Rothaus waar jy die Berlynse Beer as ’n monument aantref. En ’n ent daarvandaan ’n winkel wat spesialiseer in bere van enige voorstelbare grootte en besonderhede.

Op pad na die Kurfürstendamm, net ná die Kathe Kollwitz-museum, is die pragtige terrein van die Literaturhaus. Dit staan terug in ’n sorgsaam in stand gehoue tuin van netjiese gruis en plante wat na die tuinier luister. Ons gaan drink ’n koppie koffie daar. Groot vensters kyk uit op ’n bometuin. Dit is ’n pragtige lokaal vir voorlesings en besprekings. Voordat ons daar aangekom het, was daar so ’n geleentheid rondom die werk van Umberto Eco. Ek sou elke dag van die week daar kon inloer. 

By die Bauhaus-argief betaal ons minder ingangsgeld as wat ons gedink het ons sou, omdat in twee derdes van die plek aan ’n ander uitstalling gewerk word, een wat meerdere sale beslaan. Ons kry nietemin ’n keurige versameling top werke te sien van onder andere Klee, Maholo-Nagy, Paul Citroen, Otto Umbehr se “Racing Reporter”, asook talle van die Bauhaus se oorspronklike huishoudelike toestelle, stoele en kunsvoorwerpe.

Luidens een van die inligtingsborde in die Kultuurhistoriese Museum kom die Duitse woord “grenz” uit die Slawiese tale en het sy weg na die geskrewe woord deur middel van Luther gevind. In die museum is 1 500 jaar van die land se geskiedenis op indrukwekkende manier verenig en uitgestal met 7 000 artefakte. Ons sien ’n reeks uitstallings in uitstekende deurkomponerings oor eras en besonderhede oor elkeen. 

Net ná sesuur die oggend van ons vertrek is dit 2°C. Ons stap weer in Uhlandstrasse op. Berlyn bedank ons vir ons besoek deur middel van ’n onverwags gratis busrit na die lughawe. Terwyl ek op die nagvlug slaap, trek ’n akkordeon van woorde oop. Dit is Berlyn self wat dit bespeel: Geheimsinnig, monumentaal, virtuoos, droewig én barstens toe vol lewe.

Willem de Vries
Februarie, Maart 2017

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top