The Mystery of Irma Vep: ’n resensie deur Maryke Roberts

  • 0

Op ’n afgeleë landgoed, Mandacrest, iewers in Engeland – wie weet presies waar – is iets bisar aan die gang. Behalwe die reuseportret van die vorige meesteres, Irma Vep, van die huis wat oor die sitkamer en almal in die huis waak, is daar ’n gedierte buite wat die huismense ontstig. Die nuwe vrou in die huis, ene Lady Enid, kry maar swaar om teen die spook van haar voorganger te baklei en Lord Edgar steek iets weg.

Daar word Egipte toe gereis vir antwoorde en onderweg kom hulle vampiere, mummies en weerwolwe teë. Daar is fyn humor wat jy maklik kan mis as jy jou te veel aan die kostuums en pruike en lomp karakters verkyk. Die verrassende element is dat al die rolle in die stuk deur net twee akteurs vertolk word. Hul kostuum-ruil gebeur soms amper onmoontlik vinnig.

Die week was lank en ’n goeie skeut humor sal beslis die wêreld se verskil maak. The Mystery of Irma Vep is dit beslis. Ek is gaande oor Jonathan Roxmouth se veelsydigheid as akteur en kan nie iemand beter in hierdie toneelstuk indink nie. Die teater-vonk tussen hom en Weslee Swain Lauder is merkbaar, want in die geharwar van kostuums en rolle ruil, moet jy beslis jou vennoot op die verhoog kan vertrou, sou iets verkeerd loop en julle moet improviseer. Dis verstommend dat hulle nooit die mannerismes van elke karakter verwar of vergeet nie; ten spyte van die feit dat hulle stokflou moes wees teen die einde.

Die storielyn is nie regtig die belangrike deel van die toneelstuk nie; die akteurs se genot van die stuk het vir my meer uitgestaan. Ek moet hier met die skrywer, Charles Ludlum, saamstem wat in die program aangehaal word waar hy sê hy glo dat die belaglike soms die enigste ernstige teater is, want oral in die wêreld is iets belaglik te sien of aan’t gebeur.

Jy kan nie na twee mense kyk, wat hulle só in ’n lawwe stuk inleef, sonder om al jou sorge op die aandwind te gooi nie.

Dit gaan nie in almal se smaak val nie; dit gaan te laf en oppervlakkig wees vir sommige ernstige teatergangers, maar vir wie dit kan sien en waardeer vir die lawwigheid, is dit beslis net wat die dokter voorgeskryf het. Kry ’n groep vriende bymekaar en vergeet vir ’n paar uur van politiek en waterbeperkings en gee jou oor aan die absurde!

The Mystery of Irma Vep

Met: Jonathan Roxmouth en Weslee Swain Lauder
Deur: Charles Ludlum        
Regie: Eliza Badenhorst
Kostuums: Pierre du Plessis

Theatre on the Bay

3–19 Augustus

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top