Myne!

  • 0

Skets deur Dorette Bester

Hoor jy dit? Die Janpierewiet-wysie wat hy fluit. Sien jy hoe die African Grey-papegaai deur die tralies nuuskierig na jou kyk? Hy sprei sy vlerke oop. Hy klap hul ritmies, maar dit lyk of hy iets kortkom. Al is die voëlhokkie van goud, bly hy ontevrede. Klink sy deuntjie vir jou ook nou vals? Asof hy huil, in plaas van fluit. Hy kyk verlangend na buite. Weet hy dan nie buite is gevaarlik nie? Dink jy hy weet hy is myne en myne alleen?

Elkeen van ons is soos hierdie African Grey, vasgevang in ons eiesoortige hokke. Soos ’n vasgehaakte grammofoonplaat kla ons oor hoe dit ons inhok. Maar aan watter kant van die tralies staan jy?

Jacques Deval het gesê dat God bome gemaak het omdat hy voëls liefgehad het, maar die mens het hokke gemaak. Van jongs af word die woord “myne” tweede natuur. Vierjariges se speelgoed, graad 1-maatjies se inkleurkryte, tieners se selfone en volwassenes se eggenote word kortliks beskryf as “myne”.

’n Tendens wat veroorsaak dat alle dinge deesdae as besittings beskou word. Iets besonders bly nie lank op die rak voor dit gekoop word en ’n etiket kry nie. Alles wat jy het, word later wie jy is. Hierdie einste besittings, die swaar traliehokkies gebind om jou vlerke.

Die kinders wat skoenlappers vir die pret in konfytflessies vasvang, volwassenes wat liefde op dieselfde manier hanteer. Sogenaamde verliefdes, in die eg verbind, bevind hulself vasgebind. Want te veel keer is ons verlief op die idee van liefde en nie die persoon nie. Angstig oor alleen wees, boei ons onsself aan die naaste hart. Ons beperk geliefdes om soos ons te voel, te dink en te reageer. Iemand word ’n besitting en wanneer die skoenlapper kleur verloor, word hy bloot vervang.

Dalk voel ons vasgevang omdat ons te min uitdeel. Want om te gee is mos beter as om te ontvang? Om ’n deel van jouself weg te gee vul net die leemtes. Hou in gedagte dat my skatte in die hemel opgegaar moet word en nie hier nie.

Ek sluit die voëlhokkie oop. Ongelowig beweeg die papegaai nader aan die opening. Instinktief vlieg hy uit. Uit by die venster en uit by my hart. Hy is nie meer myne nie. Maar soos hul sê, as jy iets liefhet, laat dit vry; as dit terug kom, is dit joune. Indien nie, was hy nooit joune nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top