My Kroon

  • 1

“Is jy seker jy sal alleen regkom by jou Tate, my kind?”

“Moenie worrie nie, Mame, die winkels wag nie.”

Hy kyk hulle agterna tot hy seker is Japie Toi se motor is op die teerpad en daar is nie meer omdraaikans nie. Hy het dié dag lank genoeg uitgestel; die afstand was sy verskoning vir sy afwesigheid. En dit terwyl hy gelate ingestem het om provinsies vol te loop smous.

Vandag is dit hy en sy pa. Sy Kroon, soos hy in die jare weg smalend aan hom gedink het. Tyd vir konsert, Tate, soos Mame en haar kerkkoor al die jare met Krismis gehou het – heel voor met haar gestyfde kraag.

Hy kry die Bybel voor sy ma se bed, verflenter soos hy dit onthou, engeltjie geplak oor die plek waar Mies Henta se naam eers was. 

“Here, ek is ’n kindjie klein, maak my rein.”

Die ou man lê in die agterste kamer. Dié steun toe hy hom toerol in die lappieskombers. Hy tel hom op en is verbaas oor hoe swaar sy pa is, al lyk hy so beenderig.

Op die stoep sit hy hom neer in die leunstoel wat terugkyk, skuur se kant toe. Sy pa se kop val half agteroor, asof hy na asem snak, en sy oë trek skrefies in die vreeslike lig wat hy nooit meer sien nie.

Hy self gaan sit op die kerkbankie oorkant hom, een van dié wat uitgedeel is met die afbreekslag van die ou wit kerk. Mame het mos daar ook uitgehelp.

Lank sit hulle so, hy en die invalide wie se oë wild in hulle kaste roer.

Hoeveel keer het hy nie hierdie toneel in sy kop laat kom nie: die dag van afrekening. Toe sy ma met Sofina saam van die beroerte laat weet het, het hy besef hy sou nie meer sy pa met geweld hoef sit te maak nie.

Hy begin blaai in die swart boek, sy vingers aan die soek na die eerste boek van Samuel.

“My Kroon,” sê hy eindelik, uit sy maag.

Die klank van die woorde wat soveel jare in hom gepiekel het, laat hom geskok stilbly. Maar dan kry hy sy keel skoon: “My Kroon, ken jy die speletjie wat ek, Naatjie, Sofina en Flora toentertyd gespeel het? ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’

“Eers staan almal in ’n groot kring om die ene wat aan is. Hy moet die ander so lank moontlik van hom af weghou, dié wat sê: ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’ Hulle kan op enige manier nader aan hom gaan: skuifel-skuifel, hande-viervoet hol, eenbeen spring. Hy tel en laat mens een, twee of drie treë op ’n slag naderkom voor hy skree: ‘Stop!’ Nes jy kon uitdink, kon jy vra om die koning by te kom. En of hy wil of nie, hy moet jou laat kom.

“Jy raak al hoe blyer soos jy naderkom om die koning te touch. Dis die een speletjie waar jy wil aan wees, want dan is jy die een wat die ander kan rond order, al bly jy ’n benoude baas met ’n hoed wat uit gebruikte foelie geprakseer is.

“Vandag, my Kroon, voel ek weer daardie bang blyheid om voor te wees.”

Hy kyk lank in die ou man se oë wat net nie tot rus kom nie. Hy wil hom bedink, dis nie soos die woorde moes uitgekom het nie. Hy wou eers gepraat het van ’n ander speel – van die siter.

“Dis die bose gees, my Kroon, dis wat jy sou gesê het as jy nog woorde gehad het. En dalk was dit. Eers net die wynbottel met sy uitgeklopte bodem onder die kraantjie by die boer, en later, toe die hongerloon ’n bietjie meer geword het, die vuurwater.

“Dan het jy my laat speel.”

Die bitterheid wil maak dat hy amper nie gepraat kry nie, maar dié woorde het hy oor jare op die ver paaie geoefen. 

“Met hierdie duim, met hierdie voorvinger, het ek gespeel totdat dit met jou beter geword het. Want ek was die ene wat guns in jou oë gevind het. Ek, jou Dawid, klein en rooierig.”

Sy pa se lippe trek van simpelheid oor sy tande, al in die een die hoek in.

“Die Here weet, die predikant se ‘vader van die huis’. Hoe Mame en die meisiekinders jou aanbid het.

“ ‘Ag Vossie, gaan haal jou Tate by die skuur my kind, dis al ampers donker en die diere kom al aan. Jy kyk altyd so mooi na hom.’ En ek soebat, ‘Ag, Mame, laat ’n slag vir Flora gaan.’ ”

Het sy ooit bekommerd gewees oor ’n klein kind wat skemeraand wegbly?

“Ek het nie geweet hoe dit met my is nie. Mame en die kasterolie. Dis hoe ek as Dawid gesalf gekom het. Ek was die een wat bloed geskyt het die longdrop in. Dit was my pismatras wat soggens son toe is en waaroor Mame bly skel het. Ek was die een wat my hand gewas en gewas het by die pomparm.”

Maar daar is ’n vuil wat die skuim van die varkseep wat vanaf die groot werf aangedra is, nie kon afwas nie.

Hy weet die woorde dreun harder in sy kop as wat hy dit sê. Maar teen dié tyd is sy mond droog en hy is bang die winkels sluit al.

“Nou gaan ons klaar speel, my Kroon,” probeer hy met nuwe drif.

In die toemaakdonkerte soos al daai jare.

“Ons gaan skuur toe. Dat ek jou lewe kan spaar. Jy sal moet hard praat en jammerte betoon, soos Saul.

“Ek, jou Dawid, gaan met ’n groot stem uitroep: ‘My heer die koning!’

“Ek sal met die punt van die kombers van die honderde stukke lap waarmee Mame ons mae vol gehou het terwyl jy dronkgat was, in my hand staan. Met hierdie lem sal ek dit afsny, en dit ophou na jou toe sodat jy om vergiffenis kan vra. Dis hoe dit sal wees, my Kroon. Jy moet weet wat die dink in jou kop doen as jou lyf vas is.”

Hy tel sy pa oor sy skouer en begin loop. Die flertsies materiaal sleep deur die sand: die wit van Klein Henta se trourok, die lapgoed vir Naatjie se aanneming voor sy met die lieplapper hier weg is. Die dorpsvrouens se bont, die cream van die doodsrokke, dit alles het eindelose ure later deur die trapmasjien klaargekom.

So ’n voorslag, het die mense gesê. ’n Man wat dag in en dag uit tussen die skaapdrolle sit en suip en kyk hoe staan sy reg by die kerk en vir haar kinders.

Die hele ent pad na die klipgebou meet hy sy treë, soos in ’n stoet. Hy sit die ou man in die deur van die skuur neer, half in die lig, half in die skadu, sodat dié se oë heel toe bly.

“Jou swaard,” sê hy as hy die sekel van die haak aflig en dit onder sy pa se arm insteek. Die lem steek wild by sy slap nek verby.

Dan haal hy weer sy knipmes uit sy bosak en slaan dit oop. In die diep donker van die skuur vee hy eers die sweet van sy gesig af.

Hy wag. Hy wag vir die vrees vir die vasdruk wat jou gorrelpyp toewurre. En hy wag vir die magteloosheid van woede om hom sterk te maak.

Hy vat die hef stywer vas.

Hy dink. Hy dink aan al die aande wat sy begerentheid vir sy vrou te gou bly stol het. En hy dink aan al die jobs wat hom bly ver vat het en ruik weer die bedompige brood wat in blink papier met liefde saamgegee is.

Hy luister. Hy spits sy ore om weer die geluide te hoor. Die gehyg. Die gestamp van die sorteertafel se pote. En eindelik die skaap wat al hoe nader blêr.

Maar al wat hy hoor, is die trae gekraak van die sinkdak. En die oumensklapgeluidjies van die hopie mens in die deur.

Hy trek sy skoene uit en loop op sy sokkies tot by sy pa. Met sy linkerhand gryp hy die punt van die kombers in sy vuis en kyk stip na die fyn stekies wat die lappies bymekaarhou. Hy kyk en kyk totdat die bontspul voor sy oë vervloei.

“Vossie, stop!”

Dis sy ma. Sy staan verskrik voor die opening, uitasem en rooi in die wange van die bak onder die voorruit van Japie Toi se kar.

“Wil jy jou hand teen jou Tate lig?” vra sy, en versit verdwaas ’n pakkie wat sy nog onder die arm klem.

“Nee, Mame,” sê hy. “Ons speel net. Ons speel hier in die skuur soos destyds.

“Maar miskien het ek en hy mekaar nou lank genoeg beroer. Miskien moet ek en jy liewers praat, Mame. Oor dit wat die Singer al die jare doodgetrap het.”

  • 1

Kommentaar

  • Sjoe! Kry ek nou koue rillings. Die krag van die understatement word flink deur Maas gebruik. Wel gedaan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top