Musiek-en-liriek-man, Hannes Beukes, oorlede

  • 0

IN MEMORIAM: Hannes Beukes (15 November 1955 - 29 April 2011)

Mnr Hannes Beukes, in die vroeë 1980’s ’n bekende komponis en liriekskrywer in die Afrikaanse musiek-en-liriek-beweging, is op Vrydag 29 April op die ouderdom van 55 in Dunedin, Nieu-Seeland, oorlede.

Bekendes soos Laurika Rauch, Des en Dawn Lindberg, Art Heatly, Mynie Grové, Malie Kelly en Thinus Maree het van sy werk opgeneem en uitgevoer. Hy het soms ook self opgetree, maar geen plaat is opgeneem nie.

Beeldmateriaal kan op YouTube onder "vasbytboet" gesien word.

Beukes het tot aan die einde van sy lewe "Die soutvlam kwyn" as een van sy beste lirieke beskou:

Lank gelede
Toe hy nog jonk was
Was hy ’n man
Wat vas kon vat
Onthou – toe hy nog fier
En regop was

Sy was mooi
Klein en fyn
Nou steun en kreun sy die trappe uit
Haar vel
Van perkament
Bly my altyd by

Refrein:
Ouderdom ken geen genade
Die pensioen krimp jaar na jaar
Pap en tik in die môre
Brood en gort
Op ’n wintersaand

Geleerde kinders
Vreemde kinders
Elke jaar ’n Kerskaartjie
Miskien
’n Brief wat niks vertel nie

Die aande draal
Die ure stol
Die dink raak muf teen middernag
Die kers se vlam brand laer
Die soutvlam kwyn in die môre

Hy is op 15 November 1955 gebore, het in 1973 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer, militêre diensplig gedoen en hom toe as bourekenaar aan die Universiteit van die Vrystaat bekwaam. Daarna het hy aan die Witwatersrand gaan woon en werk. Veel later het hy en sy gesin na Nieu-Seeland geëmigreer.

Hy laat ’n broer, sy vrou, Lize, hulle kinders, Lonzelle en Mijburgh, en kleinkinders, Michaela en Erin, agter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top