Murder on the Orient Express (2017) deur Kenneth Branagh: ’n resensie

  • 0

Agatha Christie se beroemde speurroman, Murder on the Orient Express (1934)  ̶  met haar ewe beroemde privaatspeurder, Hercule Poirot, in die hoofrol  ̶  is reeds verskeie kere verfilm. In 1974 verskyn die eerste speelfilm, met Sidney Lumet as regisseur en Albert Finney as Poirot. Hierdie weergawe word alomweë deur kritici beskou as een van die beste filmiese weergawes van Christie se werk tot op datum. In teenstelling hiermee, word die 2001-weergawe vir CBS-televisie, met Alfred Molina in die hoofrol, beskou as een van die swakste bewerkings nóg van 'n Christie-roman.

Die 2010-weergawe vir ITV in Brittanje, met David Suchet as Poirot, lê waarskynlik êrens tussen hierdie twee uiterstes. Aan die positiewe kant, word die hoofrol vertolk deur die briljante Suchet wat aan die Poirot-karakter ikoniese status oor meer as twintig jaar van vertolking verleen het – dit is die Suchet-inkarnasie van Poirot wat almal erken. Aan die negatiewe kant, was dit Suchet self wat op noemenswaardige afwykings van die oorspronklike roman aangedring het, veral wat die einde aanbetref.

Daar is selfs 'n 2015 Japannese TV-weergawe van Murder on the Orient Express met beroemde Japanese akteurs ...

Uit die aard van die saak is dit teen hierdie agtergrond dat 'n mens sou twyfel oor die meriete van nóg 'n weergawe vir die silwerdoek. Tog gee 20th Century Fox op 16 Junie 2015 opdrag aan Kenneth Branagh, die beroemde Shakespeare-akteur, om nie net 'n nuwe weergawe van Murder on the Orient Express te regisseer nie, maar om ook die hoofrol daarin te vertolk. Reeds met die 2016-persvrystelling van die rolverdeling – wat Johnny Depp, Penélope Cruz, Michelle Pfeiffer, Derek Jacobi en Judie Dench insluit – was dit duidelik dat die Branagh-weergawe baie hoog mik. Die resultaat, wat vandeesweek in Suid-Afrika begin draai, is, sonder om doekies om te draai, ongeëwenaar in skaal én kwaliteit.

Dit sal wel 'n rukkie neem vir Suchet-aanhangers om aan Branagh se Poirot, met die grootste moestas tot op hede, gewoond te raak. Maar hierdie Poirot kruip gou in 'n mens se hart in. Dalk het dit heelwat te doen met die manier waarop Branagh 'n soort melankolie na die rol bring sonder om enige van die meer dominante karaktereienskappe in te boet – Poirot is steeds Poirot soos ons hom leer ken het in Christie se boeke. Soos Sophie Hannah – die skrywer van die nuwe Poirot-boeke – dit stel: "It isn’t so much that his moustache is luxurious and resplendent (though it is both); it is simply that he feels like a real, proper Poirot." 'n Verdere pluspunt is dat hierdie weergawe uiters getrou is aan die oorspronklike teks.

Hier en daar pla 'n paar onbenullighede, byvoorbeeld die meerdere en onnodige verwysings na 'n luukse sjokolade-handelsmerk. 'n Paar veranderinge is ook aangebring wat Christie se karakters aanbetref. Penélope Cruz is, byvoorbeeld, 'n Spaanse weergawe van die oorspronklike teks se Sweedse Gretha Ohlsson. Maar hierdie aanpassings kom moeiteloos voor en doen nie afbreuk aan die integriteit van Christie se roman nie. Die beste vertolking in die film – trouens, een van die bestes van haar loopbaan – is deur Michele Pfeiffer as Mrs Hubbard, wie se kritieke rol in die verhaal tot op die laaste weerhou word.

Die kern van Christie se verhaal handel met die vraag of dit ooit geregverdig is om die reg in eie hande te neem. Met ander woorde, is dit geoorloof om van die reg af te wyk wanneer dit nie geregtigheid in die hand werk nie? Die verhaal beeld op konkrete wyse een van die mees deurlopende kwessies in die regsfilosofie uit, naamlik die verhouding tussen (en dikwels teenstelling van) morele verantwoordelikheid en regsverantwoordelikheid.

Die storie is ontleen aan die werklike ontvoering en moord in 1932 op die twintig maande oue seun van die beroemde lugvaarder, Charles Lindbergh. Bruno Richard Hauptmann is wel aan die moord skuldig bevind en ter dood veroordeel nadat hy 'n aanbod van die hand gewys het om sy terdoodveroordeling na lewenslange tronkstraf om te skakel in ruil vir 'n bekentenis. Baie lesers sal bewus wees van die spekulasie dat die werklike moordenaar nooit aan die kaak gestel is nie, asook van die teorie dat Lindbergh self vir sy kind se dood verantwoordelik was.

In Christie se verwerking van die gegewe is die moordenaar skotvry, hoewel sy identiteit bekend is. Almal wat die roman gelees het sal weet dat Christie se simpatie lê by diegene wat besluit om die reg in eie hande te neem deur die kindermoord nie ongestraf te laat nie. Tog is daar genoeg nuanse in beide Christie én in hierdie wonderlike nuwe verwerking om die indruk te laat dat 'n baie hoë prys vir hierdie soort optrede te betaal is en dat dit nie noodwendig die vryheid koop wat mens te wagte was nie.

Maar bowenal laat hierdie nuwe weergawe mens onder die indruk van die ontsettende impak wat verbonde is aan die verlies van 'n kind, aan hoe één ontydige dood 'n netwerk van lewens omver kan werp en verwoes. Die opmerklike klem op hierdie aspek in die konteks van die ander aspekte wat ek hierbo aanraak, maak van Branagh se Murder on the Orient Express 'n eg menslike en diep ontroerende speelfilm wat bestaande Christie-aanhangers sal bevredig en beslis nuwe bewonderaars sal werf.

  • Jaco Barnard-Naudé is tans in Londen as die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe aan die Westminster Universiteit.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top