Munch, munch munch ...

  • 1

Toe Hein Scholz sy universiteitskoshuis verlaat en in ’n studentehuis intrek, het hy gou agtergekom hy moet ’n plan maak om gesond en boonop goedkoop te kan eet. Maar vir ’n foodie soos hy was two-minute noodles en wegneemetes buite die kwessie. Sy eerste kookboek, Munch, het pas by Struik Lifestyle verskyn en hierin wil Hein sy eenvoudige, sakpas, tog heerlike en heilsame etes met jongmense en kosfoendies deel. (En boonop het hy ook drie van sy volledige resepte met ons gedeel!) Chrizane van Zyl het hom in die snelvuur gegooi.
 

 

Hallo Hein. Waar en hoe is Munch gebore?

Eintlik dink ek al lankal daaraan om ’n resepteboek te skryf, maar toe ek eendag in die BPhil Honneurs-klas in Stellenbosch sit en luister hoe my dosent aangaan oor hoe sosiale media joernalisme gaan verander, het ek besluit ek het uiteindelik my invalshoek vir die boek gekry. Munch is iets wat ’n pel van my op Stellies altyd gesê het tydens etenstyd – en dit het die waaib van die boek mooi saamgevat.

Jy vertel in die inleiding van jou dae as student en hoe jy begin kook het. Is die boek net gemik op studente? Wie sal die boek geniet?

Goeie vraag. Die boek is ’n goeie begin vir studente, maar die maklike resepte maak dit tydloos en vir enigiemand wat van kos hou. Ek dink die resepte is ’n goeie balans van bekendes, maklikes en nuwes – en dus is daar iets vir almal, van die novice tot die goedgesoute gourmand.

Die sosialemedia-element van die boek is wel gerig op enigiemand wat baat kan vind by die integrasie van die boek by twitter en ander nuwe media – sover ons weet is dit ’n wêreld-eerste-poging.

Die eerste ding wat my aandag getrek het, was juis die gebruik van multimedia en sosiale netwerke soos twitter in die boek. Vertel ons meer van die hutstekens, qr-kodes en hulle doel?

Elke resep het sy eie hutstekens, wat beteken dat mense wat die boek koop en resepte uitprobeer, met my en aanhangers kan kommunikeer oor spesifieke resepte. Hulle kan vrae vra, foto’s deel, oor floppe lag en kommentaar lewer.

Die qr-kodes neem mense met tablette of slimfone na my YouTube-kanaal waar ek ’n stap in van die resepte prakties wys – soos byvoorbeeld hoe om ’n wrap te vou, wat nie altyd maklik verduidelik kan word in ’n sin of twee nie.

Hoe betrokke was jy by die ontwerp en uitleg van die boek? En hoe het julle op die styl besluit?

Die uitlegkunstenaar was ook die projekbestuurder, en dit was baie slim van Struik. Helen (Henn) het my goed leer ken tydens die kosmaak- en skiet-fase van die boek (wat ’n week geduur het), en aan die einde daarvan (60 resepte en vol magies later) het almal ’n goeie idee gehad van die waaib van die boek, wat ek laaik, en wat ons kan gebruik vir die boek.

Behalwe vir die groep-ervaring tydens die skietfase het my ouderdom en keuse van sosiale media ook ’n rol gespeel – soos jy kan sien met die graffiti en die twitter-voëltjie op elke bladsy. Ek is baie trots op die boek – dis rêrig ’n gehalte-produk.

 

Ons het jou al op die ontbytprogram Expresso Morning Show op SABC3 gesien kos maak. En jy is ook die inhoudsvervaardiger van The Dr Mol Show op SABC3. Sal jy ooit voor die kamera inskuif en dalk jou eie kookprogram begin?

Ek dink dit is baie belangrik vir enige aanbieder om begrip te hê van wat agter die skerm gebeur, en ek dink die feit dat ek al vir twee jaar as Michael se inhoudsvervaardiger gewerk het (en sekerlik het iets van hom ook hopelik by my afgevryf), het my baie goed voorberei vir die handjievol televisie-optredes wat ek die voorreg gehad het om te doen. Ek het ook ervaring in regie opgedoen vir ons insetsels – en dit is ook ’n belangrike deel van ’n suksesvolle legkaart.

Graag sal ek ’n kookprogram wil behartig, vervaardig en aanbied, maar mens moet ook nie dat die idee met jou weghardloop nie (almal wil mos deesdae op TV wees). Sodra ek ’n goeie inhoudplan en strategie het vir ’n kookprogram wat ek in glo en wat ek dink op Suid-Afrikaanse skerms sal werk, sal ek my gewig agter dit ingooi. Tot dan kan mens maar net droom.

Jy het die boek aan jou oorlede pa opgedra. Watter invloed het hy op jou as sjef en ook as mens gehad?

Eerstens wil ek graag deel dat ek nie ’n sjef is nie – ek sal nooit jare se ervaring en studie van ’n gekwalifiseerde sjef wegvat deur myself dit te noem nie. Ek is ’n praktiese kos-joernalis – en kosliefhebber.

My pa het my leer vleis werk toe my voete aan die etenstafel nog nie aan die grond kon raak nie. Hy het my leer braai, potjies en bredies maak, en om respek te hê vir waar kos vandaan kom. My ma en ouma het ook ’n groot rol gespeel – maar dis my pa wat die saadjie geplant het.

Wat is van jou gunsteling-kosherinneringe saam met jou pa?

Vir seker vleiswerk. Dis iets wat baie jongmense nie meer kans het om te ervaar nie, en dis baie plattelands. Ek onthou hoe ek en my pa bees- en skaapkarkasse koop by sy boerepelle, die vleis bewerk om maalvleis, wors, tjops, steak en biltong te maak.
Dis 'n baie belangrike aspek van verantwoordelikheid neem vir waar kos vandaan kom, en om respek te hê vir die dier wat sy lewe opgegee het om as tjops in ons vrieskaste te woon.

Daar is 'n hele klomp interessante geurkombinasies in Munch, soos T-bone steak met aarbeikonfyt. Wat is die vreemdste geurkombinasie wat jy al ooit mee vorendag gekom het?

Haha! Ja, ek kry nogal baie navrae oor die T-been-resep. Dit werk baie lekker, want die bitter, pikante brandsmaak van die groen peperkorrels bind die soet en die vleis mooi. Kos is mos oor balans – en as jy jou geure kan balanseer, is jou dis reeds ’n treffer.
Mmm ... vreemde geurkombinasie ... Toe ek ’n kind was, het ek altyd botter op karringmelkbeskuit gesmeer, en daarop het ek soutsmeer soos Bovril/Oxo/Marmite gesmeer ... Ek sal dit nooit vergeet nie!

 

 

Die Power Sandwich.
(Klik op die foto vir die resep)
 

Hein se taai varkribbetjies.
(Klik op die foto vir die resep)
 

Pavlova
(Klik op die foto vir die resep)
 

 

 

 

Titel: Munch
Uitgewer: Struik Lifestyle
ISBN: 9781431702916

Klik hier om die boek by kalahari.com te koop.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top