“Moenie my ‘jy’ en ‘jou’ nie” – die gebruik van u in die 21ste eeu. Resultate van ’n loodsondersoek

  • 3

“Moenie my ‘jy’ en ‘jou’ nie” – die gebruik van u in die 21ste eeu. Resultate van ’n loodsondersoek

Nerina Bosman, Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria en Annél Otto, Departement Tale en Lettere, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 12(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Oor aanspreekvorme (voortaan AV’e) in Afrikaans is die volgende navorsing al gedoen: Brown en Gilman (1960) skets die asimmetriese magsituasie tussen blankes, kleurlinge en swart mense waar veral die V-vorm (vir Afrikaans is dit die respekvorm, naamlik u) nie ter sprake kom nie. Scholtz (1963:65) merk (sonder enige empiriese gegewens) op dat die gebruik van u “buite die kringe van ‘geleerdes’ en ‘verstedeliktes’” iets vreemds in Afrikaans is. Odendal (1976) lewer verslag van ’n kleinskaalse ondersoek onder universiteitstudente. Hy noem dat jy waarskynlik besig is om veld te wen in formele situasies en dat u nooit gebruik is deur die sogenaamde “sosiaal mindere lae” nie. Wybenga (1981) bestudeer Afrikaanse AV’e van wit Afrikaanssprekendes in Vanderbijlpark en Kotzé (1983) gee ’n gedetailleerde beskrywing van AV’e in die Maleierafrikaans van die 1980’s. In ’n 1987-artikel gee Combrink ’n oorsig oor die gebruik van die direkte AV, of vokatief in Afrikaans. Swanepoel (1989) is ’n teksgebaseerde diachroniese ondersoek na interetniese aanspreek- en verwysingsvorme in Afrikaans.

Grootskaalse empiriese ondersoek na die sogenaamde indirekte AV – dit is die voornaamwoorde u, u-hulle, jy en julle, die herhalingsvorm (waar die direkte AV herhaal word) of die vermydingsvorm (waar AV’e nie gebruik word nie) – ontbreek egter in Afrikaans. In hierdie artikel lewer ons verslag van ’n kwantitatiewe loodsstudie na die gebruik van u. Hierdie loodsstudie maak deel uit van ’n omvattende NNS-projek na die hele Afrikaanse aanspreekstelsel. Die resultate van ’n elektroniese vraelys waarin respondente verslag doen van hulle eie gebruik van u sal voorgehou word en opvolgende fases van die projek sal kortliks aangedui word.

Binne die beperkings rakende die omvang van hierdie artikel wou ons breë tendense aantoon. Fynere onderskeidings rakende sosiolinguistiese en pragmatiese faktore moet verkieslik deur middel van kwalitatiewe data wat deur addisionele metodes verkry word, aangedui word.

Trefwoorde: aanspreekvorme; Afrikaans; direkte aanspreekvorm; elektroniese vraelys; herhalingsvorm; indirekte aanspreekvorm; sydelingse aanspreekvorm; u; vermydingsvorm

 

Abstract

“Do not call me ‘jy’ and ‘jou’”. The use of u as an Afrikaans form of address in the 21st century. Results of a pilot study.

In this article, the current usage of Afrikaans forms of address is discussed by focusing on the results of a quantitative study regarding the use of the formal pronoun u.

Due to the fact that a large-scale empirical investigation about the so-called “second form of address”, i.e. about the pronouns u, u-hulle and jy, julle, the R form (where the first form of address is repeated) or the zero form (casus oblique), has to date not been undertaken in Afrikaans, we embarked on a pilot project which forms part of a larger extensive study about Afrikaans forms of address. The data for this article was obtained by using an electronic questionnaire. Since most questions were closed questions, our report is quantitative in nature.

The term aanspreekvorm (“form of address”) is used in most Afrikaans literature for both the vocative (or first form of address) and the second form of address. We propose a taxonomy to be used in future.

In our taxonomy, we distinguish the following forms of address: the direct form or vocative and various indirect forms including the repetition of the first form (the R form), the second person pronouns u, u-hulle, jy and julle and the complete avoidance of any form (the so-called casus oblique).

The article provides a comprehensive overview of research on Afrikaans forms of address by Brown and Gilman (1960), Scholtz (1963), Odendal (1976), Combrink (1982), Wybenga (1981, 1987), Kotzé (1983, 1987) and Swanepoel (1989).

The focus of this first report is on the use, or not, of u. Afrikaans speakers have to make a choice regarding the second form of address, because it is normally not easy to avoid the use of a pronoun in face-to-face address. Our research questions were, therefore:

  • What are the current norms, use and perceptions regarding the use of u?
  • Has there been any change regarding these norms, use and perceptions since the previous research was done in the early 1980s?

Some of our results are listed below.

There were 75% female respondents and 25% males: 94% were white, 2% coloured, 1% black, and 3% preferred their own description of their race. Most respondents (66%) are employed, while 21% are students and 13% pensioners. 89% of the respondents do occasionally use u. We see this as a really significant finding, but one must keep in mind that actual language use was not investigated. However, this finding does correspond with our own experience as speakers of Afrikaans.

Three generations were identified for purposes of cross-tabulation:

60–80 years: 19%
30–59 years: 53%
19–29 years: 27%

Respondents older than 60 years do not use u more than those younger than 30 years.
There is no significant difference in the use or not of u between these three generations.

According to the research group as a whole, a small majority (46%) are never or almost never addressed as u, but almost as many (42%) are sometimes addressed with this pronoun.

When the age of the respondents was taken into consideration, the following results were obtained:

60–80 years: 49% are rarely addressed as u and 27% never or almost never.
30–59 years: 41% are rarely addressed as u and 48% never or almost never.
19–29 years: 35% are rarely addressed as u and a clear majority of 63% never or almost never.

There are no significant differences between the use of u by students, working people and retirees. All three groups use u on occasion, albeit very seldom.

The two age groups that clearly prefer not to be addressed as u are those between 30 and 59 years and those between 19 and 29 years. In both groups, 66% of the respondents chose this option.

U is regarded as very formal, old-fashioned and polite, with the predominant feeling that u is very polite.

Has there been any change regarding these norms, use and perceptions since the early 1980s?

Keeping in mind that we did not investigate real language use, our preliminary results indicate that it seems as if there has not been a significant change in the use of u. Because we had very few non-white respondents, we can only speculate that issues regarding class, status, solidarity and equality still dominate the use of interethnic forms.

Our main conclusion is that jy is the preferred second form of address, but that u is still well known and used when the situation requires it. Unfamiliarity is a very important selector for the use of u, taken together with other variables such as status and age. The pragmatic function of expressing respect plays an important role in the choice of u.

The main limitation of our study, besides the fact that a questionnaire was used, is that the sample of the Afrikaans-speaking population does not represent all speakers in South Africa and Namibia. Coloured, black and Indian speakers are not represented at all and not all age groups are equally represented.

In this first report undertaken in the 21st century, 20 years after the first democratic election in South Africa, we wanted to note broad trends. This to us is the main value of an exploratory investigation. The quantitative research indicates the need for further nuanced investigation to explore the rich and tightly woven social fabric that underlies the use of forms of address in our society. The nagging question of the status and usage of the indirect form of address in contemporary Afrikaans, in all its rich diversity, is still not answered satisfactorily.

Our recommendation is that other methodologies, such as interviews, focus groups and systematic direct observation, be used and that thorough text-based studies, which includes dramas and television soaps, for example, be undertaken.

Keywords: Afrikaans; avoidance of form of address; direct form of address; electronic questionnaire; forms of address; indirect forms of address; repetition of the vocative; (casus oblique); you (V-form / "u"); you (T-form / “jy”)

 

1. Inleiding

In hierdie artikel word berig oor die hedendaagse gebruik van Afrikaanse AV’e en word daar veral gefokus op die resultate van ’n kwantitatiewe studie na die gebruik van u.

Daar is talle sosiolinguistiese temas oor Afrikaans wat ondersoek regverdig, maar daar is juis besluit om AV’e te ondersoek vanweë die onsekerheid hieroor wat deesdae bestaan en wat soms manifesteer in stylinkongruensie, waar ’n persoon byvoorbeeld aanvanklik in ’n dokument met u aangespreek word en later in dieselfde dokument met jy of indirek in die besitskonstruksie met jou, byvoorbeeld in jou lidnommer. Waar navorsers voorheen deur middel van vloeidiagramme duidelike riglyne rakende die verskillende keuses wat bestaan, kon aandui (vergelyk hier byvoorbeeld Ervin-Tripp 1973, Odendal 1976 en Kotzé 1983), verhoed die diggeweefde sosiale konteks waarin Afrikaanssprekendes hulle tans bevind, klinkklare norme. Deur hierdie artikel sowel as in verdere artikels beoog die navorsers om die enorme kompleksiteit van Afrikaanse AV’e aan die lig te bring.

Afrikaanse AV’e is al in die verlede vanuit historiese (Scholtz 1981, Swanepoel 1989) asook sosiolinguistiese (Odendal 1976, Wybenga 1981, Kotzé 1983) en pragmatiese (Van Niekerk en Olivier 2014) perspektiewe beskryf, maar daar is eintlik verbasend min empiriese navorsing gedoen, soos wat Simon (2010:408) dan ook opmerk. Gedagtig aan Labov se kumulatiewe paradoks, “the more that is known about a language, the more we can find out about it” (Labov 1972a:202), is daar met ’n grootskaalse projek oor AV’e begin. Hierdie projek is moontlik gemaak deur ’n ruim toekenning van die Nasionale Navorsingstigting (National Research Foundation) en die reikwydte daarvan is landswyd in Suid-Afrika asook in Namibië. Vraelyste, onderhoude, fokusgroepe, sistematiese waarneming en dokumentontleding sal in die omvattende projek betrek word. Hier word, in ’n eerste verslag, slegs berig oor die resultate wat verkry is uit die response op ’n elektroniese vraelys wat in die eerste fase van die projek uitgestuur is. Dit was ’n lang vraelys en ons het meer data in ons ondersoek gekry as wat ons in een artikel kan verwerk. Soos wat ons verderaan aantoon, sal sekere aspekte meer aandag in opvolgartikels ontvang.

Ons navorsingsvrae lui:

  • Wat geld as die huidige norm, gebruik en persepsies rakende die gebruik van u as AV?
  • Dui die huidige norme, gebruik en persepsies rakende die gebruik van u op verandering in taalgebruik van Afrikaanssprekendes sedert die vorige navorsing in die 1980’s gedoen is?

In die vraelys wat ons gebruik het, word dié vraag in kleiner onderafdelings ingedeel, soos te siene is in afdeling 6, waar ons ons resultate voorhou. Bepaalde vooronderstellings of hipoteses was onderliggend aan die vrae in die vraelys. Hierdie hipoteses word verderaan in afdeling 6 aangedui.

Die vraelys is elektronies beskikbaar gestel nadat die nodige etiese klaring verkry is. Alle inligting rakende respondente word in die volgende verslag anoniem aangebied.

 

2. Sleutelterme en -begrippe

Ons gee hier kortliks weer in watter betekenis ons sekere onmisbare terme in hierdie en beoogde opvolgartikels gaan gebruik.

2.1 Aanspreekvorm (AV)

Die term aanspreekvorm (voortaan AV) word in die grootste gros Afrikaanse vakliteratuur gebruik vir sowel die direkte as die indirekte AV’e. Dit is ook hoe ons die term gebruik, dit wil sê as oorkoepelende term vir daardie woorde of titels waarmee een persoon ’n ander aanspreek. Hierin volg ons die mees algemene gebruik na. Vergelyk byvoorbeeld Scholtz (1953/1981), Odendal (1976), Wybenga (1981, 1987), Kotzé (1983, 1987) en Swanepoel (1989). Ook Vermaas (2005), wat dit oor Nederlandse AV’e het, gebruik die term so.

Om die mate van verwarring wat tans rakende terminologie heers, uit te skakel, stel ons ’n taksonomie van Afrikaanse AV-terme voor. In ons bespreking verwys ons wel na alternatiewe terme wat in die Afrikaanse vakliteratuur voorkom, maar ons maak ons eie voorkeur duidelik.

2.2 Direkte AV

(Ook genoem vokatief of eerste aanspraak)

Ons verstaan die direkte AV as daardie vorm waarmee ’n mens iemand aanspreek om die persoon te identifiseer of sy/haar aandag te trek.

Volgens Combrink (1987:15), wat die term vokatief vir hierdie begrip gebruik, is hierdie tipe AV “’n taalbousel wat gebruik word om tweedepersoonsnoemend met een of meer lewende wesens te praat”. Die direkte AV gee altyd iets te kenne oor

a) die aangesprokene
b) die spreker
c) die formaliteitsgraad en sekere ander aspekte van die kommunikatiewe situasie
d) die tipe sosiale interaksie tussen spreker en aangesprokene(s).

Ponelis (1979:35), wat eweneens die term vokatief gebruik, sê dat die twee hooffunksies van die direkte AV is eerstens om die aandag van die aangesprokene te kry en tweedens om die verhouding tussen die gespreksgenote te struktureer. Die tweede funksie (en ook Combrink se (d)), wat gaan oor die verhouding tussen die gespreksgenote, is ook en veral van toepassing op die indirekte AV.

Combrink (1987) maak ’n verdere onderskeid, op grond van hoër intonasie en klankvolume, tussen aansprekings (om iemand te groet wat ruimtelik naby die spreker is), aanroepe (as die spreker verder van die aangeroepene is) en aanskreeuings (waar geskree word omdat die aangesprokene baie ver van die spreker is). Volgens Combrink kan aanroepe en aanskreeuings ook alleen staan as sinne, maar nie alle direkte AV’e kan ook as aanskreeuings gebruik word nie. U Edele is hier ’n goeie voorbeeld. Combrink gee baie voorbeelde van die verskillende soorte direkte AV’e uit die algemene Afrikaanse omgangstaal.

Anders as ander navorsers, tref Combrink ’n onderskeid tussen vokatiewe (wat hy as die enigste AV’e beskou) en bespreekvorme, soos u en jy, byvoorbeeld (vergelyk Combrink 1987: 30). Hy sluit nie bespreekvorme in die kategorie AV’e in nie.

Wybenga (1987:36) gee baie voorbeelde van AV’e, maar handhaaf nie Combrink se onderskeid tussen AV’e en bespreekvorme nie. Hy wys wel, in navolging van Odendal (1976), op ’n sintaktiese onderskeid tussen die direkte AV, wat op die rand van die sin verskyn en nie in die sin geïntegreer is nie, en die indirekte AV, wat wel in die sin geïntegreer word.

Wybenga (1981:29) gebruik voorts so ’n wye interpretasie van Ponelis se definisie dat hy selfs ’n woord soos haai (in Haai, kom bietjie hier) as ’n (weliswaar nie-outentieke) AV beskou. Hierdie soort woorde (Wybenga noem ook appèlvorme soos jy weet, ek sê jou, hoor hier, hei jy, jy sien) word nie deur ons as AV’e beskou nie.

Vervolgens word ’n opsomming gegee van moontlike direkte AV’e (met enkele voorbeelde daarnaas), wat op grond van ’n hoër intonasie en harder volume meestal ook as onderskeidelik aanroepe en aanskreeuings kan funksioneer:

  • voorname, byname en vanne (sonder titels wat hulle voorafgaan): Jan, Valie, De Wet
  • kwalifikasie- en beroepsgebonde AV’e: dokter, doktor, professor, juffrou
  • geslagsgebonde AV’e teenoor kinders: boetie, sussa (hierdie AV’e kan so inslag vind dat die kinders later as volwassenes steeds so aangespreek word)
  • geslagsgebonde vorme teenoor volwassenes: meneer, mevrou, oom, tannie
  • informele geslagsgebonde vorme teenoor volwassenes: jongman, dametjie
  • niegeslagsgebonde vorme teenoor kinders: kind, kinta
  • funksiegebonde vorme: Edelagbare, mevrou die voorsitter
  • verwantskapsterme, waaronder AV’e vir ouers en bloedverwante van verskillende ouderdomme en geslagte tel: mamma, oupa, oom, tannie
  • rasgebonde AV’e: baas, miesies (rassisties)
  • algemene vorme, wat AV’e is wat teenoor enige persoon ongeag ouderdom, geslag, beroep, ras of enige ander selekteerder of sosiale veranderlike gebruik word: jong, mens
  • affektiewe AV’e: jou vark, jou lekker ding
  • AV’e vir lewende wesens wat nie mense is nie, byvoorbeeld diere, en selfs vir lewelose sake (wat ad hoc-lewetoekenning kry), maar wat natuurlik ook direk aangespreek word; hierdie vorme is egter nie vir hierdie artikel ter sake nie, en ons gee ter illustrasie slegs enkele voorbeelde:
    – dierename/dierebyname: Ou magistraat (vir ’n rooistompneus in geselstaal), Wagter
    – lewelose voorwerpe: Fonteintjie [... uit jou sal ek nie weer drink nie].

2.3 Indirekte aanspreekvorm
(Ook genoem tweede aanspraak)

Die indirekte AV (IAV) neem ’n verskeidenheid vorme aan in Afrikaans en ’n groot aantal terme word in die literatuur aangetref.1

Dit mag voorkom nadat die direkte AV gebruik is, maar ook waar daar geen direkte AV voorafgaan nie. Die tweede aanspraak kan byvoorbeeld ’n herhaling van die eerste aanspraak wees, maar is ook tipies die voornaamwoorde u, jy en julle. Wat die IAV betref, bied Afrikaans sy sprekers baie moontlikhede.

Op grond van sy vraelysresultate identifiseer Wybenga (1981:114 e.v.) ’n agtal verskillende vorme van die IAV. Die volgende vorme (ons haal hier Wybenga se terminologie en voorbeeldsinne aan) is almal deur hom opgeteken. Wybenga se lys is waardevol en word gebruik om ons taksonomie in te vul:

(a) Die nulvorm
Kan die chauffeur nie die motor ’n bietjie vorentoe trek nie?
(b) Jy
(c) U
(d) Die R-vorm (herhaling van die eerste AV)
Hier gaan dit om ’n herhaling van die direkte AV:
Ma, kan ek ma help om ma se kamer skoon te maak?
(e) Julle teenoor ’n enkele persoon:
Aan ’n apteker: Het julle iets vir verkoue?
(f) Ons
Is ons mamma weg? (teenoor ʼn jong meisie)
Jan, kan ons nie op ’n ander dag kom kuier nie? (Die ons word gebruik om met Jan te praat.)
Ek wonder of ons nie beter maniere het nie?(teenoor ’n vreemde man).
(g) Derdepersoonsvorme
Hoekom huil sy so? (teenoor ’n meisie).
Dit lyk tog te fraai vandag. (teenoor ’n vrou).
(h) Gemengde vorme:2
Meneer, kan meneer se chauffeur u motor ’n bietjie vorentoe trek?

Sommige van bogenoemde vorme kan ook as vermydingsvorme getipeer word. Sprekers wil soms die té formele u of die té familiêre jy vermy en gebruik dan IAV’e. As vermydingsvorm is veral die herhalingsvorm (ook bekend as die sydelingse aanspreekvorm in Afrikaanse vakliteratuur) besonder opmerklik.

Soos wat Scholtz (1981:68) aantoon, kan die herhalingsvorm in funksies soos die onderwerp, voorwerp en besitsverbindings voorkom. Die herhalingsvorm word gebruik om iemand in die derde persoon aan te spreek en tipiese voorbeelde in Afrikaans is die herhaling van die voornaam of titel, meneer, mevrou, pappa, mamma, oom, tannie. In ’n bespreking van hierdie verskynsel onder ondergeskiktes teenoor meerderes sê Scholtz (1981:70) dit is ’n ope vraag of die gebruik hiervan enersyds gemotiveer word deur ’n “afsak van ’n oorspronklike deftige aanspreekmanier na die heel laagste maatskaplike stand” of dalk spruit uit die feit dat daar “in die Kaapse taal geen eerbiedige pronominale AV bestaan het nie” en dat daar deur sosiale konvensie gevoel is dat minderes nie meerderes mag aanspreek met die enigste bestaande pronominale vorm (naamlik jy) nie. Kotzé ( 1987:47) is insgelyks van mening dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat hierdie vorm, wat uitgebreid in Maleierafrikaans voorkom, ’n invloed uitgeoefen het op die Afrikaanse herhalingsvorm tydens die wordingstyd van Afrikaans nie.

Die gebruik van ons en die derdepersoonsvoornaamwoorde hy en sy is bekende voorbeelde van IAV’e in Afrikaans waar gelykes en minderes soos klein kindertjies op ’n affektiewe manier aangespreek word.

2.4 Taksonomie van terme

Ons stel voor dat die volgende Afrikaanse AV-terminologie gestandaardiseer word. Ons bied ons voorkeurterme aan, maar algemeen-gebruikte alternatiewe word tussen hakies gegee.

Aanspreekvorm

  • Direkte aanspreekvorm (vokatief, eerste aanspraak)
  • Indirekte aanspreekvorm (tweede aanspraak)
  • Vermydingsvorm (casus oblique)
  • Herhalingsvorm (herhaalde aanspraak, antesedentherhaling, sydelingse aanspreekvorm)
  • Voornaamwoorde
      • Tweedepersoonsvoornaamwoorde: u, u-hulle, jy, julle
      • Eerstepersoonsvoornaamwoorde: ons
      • Derdepersoonsvoornaamwoorde: hy, sy, dit, hulle

2.5 Selekteerders

Die voorwaardes (of sosiale konvensies) wat daar in ’n spraakgemeenskap op die keuse van ’n spesifieke AV gelê word, dien as selekteerders, soos wat Odendal (1976:105) hulle noem. Hierdie selekteerders bepaal dan watter AV in ’n gegewe geval gebruik gaan word (Wybenga 1981:9). Selekteerders is faktore soos die volgende: volwassenheid, gesag, status, bekendheid, verwantskap en formaliteit.

 

3. Literatuuroorsig

In ’n opstel, “Die geskiedenis van die Afrikaanse aanspreekvorme”, wat in 1953 in Tydskrif vir Wetenskap en Kuns verskyn,3 gee Scholtz ’n deeglike oorsig oor die ontwikkeling van die Afrikaanse AV’e, met name die voornaamwoordelike AV’e jy, julle en u. Scholtz toon onder andere aan dat die IAV in Afrikaans met die gebruik in Friesland en Groningen ooreenstem. Aan die historiese ontwikkeling van u word daar meer aandag geskenk in afdeling 4.

Swanepoel (1989) sit in ’n uitsluitlik teksgebaseerde ondersoek uiteen hoe AV’e tussen etniese groepe in Suid-Afrika sedert 1652 tot 1988 verander het. Sy ontleed ’n groot verskeidenheid tekste vanaf 1652 tot 1921, en vanaf 1921 uitsluitlik letterkundige werke soos romans en kortverhale (en, let wel, geen dramas nie).

Die data wat sy in haar studie gebruik, raak nie net AV’e nie, maar ook sogenaamde verwysvorme – daardie woorde waarmee daar na mense van bepaalde etniese groepe verwys word.

Swanepoel wys daarop dat daar in die tydperk wat sy ondersoek het, voortdurende verandering te sien is in die manier waarop veral blankes nieblankes aangespreek het en na hulle verwys het. In sommige gevalle het skrywers en uitgewers begin om AV’e en verwysvorme wat onaanvaarbaar geword het, maar vroeër algemeen gebruik is, in ’n herdruk na meer aanvaarbare vorme te verander. Sy verwys na E.R. van Heerden se MA-verhandeling (“’n Resepsiegeskiedenis van raspejoratiewe in geselekteerde Afrikaanse prosatekste”, 1987) wat hierdie verskynsel indringend bespreek het.

Swanepoel se bevindinge met betrekking tot die gebruik van interetniese verwys- en AV’e in die tydperk 1652 tot 1988 kan as volg opgesom word:

  • Alhoewel daar ’n tendens van verandering te bespeur is in sowel die gebruiksfrekwensie as die manier van aanspreek en verwysing na nieblankes in die gespreksverhouding “blanke verwys na nieblanke” en in die manier van aanspreek en verwysing na blankes in die gespreksverhouding “nieblanke rig hom tot / verwys na blanke”, is die gebruik van interetniese vorme in beide gespreksverhoudings steeds aan die orde van die dag.
  • Die tendens van verandering behels ’n wegbreek van die gebruik van interetniese vorme en ’n invoer van die AV/verwysvorm meneer in situasies waar die AV/verwysvorm baas vroeër die gebruiklike vorm was.

Benewens bogenoemde twee studies wat op teksondersoek (Scholtz 1981 en Swanepoel 1989), taalintuïsie en eie waarneming (Scholtz 1981) steun, was daar ook ’n paar empiriese ondersoeke in die jare sestig, sewentig en tagtig van die vorige eeu.

Ten aanvang moet daar na die ondersoek van Brown en Gilman (1960) verwys word. In hulle klassiek-geworde artikel gee hulle ’n uiteensetting van die semantiese evolusie van die sogenaamde T- en V-vorme in ’n aantal Indo-Europese tale soos Latyn, Engels, Frans, Italiaans, Spaans en Duits. Die V-vorm (van die Latyn vos, die meervoudsvorm van die tweedepersoonsvoornaamwoord) is aanvanklik gebruik om die Romeinse keisers aan te spreek en het mettertyd ontwikkel tot die formele AV, wat onder meer gebruik word om ’n asimmetriese magsverhouding tussen gespreksgenote van ongelyke status aan te dui. Na hierdie ontwikkeling verwys Brown en Gilman as die magsemantiek. Hulle ondersoek toon aan hoe die voornaamwoorde van mag, in sommige tale meer as in ander, plek gemaak het vir die T-vorm van solidariteit gedurende die 20ste eeu: “(A)ll our evidence consistently indicates that in the past century the solidarity semantic has gained supremacy” (Brown en Gilman 1960:259).

Sedert Brown en Gilman se artikel het dit ’n internasionale konvensie geword om na die formele IAV (in Afrikaans en Nederlands u) as die V-vorm te verwys en na die informele indirekte IAV (jy in Afrikaans) as die T-vorm.

Brown en Gilman het hulle vraelys, wat uit 28 vrae bestaan het, ook na twee Afrikaanse respondente, van wie die ras nie duidelik is nie, gestuur.

Hulle kom na aanleiding van die antwoorde wat hulle gekry het, tot die volgende gevolgtrekking:

The Afrikaans pattern […] suggests a more static society and a less developed equalitarian ethic. The forms of address used between Afrikaans-speaking whites and the groups of “coloreds” and “blacks” are especially interesting. The Afrikaaner (sic) uses T, but the two lower castes use neither T nor V. The intermediate caste of “coloreds” says Meneer to the white and the “blacks” say baas. It is as if these social distances transcend anything that can be found within the white group and so require their peculiar linguistic expressions. (Brown en Gilman 1960:266–7)

Wat die gebruik van u en jy tussen verskillende rasgroepe betref, kan ons trouens ook uit ons algemene kennis van die sosiaal-politieke bestel wat die grootste deel van die 20ste eeu in Suid-Afrika geheers het, hierdie gevolgtrekking sonder moeite aanvaar, naamlik dat u en jy in interetniese kommunikasie nouliks ter sprake gekom het.

Odendal lewer, in wat hy ’n “inleidende studie” (Odendal 1976:105) noem – hy gee daarmee te kenne dat dit die eerste werklik empiriese studie na AV’e in Afrikaans vorm –verslag van ’n klein vraelysstudie met 71 studenterespondente. Volgens Odendal (1976:105) bepaal veral die selekteerder volwassenheid/onvolwassenheid watter AV in ’n spesifieke situasie in ’n bepaalde spraakgemeenskap gebruik sal word. Hierdie selekteerder moet egter altyd in samehang met aspekte soos status, gesag, interpersoonsverhoudings (soos familieverwantskap en bevriendheid), bekendheid en ouderdom (en onderhewig aan die beperkinge van interetniese AV’e) beskou word. Hy verwys na die vloeidiagram van Susan Ervin-Tripp (1973) en stel na aanleiding daarvan sy eie model op waarin hy probeer aandui hoe bogenoemde aspekte die keuse van ’n spesifieke AV help bepaal.

Odendal bespreek alle AV’e, nie net voornaamwoorde nie, en wel op ’n ietwat onsistematiese, maar tog deeglike manier. Dit is nie altyd duidelik wanneer hy resultate van sy vraelysondersoek aanbied en wanneer dit gaan om sy eie waarneming en indrukke nie.

Wybenga (1981:10) wys op die waarde van Odendal se ondersoek: “[D]it [is] so breed aangepak dat hy al die vernaamste sake aangeraak het en party aspekte selfs in diepte bespreek het.”

Wybenga (1981) rapporteer, in sy MA-studie, oor AV’e soos veral gebruik deur wit Afrikaanssprekendes in Vanderbijlpark. Hy dui bepaalde hiate in Odendal (1976) se studie aan, naamlik dat Odendal nie hewige gevoel en velkleur in ag geneem het nie (Wybenga 1981:9).

Wybenga doen ongetwyfeld baanbrekerswerk oor AV’e in Afrikaans en opvolgstudies kan met vrug gebruik maak van verskeie aspekte van sy verhandeling. Ons wys op ’n paar aspekte en nuwe insigte wat uit sy studie na vore kom.

Soos Ervin-Tripp (1973:321) wys Wybenga ook op die belang van stylkongruensie. Daar is reëls wat aandui dat verskillende AV’e moontlik is in ’n bepaalde situasie, maar verder is daar ook stylkongruensie wat dui op die interafhanklikheid van die reëls by die betrokke keuse wat uitgeoefen word. Wybenga (1981:10) illustreer hierdie interafhanklikheid by ’n betrokke keuse aan die hand van die volgende lagwekkende en onwaarskynlike Afrikaanse voorbeeld (’n nabootsing van ’n voorbeeld van Ervin-Tripp 1973) waarin verskillende interafhanklike reëlstelsels verwar word:

Hoe’s dinge, edelagbare? Bakgat ensovoorts?
Het jy toe die goedjies wat u wou, analities verwerk?

Wybenga toon aan dat daar ’n duidelike verband tussen AV’e aan die een kant en status en sosiale afstand aan die ander kant is, maar hierdie verband mag nie verabsoluteer word nie. Indien ’n individu of groep se status verander, word die AV’e daardeur beïnvloed. Statusverandering by ’n groep veronderstel verandering in sosiale konvensie (Wybenga 1981:11).

Die ander belangrike bydrae van Wybenga is dat hy bepaalde terme in die sosiolinguistiek krities evalueer en gemotiveerde keuses daarstel, soos byvoorbeeld vir die term status waar Bierstedt se beskouing in The social order (1957:251) aangehaal word:

[C]lass status, which does have a connotation of rank, is only one kind of status, age status, sex status, kinship status, membership status, and so on – statuses that have nothing to do with rank. First cousin and second cousin, for example, are different associational statuses, but there is no sense in which one is higher than the other.

’n Verdere term wat ter sake is, is sosiale rol, aangesien dit verband hou met status. Wybenga (1981:14) steun op Rhoodie (1977:32) se definisie van sosiale rol: “[D]ie sosiale gedragspatroon wat van die bekleër van ’n status verwag word. Elke statusposisie kan dus in terme van ’n rol of rolle uitgedruk word.”

Die belang van emosionele en funksionele interaksie word aan die hand van die volgende voorbeeld deur Wybenga (1981:14) belig: “Bestaan dieselfde statusverhouding nog steeds tussen ’n klerk en sy hoof as laasgenoemde geld by die klerk leen? Kom hierdie nuwe verhouding ook in die AV’e tot vergestalting?”

Nog ’n selekteerder wat van belang is by die keuse van AV’e is sosiale afstand. Hier verwys Wybenga na Prinsloo (1972:32), wat daarop wys dat die afstand die kleinste is tussen persone wat goed met mekaar bekend is, en groter word namate bekendheid afneem.

Ongeag hoe goed mense mekaar ken, vereis die situasie soms dat selfs goeie vriende mekaar op hulle titels moet aanspreek, byvoorbeeld in formele vergaderings. Volgens Wybenga (1981:15) is plek, geleentheid en atmosfeer almal eie aan situasie en dit sal bepaal watter van ’n persoon se sosiale rolle - en dus ook die AV’e wat daarmee verbind word - geaktiveer word.

’n Verdere selekteerder is onderwerp. Wybenga (1981:15) dui aan dat wanneer twee persone met mekaar oor ’n lughartige onderwerp praat en hulle saam daaroor lag, die sosiale afstand en gevolglik ook die statusverskille tussen hulle kleiner is, terwyl ’n formele onderwerp weer die statusverskille vergroot.

Die belang van klasverskille by die vasstelling van status en sosiale afstand word ook deur Wybenga uitgelig (hy verkies die benoeming sosiale groepe eerder as klasse) en hy verskaf die volgende definisie van Rhoodie (1977:98) vir klas:

Klas is ’n vorm van groepdifferensiasie wat in alle lande en in alle samelewings gevind word. In sy wydste betekenis dui dit op die hiërargiese stratifisering van bepaalde sosiaal-gedifferensieerde groepe in ’n samelewing met faktore soos mag, inkomste, beroep, lewenstyl en prestige die hoofdeterminante van die wyse waarop hierdie groepe in statusposisies gerangskik word.

Laastens wys Wybenga (1981:16) ook op die rol van ras, minderheidstatus, ouderdom en beroep as faktore wat die keuse van AV’e beïnvloed.

Wybenga maak gebruik van gemengde metodes vir sy ondersoek: ’n vraelys om die norm soos wat sprekers dit interpreteer, vas te stel, onderhoude om meer inligting rakende bepaalde keuses in te win en sistematiese waarneming om werklike taalgebruik weer te gee. In afdeling 4.2 word van sy resultate rakende die gebruik van u en jy opsommenderwyse aangebied.

Kotzé (1983) gee in een hoofstuk van sy doktorale proefskrif ’n gedetailleerde beskrywing van die AV-stelsel in die Maleierafrikaans van dié tyd, naamlik die vroeë 1980’s. Kotzé steun vir die data in die hoofstuk op ’n veldwerker (of informant) wat onderhoude gevoer het met respondente en dié onderhoude op band opgeneem het. Ook hy poog om in ’n vloeidiagram à la Ervin-Tripp die roetekeuses tot by ’n bepaalde AV uit te spel. Hy fokus op “die ingewikkelde patroon van verhoudings tussen gespreksgenote binne die hiërargiese struktuur van die Maleiergemeenskap en die wyse waarop ’n spesifieke verhouding neerslag vind in die gebruik van die […] AV” (Kotzé 1983:188). Veral die herhalingsvorm is kenmerkend van die Maleiergemeenskap (Kotzé 1983:190–1).

Binne die kader van die pragmatiek verskyn daar in 1982 ’n bundel opstelle, Wat bedoel jy? onder redaksie van G.J. van Jaarsveld. ’n Drietal artikels oor Afrikaanse AV’e is daarin opgeneem.

Combrink (1987) gee ’n baie volledige uiteensetting van die verskillende direkte AV’e wat moontlik is in Afrikaans en skakel hierdie vorme (maar nie sistematies nie) met denkbeeldige scenario’s waar faktore soos status en ouderdom die keuse van die direkte AV bepaal. Hy gebruik die terme minderman en meerderman om die verskil in status (ook deur Wybenga as ’n baie belangrike selekteerder aangetoon) tussen gespreksgenote aan te dui. Alhoewel hy sy werkswyse nêrens verduidelik nie, berus sy uiteensetting waarskynlik op intuïsie en eie waarneming.

Wybenga (1987) steun op sy verhandeling, maar ontleed in sy artikel slegs een gesprek om die transaksionele aspek van taalhandelinge te verduidelik.

Kotzé (1987) steun op sy proefskrif en noem die moontlikheid dat die aanspreekkonvensies van Maleiers gedurende die wordingstyd van Afrikaans ’n invloed uitgeoefen het op die tipies Afrikaanse herhalingsvorm (of sydelingse AV), waar die direkte en indirekte AV’e dieselfde is. ’n Belangrike waarneming is verder dat u feitlik nooit voorkom in die Maleierafrikaans wat ondersoek is nie (Kotzé 1987:47).

Van Huyssteen en Verhoef lewer in ’n ongepubliseerde referaat uit 1998 verslag oor empiriese navorsing rakende antesedentherhaling (hulle term) – die herhalingsvorm of sydelingse AV. Hulle gevolgtrekkings rakende ’n kleinskaalse ondersoek onder studente is die volgende:

  • Antesedentherhaling kom frekwent onder Afrikaanssprekende studente voor.
  • Plek van herkoms het ’n invloed op antesedentherhaling, maar is nie bepalend nie.
  • Studente wat van die plaas afkomstig is, gebruik meer geredelik antesedentherhaling.
  • Studente wat van die stad afkomstig is, gebruik meer waarskynlik voornaamwoorde.
  • Antesedentherhaling word meer gebruik waar ouers hoër akademiese kwalifikasies het.
  • Antesedentherhaling kom meer geredelik voor in konserwatiewe huise, terwyl voornaamwoorde in meer liberale huise gebruik word.
  • Antesedentherhaling kom meer geredelik voor waar ’n sterk persoonlike band tussen die ouer en die student bestaan.
  • Antesedentherhaling kom minder voor by die meer onafhanklike student.

Hierdie ondersoek is ’n hele aantal jare na Odendal s’n uitgevoer en bewys een van Odendal se voorspellings, naamlik dat jy veld gaan wen ten koste van die herhalingsvorm, verkeerd.

Simon (2010) vergelyk die Afrikaanse AV-stelsel met dié van Oudduits. Volgens hom word die Afrikaanse u as meer formeel ervaar as die Duitse Sie en dra dit ’n ekstra lading van bewuste distansiëring en ’n erkenning van statusongelykhede. Na ’n uiteensetting van die sintaksis van die IAV (insluitend die herhalingsvorm) in Afrikaans kom hy tot die gevolgtrekking dat Afrikaans fassinerende getuienis bied vir ’n moontlike afnemende grammatikaliseringsproses, wat spesifiek ook op te merk is in die IAV’e (Simon 2010:419). Hy toon aan dat ongewone konstruksiepatrone soos Nou is Oom buite Oom van vreugde ook in Duits voorkom: Sehn Sie, jetz sind Herr Graf vor Freude außer Herrn Grafen. Hy sluit af deur op te merk dat vergelykende beskrywings van die IAV in Germaanse en ander Indo-Europese tale nog ontbreek.

Ten spyte van bogenoemde empiriese en teksgebaseerde studies, anekdotiese getuienis soos dié van Van Niekerk en Olivier (2014) en denkbeeldige scenario’s – wat waarskynlik gebaseer is op sistematiese waarneming en die intuïsie en taalkennis van die ondersoeker – moet ’n werklik diepgaande en deurtastende empiriese ondersoek, wat strek oor die lengte en breedte van Suid-Afrika en Namibië (en dalk tot aan die uithoeke van die wêreld, om ook die Afrikaanse diaspora te betrek) nog gedoen word. Dat die enigste grootskaalse empiriese navorsing in die 1980’s gedoen is en nooit herhaal is nie, is werklik betreurenswaardig. Waardevolle tyd is verspil waarin die moontlike talige neerslag van die groot sosiale veranderinge wat Suid-Afrika die afgelope 50 jaar gekenmerk het, nie volledig empiries waargeneem is nie. Vergelyk hier byvoorbeeld ook Simon (2010:408), wat die gebrek aan navorsing sedert die demokratiese veranderinge in Suid-Afrika insgelyks betreur. In ons projek poog ons om hierdie hiaat in die navorsing te vul en bied hiermee die resultate van ons eerste kwantitatiewe ondersoek aan.

 

4. U en jy – voornaamwoorde van mag en solidariteit?

Vervolgens sal daar spesifiek na die netelige en steeds omstrede vraag rakende die gebruik van die voornaamwoorde u en jy (en in ’n mindere mate ook u-hulle en julle) gekyk word.

Die aanvaarde kollektiewe sosiolinguistiese wysheid lui dat AV’e (en hier miskien veral voornaamwoordgebruik) ’n goeie barometer is van sosiale verhoudings binne ’n spraakgemeenskap. Veral sedert die bogenoemde seminale artikel deur Brown en Gilman (1960) met sy skrams verwysing na Afrikaans, word aspekte van die samelewing soos onder andere mags- en solidêre verhoudings, status en gelykheid, hoflikheid en afstand gebruik om die soms baie ingewikkelde netwerk van verhoudings tussen gespreksgenote aan die hand van AV’e te illustreer.

In hierdie verband sê Brown en Gilman (1960:267):

Differences in power exist in a democracy and in all societies. What is the difference in expressing power asymmetry in pronouns and expressing it by the choice of title and proper name? It seems to be primarily a question of the degree of linguistic compulsion. In face-to-face address we can usually avoid the use of any name or title, but not so easily the use of the pronoun.

Die vetgedrukte vorme hier onder is ’n paar van die moontlikhede wat Afrikaans bied om direk met ’n tweede persoon of persone te praat:

Voorbeelde waar sowel die direkte AV as die indirekte AV voorkom:

Mevrou, kan ek mevrou help?
Mevrou, kan ek u help?
Mevrou, kan ek jou help?
Mevrou, kan ek f help?
Tannie, kan ek tannie help?
Susan, kan ek jou help?
Meneer en mevrou, kan ek julle help?

Gemengde vorme kom ook voor, soos die volgende voorbeeld wat op RSG gehoor is (Mei 2014): "Sandra, ons is bly om u vandag in die ateljee te verwelkom" en hierdie een, waar ’n oudstudent van min of meer 25 jaar sy afgetrede dosent aanspreek: “Dr. Jordaan, ons is bly dat jy vandag hier is.”

Dit is ook moontlik om glad nie die direkte AV te gebruik nie:

Kan ek u-hulle help?
Kan ek tannie help?
Is my kindjie baie honger?
En hoe voel ons vandag?

In hierdie artikel gaan dit suiwer om die IAV en, binne die moontlikhede wat ons wel in Afrikaans het, hoofsaaklik oor die voornaamwoord u. Omdat u die gemerkte vorm is, val die fokus soms baie pertinent op hierdie voornaamwoord in die eerste fase van die navorsingsprojek oor AV’e. Die hele stelsel sal uiteindelik so grondig moontlik ondersoek word.

4.1 Historiese ontwikkeling

Scholtz (1981) speur onder andere die oorsprong van u (in die nominatief as AV) en die voorkoms van dié vorm in Afrikaans na. Meer onlangse navorsing in die Lae Lande rakende die ontwikkeling en gebruik van u – veral gedurende die 17de eeu, vanweë die belang van hierdie tydperk vir die totstandkoming van Afrikaans – word ook in ons bespreking hier onder betrek.

Vermaas (2005:36–50) gee ’n deeglike uiteensetting van die ontwikkeling van die Nederlandse tweedepersoonsvoornaamwoorde – wat uiteindelik uitloop op die Afrikaanse u (as nominatiefvorm) en jy – tot die 17de eeu. Sy sit uiteen hoe die AV’e du en ghi tot aan die einde van die 16de eeu gebruik is, en hoe die enkelvoudsvorm du uiteindelik verdring is deur die meervoudsvorm ghi.

In Middelnederlands bestaan die volgende paradigma vir die tweedepersoonsvoornaamwoord:

Enkelvoud Meervoud
du ghi/gi (uit jî – die ouer Wesgermaanse vorm)
dijns uwes/uwer
di u
di u

Vermaas haal J.A. vor der Hake (in De AV’en in ’t Nederlandsch, 1908:225–6) en A.M. Duinhoven (in Middelnederlandse syntaxis synchroon en diachroon, 1988:20–1) aan wat daarop wys dat du sedert die 12de eeu deur ghi verdring word, met die gevolg dat die ghi-gebruik in alle Nederlandse literatuur aan die einde van die 16de eeu die reël geword het. In die Statevertaling van die Bybel (1637) word daar ten gunste van ghi gekies. Vermaas (2005:40) som op:

Door de verdwijning van du kreeg ghi een universele functie: enkelvoud en meervoud, distantie, beleefdheid en vertrouwelijkheid of intimiteit. Zelfs binnen het gezinsleven sprak men elkaar aan met ghi. Het gebruik van du ging men op een gegeven moment als ouderwets beschouwen.

Ghi word dus as meervouds- en ook as beleefdheidsvorm gebruik.

Die volgende groot verandering, ná die normverskuwing weg van die Middelnederlandse duaf, is die ontstaan van u as AV in die nominatief – ’n verandering wat vir die Afrikaanse AV-stelsel uiteraard van groot belang is. Volgens Vermaas (2005) word die ontstaan van u as nominatiewe vorm as volg deur Kern (1927:18) beskryf: U is ’n “verbastering van de halfdirecte AV Uwe Edelheid, waarvan Uwé als verkorte en/of als tussenvorm optrad” en Verdenius (1946:180) is dit hier met Kern eens.

Vermaas (2005) verwys ook na A. Sassen (in “De oudste vindplaats van ‘u’”, 1983:166) wat die oudste opgetekende vorm van u (in die nominatief) tot 1550 terugvoer.

Presies wanneer u as onderwerpsvorm en beleefdheidsvorm algemeen tot die spreektaal deurgedring het, is nie bekend nie, maar Scholtz (1981:64) wys daarop dat bewysplase van u in Nederlandse geskrifte van rondom 1800 uiters seldsaam was. Hy sê ook dat u as onderwerpsvorm al sedert die eerste helfte van die 17de eeu in Hollandse beskaafde spreektaal in gebruik was, al is dit tot in die tweede kwart van die 19de eeu konsekwent uit die Nederlandse geskrewe taal geweer. Volgens die Woordenboek der Nederlandsche Taal (1984) kom die nominatief-u gereeld voor in 19de-eeuse tekste wat die gewone omgangstaal probeer weergee.

Aangesien die fokus van hierdie artikel nie die historiese ontwikkeling van u in Afrikaans nie, maar die 20ste- en 21ste-eeuse gebruik van u is, volstaan ons met ’n spekulatiewe gevolgtrekking, te wete dat u wel in die vroeë Afrikaans aan die Kaap voorgekom het, maar dat dit as AV eers werklik in die loop van die 20ste eeu algemeen gebruiklik word, miskien onder die invloed van Nederlandse skryftaalgebruik of selfs onder die invloed van Britse hoflikheidskonvensies. Daar is duidelik behoefte aan meer diachroniese navorsing op hierdie gebied as wat tot dusver onderneem is.

4.2 U in die 21ste eeu

Wat betref die voorkoms van u in die Afrikaanse omgangstaal circa 1953 som Scholtz sy navorsing as volg op: "Die feit is dat u (nie net as onderwerp nie, maar ook as voorwerp en na voorsetsels, en as possessief) tot vandag toe buite die kringe van die ‘geleerdes’ en ‘verstedeliktes’ iets vreemds in Afrikaans is" (1981:64).

Ook Odendal se twee opmerkings rakende die gebruik van u en jy is veral ter sake vir hierdie artikel: "U was nooit natuurlik in die gesproke omgangstaal nie" (Odendal 1976:111) en:

Ek het soms die indruk dat jy besig is om dit op u te wen in status- en meer formele situasies, veral ook in die sosiaal mindere lae. Waarskynlik lê dit egter anders nl. dat jy besig is om die herhalingsvorm te verdring, en dat u nooit lewend in die taal van hierdie groep(e) was nie. (Odendal 1976:111–2)

’n Ingewikkelde patroon waar ’n hele aantal selekteerders die keuse van die voornaamwoord u of jy bepaal, tree na vore uit Wybenga (1981) se navorsingsresultate.

Ten spyte van die baie vorme wat in sy beantwoorde vraelyste voorgekom het, het die oorwig by slegs drie vorme gelê, wat later ook deur die onderhoude bevestig is. Hierdie drie vorme is: jy, u en die SAV (die R-vorm in Wybenga se terminologie). Wybenga (1981:114) bevind:

Die gebruik van die tweede AV hang af van die spreker.

  • Jy is die ongemerkte vorm.
  • Die gebruik van u hang ten nouste saam met die situasie.
  • U is die mees frekwente vorm in formele situasies, maar word so te sê nie gebruik in informele situasies nie.

Wybenga (1981:180 e.v.) identifiseer die volgende funksies vir die onderskeie vorme:

U druk die volgende uit:

  • relatief groot sosiale afstand
  • onbekendheid
  • ’n spesifieke rolfunksie
  • hoë rang of gesag.

Jy druk die volgende uit:

  • relatief klein sosiale afstand
  • onderhorigheid
  • bekendheid
  • onvolwassenheid
  • misnoeë of sterk emosie.

Die R-vorm word gebruik wanneer die aangesprokene:

  • ouer is
  • ’n hoër rang het
  • blank4 is.

Wybenga konsentreer op status as die belangrikste selekteerder wat die keuse van die AV betref, maar hy betrek ook baie ander veranderlikes, waarvan bekendheid een van die belangrikstes is. Die gebruik van u neem opmerklik af soos wat bekendheid toeneem, soos uit die volgende data blyk:

By onbekende persone kom jy 63% voor, die herhalingsvorm 16%, u 20%, die vermydingsvorm 0,5% en ander vorme 0,5%.
By toevallige kennisse word jy (76%) meestal gebruik, u 8%, die herhalingsvorm 15% en ander 1%.
By goedbekende persone geld die volgende persentasies: jy 80%, die herhalingsvorm 16%, u 3% en ander 2%.
Laastens word jy ook die meeste by huisgenote gebruik, met 62%, die herhalingsvorm 36%, ander 2%, en u is nooit gebruik nie.

Wat opmerklik is, is dat die herhalingsvorm taamlik konstant gebruik word, maar wel meer onder huisgenote.

Wanneer ook die ouderdom van die spreker in gedagte gehou word, rapporteer Wybenga dat die herhalingsvorm 71% deur 15–17-jariges gebruik word en dat daar ’n opvallende toename in die gebruik van jy onder 30- tot 40-jariges is. U word deur alle ouderdomsgroepe baie min gebruik, jy verreweg die meeste.

In 2014, 54 jaar na die eerste vraelysondersoek, bestudeer ook ons die stand van sake rakende u en jy. Na Brown en Gilman (1960) se gevolgtrekking rakende Afrikaans en die manier waarop mag en solidariteit deur die voornaamwoorde uitgedruk word, (kyk afdeling 3) verwys Wybenga (1981:3) as “ongekwalifiseerde vereenvoudiging”. Ons hou Wybenga se vermaning natuurlik in gedagte by die aanbied van ons kwantitatiewe resultate rakende u en jy: “Enige studie wat voorgee om status, mag, solidariteit of watter aspek van sosiale afstand soos dit in taal uitgedruk word, te ondersoek, sal minstens alle AV’e en nie net voornaamwoorde nie, moet betrek” (Wybenga 1981:6). Ons maak nie aanspraak daarop dat ons hier enigsins ’n volledige weergawe van die huidige stand van sake in Afrikaans gaan voorhou nie, maar dit is wel nuwe, 21ste-eeuse data wat ’n eerste vergelyking met die resultate van bogenoemde vroeëre navorsing bied.

 

5. Empiriese ondersoek

5.1 Metodologie

Die verskillende metodes wat in die sosiolinguistiek gebruik kan word om data te versamel, word deeglik uiteengesit in onder andere Meyerhoff en Schleef (2010:3–5). Die ideaal is natuurlik dat soveel as moontlik metodes uiteindelik uit die volgende kategorieë gekies word: data wat natuurlik voorkom, byvoorbeeld op uitgesaaide media of wat die navorser hoor; onderhouddata, byvoorbeeld onderhoude met kundiges in ’n bepaalde gemeenskap; vraelyste, wat hoofsaaklik respondente se houdings toets; en eksperimentele data, wat byvoorbeeld gebruik kan word deur linguistiese stimuli te verskaf en dan te luister na hoe bepaalde woorde uitgespreek word. Meyerhoff en Schleef (2010) wys ook op ander bronne, soos: korpusgebaseerde taalgebruik, dokumentasie, byvoorbeeld amptelike briewe, gedrukte mediatekste, ens.

Vir hierdie artikel gebruik ons in die loodsstudiefase uitsluitlik die data wat ons bekom het uit die antwoorde op ’n elektroniese vraelys. Ons fokus slegs op kwantitatiewe data. In opeenvolgende fases sal soveel as moontlik ander relevante metodes, soos hier bo uiteengesit, gebruik word om ’n vollediger beeld te kry van die werklike stand van sake met betrekking tot die huidige gebruik van Afrikaanse AV’e. Een van die voordele van ’n loodsstudie is om agter te kom watter ander vrae beantwoord moet word wat nie in die loodsstudie self ter sprake gekom het nie.

Oor die gebruik van vraelyste om inligting oor taalgebruik in te win, moet die een en ander wel gesê word. Daar is geen twyfel dat ’n mens in hierdie tipe sosiolinguistiese of pragmatiese ondersoek verkieslik data direk uit die spreektaal in ’n goeie, verteenwoordigende spraakkorpus moet kry nie. Aanvullend tot so ’n korpus gesproke Afrikaans moet sprekers ideaal gesproke, sonder dat hulle bewus is daarvan, sistematies waargeneem word (en verkieslik opgeneem word) soos wat hulle binne bepaalde werklike situasies AV’e gebruik.

Labov se uitspraak oor die waarnemersparadoks, wat ’n ou en bekende probleem in die sosiologie is, is ook ter sake: “[T]he aim of linguistic research in the community must be to find out how people talk when they are not being systematically observed; yet we can only obtain these data by systematic observation” (Labov 1972b:209). Hierdie probleem kan tot ’n groot mate oorkom word deur mense waar te neem in ’n aantal situasies sonder dat hulle weet dat hulle waargeneem word. Sowel Wybenga (1981) as Kotzé (1983) demonstreer hoe waardevol hierdie metode is. Raaiwerk (veral rakende die status en ouderdom van dié wat waargeneem word) speel natuurlik onvermydelik ’n rol, maar situasies kan goed beskryf word.

Belemmerende faktore vir groot sosiolinguistiese projekte is tyd en geld, maar danksy die ruim NNS-toekenning kan daar wel in die groter projek van ’n aantal verskillende en mekaar aanvullende empiries-gebaseerde data-insamelingsmetodes gebruik gemaak word. Met name kan daar dan gesteun word op data wat uit vraelyste, onderhoude, fokusgroepgesprekke en sistematiese waarneming verkry is. Die verskillende dataversamelings kan dan deur triangulering met mekaar in verband gebring word om ’n vollediger beeld te vorm van die stand van sake.

Wybenga wys op gebreke van vraelyste na aanleiding van Prinsloo (1972:37): “Vraelyste en ander direkte vrae na die gebruik van die AV’e hou dieselfde probleem in as wat enige houdingsondersoek inhou: persone is geneig om te antwoord soos wat hulle dink hulle veronderstel is om te antwoord” (Wybenga 1981:35). Respondente hou met ander woorde ’n soort norm voor oë, ’n norm wat waarskynlik uit hulle eie taalintuïsie spruit.

By Wybenga se voorbehoud moet dit ook gestel word dat vraelyste wel ’n erkende instrument is om sosiolinguistiese data in te win. So het Brown en Gilman (1960) gebruik gemaak van vraelyste (asook teksondersoek) en wel tot ’n aantal baie belangrike gevolgtrekkings gekom. Odendal (1976) het ook van vraelyste gebruik gemaak vir sy ondersoek, en Vermaas maak in haar 2005-proefskrif oor u en jy in Nederlands eweneens gebruik van ’n vraelys. ’n Groot aantal respondente uit verskillende spraakgemeenskappe en geografiese gebiede behoort wel die probleem tot ’n mate te kan oorbrug, en deur groot steekproewe sal meer geldige resultate bekom kan word.

Rakende die feit dat vraelyste mense noop om “volgens die norm” te antwoord: uit meedelings van respondente in ’n oopvraagafdeling in ons vraelys het ons veral agtergekom dat mense nie altyd weet hoe en of hulle u en jy gebruik of hoe hulle self aangespreek word nie. Die vraelys het hulle – dikwels vir die eerste keer – bewus gemaak van hierdie konvensies in hulle eie taalgebruik. Dit is volgens ons dus nie noodwendig so dat hulle slegs “volgens die norm” antwoord nie. Dit is miskien veel eerder die geval dat sprekers se waarneming van hulle eie taalgebruik nie vreeslik betroubaar is nie.

Respondente moes in die vraelys op hulle eie taalintuïsie staatmaak om te kon antwoord of hulle ’n bepaalde vorm wel (nog) gebruik of nie (meer) gebruik nie. Hulle het ook baie geleentheid gehad om oor hulle gevoel oor en persepsies rakende veral die gemerkte vorm u verslag te lewer.

In die ondersoeke oor Afrikaanse AV’e waarna hier bo verwys is, het Odendal vraelyste en eie waarneming gebruik, Wybenga vraelyste en sistematiese waarneming en Kotzé gewone gesprekke wat deur ’n veldwerker opgeneem is. Combrink baseer sy uiteensetting op eie waarneming en uitgedinkte gesprekke, kry ’n mens die indruk.

Die inligting wat ons uit die response op die elektroniese vraelys gekry het, word vervolgens aangebied, waarna ons ’n aantal gevolgtrekkings bespreek.

5.2 Beperkings van die huidige ondersoek

Ons kan nog hoegenaamd nie sê dat dit ’n ewekansige steekproef is wat Afrikaanssprekendes van dwarsoor Suid-Afrika en Namibië verteenwoordig nie. Ons sal ook verderaan, in ons bespreking van die data, aantoon waar die huidige ondersoek nog tekortskiet. By die interpretasie van gegewens behoort respondente se persepsies en houding ook weergegee te word soos wat dit uit hulle response blyk. Ook hier sal daar baie meer data ingewin kan en moet word – veral die sosiale media soos Facebook en bloginskrywings wemel van (dikwels ongebreidelde en onkundige) opinies rakende Afrikaans in die algemeen, maar ook AV’e in die besonder. Veral oom en tannie en u loop deur.

 

6. Dataontleding

6.1 Aantal respondente

Die vraelys is deur 496 respondente begin, maar, soos wat hier onder sal blyk, het nie almal wat begin het met die vraelys, alle vrae beantwoord of die vraelys voltooi nie. Daar was ’n 24%-uitvalsyfer, met 379 algeheel voltooide vraelyste. By die data wat aangebied word, sal die totale aantal werklike response vir elke vraag telkens gegee word. Dit mag dus van vraag tot vraag lyk of die getalle nie klop met dié van vorige vrae nie en dit is inderdaad so.

Daar was beslis sprake van vraelysuitputting. Dit is vir ons ’n waardevolle waarneming wat in opvolgondersoeke in gedagte gehou sal word.

6.2 Demografiese gegewens

Uit ’n sosiolinguistiese oogpunt beskou, is inligting betreffende geslag, ras, werksituasie en ouderdom belangrike veranderlikes.

Tabel 1: Geslag

BosmanOttoT1

Die steekproef is ongebalanseerd wat betref die verteenwoordiging van die twee geslagte.

Tabel 2: Ras

BosmanOttoT2

Opvallend hier is natuurlik dat die vraelys hoofsaaklik deur wit respondente ingevul is. Dit is duidelik dat bruin en swart Afrikaanssprekendes by opvolgstudies betrek moet word.

In ’n opvolgvraag het 16 respondente onder andere die volgende beskrywings van hulle ras gegee, wat bloot taalsosiologies interessant mag blyk te wees: Afrikaner, Afrikanervolk nie ras nie, kleurling, Blanke, Meestal wit, Euro-Afrikaan.

Tabel 3: Werksituasie

BosmanOttoT3

Die grootste groep, 63%, was werkendes, gevolg deur 21% studente en 13% afgetredenes.

Tabel 4: Ouderdom

BosmanOttoT4

Die grootste groep respondente was tussen 30 en 59 jaar oud. Ons gegewens hier dui aan dat daar, net soos wat ras betref, by opvolgondersoeke hard daaraan gewerk moet word om ’n meer eweredige ouderdomsverspreiding te hê.

6.3 Die gebruik van u

Die fokus van die vraelys was op die gemerkte vorm u. By die volgende aantal vrae was ons hipoteses as volg met betrekking tot wat ons gedink het ons sou ontdek:

  • U word baie min, maar tog nog gebruik.
  • Werkende mense gebruik u meer as niewerkendes.
  • Daar is ’n betekenisvolle verskil in die gebruik of nie van u tussen drie generasies respondente.
  • Mense ouer as 60 jaar gebruik u meer as mense jonger as 30 jaar.
  • Daar is ’n verskil tussen mans en vrouens wat die gebruik van u betref.

Tabel 5: Die gebruik van u deur die hele groep

BosmanOttoT5

Verreweg die meeste respondente glo dat hulle wel gebruik maak van u, sy dit dan baie min, en 22% dink selfs dat hulle u taamlik dikwels gebruik. Die AV blyk dus springlewendig te wees in die mentale taalapparaat wat tot die beskikking staan van hierdie groep taalgebruikers.

6.3.1 Ras

Omdat die respondente oorwegend wit was, kan ons geen bevredigende resultate koppel aan ander rasse se antwoorde nie.

6.3.2 Geslag

Tabel 6: Die gebruik van u deur mans en vrouens

BosmanOttoT6

Daar is wel ’n klein verskilletjie op te merk tussen die mans- en vrouesprekers:
66% van die vrouens gebruik u baie min maar wel by geleentheid, terwyl 57% van die mans hierdie antwoord gekies het.

6.3.3 Werksituasie

Wanneer ons kyk na die gebruik van u deur verskillende groepe soos gedefinieer deur hulle huidige werksituasie, lyk die data soos volg:

BosmanOtto1

Figuur 1: Werksituasie en die gebruik van u

As ons kyk na die 271 respondente wat u wel per geleentheid gebruik, merk ons op dat 66% studente, 62% van die werkendes en 60% van die afgetredenes hierdie opsie gekies het. Tussen die groepe lyk dit nie of daar ’n beduidende verskil op te merk is nie. Dit is volgens ons ’n belangrike bevinding, maar een wat in opvolgondersoeke met meer respondente weer getoets sal moet word.

Wanneer ouderdom as veranderlike gebruik word, lyk die prentjie so:

 bosmanOtto2

Figuur 2: Ouderdom en die gebruik van u

Die antwoord wat in elke groep die meeste gegee is, was: “baie min maar wel by geleentheid”. Dit lyk dus nie asof daar betekenisvolle verskille rakende die gebruik van u tussen die verskillende ouderdomsgroepe is nie.

Op grond van die data is ons gevolgtrekkings rakende die bogenoemde hipoteses as volg:

U word vandag baie min, maar wel by geleentheid gebruik.
Gevolgtrekking: Hierdie hipotese is nie as foutief bewys nie.

– Werkende mense gebruik “u” meer as niewerkendes.
Gevolgtrekking: Ons data toon dat hierdie hipotese wel foutief is. Daar is met ander woorde geen betekenisvolle verskille tussen die gebruik van u deur studente, werkendes en mense wat nie werk nie. Al drie groepe gebruik u baie min, maar wel by geleentheid.

– Daar is ’n betekenisvolle verskil in die gebruik of nie van u tussen drie generasies respondente.
Gevolgtrekking: Die hipotese is foutief.

– Mense ouer as 60 jaar gebruik u meer as mense jonger as 30 jaar.
Gevolgtrekking: Ook hier wys die data dat ons hipotese nie standhou nie.

– Daar is ’n verskil tussen mans en vrouens wat die gebruik van u betref.
Gevolgtrekking: Ons data toon dat vrouens u nie beduidend meer gebruik as mans nie.

6.4 Die gebruik van u teenoor die respondente

Ons hipoteses by hierdie afdeling in die vraelys was die volgende:

  • Sprekers ervaar dat u nooit nie of baie min teenoor hulle gebruik word.
  • Ouer sprekers word meer as u aangespreek as jonger sprekers.

Tabel 7: Die gebruik van u teenoor die hele groep

BosmanOttoT7

Dit is interessant dat, volgens die eie oordeel van die hele groep, ’n klein meerderheid (46%) nooit of byna nooit aangespreek word as u nie, maar dat byna ewe veel (42%) wel as u aangespreek word, sy dit dan baie min.

Wanneer die ouderdom van respondente volgens die drie generasies in aanmerking geneem word, blyk die volgende, soos wat figuur 3 aantoon:

60–80 jaar
49% word baie min aangespreek as u en 27% nooit of byna nooit.

30–59 jaar
41% word baie min aangespreek as u en 48% nooit of byna nooit.

19–29 jaar
35% word baie min aangespreek as u en ’n duidelike meerderheid van 63% nooit of byna nooit.

bosmanOtto3

Figuur 3: Die gebruik van u teenoor verskillende ouderdomsgroepe

Ons hipotese dat sprekers oor die algemeen ervaar dat u nooit of baie min teenoor hulle gebruik word, is nie as verkeerd bewys nie.

Ouer sprekers word meer as u aangespreek as jonger sprekers.
Gevolgtrekking: Hierdie hipotese is as onwaar bewys.

6.5 Voorkeure

Hierdie vraag wou die houding toets van die respondente ten opsigte van u wanneer hulle self aangespreek word. Ons hipotese hier was:

Jonger sprekers sal teen die gebruik van u kies, maar ouer sprekers wil wel soms as u aangespreek word.

Vra ’n mens uit na die voorkeure van die hele groep, word die volgende antwoorde gekry, naamlik dat 39% wel soms met u aangespreek wil word, maar ’n groot meerderheid, 61%, liewer nooit nie

Tabel 8: Voorkeure rakende u

BosmanOttoT8

As ons verskillende generasies vergelyk, kry ons die volgende inligting:

BosmanOtto4

Figuur 4: Ouderdom en voorkeure rakende u

Die twee groepe wat duidelik liewer nooit as u aangespreek wil word nie, is dié tussen 30 en 59 jaar en dié tussen 19 en 29 jaar. In albei groepe kies 66% van die respondente hierdie opsie. By die 60–80-jariges is daar nie ’n groot verskil tussen dié wat “ja soms” (53%) en “nee, liewer nooit nie” (47%) gekies het nie.

Ons hipotese, dat daar ’n verskil ten gunste van u op te merk sal wees by ouer sprekers, is nie as verkeerd bewys nie.

6.6 Ouers en kinders

Hier was ons hipotese dat ouers nie as jy deur hulle kinders aangespreek word nie.

Ouers se antwoorde op die vraag oor hoe hulle deur hulle kinders aangespreek word, word in tabel 9 opgesom.

Tabel 9: Kinders teenoor ouers

BosmanOttoT9

Ons hipotese was hier in die kol.

6.7 Studente en dosente

By hierdie afdeling was ons hipotese dat dosente bitter min u teenoor hulle studente gebruik.

Die meerderheid respondente wat tans studente is, rapporteer dat hulle individueel nooit as u aangespreek word nie (53%) en ook nie as groep (in die klas byvoorbeeld) met u aangespreek word nie, maar dat hulle wel soms in studiegidse en vraestelle met u aangespreek word (44%).

Van die huidige dosente (altesaam 47) wat die vraelys beantwoord het, is ’n beduidende meerderheid (70%) van mening dat hulle nooit studente individueel en ook nie as ’n groep (76%) met u aanspreek nie. Oor die gebruik van u in studiegidse en vraestelle rapporteer hierdie groep as volg:

Tabel 10: Dosente teenoor studente

BosmanOttoT10

In ’n opvolgvraag is 70% van hierdie dosente van mening dat hulle wel soms deur studente as u aangespreek word, maar ’n insiggewende 62% rapporteer dat studente hulle ook soms met jy aanspreek.

6.8 Persepsies rakende u

By ’n vraag wat respondente se persepsies rakende u wou bepaal en waar drie moontlike keuses aangebied is, kon respondente aandui tot watter mate hulle met ’n bepaalde siening rakende u saamgestem het of nie. Die resultate word in figuur 5 voorgestel.

BosmanOtto5

Figuur 5: U is baie formeel, outyds en beleefd

Ek beskou u as baie, selfs té formeel

’n Klein persentasie, 17%, stem beslis nie saam met die stelling nie, wat enigsins vreemd is. Daar is nie veel verskil tussen dié wat beslis saamstem (43%) en dié wat eintlik geen opinie uitspreek en neutraal staan teenoor die stelling nie (40%).

Ek beskou u as baie outyds

By hierdie vraag lê sake in ’n sekere sin juis anders as by die vraag of u baie formeel is. Daar is hierdie keer nie ’n groot verskil tussen dié wat neutraal is oor die kwessie (38%) en dié wat beslis nie saamstem nie (40%). Wat duidelik is, is dat ’n minderheid, naamlik 22%, beslis saamstem dat u baie outyds is.

Ek beskou u as baie beleefd

Hierdie vraag is die enigste een waar ’n baie duidelike meerderheid (79%) beslis met die stelling saamstem. Dit lyk dus asof ’n pragmatiese oorweging voorop in die gedagtes van die respondente staan.

Om op te som: Die data toon dat u wel in minder of meerdere mate as onderskeidelik baie formeel, outyds en beleefd beskou word, maar dat die oorwegende gevoel ten opsigte van u is dat dit baie beleefd is. Wat die kwessie van outyds en té formeel betref, is daar soms betekenisvolle verskille tussen die moontlikhede wat gekies kon word. Persepsies rakende u is, suiwer op hierdie resultate gegrond, dus nie eenvormig nie.

In ’n volgende vraag wou ons die volgende hipotese toets:

Afrikaanssprekendes dink nié dat u soms gepas en selfs nodig is nie, maar hierdie hipotese hou nie stand nie, soos wat tabel 11 en figuur 6 aandui.

Tabel 11: U is soms gepas en selfs nodig

BosmanOttoT11

Slegs 10% van die respondente dink dat die voornaamwoord u onnodig is. Hierdie bevinding is interessant, omdat sommige Afrikaanssprekendes, volgens die navorsers se eie ervaring en waarneming, soms baie besliste en sterk opinies huldig rakende die “vreemde”, onnodig hoogdrawende en “Nederlandse” gebruik van u. Of hierdie 10% verteenwoordigend is van Afrikaanssprekendes in die algemeen kan nie op grond van hierdie vraelys alleen vasgestel word nie.

Ons wou ook vasstel of verskillende generasies verskillend oor hierdie kwessie oordeel.

 BosmanOtto6

Figuur 6: Ouderdom en die gepastheid van u

Uit figuur 6 is dit duidelik dat die meerderheid respondente in alle ouderdomsgroepe van mening is dat u soms gepas en selfs nodig is.

6.9 Onbekendheid as selekteerder

Ons het in die vraelys gekies om die selekteerder “onbekendheid” te gebruik as die hooffaktor in die keuse van die IAV u. Hiermee saam was status (wat weer gekoppel is aan ouderdom en beroep) en register twee ander selekteerders. Omdat daar so baie ander veranderlikes was in hierdie vraag, het ons geen hipotese gehad nie. Die hoeveelheid data maak voorts ’n suiwer kwantitatiewe ontleding baie moeilik.

Tabel 12: Onbekendheid en die gebruik van u

BosmanOttoT12

Ons lig graag die volgende resultate (hier bo in rooi aangedui) uit:

Wanneer onbekendheid die een selekteerder is, sal die situasie dikwels die bepalende faktor wees by die keuse van u. Soos wat dikwels uit ons vrae en resultate blyk, is dit nodig dat situasie beter omskryf moet word in opvolgondersoeke. Wybenga (1981) bied hier goeie voorbeelde aan in sy ontleding van die kwalitatiewe data wat hy deur sistematiese waarneming verkry het. Dat die situasie wel ’n beduidende invloed op die keuse van die voornaamwoord uitoefen, is egter reeds uit ons resultate duidelik.

Ouderdom en status speel ook ’n belangrike rol. Waar die onbekende persoon ewe oud of jonger is as die spreker, sal u in verreweg die meeste gevalle nooit gekies word nie, en ook nie wanneer die aangesprokene se status as laer as dié van die spreker geag word nie.

 

7. Slotopmerkings

Ons het interessante en insiggewende response gekry, alhoewel ons geen veralgemenings op hierdie stadium kan maak nie. Die rede hiervoor word in afdeling 5.2 uitgespel. Opvallend is die een ouderdomsgroep wat min verteenwoordig is (60–80 jaar) en die afwesigheid van kinders jonger as 19 jaar, en bruin, swart en Indiër-respondente. Ons verkies dus om die resultate, soos Wybenga voorstel, eerder as ’n aanduiding van die heersende norm onder een bepaalde groep wit Afrikaanssprekendes te beskou en nie noodwendig as ’n getroue weergawe van werklike taalgebruik nie.

Die navorsingsvrae is soos volg beantwoord:

– Wat geld as die huidige norm, gebruik en persepsies rakende die gebruik van u as AV?

In die aanbieding en interpretasie van die data hier bo het ons hierdie vraag probeer beantwoord.

– Dui die huidige norme, gebruik en persepsies rakende die gebruik van u op verandering in die taalgebruik van Afrikaanssprekendes oor die laaste 60 jaar?

Hier kan geen eenduidige antwoord gegee word nie, aangesien werklike taalgebruik nie ondersoek is nie. Uit die resultate wat ons wel het, lyk dit voorlopig nié asof daar ’n beduidende verandering op te merk is nie.

7.1 U

Die hoofgevolgtrekking is dat u as AV nog baie bekend is en volgens die oordeel van die ondersoekgroep blykbaar ook nog gebruik word. U kom in die ondersoekgroep se eie taalgebruik voor wanneer die een veranderlike onbekendheid is. Wanneer status (en ouderdom kan as onderdeel van status beskou word) ook betrek word, is daar veral ’n pragmatiese funksie wat ’n sterk rol skyn te speel, naamlik die behoefte aan hoflikheid en respekbetoning. Kwessies rakende klas, status, solidariteit en gelykheid sal egter nog steeds die gebruik van interetniese vorme domineer, kan ons voorlopig spekuleer.

Die vraag kan weliswaar gevra word of u vandag (die vraelys is in 2014 uitgestuur) meer of minder as 38 jaar gelede (sien Odendal 1976) of 33 jaar gelede (sien Wybenga 1981) gebruik word en of die gebruik daarvan dan ’n teken van ’n statiese gemeenskap (soos beskryf deur Brown en Gilman 1960) sou wees. As ’n mens die 11% wat “absoluut nooit nie” (tabel 5) geantwoord het, aftrek, gebruik 89% van die respondente wel per geleentheid u. Dit is vir ons werklik beduidend, maar ’n mens moet in gedagte hou dat werklike taalgebruik nie ondersoek is nie. Die volgende opmerking van Ponelis (1979:67) moet nog beter getoets word: “Hoewel dus gesê kan word dat u ’n eie terrein het, is dié terrein heel beperk.” Die aard van dié terrein moet beter beskryf word en alle sprekers van Afrikaans moet hiervoor die nodige inligting verskaf.

Die groot invloed wat Engels op Afrikaans uitgeoefen het en nog steeds uitoefen, behoort ook deeglik ondersoek te word. Dit sal beslis die moeite loon om te probeer nagaan of Britse/Engelse hoflikheidskonvensies bygedra het tot die gebruik van u in Afrikaans.

7.2 Herhalingsvorm

Hierdie vraelys het min vrae oor die herhalingsvorme bevat. In opvolgondersoeke sal die “indruk” van Odendal deeglik getoets moet word oor of dié vorm aan die verdwyn is ten gunste van jy en indien wel, in watter variëteit(e) van Afrikaans. Voorlopig lyk dit egter nie so nie en veral nie wanneer ouers aangespreek word nie. Hier toon ons resultate ’n opmerklike ooreenkoms met dié van Van Huyssteen en Verhoef (1998). Dit blyk die vorm te wees wat oor die algemeen verkies word wanneer die selekteerders ouer verwante persone en hoë status is. Ons is bewus daarvan dat die herhalingsvorm waarskynlik tot ’n baie groter mate in ander variëteite van Afrikaans as in Standaardafrikaans voorkom (Kotzé 1987). Ons sal in ons opvolgondersoeke baie pertinent hierop fokus.

7.3 Aanbevelings rakende toekomstige navorsing

Ons aanbeveling vloei vanselfsprekend uit ons metodologie voort. Die vraelysresultate is wel insiggewend vanweë die opvallende ooreenkoms met Wybenga se studie, maar in teenstelling met sy ondersoek is daar nie van meer as een ondersoekmetode gebruik gemaak nie. Onderhoude en sistematiese waarneming, asook ’n bestudering van voorkeur-AV’e in dramas, televisiesepies en -dramas en films, byvoorbeeld, sal as noodsaaklike aanvulling tot hierdie eerste verkenning in die 21ste eeu gedoen moet word. Dit is ’n duur en tydrowende proses, veral as daar dwarsoor Suid-Afrika en in Namibië veldwerk gedoen wil word. Met die hulp van vrywillige informante en nagraadse studente is ons reeds besig om meer data in te win en ons hoop om in die nie al te verre toekoms nie hieroor verslag te kan doen.

Ons wou in ’n eerste verslag die breë tendense wat ons opgemerk het, weergee, omdat dit hier is waarin die waarde van ’n verkennende ondersoek vir ons lê. Die kwantitatiewe ondersoek dui die noodsaak van genuanseerde verdere ondersoek, met ’n verskeidenheid ander instrumente, baie duidelik aan. Die tergende vraag na die status en gebruiksfrekwensie van die IAV u in hedendaagse Afrikaans, in al sy ryke verskeidenheid, is nog nie naastenby bevredigend genoeg beantwoord nie.

 

Bibliografie

Brown, R. en A. Gilman. 1960. The pronouns of power and solidarity. In Sebeok (red.) 1960.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik.

Combrink, J.G.H. 1982. Noem hom op sy naam. Die nut van die vokatief. In Van Jaarsveld (red.) 1982.

Dammel, A., S. Kürschner en D. Nübling (reds.). 2010 Kontrastive Germanistische Linguistik, Hildesheim: Georg Olms Verlag.

De Klerk, W.J. en F.A. Ponelis (reds.). 1976. Gedenkbundel H.J.J.M. van der Merwe. Pretoria: Van Schaik.

Ervin-Tripp, S. 1973. Language acquisition and communicative choice. Stanford: Stanford University Press.

Gumperz, J.J. en D. Hymes (reds.). 1972. Directions in sociolinguistics. New York: Holt, Reinhart en Winston.

Kern, J.H. 1927. Is de beleefdheidsvorm U een verbastering van U.E.? De nieuwe taalgids, 5:121–33.

Kotzé, E.F. 1983. Variasiepatrone in Maleierafrikaans. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

—. 1987. Djy kan nie vir my djy nie, djong! In Van Jaarsveld (red.) 1987.

Labov, W. 1964. The social stratification of English in New York City. Ann Arbor,

Michigan. University Microfilms International.

—. 1972a. Sociolinguistic patterns. Oxford: Basil Blackwell.

—. 1972b. On the mechanism of linguistic change. In Gumperz en Hymes (reds.) 1972.

Meyerhoff, M. en E. Schleef. 2010. The Routledge sociolinguistics reader. Londen, New York: Routledge Taylor & Francis.

Odendal, F.F. 1976. Oor die AV’e in Afrikaans. In De Klerk en Ponelis (reds.) 1976.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Prinsloo, K.P. 1972. Die tweetaligheid van twee groepe universiteitstudente en hulle ingesteldheid teenoor die tweede taal – ’n sosiolinguistiese ondersoek. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Rhoodie, N.J. 1977. Sosiale stratifikasie en kleurlingskap. Johannesburg: McGraw-Hill.

Scholtz, J. du P. 1981. Taalhistoriese opstelle. Kaapstad: Tafelberg.

Sebeok, T.A. (red.). 1960. Style in language. Cambridge, Mass.: MT Press.

Simon, H.J. 2010. Zur Grammatik der indirekten Anrede im Afrikaans und im älteren Deutsch. In Dammel e.a. (reds.) 2010.

Swanepoel, S. 1989. ’n Diachroniese teksstudie van interetniese aanspreek- en verwysingsvorme in Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

Van Huyssteen, G.B. en M. Verhoef. 1998. Die diachronie van antesedentherhaling in Afrikaans. Ongepubliseerde referaat gelewer by die International Southern African Society for Dutch Studies Conference, Universiteit van Kaapstad.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1987. Wat sê jy: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw.

Van Niekerk, A. en J. Olivier. 2014. Pragmatiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2014.

Verdenius, 1946. Over het voornaamwoord jullie. De Nieuwe Taalgids, 36:249–55.

Vermaas, J.A.M. 2005. Veranderingen in de Nederlandse AV’en van de dertiende t/m de twintigste eeuw. LOT Publications.

Wybenga, D.M. 1981. AV’e en wisselende status: ’n ondersoek na die gebruik van AV’e onder Afrikaanssprekendes in Vanderbijlpark. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.

—. 1987. Wie sal die wa smeer? In Van Jaarsveld (red.) 1987.

 

Eindnotas

1 Vergelyk onder andere die volgende terme wat soms selfs onderling uitruilbaar skyn te wees: sydelingse aanspreekvorm (Scholtz 1981:66, Kotzé 1987:46); indirekte aanspreekvorm (Scholtz 1981:66, Kotzé 1987:47); indirekte aanspraak (Scholtz 1981:69). Vir een bepaalde voorkoms van die indirekte aanspreekvorm word sydelingse aanspreekvorm (Scholtz 1981:66), herhalingsvorm (Odendal 1976:112), casus oblique (Wybenga 1981:32), R-vorm (Wybenga 1981:32, 114) en antesedentherhaling (Van Huyssteen en Verhoef (1998) gebruik.

2 Die gemengde vorme wat Wybenga opgeteken het, is nie ’n tipe AV nie, maar eerder ’n voorbeeld van die soort verwarring rakende moontlike keuses wat die Afrikaanse aanspreekvormsisteem soms tot gevolg kan hê.

3 Die opstel word in 1981 opgeneem in die bundel Taalhistoriese opstelle en daar word, soos hier bo, verderaan in die artikel na hierdie uitgawe verwys.

4 Kotzé (1983) voer aan dat die herhalingsvorm of sydelingse aanspreekvorm algemeen in Maleierafrikaans voorkom, maar Wybenga het die aanspreekvorme van wit Afrikaanssprekendes ondersoek.

  • 3

Kommentaar

  • Hannes Deetlefs

    Die oorsprong van die probleem is die feit dat Engels, en veral die Amerikaanse Engels, geen enkelvoudige "jy" of "u" ken nie. Die tweede persoon enkelvoud en meervoud is "you". Streng genome is daar geen enkelvoudige "jy" of "u" in Engels nie, net 'n "julle". Die Amerikaanse en Kanadese kelner groet alle klante met "Haai you guys", manlik of vroulik. En tog sal mens in Engeland ook nie sommer enige mens met "you" aanspreek nie, jy sê dit net anders. Die Koningin is "thou". In teenstelling daarvan ken Duits weer in die enkelvoud van die tweede persoon drie moontlikhede. die "du" en die "Sie". Derdens kan selfs die "du" met groot letter geskryf word, dus "Du", en dan is dit nie sommer "jy/you" nie, maar eerbiediger. Hierdie "Du" word dan gebruik deur 'n familielid teenoor 'n hoër gestelde familielid soos jou tante of oom, selfs jou pa en ma, wat tog nie jou speelmaats is nie. Dit is nie so gedistansieer en eerbiedig soos die "Sie" nie. Die "u" oftewel groot geskrewe "Du" of "Sie" was almal op een ding wat vandag verlore gegaan het: Respek teenoor die aangesproke persoon. Probeer die Engelse Koningin met "you" aan te spreek en kyk wat dan met jou gebeur!

    • Hannes Deetlefs

      O, ek het nog vergeet om iets by te voeg: In die Duitse kultuur is dit altyd die ouer persoon wat aan die jonger persoon die "jy", die "Du" kan aanbied, en dit word altyd met 'n glasie wyn beklink. En vir die jongere persoon is dit 'n geweldige eer as hy/sy iemand dan daarna in die openbaar met "Du" en met die voornaam kan aanspreek. Maar, ook hier is sake stadig aan die verander: Veral liberale firmas (wat in die reël ook net jonger werknemers het) skakel bewus na die "Du", die "jy" en maak dit selfs 'n deel van die aanstellingskontrak. Maar dit kom veral van die base wat in Amerika studeer het.

  • Giel Bezuidenhout

    Ja, ek wil nou nie in debat gaan oor jy, jou of u nie, ek dink dit hang van persoon tot persoon af.
    MAAR so bietjie familie-humor ...
    Ons het 2 kleinseuns (van 8 ander kleinkinders) wat nou al volwasse is (27+) wat na my /oupa of ouma verwys of aanspreek as "oupa of ouma of "JULLE".
    Eendag lank terug in die motor vra een se maat: "Hoekom verwys jy na jou oupa of ouma as "julle?"
    "Jig ek kan mos nie ‘jy’ se nie. Dis mos sonder respek !"
    Groete Giel

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top