Misverstand deur Marita van der Vyver: ’n resensie deur Dewald Koen

  • 2

Misverstand
Marita van der Vyver
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903505

Marita van der Vyver het geen bekendstelling nodig nie. Diegene wat hierdie resensie gaan lees, is heel waarskynlik getroue Van der Vyver-aanhangers wat ’n stormloop by ’n boekwinkel sal trotseer om haar jongste roman te koop. Haar nuwe roman, Misverstand, is immers met groot fanfare bekend gestel met uitstallings op Eiffeltorings van karton en mediadekking waarvan enige skrywer maar net kan droom. Die roman was die topverkoper by vanjaar se US Woordfees op Stellenbosch en is selfs in Oos-Londen te koop (Afrikaanse boeke is so skaars soos hoendertande in dié deel van die land.)

Daar kan sonder twyfel gesê word dat Van der Vyver ’n fenomeen is. Soos skrywers soos Dalene Matthee, Annelie Botes, Deon Meyer, Karin Brynard en ’n paar ander, skryf Van der Vyver romans wat die meerderheid lesers wil lees en waarvoor hulle geld uit hul knap begroting sal afknyp – ongeag of hulle professore in Afrikaanse letterkunde of tuisteskeppers van Koekenaap is. Min skrywers beskik oor die vermoë om ’n balans tussen sogenaamde hoë letterkunde en “lae” of populêre letterkunde te handhaaf sonder dat die een vir die ander moet terugstaan. En dit is hierin waar Van der Vyver se wenresep lê. Oor romans soos Griet skryf ’n sprokie (1992) en Die dinge van ’n kind (1993) is daar al artikels en tesisse geskryf, maar die boeke is terselfdertyd ook deur skoliere en leesklubs verslind. Afrikaans het al in 1992 sy “vyftig (of meer) skakerings van grys” gehad met Griet se stuitighede. Die dinge van ’n kind is op sy beurt propvol humor (Van der Vyver het ’n aanvoeling vir humor wat Casper de Vries ewenaar) tussen al die gewigte temas. Ma is die soort wat haar vinger ’n paar keer raak steek as sy ’n knoop moet vaswerk. Teen twee-uur die Saterdagnag, met ’n leë Cameo-pakkie en ’n oorvol asbakkie langs ouma Visdam se ou Singer-naaimasjien, het ’n enkele vloekwoord oor haar lippe geplof. “Wie de donner dink juffrou Potgieter [die naaldwerkjuffrou] is sy? Coco Chanel?” (1993:131).

Met tydskrifrubrieke en romans waarin Van der Vyver haar lewe op die idilliese Franse platteland met lesers deel, word sy ingenooi na die binnekamers van ‘n menigte huishoudings wat haar skryftalent waardeer en geniet.

Misverstand is Van der Vyver se dertiende roman. (In hierdie geval is dit nie ’n teëspoedige 13 nie.) Tot op hede het 28 publikasies uit haar pen gespruit. Die roman speel af oor ’n tydperk van vier dae in Parys, Frankryk – soos wat die gepaste rooi, wit en blou skakerings, die kleure van die Franse vlag, ook aandui. Willem Prins, ’n Suid-Afrikaanse skrywer, reis na Parys. Willem het daarvan gedroom om die Groot Afrikaanse Roman te skryf en al wat ’n literêre prys is te wen. Maar soos in Annelie Botes se outobiografiese roman Sabbatsreis (2007) beplan Willem om sy lewe te beëindig deur homself in die Seine te verdrink. Hy moes homself tot sogenaamde poesboekies wend om finansieel kop bo water te hou. Onder die skuilnaam Lolita Meyer (Nobokov se Lolita dien hier as gepaste intertekstuele verwysing) is Willem se enigste kans op sogenaamde literêre sukses sy “poesboekie” getiteld ’n Vrou wat wil. (Hoe ironies!) Die noodlot het egter ander planne vir Willem, en sy beplande selfdood neem hom eerder op ’n reis van herevaluering en nuwe hoop vir die toekoms.

Die roman is gesentreer rondom die terroriste-aanvalle op Vrydag 13 November 2015 in Parys. Tydens die aanvalle het 130 mense gesterf en is meer as 300 beseer. Talle restaurante, asook die Bataclanteater, was van die teikens tydens die aanvalle. Hierdie soort geweld het die afgelope dekades drasties toegeneem en is dus ’n relevante onderwerp wat in die roman ter sprake kom. Weens laasgenoemde gebeurtenis word Willem gedwing om talle aspekte van sy lewe in oënskou te neem.

Van der Vyver het ’n aktuele onderwerp op eerlike, dog sensitiewe wyse benader en dit op geslaagde wyse by die groter narratief ingelyf om talle aktuele kwessies soos immigrasie, islamofobie en stereotipes onder die soeklig te plaas.

Die verhaal word vanuit verskeie vertelperspektiewe aangebied, en die leser verkry sodoende ’n groter geheelbeeld van Willem Prins as karakter. Sy interessante lewensverhaal (let wel: fiktief) herinner sterk aan dié van die skrywer André P Brink. Alhoewel daar talle verskille tussen die fiktiewe karakter en Brink is (soos die feit dat Prins nie Frans vlot kan praat nie, maar Brink wel), is daar ook talle toevallige ooreenkomste wat veral opvallend sal wees vir lesers wat Brink se outobiografie ’n Vurk in die pad (2009) gelees het. Prins se vader was nes dié van Brink ’n landdros. Gevolglik het die Brink-gesin gereeld verhuis. André P Brink het reeds op laerskool begin skryf, talle buite-egtelike verhoudings gehad wat tot egskeiding gelei het en was veral aangetrokke tot jonger vroue. Laasgenoemde feite stem ooreen met die lewensverhaal van die fiksionele karakter, Willem Prins. Ek kon eenvoudig nie anders as om verwysings na Afrikaanse skrywers en digters soos Joan Hambidge, Karel Schoeman, Nathan Trantraal en Dominique Botha (sien ble 227–9) raak te lees nie. Van der Vyver lewer indirek kommentaar op die Afrikaanse literêre establishment en die amper obsessiewe soeke na literêre pryse deur sommige skrywers en uitgewers. Ironies word die “groot” prys waarna Willem Prins se fiktiewe karakter smag, die Johanna de Groot-prys genoem. Die debat rondom “lae” versus “hoë” letterkunde word dus op subtiele wyse aangeroer.

Misverstand het geen gebrek aan humor nie. Soos in talle van Van der Vyver se vorige romans, word humor deel van die teks en doen geensins afbreuk aan ernstiger temas soos die terroriste-aanval, vrae rondom selfdood en gebroke verhoudings nie. Jackie van der Merwe se karakter sorg vir talle snaakse en interessante gebeure en gesprekke. Selfs die name van sommige karakters, soos Willem Prins, Maurice en Lolita Meyer, dien as materiaal vir ’n interessante gesprek.   

Met hierdie roman het Van der Vyver weer eens, soos met Griet skryf ’n sprokie, ’n skitterende prosateks geskryf wat nie alleenlik toeganklik en genotvol is vir die breër leserspubliek nie, maar terselfdertyd allerlei pittighede en literêre verwysings bevat wat die meer kritiese leser se belangstelling sal prikkel. Aanhalings van digters, skrywers en filosowe soos Voltaire, Louis-Ferdinand Céline, Thomas Wolfe, Fernando Pessoa en Danie Marais word doelbewus en heel geslaagd by die teks geïnkorporeer. Van der Vyver stel haar lesers bloot aan soveel meer as net ’n storie Sy deel die wyshede van ander as deel van die narratief wat die diepte en passie van haar karakters in die prosateks openbaar.

Met hierdie roman het Van der Vyver weer eens bewys waarom sy as ’n gevestigde en gesiene skrywer binne die korpus van die Afrikaanse letterkunde beskou kan word. En alhoewel sommige lesers steeds Griet of Mart Vermaak bo Willem Prins sal verkies, bestaan daar by my geen twyfel dat hierdie teks as een van Van der Vyver se top drie gelys kan word nie. Misverstand is ’n weldeurdagte, insiggewende en genotvolle roman wat die fynere nuanses van menswees tot op die been ontgin om die menslike feilbaarheid en verganklikheid op realistiese wyse te verwoord.

  • 2

Kommentaar

  • Nakkie v Rensburg

    Ek koop al Marita se boeke en "love" dit . Die omslag is wonderlik, want ek is versot op Frankryk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top