Misterie

  • 3

“Wat? Wat probeer jy sê?” Dave Sherman voel hoe ysige vingers sy hart omklem. “Begin weer, en praat stadiger.”

“Meneer, Albert lê in die swembadhokkies. Ek dink hy’s dood.”

“Kak, man, hoekom sal hy nou daar lê?” vergeet Sherman skoon van sy voorneme om minder te vloek. “En dood! Hoe weet jy; is jy ’n dokter?”

“Daar’s bloed, Meneer, baie bloed,” verdedig die kind, sy oë yslik groot, gesig blink gesweet, asemhaling hortend van die hardloop.

“In elk geval, Albert wie?”

“Albert Jansen, Meneer.”

“O donner!” Sherman voel die vingers klem al stywer om sy ingewande. Albert Jansen is een van die mees prominente leerlinge in die skool: eerstespanheelagter, openingsbouler, heart throb van bykans elke meisie, bogemiddeld stout, bedorwe brok en erfgenaam van die fabelagtige rykdom van die beheerliggaamvoorsitter. O donner, laat die klein storiedraer tog net verkeerd wees, smeek hy by homself. “Wat het jy by die swembadhokkies gaan soek?”

“Dit is pouse en ek wou gou vinnig daar gaan ... e ...”

“Praat, man, magtig! Wat het jy daar gesoek? Wie is jy?”

“Gerook, Meneer. Japie Scholtz, Meneer.”

Sherman is lus en dam die klein bliksem by, maar besef dat hy dan slegs die boodskapper sal bykom. “Kom,” beveel hy, “kom wys my.”

Pouse is nog aan die gang, en dit lyk of die skoolkinders alreeds snuf in die neus gekry het dat iets nie pluis is nie. Daar is ’n samedromming buite die hek van die swembad. Gelukkig het iemand die teenwoordigheid van gees gehad om die nuuskieriges weg te hou van die hek af.

Sherman ruk vererg aan die slot. “Wie het die slot oopgesluit?” vra hy so in die bondel. Niemand antwoord nie; hulle staan asof versteen van skok. “Toemaar, ek sal wel uitvind,” belowe hy dreigend. Die klomp snuiters noem my nie verniet Sherlock Sherman nie, dink hy wrewelrig. Natuurlik omdat die lafhartige hoof alle aangeleenthede wat tot konflik kan lei, na my verwys. En dit sluit outomaties alle dissiplinêre sake in.

Binne die aantrekarea lei Japie hom na een van die aantrekhokkies. Die deur staan half oop en Sherman druk dit heeltemal oop. “O donner,” hyg hy. Skeef oor die sitplek lê Albert Jansen. Dis duidelik dat Japie se diagnose heeltemal in die kol was. Jansen se skoolklere hang onnet oor die klerehaak. Hy is geklee in ’n swart-en-oranje boksertipe onderbroek, niks verder nie. Sy liggaam is van bors tot voete besmeer met bloed. Sherman trap onthuts agteruit toe hy agterkom hy staan in ’n bloedplas.

Met bewende vingers bel hy die sekretaresse en beveel dat sy die polisie moet ontbied onmiddellik nadat sy hom na die skoolhoof deurgeskakel het.

“Meneer De Vries, hier’s groot kak,” val hy met die deur in die huis.

“U taal, meneer Sherman,” berispe die immer korrekte, hoogheilige skoolhoof hom.

“Meneer, Albert Jansen is dood; lyk my hy’s met ’n mes gesteek.”

“O fok.”

“Die polisie is al op pad. Kry my hier by die swembad.”

“Wat van sy ouers, Meneer; moet jy nie vir mnr Jansen in kennis stel nie?

“Posvlak 4-werk,” sê hy leedvermakerig net voor hy dooddruk.

“Toe-toe-toe,” jaag hy die horde kinders weg, wat genadiglik buite die hek bly staan het, klas toe. “Pouse is lankal verby; klas toe. Jy ook, Scholtz. Ek sal jou roep as die polisie met jou wil praat.”

“Meneer, ons het nou swem by meneer Viljoen,” murmureer ’n groepie vasbyters.

“Man, moer weg!” verloor hy sy pose.

Inspekteur Van van Niekerk is binne tien minute op die toneel. Donkerstroom is nie ’n groot dorp nie en moorde in die gegoede buurte is iets ongekends. Vir ’n gewone lokasiemoord sou hy sommer vir konstabel Williams gestuur het, maar hy kry die reuk van hoëprofiel-blootstelling, dalk nog bevordering stad toe as hy hierdie een gou-gou kan oplos.

“Het iemand die slot gehanteer?” vra Van toe hy by die oop hek instap.

“E ... ja, ek kon dalk,” bieg Sherman verleë.

“Kon of het?” blaf die speurder.

“E ... ek het.”

“En sommer ook moontlike vingerafdrukke afgevee. ’n Mens sou skerper denke van ’n hoof of so iets verwag. Is jy dan nie ’n visehoof hier nie?”

“Adjunkhoof,” brom Sherman, dankbaar dat die kinders almal reeds die wyk geneem het.

“En die spore in die hokkie?” verneem Van kamma geselserig toe hy om die hoek loer na waar die liggaam lê. “Ook joune?”

Sherman trap ongemaklik rond. “Ja.”

“Vertel gou vir my, watter deel van die toneel het jy nie besmet nie?”

“Ek dink ek het aan die deur ook gevat.”

“Moenie dínk nie; wéét. Het jy of het jy nie, want as jy sê jy het nie en ons kry jou afdrukke daar, is jy beslis ’n verdagte.”

“Ja, ek het.”

Van sug oordrewe. “Wat het jy hier gesoek toe jy op die liggaam afgekom het?”

“Dit was nie ek nie; dit was ’n skoolkind. Hy het vir my daarvan kom sê.” Sherman besef dat hy hierdie saak hopeloos verkeerd aangepak het. Ongemaklik verskuif hy sy gewig van een voet na die ander, terwyl hy angstig wonder hoe hy ongeskonde uit die penarie kan kom.

“Hoekom vir jou?” verneem Van gemaak-belangstellend. “Al wanneer ek by jou iets sal aanmeld, is as ek iemand soek om die bewyse van ’n misdaad deur die gat te trek. En waar is die kind nou? Moenie vir my sê jy’t hom tussen al die ander losgelaat om sy storie heeltyd te loop en aandik sodat hy na ’n held moet lyk nie. Besef jy dat hy op die oomblik verdagte nommer een is?”

’n Dag later is Van van Niekerk nog niks nader aan ’n deurbraak nie. Nóg Japie Scholtz, nóg Albert Jansen se ouers kon enigiets bydra wat kon lei tot die aankeer van ’n verdagte. Van ’n motief is daar geen sprake nie. Die Jansens het wel al dreigemente geopper oor aanklagte van slap speurwerk, en met hulle konneksies, blykbaar tot op ministeriële vlak, voel sy gat al hoe toeër gestop. Dis mos altyd so met mense wat meer geld as klas het, verwens hy die Jansens.

Dit lyk of Williams ook agter sy rug vir hom lag, nes al die ander lede by die stasie. Skielik lyk dit vir Van of hy hom maar moet versoen met die idee van lewenslank op Donkerstroom bly. Met sy twee kinders albei nog in die laerskool lyk sake vir hulle ook nie te rooskleurig nie. Hy ys vir die dag wanneer hulle by ou Sherlock moet verbykom ná die skrobbering wat hy die man gegee het.

“Van Niekerk,” blaf hy toe sy telefoon lui.

“Môre, Inspekteur, Dave Sherman hier,” kom dit so effens uit die hoogte, asof hy iets weet wat Van nie weet nie. “Ek het so ’n bietjie ingegaan op die moord en ek het vir jou ’n verdagte.”

“Wat!? Hou hom daar, moet nie woord met hom praat nie! Nie ’n woord nie, voor jy weer als opneuk, hoor jy my?” Oorbluf staar Sherman na die dooie gehoorstuk in sy hand.

Binne vyf minute hou die vangwa voor die skool stil en Frank Jooste word ingelaai. Sy ouers wag reeds by die polisiestasie toe hy geboeid daar instap. “Ma, Pa, ek wil nie ’n prokureur hê nie. Ek wil net die waarheid praat.”

Ná die formaliteite sit die drie Joostes by Van in sy kantoor. “Ek gaan vir Kaptein vertel hoekom ek hom doodgemaak het,” begin Frank.

“Inspekteur.”

“O, jammer. Sien, oom, Albert Jansen het ’n baie gemene streep in hom. Hy geniet ... het dit altyd baie geniet om kleiner of swakker kinders af te knou. By eergister se krieketoefening het hy my in die nette aanmekaar bestook met kortballe, en hy boul vinnig. Hy het my ’n hele paar keer getref en toe sê ek vir hom ek gaan hom nog vrekmaak. Die ander spelers het dit gehoor, vra maar vir hulle. Toe hy gister in pouse swembad toe gaan om solank te gaan uittrek vir ons LO-swem, toe volg ek hom en steek hom. Ek dink hy was dadelik dood.”

“Waarmee?”

“Met ’n ou skroewedraaier wat ek lankal opgetel het. Ek het dit gistermiddag gaan weggooi in die dorpsdam.”

Ná ’n volledige verklaring en ’n onderneming van sy ouers dat hulle sal toesien dat Frank nie die hasepad kies nie, word hy toegelaat om in hulle sorg huis toe te gaan.

Van het skaars die verklaring geliasseer toe sy foon weer lui. Weer Sherman, maar hierdie keer klink hy minder hooghartig, eerder ietwat uit die veld geslaan. “Ek weet nie eintlik hoe om die saak te benader nie, maar ...”

“Dit weet ons reeds;” val Van hom in die rede, “wat is dit hierdie keer?”

’n Halfuur later sit Van in die ondervragingskamer, met Shaun Pekeur, sonder sy ma, oorkant hom. “Reg, jy besef dat jou verklaring opgeneem word en in ’n hof teen jou gebruik kan word, nè? Laat ons hoor.”

“Majoor, die ding staan só.”

“Inspekteur.”

“Raait, ek het vanoggend gaan praat saam met mnr Sherlock oor my gewete my so beginne ry het. Ek vir Albert doodgesteek met ’n skroewedraaier oorlat sy pa en ons rugby coach groot pelle is. Die hele seisoen as die span gekies moet word, moet ek tweede span speel. Daai kind se pa dink mos hy kan alles koop because hy’s ryk. Ekke weet ek is ’n beter fullback as hy, maar oorlat hy elke keer gekies raak vir die eerste span, kon ek nie eens proewe speel vir Cravenweek nie. Nou het ek nie ’n beurs om kollege te loop nie; ook nie ’n toekoms nie. Daais wat ek weet, toe maak ek hom dood. Die whitey wat sê dis hy, hy’t gelieg, want ’n skroewedraaier is die weapon of choice van onse coloureds.”

Verstom gaap Van die kind aan. “Waar is die skroewedraaier?”

“Weggegooi in die dorpsdam, Boss.”

Tienuur is dit weer sulke tyd. “Inspekteur, dis nou ’n malhuis hier by die skool. Hier het nog ’n man ingestap wat beweer hy is die moordenaar. Ek weet nie meer watter kant toe nie.”

“Iemand probeer ons vir die gek hou,” sê Van. “Maar hou daai man intussen daar tot ek hom kom laai.”

Die verbystering is op Tommie Roos se ouers se gesigte te lees toe hulle hom in die aanklagkantoor ontmoet. Sy storie klink net so oortuigend en onwaarskynlik soos die ander twee s’n. “Kyk, Sersant, ek wag al ’n paar maande vir die kans om vir Albert alleen te kry.”

“Inspekteur.”

“Sorry, Meneer. Soos ek gesê het, ek wou al vroeër met hom afreken. Gister was die ideale geleentheid. Sien, Albert het by die winterbal my sussie opgechat, en toe sy instem om saam met hom rugbyveld toe te stap – ek meen, watter meisie sal nie – het hy haar net daar verkrag. Meneer, sy is maar vyftien, en nou is haar lewe verwoes. Sy kan ook vir niemand daarvan vertel nie, want hy het gedreig dat hy vir almal sou vertel dat sý daarop aangedring het. Wie sal haar woord bo syne vat, want alle meisies is mos verlief op hom. ’n Mens soos hy verdien nie om te lewe nie. Ek is bly ek het hom met die skroewedraaier doodgemaak.”

“En die skroewedraaier is nou seker in die dorpsdam, nè?”

“Hoe’t Meneer geweet?”

*

Theodore Jansen frons diep terwyl hy op sy selfoon na die nommer van sy kontak soek. Die afgelope paar dae was nie vir hom maklik nie, veral nie met die tragiese dood van sy seun nie. Veral sy vrou het die situasie baie moeilik hanteer. Albert was hul enigste kind, geseën met eienskappe waarvan Theodore sy lewe lank slegs kon droom.

Uiteindelik vind hy die nommer. Ná drie luie antwoord ’n lui stem. “Yes.”

“Waar de hel is jy?”

“Jy wil seker graag weet, nè?”

“Waarom is jy so stil? Ek het gesê jy moet laat weet sodra jy en jou geeks die saak van die miljoene wat uit my beleggingsrekeninge verdwyn, opgelos het.”

My lips are sealed.”

“Maar hoekom? Jy was veronderstel om my te bel as die etter wat my rekeninge so plunder, uitgehaal is.”

“En?”

“En wat?”

“Dis gedoen, partner.”

“Magtig, man, hoekom hou jy my in die duister? En hoekom moet ek my gat af soek na jou?”

Insurance, my ou. Weet net dat die skuldige dood is, en danksy jou welkome retainer is daar boonop drie suckers is wat gebieg het oor sy moord.”

  • 3

Kommentaar

  • Willie van Aswegen

    Lekker verrassingselement, alhoewel dit seker te wagte was. Dra die vloekery werklik iets by, of maar net bietjie byvoegsel vir onsnaakse humor?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top