Michael le Cordeur gesels oor Kaaps

  • 1

Die media gons die afgelope tyd oor Nathan Trantraal. En oor Kaaps. Michael le Cordeur het reeds op 2 Julie 2013 'n referaat oor Kaaps gelewer en sy bydrae verskyn vandag in Die Burger. Naomi Meyer het nog meer by hom gaan hoor.

Hallo Michael, dankie dat jy kans maak om te praat. Ek het jou artikel in Die Burger vanoggend met groot belangstelling gelees. Laat ek jou eerste vra: Wie praat almal Kaaps?

’n Groot deel van die samelewing hier in die Kaap en die Boland. Van die eenvoudigste mense, soos in karretjiemense tot professore.

As ek eerlik moet wees, praat ek en my familie ook bietjie Kaaps, alhoewel Standaardafrikaans ons huistaal is, maar ek hoor dit by al my bruin kollegas, onderwysers, die predikant en selfs ons burgemeester. Ek hoor dit selfs by my wit vriende en kollegas, alhoewel in ’n baie mindere mate. Dus, álmal.

En let maar op hoedat radioprogramme (Tjaila), TV-programme (Oppie Koffie) en Afrikaanse liedjies elemente daarvan oorneem.

Die eerste persoon wat vandag op my artikel gereageer het, was Aslam Fataar,  ons visedekaan vir navorsing, en hy skryf:

'n Fantastiese artikel deur ons eie dr Le Cordeur.

Baing Tramakassie Boeta Mikey.

Daai Arabiese woorde  is eintlik almal Bahasa Indonesies in oorsprong. Slegs “barakaat” en “slamat” is Arabies.

Jy praat hier vir mense soos my.  Ek is nóg Afrikaans óf Engels eerste taal.  My moedersmelktaal is Kaaps. 

Ons gat more lekkerag Labarang hou.

Regards

Aslam

Ek praat Afrikaans – dis die taal waarmee ek grootgeword het. Watter taal praat jy?

Standaardafrikaans wat deurspek is met Kaaps.

Het jy al in België iets in Afrikaans bestel en die buitelanders se glimlagte ervaar? Ek het. En dit soms as meerderwaardig ervaar. Is hier iets analogies as mens Afrikaans en Kaaps vergelyk?

Ek het al iets in my soort Afrikaans bestel in Nederland, en dan aangedring dat die mense met my in Nederlands moet praat. Dit het baie goeie verhoudinge gekweek.

Hulle is absoluut gefassineer dat ons taal so naby aan hulle s’n klink.

Hoe verskil Kaaps van Afrikaans?

Dit is byna soos die Queen se Engels van die Amerikaanse Engels wat ons so baie op TV hoor.

Dis soos om na Radio Rugby op kykNet te kyk teenoor Binnelanders.

In die skoolweergawe van Krismis van Mat Jacobs gee die skrywer ’n paar punte van verskil en iets daarvan is in hierdie artikel.

Maar dit is nie naastenby die omvang nie. Die grootste verskil lê in die sintaksis:

Anders as Afrikaans, wat die Germaanse sinskonstruksie volg van:

Onderwerp (Subjek) + werkwoord + Voorwerp (Objek)
bv Die man skop die bal

volg Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie van:

Werkwoord + Objek + adjektief
bv Was my hemp kanalla.

Voorts word Engels en Afrikaans dikwels in dieselfde sin gebruik met die Afrikaanse voorsetsel wat vervang word met die Engelse voorsetsel, bv Province verloor by ag wickets.

Jy skryf oor moedertaalonderrig op ’n manier wat mense gaan laat regop sit. Kinders op die Vlakte gaan net soveel sukkel met Afrikaanse handboeke as met Engelse handboeke, dis nie hul ware moedertaal nie. Verstaan ek jou reg?

Ja, kyk ook na Gerda Odendaal se navorsing – dit bewys dat leerders wat in Kaaps opgroei, beter vaar in toetse as die toetse in Kaaps gestel word. Tans moet hulle uit boeke lees wat ver verwyderd is van hul huistaal.

Gestel die regering druk handboeke in Kaaps, dink jy ook studente wat in Kaaps grootword het ’n Kaapse universiteit nodig?

Nee. Ek dink die klem moet hier val op wat die leerders en hul ouers gaan kies. En ek moet eerlik sê dat hulle sal kies vir ’n universiteit waar die leerders binne ’n meertalige opset kan studeer, soos by US.

Ware woorde: “Taal is nie net ’n middel tot kommunikasie nie, dis ryk aan kultuurgoedere.” Maar bring ’n nuwe erkenning van die taal Kaaps en ’n vestiging daarvan in die onderrig nie ’n nuwe skeiding nie?

Ek dink nie so nie, juis die teendeel: deur mekaar se variëteit te erken en te respekteer, gaan dit ons juis nader aan mekaar bring.

Dis wanneer ons vir mekaar se Afrikaans lag of die spot daarmee dryf dat dit tot skeiding lei.

Ons benodig dus net soveel ’n verandering in opvoedingsproses – kinders moet geleer word alle tale het variëteit (ook Engels) en ons moet mekaar se taal respekteer.

Word Kaaps in enige skool in hierdie land as vak aangebied?

Nee, nie waarvan ek weet nie, maar wel sektore daarvan, soos enkele letterkundige werke, soos ek in die artikel aandui.

In jou ideale wêreld: Wie praat almal Kaaps?

Almal wat wil; en almal wat wil saampraat.

Lees "poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantraal oor Chokers en Survivors

Lees Joan Hambidge se resensie van Chokers en survivors.

Lees ook Robert Pearce se antwoord op Nathan Trantraal.
 

  • 1

Kommentaar

  • Die volgende verskyn in Prof Le Cordeur se artikel in Die Burger van 8 Augustus 2013:

     

    "Uit Arabië na die Kaap Arabiese woorde wat hulle in Kaaps tuisgemaak het, sluit in: barakat (kospakkie huis toe ná ’n partytjie), poewasa (vas van Ramadaan), kanalla (asseblief), slamat (veels geluk), boeka (breek die vas), djamang (toilet), labarang (Eid in die spreektaal), motjie (tannie), pang (oom), tjaila (huis toe gaan) en tramakasie (dankie). "

     

    'Kierang', hoewel nie van Arabiese afkoms nie, sal ook goed inpas by bogenoemde groepie. Die woord 'tjaila' (werk verlaat) is ook nie Arabies nie, maar het haar uit isiZulu in Afrikaans gevestig. (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal).

     

    Die bekende uitdrukking 'Jou ma se p...' kom uit die tyd toe slawe onder 'n nuwe baas deur hul medeslawe uitgevra is waar hulle vandaan kom. Die bekende 'Gaan k.k' is deur slawe aan die slawe-opsigter meegedeel wanneer hy wou weet hoekom hulle die pik, graaf of sekel net so laat staan. 

     

    - Kobus Faasen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top