Metode en Tegniek: "Dis net jy in hierdie mal, groteske realiteit"

  • 2

Joe Foster is die brein agter die eenman-akoestiesepunk-projek Metode en Tegniek. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Joe. Hoe’s alles?

Alles gaan.

Foto: Verskaf

Baie geluk met die vrystelling van Post-Boland-Pre-Peruvian-Plaaspunk. Dit is ’n hoë-oktaan-album, met energie wat uit elke sekonde drup. Dis min dat mens só ’n punkalbum aantref, wat meestal net uit akoestiese kitaar en sang bestaan. Was die versoeking ooit daar om ’n band saam te stel en dus die meer tradisionele punkroete te stap? Wat is die voordele daaraan om dit eerder solo te klap?

Fanks. Heel aan die begin, toe ek die eerste tunes begin skryf het, was daar dalk ’n versoeking gewees om ’n band te vorm, maar deels weens die gees van die musiek, deels weens eksperimentele neigings, en deels weens logistieke gewarrawarra het ek bitter gou daarteen besluit. Die hele band ding, veral ’n bona fide hardcore punk band, is meestal so ’n uitmergelende schlep. Daar is nooit konsensus oor hoe ernstig mens dit als behoort op te neem, of wat die punt daarvan actually is nie, of wat die levels van punkheid is wat almal kan hanteer voordat dit net plain embarrassing raak nie, en jy die bietjie sosiale kapitaal wat jy oor het, ook uitwis nie. Almal weet, diep in hulle harte, dat so iets nooit in Suid-Afrika sal kan werk nie (wel, almal behalwe Poepholpilot). En dan speel jy op die ou end anyway drie shows vir jou vriende, maar almal is secretly kwaad oor hulle moes petrol uitry na die gig. Don’t get me wrong, ’n band is ’n wonderskone ding as hy eers sy klimaktorium bereik, maar dis moer baie maintenance en dit veroorsaak diep sielkundige letsels. Plus, in die ou dae kon mens op Thinz en aartappels oorleef, en almal was maar ewe broke (of so het hulle voorgegee). Dis egter not so much fun as mense eers begin ouer word en hierdie weird “grootword”- (geldmaak-) druk toeneem en sy merk begin laat op almal nie. Net om te practise raak ’n geweldige uitdaging. Soveel dat ’n band net nie vir my moontlik sou gewees het nie.

Maar die Plaaspunk-tunes sou anyway nie inpas in ’n tradisionele hardcore outfit nie (inderdaad, ek’t altyd gehoop om ’n aparte suiwer hardcore outfit te kan hê, en het self ander tunes geskryf spesifiek vir so iets). Dit sou dus ’n tipe folk band moes wees, maar behalwe bogenoemde logistieke probleme was en is folk bands net te cool vir my. Boonop was dit wat ek ervaar het in my lewe – die gees waarin die tunes geskryf is en die aard van die musiek self – baie meer in lyn met ’n tipe solotroebadoer-vibe: die getoonsette digkuns en storievertelling van die totale outsider. Musiek deur eensaamheid en aan die ander kant uit.

Ek onthou toe ek die eerste keer André Letoit se Vêr van die ou Kalahari gehoor het. Ek was mal daaroor dat dit net amper hierdie random “stem in die woestyn” was – hierdie totaal stripped-down sound – net hierdie doos-met-’n-kitaar aweregse serenade, die outsider narrator wat tegelykertyd binne en buite die liedjies/stories is. Dit het vir my gespreek van ’n dieper, en meer fundamentele, tipe eensaamheid en uitgeworpenheid as wat enige punk band kon regkry om oor te praat, alles verbloem agter skerpsinnige en somtyds lawwe humor. Daar was ’n ongekende suiwer poëtiese beeldskoonheid aan liedjies soos “Swart Transvaal”, “Lalie” en “Boer in beton”, en hoewel die hele ding soveel fun was om na te luister, was dit terselfdertyd op ’n amper skrikwekkende manier real en eerlik. Dis asof die lewe hom gereduseer het tot net hom en sy kitaar (ek’t dit altyd gepicture dat hy hierdie fake “show” speel alleen in ’n klein, kaal woonstel met net ’n asbak en ’n matras en papiere) – die versinnebeelding van tragikomedie. En dit is op die ou end hierdie album wat my moed ingepraat het en oortuig het om voort te bou op hierdie “tradisie”.

Dit gaan egter nie net vir my oor “keeping it real” nie. Hierdie totale solobenadering beliggaam ’n groter en belangriker idee: die individu as etiese eenheid. Die idee dat, op die ou end, dit net jy is in hierdie mal, groteske realiteit wat net (aanhou) “outomaties” gebeur om jou. Dis vir seker nie solipsisme of so iets nie – juis die teenoorgestelde. Dis juis die idee dat daar ’n realiteit daar buite is wat nie sal buig na jou wil nie. Wat onbeheerbaar, en afskuwelik, en vreesaanjaend mooi is. Realiteit as ’n ontologiese anargie. So al wat jy het en kan beheer is jouself en jou woorde en dade, en selfs dít is te betwyfel. Ek wou gehad het my musiek moes op ’n manier, in die uitvoering daarvan sowel as die liriese inhoud, ’n draer wees vir hierdie idee.

En besides: uit ’n suiwer logistieke oogpunt is hierdie als great, want ek hoef nie te worry dat ek ander mense se tyd en geld mors nie, en ek hoef nie te worry oor ander se verwagtinge in terme van “resultate” nie.

Die bykans chaoties-vinnige tempo waarteen die musiek en lirieke soms uitgebasuin word, kan dalk die indruk van traak-my-nie-agtigheid in die skryfproses skep. Tog is die aanslag in elke snit baie uiteenlopend, en uniek. Hoe werk daardie skryfproses by jou? Wat kom eerste – die woorde of die musiek? Wanneer besluit jy dat ’n song nou “reg” is? Aangesien jy alleen werk, hoeveel skaafwerk gebeur tydens of ná ’n recording?

Ek dink die spoed en so is maar eerstens net stilisties van punkmusiek oor die algemeen. En baie mense verstaan punk op die verkeerde manier – asof die spoed maar daar is as ’n “cover-up” vir musikale onbevoegdheid. En sure, daar is sekerlik ’n element hiervan by baie punk bands, maar mens moet verder luister: ek dink dit gaan minder oor “kan nie” die instrumente speel nie as wat dit gaan oor ’n ander manier kry om die instrumente te speel wat meer in lyn is met die psigiese energie en boodskap van die betrokke individue. ’n Band soos Bad Brains byvoorbeeld kon vir seker hul instrumente speel, maar hul styl kon later nie die energie of “gees” van die musiek support nie. Daardie gees het deur die ou metodes gebreek en ’n nuwe klank en energie uit die spelers opgeroep of uitgeforseer. Dis nie ’n cover-up nie – dis nie negatief nie. Dis ’n positiewe manifestasie van ’n intensiteit wat “deur” mense werk. So selfs by bands soos The Germs of The Middle Class, wat nie regtig aan die begin hul instrumente kon speel nie, het die wil en dringendheid van daardie intensiteit die nodige “tegniek” vir hulle “gegee”. Dit is dus iets uiters kreatief op ’n baie primordiale manier.

En binne hierdie nuwe energie ontwikkel daar dan ’n tipe distinctive, sorgvuldige vakmanskap wat mens kan hoor by feitlik elke liewe punk band wat die moeite werd is: gaan luister maar weer na Dead Kennedys, Black Flag, Poison Idea, Cro Mags, Articles of Faith, Circle Jerks, Agnostic Front, en ja, die fokken Germs. Die chaos is uitgewerk. Dit moet herhaalbaar wees. Dit geld vir ou hardcore soos daai, en al die goeie subsequent melodic en post-hardcore goeters.

Anyway, wat tunes skryf betref: ek weet nie regtig hoe ander mense tunes “skryf” nie – maar I guess dis maar dieselfde by my as die meeste ander mense: die meeste tunes begin met ’n deuntjie of ’n rif wat in my kop speel. Dis gewoonlik net skielik daar agv van ’n jam session, of ’n stappie vang, of bestuur, of selfs uit drome. Soms is daar ’n paar woorde of sinsnedes wat oor en oor speel. Dan vat mens maar die kitaar en figure dit uit. Die song kom “pla” dus vir my, en ek uncover dit soos ’n tipe artefak of fossiel of iets. Die dele van die fossiel wat gebreek of missing is, word “reggemaak” of “vervang”, en dis meestal daai dele – die “bindweefsel” en klein “gewriggies” van die tune – wat die langste vat. Die hele proses is baie keer soos iets wat expand en dan weer ingeperk moet word: as iets nie absoluut nodig is, of absoluut reg voel nie, dan sny ek dit net uit, en daarna is die song eers reg as dit reg voel en reg speel, én reg klink (op playback).

Lyrics word laaste gedoen, maar baie keer gebaseer op die klanke, lettergrepe, of modaliteite van die brabbelsang wat ek gebruik terwyl ek die song “opgrawe” en leer om dit te speel. So daar’s basies ’n “klank”-deel en dan ’n “poësie”-deel. Die Plaaspunk-album is ook ás ’n album geskryf oor ’n redelik lang tydperk, maw die songs het saam “uitgesedimenteer”, amper soos ’n skets of ’n skildery wat stelselmatig voltooi word. Ek het nog altyd gehou van die idee dat ’n album ’n “piece” moet wees. ’n Stuk bestaande uit stukke. Alles moet een, koherente assemblage vorm.

Daar kom natuurlik altyd ’n paar dinge na vore tydens die recording. Soos die presiese backup harmonieë of die laaste paar note in ’n solo of iets. Die hele “Aftreeoord”-solo is ’n voorbeeld van so iets wat organies gegroei het tydens die recording. So ook al die ekstra instrumente in byvoorbeeld “La Fayette” en so. Omdat ek in my kamer record het, kon ek dit bekostig om so te eksperimenteer, en ek kon ook obsessief en perfeksionisties raak oor wat ek wou hê – wat awesome is, want mens kan goed regtig push, en al die pressure is weg.

Aan die production kant was ek baie gelukkig om iemand soos Ben Ludik te hê wat actually weet wat hy doen. Of ten minste kan lyk of hy weet wat hy doen. Hy het vele aartjies gedruk, en kon basies die beste uit ’n meestal twyfelagtige home recording bring (en dit het verbasend baie werk gekos vir mixes wat net uit ’n paar tracks bestaan). Daardie ekstra paar ore is absoluut noodsaaklik. So ook om mens se mixes kans te gee om te rus en om na hulle te luister oor ’n wye reeks systems. Mens kom so baie gou agter waar die swak plekke is. Dis snaaks, maar nadat mens deur die hele production proses gegaan het, is dit asof mens se ore skielik oopgaan, maar een onverwagte kak newe-effek hiervan is dat mens begin hoor net hóé onperfek en problematies alle musiek waarvan mens hou werklik is. Dankie vir niks, Ben.

Foto: Verskaf

Gepraat van die lirieke: jy het ’n uiters gemaklike manier van omgaan met taal. Ek is byvoorbeeld versot op woordverbuigings en -skeppings soos “stilleswye” en “fokmasjienkajuit”. Waar kom dié speelse benadering tot taal vandaan? Het die feit dat jou moeder ’n bekende digter is (Ronel de Goede) ’n invloed gehad op hoe jy grootgeword het met taal en hoe jy daaroor dink? Tot hoe ’n mate moet jy jouself partykeer beteuel om nie té los te raak (tot op die punt dat dit onverstaanbaar raak) nie, en tog daai vryheid vier? Dink jy daar’s ’n soort goue balans in dié opsig?

Daar was nog altyd die natuurlike geneigdheid by my om met taal te speel – om nuwe woorde op te maak, of nonsenswoorde, of rympies. My ma het nooit vir my letterkunde of poësie gevoer nie, maar die feit dat sy into dit was en ek toegang gehad het tot ’n wye verskeidenheid Afrikaanse skryfwerk en poësie, het definitief ’n groot rol gespeel in hoe ek dink oor taal, en veral Afrikaans.

Maar ek was nooit regtig into “Die Poësie” of “Die Letterkunde” nie. Ek’t wel hier en daar goed gelees, en maar soos almal into Breytenbach geraak. Maar dit was minder sy dramatiese vibe as sy woordwerk wat my gevang het. Ek was soos: jirre, ek’t nie geweet jy kan sulke poëtiese beelde met ’n taal skep nie! Dis of hy hierdie ander wêreld vir my oopgemaak het, en my heeltemal anders laat dink het oor Afrikaans. Daarna was ek ’n moerse fan van André Letoit se skryfwerk. Dit was asof hy Breytenbach gevat het en hom afgebring het vanuit sy kwasi-Europese dreamtime en hom iewers in Brackenfell losgelaat het. Daar was ’n bytende realiteit aan sy skryf- en digwerk. Dit was meer ’n tekstuur waarmee ek kon lewe. Breytenbach ook. Maar ek moes dit eers my eie maak. Letoit het net dadelik gestick. En deur Letoit het ’80 vir my oopgegaan: Fransi Phillips, Dan Roodt, Johan van Wyk, en al die little magazines. Ek was verslaaf aan hulle dromerige denkvlugte en hul afgestripte, sarkastiese, direkte benadering. Hulle het my gewys dat taal is iets waarmee daar amper gespeel móét word – om dit te kan gebruik om aan te pas by jou ervaring en situasie. As ’n punt van lewensintensivering. Die punt waar jy die taal buite homself bring en daar van die spreker of luisteraar ’n vreemdeling in sy eie taal gemaak word. Dis ook dié punt waar taal werklik kreatief begin raak, omdat dit “oopgemaak” word na ander tipes lewensmodaliteite.

Natuurlik het dit ook iets te doen met selfbewustelik skryf en dink in ’n nuwe taal. Of ’n sterwende taal: mens wil kyk hoe ver jy dinge kan stoot in terme daarvan om daardie taal tot op sy breekpunt stoot. Dit is tegelyk ’n resussitasie en ’n wiegelied. Hierdie verwringing of intensivering van taal – amper na ’n primordiale of infantiele “taalsous” – is ook stilisties kenmerkend van punkmusiek oor die algemeen: dit maak van alle taal ’n brabbeltaal, ’n absurditeit wat eers ondersoek of uitgesyfer moet word voordat mens verstaan wat aangaan. In feitlik geen punkalbum wat die moeite werd is, vind mens mooi, verstaanbare lettergrepe en kak nie. Dit word verwring deur suiwer emosie, spoed, energie, lyding en walging. Deur plain sarkasme en deur die taal self. Die luisteraar word geforséér om self aksie te neem – en dit is een van die goed wat ek gelove het van daardie ou albums luister – dit klink soos ’n transmissie uit ’n vergete verlede of ’n apokaliptiese toekoms, waar daar heeltemal ander tale was of ander tale ontwikkel het uit die een waarin hulle actually sing. Mens sing dan jou éie nonsenswoorde saam soos ’n kind wat leer praat. En dan lees mens die lyrics en dis asof daar ’n oomblik van openbaring en verlossing op mens neerdaal. Ek is versot op die idee dat die ervaring van kuns en musiek ’n tipe inlywing is tot ’n geheime wêreld of ’n geheime kennis.

Maar volksrympies en -liedjies het ook presies hierdie kwaliteit – hierdie twee vlakke: een van verwarring en inlywing, en een van realisasie. Dis soos wat Boerneef baie keer gedoen het. Ek dink ook hier spesifiek aan die ongelooflike prestasie van Brink se vertaling van Alice (die titel vir die lied “Maniere en probeerslae” is hieruit gesteel). Mens kan die onsêbare sê, of die metafisiese probeer manifesteer deur taal. Asof die veil  tussen die twee wêrelde baie dun gemaak word – net genoeg vir sekere eggo’s om deur te kom.

Wat selfbeteueling rondom hierdie neiging betref, is daar – op baie dieselfde wyse as met die musiek self – ’n balans: ’n punt van gelyktydig ’n harmonie en ’n spanning. Dit is presies op dáárdie punt wat die taal begin breek en waar dit na ander dinge en intensiteite begin oopmaak. So ek probeer om daardie “toestand” (ek bedoel eintlik “oopstand’) te kan verleng as ’n tipe plato van intensiteit.

Soos reeds genoem, is daar ’n bepaalde berekendheid in jou musiek, terwyl daar ook, in lyn met ware punkideologie, ’n opsetlike afsku aan tradisionele “wat-is-mooi-musiek” is. Kan ons aflei dat die naam Metode en Tegniek ’n tong-in-die-kies verwysing hierna is? Jy het self ’n meestersgraad in skone kunste behaal. Watter tipe invloed het dié opvoeding gehad op jou beskouing van kuns (en veral musiek), en hoe jy dit self wil uitvoer? Gaan daar verskillende liggies in jou brein aan as jy aan skone kunste werk, en aan musiek? Of is dit ’n geval van dieselfde benadering, maar verskillende uitlaatkleppe?

Exactly. Metode en Tegniek het presies te doen met daardie twee goed: die berekendheid en presiesheid waarmee goed gedoen word en die “pop” sensibility, maar dan ook die oorgawe aan suiwer energie en onbeheerbaarheid, eksperimentering en beswyming. Maar selfs dit is berekend. So ook die interaksie tussen die twee. Dis ’n metode en tegniek om al my musikale invloede te probeer inchannel in een instrument in – dws hoe om meer “musikale” elemente en invloede te monteer op ’n tradisionele punkraamwerk en -uitvoering, of hoe om punk-energie los te laat binne die strukture van meer “musikale” style. ’n Tipe sintese van beheer en chaos, mooi en lelik, euforie en lyding, en die oorkoming van al die pare: geen meer beheer en chaos, geen meer mooi en lelik, geen meer euforie en geen meer lyding – net metode en tegniek.

Maar die sintese beteken ook dat jy sien dat daar geen rede was om in die eerste plek ’n “opposisie” te suppose nie, en dat daar dus geen metode of tegniek nodig is nie (en dat om so iets te veronderstel dat jy afgekom het op die “regte” manier, of werklik weet wat jy doen, of een of ander unieke “ding” uitgefigure het – neerkom op ’n tipe pretensieuse grootheidswaan en ’n oorskatting van jou invloed op, en beheer oor, die kreatiewe proses). Ek dink dit is die geheim van punk.

“Metode en Tegniek” verwys ook natuurlik na my en my kitaar. Soos Dom & Roland. Dié spesifieke kitaar is soos ’n persoon wat saam met my gegroei het. Dis soos iemand wat die gif uit mens kan trek, en kan help omvorm. Dit omskep al die kak goed in iets positiefs in: ’n punt van weerstand, of ’n tipe metafisiese tweede asem, ’n visie vir die toekoms, of ’n tekstuur om aan jou lewe te “apply” (terselfdertyd soos ’n verandering in ’n rekenaarprogram én soos ’n medisyne).

Dís darem die een useful ding wat uit my kunsopvoeding gekom het: hierdie idee dat die skeppingsproses en sy produkte gebrúik kan word soos teksture of gereedskap wat mens se hele lewensmodaliteit kan verander. Kuns en musiek kan (of moet) ’n “metode” wees om te lewe. ’n Metode van verlossing, of ’n metode tot ’n altered bewussynstoestand, of ’n metode tot verligting. Dis ’n tegniek teen die onophoudelike, meedoënlose aanslag en las van lewend wees, en die ongenadige en predatoragtige bewussyne en verwagtinge van ander mense. ’n Metode teen die stomme stroom van “die lewe”.

Maar “Metode en Tegniek” is ook ’n verwysing en spottende tonguitsteek na die dood – spesifiek na selfmoordmetodes en -tegnieke. Om te sê nee fok dit – ek sterf liewer op ’n ander manier, en laat myself eerder agter deur die suiwerende mag van musiek. Soos iemand wat al die selfmoordmetodes opweeg teen mekaar, en dan nog steeds weerstand en wil kies.

Ek glo die doel van kuns en musiek is op ’n manier altyd hierdie intensivering en annihilasie: intensivering van lewe, euforie, glorie, onaantasbaarheid, en onoorwinbaarheid; van woede as ’n selfverdedigende mag wat deur al die bullshit breek. Dis ’n tipe “wêreldoorwinning” en “selfoorwinning” wat al die donker goed vernietig, maar wat terselfdertyd altyd ook mens self vernietig of aantas. Selfoorwinning is op ’n manier om jou “self” agter te laat – om buite jouself te tree. Dit knak mens altyd. Dis die prys wat jy betaal.

Nietemin is dit waarvoor ek soek in my eie praktyk en in die werk van ander. Dis wat enigiets vir my die moeite werd maak: dit móét iets wees wat ek in my lewe kan “inplug”. As ék dit kan gebruik, kan ander ook heel moontlik. So dit is basies my benadering tot die hele storie. Daar is dus nie juis vir my verskillende ligte wat aangaan vir kuns en musiek nie, en ek gebruik dieselfde intuïtiewe en visuele verbeeldingsprosesse vir beide, met taal as die geleier tussen die beelde. Albei voel ook vir my na reduktiewe prosesse: na ’n ontdekking of ontbloting van iets wat rééds daar is (die “fossiel”). Hulle is egter minder twee verskillende uitlaatkleppe as wat hulle twee verskillende rigtings is waarin die intensiveringsprosesse vloei: by musiek kom dit meer van buite, detour dit deur jouself, en word die ontblotingswerk daarna weer buite mensself gedoen in ’n tipe eksterne raamwerk. By kuns is dit meer soos ’n eggo van binne en voel dit asof die ontbloting/verkenning ook binne jouself gebeur, maar dit presenteer daarna na buite soos ’n simptoom. Dis die uitwaartse manifestasie of “reste” van ’n inwaartse soeke of dwaling.

Vir my was dit dus amper asof musiek my kuns meer beïnvloed het as andersom, omdat dit meer soos ’n eksterne interface na die wêreld is, en as sulks meer “aktief”. Daar’s ’n tipe aansteeklikheid betrokke by musiek wat ek nie regtig met kuns ervaar nie: dit sit mens op ’n sekere plek, wat dan die energie, of “tone” van jou kuns verander. Musiek is vir my meer soos ’n storie wat aangepass word en waarop jy jou eie spin sit, maar visuele kuns is heeltemal soos die Wilde Weste – dis heeltemal “privaat” in ’n sin – dis meer jou “eie” – meer soos ’n “totale” eksperimentasie. Dis soos ’n aansteeklike virale siekte versus ’n outo-immuun/sistemiese siekte.

Daar is baie verwysings na Stellenbosch in jou lirieke ... En met liedjies soos “La Fayette” (’n koffiewinkel wat lankal toegemaak het), neem ek aan van hierdie songs lê al lank in die broeikas. Baie musikante, digters, ens het daardie love/hate-verhouding met Stellenbosch – van Fokofpolisiekar tot Danie Marais en meer. Hoe sou jy, as iemand wat ook daar grootgeword het – jou verhouding met Stellenbosch beskryf? Bubble, of kunstenaarshemel? Afrikaner-enklawe, of smeltkroes van idees? Hoe maak ’n mens sin van so ’n plek? En hoe druk ’n mens daardie sinmaakproses uit in jou musiek en ander kuns?

Ai jirre … Stellenbosch … Ek is baie lief vir die plek, maar ek wens dit kon net ’n random klein Bolandse dorpie gebly het. En dat die universiteit nie daar was nie (of dat dit daar was maar dat net ’n paar mense geweet het daarvan). Ek weet nie of almal maar so voel oor die plekke waar hulle vandaan kom nie, maar Stellenbosch het baie geheime en skimme en stemme en skaduwees. Daar is ’n undeniable mystique aan die plek. Maar daar is ook saam met dit ’n undeniable lameness en stagnasie aan die plek. En daai twee kwaliteite is baie gevaarlik: op Stellenbosch voel mens of jy altyd aan die rand is van iets, van ’n tipe glorie of openbaring of bestemming, wat móét gebeur of gáán gebeur. Maar dit gebeur nooit regtig nie. En ja, dit gee vir jou skemerings of smakies daarvan, en dis wat jou laat aanhou soek, laat aanhou verlore raak in die fluisteringe van die geboue en die fantasieagtige tussen ruimtes en spots.

En dan, soos jy daar grootword, kom jy agter dat ongeag sy “ewige” kwaliteit en die ewige wederkoms van sy oer-plaas-en-besigheidselite en sy “onsigbare” gepeupel, dit eintlik ’n tipe halfway house is: elke vier tot ses jaar kom daar ’n nuwe klomp assholes en speel dieselfde interaksies, verkennings en tragedies hulself af. En dis asof die assemblage van die dorp self daardie goed dryf of laat gebeur (soos The Shining). So dis baie maklik vir enigiemand wat nie net die werk-trou-en-kinderskry-model wil volg nie, wat nie saam met daai stroom in en uit die masjien wil beweeg nie, om uitgespoel en geskipbreuk te word op ’n tipe mental eiland weens die konstante golwe van mense. Dis ander mense, maar dis dieselfde mense. En al sien jy die stroom en voel jy die beloftes daarvan, is dit later ’n dans wat totaal buite mens se bereik is. Soos ’n kennis van my gesê het: as goed eers begin kak gaan in jou lewe is Stellenbosch die kakste plek om te wees. Ja, die Kaap kan ook ’n diep eensaamheid en absolute walging inhou (ek haat die fokken Kaap), maar mens verwag dit half sommer dadelik van die plek. Mens gaan amper soontoe óm dit te ervaar. Stellenbosch is anders – dit verraai mens en draai op jou wanneer jy dit die minste verwag. Dit ontbloot sy gruwels aan ’n mens deur jou eers te verlei.

Iets interessants om waar te neem omtrent bogenoemde is dat die dorp amper hierdie weird tweerigtingmodel volg tussen permanente en tydelike inwoners, waar die een die eienskappe van die ander aanneem en projekteer: die strome mense neem die karakter van ’n ewigheid aan dmv ’n tipe ewige wederkoms, en dié wat agterbly in die plek, voel of hulle op pad is iewers heen (asof in ’n stroom). Maar dit gaan nêrens heen nie.

Terselfdertyd is dit asof Stellenbosch ’n tipe “ideale” of “argetipiese” dorp is. Die dorp van alle dorpe. Die oorsaak van alle ander. Ek dink hier altyd dadelik aan Escher se voorstellings van geboue en dorpe wat iets verklap omtrent die waarheid van die menslike sosiale bewussyn en die patrone wat dit volg. Die hele ekonomiese en sielkundige lewensiklus van die haarlose space-aap. Dit is in hierdie lig dat ek Stellenbosch ervaar en bewandel: uit die mikrokosmos Stellenbosch kan daar sekere waarhede of herhalende patrone en mites en temas omtrent die mensdom self bespeur word. Afdrukke uit ons kollektiewe verlede en dinge wat hulle nog keer op keer sal herhaal. Argetipiese karakters en persoonlikhede. Stellenbosch is vir seker ’n bubble, maar dit is presies hoekom dit so ’n “kunstenaarshemel” is: in sy bubbleheid (of totaliteit) bied dit ’n glimpse na die onsêbare.

So ek sou sê die manier waarop mens dit in kuns en musiek gebruik, is om die verhoudings te probeer uitwys tussen die regte stand van sake en hul “onsigbare” oorsake en gevolge in hierdie metafisiese halo van patrone en spoke wat die plek uitstraal. Hierdie goed kan op verskillende maniere gekombineer en uitgebeeld word, en daar is regtig baie materiaal om mee te werk. Die hele Plaaspunk-album byvoorbeeld speel dan af in daardie “prototipe”-dorp en sy omliggende landskap. Dit gebruik die konkrete, harde werklikheid as vertrekpunt, maar filter dit deur dagdrome, deur die poëtiese, asook deur “bonatuurlike” elemente, om sodoende dieper waarhede omtrent die plek, omtrent die mensdom, en omtrent die realiteit te probeer ontbloot. Deur hierdie proses te herhaal en te herhaal, het die finale vorm van die werk duidelik geword: ’n quest of beweging of vertelling déúr die landskap, wat bestaan uit stories (songs) van die randfigure ván hierdie landskap. Die verteller is onbekend en sy “afstand” vanaf die stories verskuif gedurig. Soms praat hy óór iemand, soms ás iemand, en soms as homself. Die albumkuns vloei dan ook logies uit hierdie tog: die voorkant is ’n kombinasie en aanpassing van Boccioni se Musica Futurista-omslag en ’n landskap van Escher – letterlik die verteller én luisteraar se betreding van die Plaaspunk-landskap. En die agterkant is ’n aanpassing van Escher se Cube – die Boesman-punk in die tronksel – die gevolgtrekking van die verteller se reise (asook ’n verwysing na die liriek in “Dit is die Naam”: “en die waarheid is ’n sel in die dorp van nuwer lente”). Deur hierdie vertellings en gewaarwordinge gee die verteller dus vir ons ’n stuk “totale” verbeeldingsgereedskap of ’n “frame” waardeur die werklike dorp, asook die wyer menslike toestand, geherrangskik kan word: Stellenbosch as ’n “Middeleeuse”, “post-Bolandse” landskap aan die einde (of begin) van die menslike siklus.

Foto: Argief

Terug by die album: daar is ’n limited edition vinyl van Post-Boland-Pre-Peruvian-Plaaspunk vrygestel deur Permanent Records. Waarom die besluit om dit ook in plaatvorm beskikbaar te stel? Wat is jou gevoel, as iemand wat pas sy debuutalbum vrygestel het, oor die harde-kopie-versus-digitaal-debat? Wat dink jy boet ’n mens in met die een platform of die ander? Wat wen ’n mens? Moet ’n mens bemarking en toeganklikheid inreken by hierdie klas van besluite, of bloot gelei word die gees (watter gees dit ook al mag wees)?

Wel, as jy in ’n paar formats kan release, why not? Dit was vir my regtig baie cool om ’n fisiese “artefak”, of eindproduk, te hê. Wanneer dit by musiek kom, glo ek nogal in fisiese goed – of dit nou tapes of CD’s of vinyls of instrumente of wat ook al is. I mean ek’t grootgeword in die era van tapes en ek onthou hoe die hele musiekervaring baie meer fisies was. Net om die musiek in die eerste plek te kry was ’n fisiese mission. Dan het jy jou eie cover geteken vir die tape (en dan het die ding gekak, en die musiek was weg vir ewig). Dit was op ’n manier altyd beliggaam (of meer beliggaam as wat dit nou is): in “goeters”, in simbole, in kleredrag, in beswyming-inducing slam pits ens. Daai gevoel van as jy die original CD of plaat iewers sien. En om dan die kuns en lirieke en kak wat saam met ’n album kom, vir dae lank te bestudeer. Dit het gevoel soos ’n stuk geheime gereedskap – ’n magical box met insane kak – ’n hele ander wêreld – aan die binnekant.

So my vinyl-keuse was op hierdie ervarings gebaseer. Vinyl is meer van ’n “ding” as ’n CD, en album art kom byvoorbeeld nogal tot sy reg in hierdie format. Maar meer belangrik, ek het actually die geleentheid gehad óm dit te doen. Rouleaux en Mariët van Permanent het ook al die bemarking – en verkope – stuff gehanteer, en ek’s baie dankbaar daarvoor. As jy ’n onbekende pisscat soos ek is, is hulle tipe kontakbasis en verhoudings met mense pretty damn belangrik – I mean, daar was net 20 vinyls, maar sonder hulle sou ek nie een fokken plaat verkoop het nie. As jy natuurlik ’n kunstenaar is wat actually main-piel is, bly promotion steeds ’n deng, maar die goed verkoop makliker en jy kan dus way meer as 20 verkoop (no shit).

Maar ongeag jou main-tril-status, sou ek sê try altyd om albei te doen as jy kan: digital en fisies. Vinyl is wel minder toeganklik – maar: baie mense, omdat hulle hul eie CD’s kan burn vanaf digital, verkies vinyl as ’n fisiese medium (en die meeste mense wat vinyl sal koop, sal ook die digital download). Basies: doen net wat jy wil, en wat jou nie sal forseer om weer op aartappels te leef nie.

Foto: Verskaf

Ek sien jou lys musikale invloede sluit in Jacques Brel, The Germs, Bad Brains, David Kramer en Koos Kombuis. Met respek aan al die genoemdes: dit is kunstenaars wat nie juis onlangs hul buiging gemaak het nie. Dink jy daar is ’n soort stagnering of laterale vooruitgang in musiek (hoofstroom of kultus) die afgelope tyd, en veral wat Afrikaanse musiek betref? Of hoe beskou jy die toestand van die toneel en die bedryf? Hoe sal jy dit graag wil sien verander, en hoe sien jy jou plek daarin?

Dis ’n moeilike vraag. Ek dink dalk ek ervaar net ’n frontale agteruitgang … Ek bedoel ek weet nie of dit die musiek deesdae is, en of dit maar die gevolg van toenemende vervreemding met als is nie, maar niks kry my meer so opgewonde soos wat dit destyds het nie (dieselfde geld vir visuele kuns). Dit het die punt bereik waar ek letterlik baie min of ten minste ongelooflik selektief na musiek luister. Veral wat “rock” en bands betref (noem dit maar “performance’-musiek). Die laaste bands wat my regtig excite het, was bands soos OFF! en Ceremony, en oor die afgelope paar jaar was my fokus maar baie meer op suiwer elektroniese musiek: die minimal drum en bass goed van Critical Music, Dispatch Recordings, Cylon Recordings, Blue Mar Ten etc, of minimal techno soos Akkord en die Houndstooth Records goeters – hel, ek’t selfs heavy into van die progressive house goeters gekom. Die punt is daar word regtig amazing goed op elektroniese vlak geproduce.

Maar as ek na bands en so luister, is dit maar ou goeters. Dan kry ek darem so ’n bewekoppie. So dalk is ek net oud en deur die kak. Maar tog – dis asof iets “weg” is in die performance-musiek deesdae, en ek sukkel om my vinger hierop te lê. In my totale onkunde kry ek egter die volgende “gevoel” oor die stand van sake: dis asof die musiek “sielloos” is. Daar’s ’n hart en desperaatheid en dringendheid wat verlore is. En ek dink nie dit het net met digitale produksiemetodes te doen het nie. Dit verklaar nie vir my wat aangaan nie. En ja – voor iemand nou ’n lys bands en kunstenaars wil lys wat befok is – ek praat hier in báie veralgemenende trekke oor musiek – beide hoofstroom en supposed niehoofstroom. Dis asof die musikante en die luisteraars anders oor musiek dink en anders daarna luister: dis nie meer in totaliteite en “vibes” en beliggaminge en toekomsvisies nie. Dit gaan nie meer om die “gees” van die musiek nie – dat musiek iets is waarin daar geleef kan word en geleef móét word nie. Mense luister na ’n bassline daarso, ’n kitaareffek hierso, ’n chorus melodie op ’n ander plek, hoe goed hierdie deel of daardie deel geproduseer is, of hoe goed dié of daai aspek van die production klink op ’n “proper” system, ens ens. By baie gigs is daar meer ligte op die fokken gehoor as op die band. Almal is rockstars, maar “we are all one”.

Waarskynlik sal baie mense met my verskil op hierdie punte, asook met my gevolgtrekkings, maar dit lyk vir my of die ervaring en die skeppingsproses hoogs gefragmenteer en oppervlakkig geword het. Soos baie ander kultuurverskynsels deesdae, is dit asof musiek mense se aandag vir twee sekondes hou, en dan’s dit weer die volgende ding. Dit sny nie vir my so diep soos gewoonlik nie. Dit haal nie die gif en die gemors uit mens uit nie. Dis emosioneel onopreg. Dis soetsappig en oorsentimenteel, of so hiperironies en “cool” dat dit net nog kulturele white noise is: ’n leë assemblage memes wat ad infinitum in ’n tipe spelonk weergalm. Mense kan sê “Ja, wel, die mainstream musiekindustrie was nog alyd ’n klomp oppervlakkige bullshit”, en dis gedeeltelik waar, maar I dunno – dit wat ek probeer beskryf is iets anders – asof dit te doen het met ’n groter trend wat in die wêreld op ’n kulturele/kollektiewe bewussynsvlak aan die gang is.

Weer eens maak ek ’n veralgemening, maar hierdie trend speel – lyk dit my – hom op ’n unieke manier af in die jong “Afrikaner”-kultuur en in Afrikaanse musiek: die kulturele klem is steeds die mantra “sex, drugs & rock & roll”, maar in hulle harte is hulle op ’n manier steeds seuns en dogters van die volk. Maw sex, drugs en rock & roll, maar net oor hulle somehow die pad byster is, of “verlig” is deur neo-new age mumbo-jumbo: die with-it koshuis-hipsters en die sosiopatiese yuppie-boere-snobs, wat hul lot en verlies van ’n volkstaat en familie betreur deur middel van ’n tipe hedonistiese “wokeness” en selfbejammerende fatalisme, ’n tipe neoboeristiese-hipsterisme. ’n Weird tipe “beat” attitude teenoor die lewe gekombineer met ’n hiperseksuele, narsistiese en materialistiese ingesteldheid tot alles. Interaksie met ander en deelname aan die kunste word ’n sosiale toneelstuk waarin almal dink hulle die hoofrol speel. Die lewe word ’n uiterlike projeksie. ’n Spieëling van oppervlakke. Vapidness. Nihilisme. The Last Man. En dit is presies daardie amper ontstellende kulturele en persoonlike vapidness wat ek in baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek hoor. Ek sien dit terselfdertyd as ’n globale verskynsel, maar dit voel vir my asof veral Suid-Afrikaners (en nie net “Afrikaners” nie) slagoffers hiervan is.

So, gegee hierdie vibe, is wat ek sou wou sien meer kunstenaars met “hart”. Wat die moed sal hê om die kreatiewe wildernis in te gaan en ’n stand te vat teen hierdie ... whatever-dit-is – hierdie disconnected, vapid inisiasie in die dood in. Daar is definitief sulke mense, maar hulle is min, en hulle is verdeel in faksies, en hulle invloed is te klein. So behalwe aanhou onafhanklike musiek maak en release, dink ek nie daar is veel wat mens kan doen om die dominante tydsgees te verander nie.

Noudat die debuutalbum uit is: Wat lê voor vir Metode en Tegniek? Is daar planne vir ’n reeks optredes, of eerder tyd insit in nog songs skryf en opnames doen? Wat sou jy, in ’n perfekte, ideale wêreld, wou bereik met Metode en Tegniek in terme van ’n musikale “bucket list”?

Ek sou wil optredes doen, maar ek’s ook terselfdertyd heeltemal oor dit. Ek wens optredes was iets wat ek in my slaap kon doen, of dat ek ’n tipe doppelganger golem of iets kon stuur sodat die traumatiese gebeure nie vir ewig replay in my kop nie. Dan kan ek net na die tyd hoor hoe erg dit gesuck het. Anyway, ek dink nie my musiek is regtig iets waaroor mense juis in hul broeke sal cream nie, so shows is amper nie die moeite werd nie. Die meeste waarvoor ek kan hoop, is ’n paar klein intieme shows net vir vriende en so aan. Dis maar wat punk is: speel shows vir jou vriende en maak of dit “iets” is. Hopelik is daar dan een of ander vorm van emosionele connection – een of ander iets wat hulle daaruit kan vat vir hulself. In ’n ideale wêreld sal ek egter shows will speel saam met ’n groep ander outsiders wat ook gatvol is vir alles – soos ’n nuwe klein eksperimentele scene skep wat nié revolve rondom blues of cockrock of psychedelic nonsens, of suiwer ironie, of tonne cocaine nie ... ’n Tipe spirituele tuiste of skuiling. Iets waarmee ons kan lééf (mind you, ’n doosvinnige hardcore band sal ook nice wees). Maar ja, selfs in ’n ideale wêreld is al hierdie mense probably assholes, of hulle kry my stilletjies jammer of so.

Nevertheless, daar is ’n tweede album op pad. Self-titled. Meer punk en minder plaas. Korter, meer gestripte en soort van “direkte” songs. Meer soos straight-up acoustic hardcore met ’n kabaret/troebadoeragtige gees en melodiese en harmoniese elemente. So ja, nog meer inaccessible as die eerste album, maar hei, wie gee regtig om? Dis nie of ek ’n moerse luisteraarsbasis gaan vervreem of iets nie – en die alternatief (fokkol doen nie) is way meer terrifying – om net besig te wees om geld te probeer maak om my organisme aan die gang te hou. Dis ’n skrikwekkende en sinnelose manier van bestaan.

Wat is die sin van die lewe?

Die fok alleen weet. Ek dink nie mens is veronderstel om dit ooit uit te figure nie. Dis soos om die woord van god te hoor of iets – jy sal net ophou bestaan sodra jy uitvind. Nie dat ek dink daar is géén sin nie – ek bedoel, ek’s beslis nie ’n nihilis of iets soos dit nie. Ek glo nie dat niks inherente waarde het totdat jy dit sin gee of waarde gee of betekenis gee nie. Daai tipe shit is vir my absurd. Of ten minste dis ’n uiters negatiewe gevolgtrekking. Dalk is ek net te veel van ’n pissy vir so ’n tipe filosofie, maar dit gee veels te veel credit vir die mensdom. En vir taal. Taal skep nie realiteit nie – realiteit doen dit.

Ek scheme ’n groot deel van die probleme wat ons kollektief in die gesig staar, is juis hierdie totale oorheersing van idealistiese denke. En daarmee bedoel ek nie jeugdige “wishful thinking” nie. Ek bedoel die idee dat alles net sosiale of linguistiese “konstrukte” is, en dat realiteit en mense somehow (moet) buig na ons wil. Die morele relativisme en verskuilde solipsisme wat direk daaruit vloei – die reeds genoemde plaag van “verligte” hedoniste en narsistiese “kollektiviste” – is oral duidelik sigbaar. En ek dink werklik daar is geen meer “omdraaipunt” moontlik nie, so ek het absoluut geen hoop vir die mensdom of die planeet nie – ons gaan onsself en mekaar fisies, psigies en spiritueel vernietig. Ons gaan aanhou aanteel en maak of ons die punt van existence is todat alles op die mees grusame manier inmekaar sal begin sak, of totdat ons heersers sal besluit om ons uit te dun (dis hoekom ek gesê het die hele fokken ding is soos ’n inisiasie in die dood in). En dit is tragies, want dit hoef regtig nie so te wees nie.

So daarom dink ek dat die blote bestaan van sekere goed waarde in sigself het (in sigself soos in “buite ons” nie “in ’n vacuum” nie). Soos rasionaliteit, selfbesinning, respek vir lewe, respek vir eiendom (fisiek, liggaamlik, spiritueel), soewereiniteit van wese en wesens (van die mense, diere, plante en die heelal), die oorkoming van en beheer oor blinde emosie en die biologiese liggaam, eerlikheid, empatie en emosionele oopheid, minimalisering van lyding. Dis self nie baie rasioneel nie, want ek’t geen argument of “bewyse” nie (waar lê hierdie “objektiewe” waarhede/waardes, right?). Dis maar seker die naaste aan “geloof” wat ek sal kom: dat daar sekere idees en aksies is wat in sigself waardevol is. Wat “sacred” is. En dat dit op ’n manier mens se “plig” is, of morele verantwoordelikheid is, om jou liggaam en lewe te gebruik as draers vir hierdie idees en beginsels. Dit het waarde weens sy potensiaal, nie weens sy direkte gevolge nie. Bedoelend dit het ten minste die potensiaal om hierdie idees by ander te laat vlamvat – om vir hulle ook ’n tydelike uitkomkans te gee – ’n klein plekkie te gee om aan te “grip” sodat hulle kan stilstaan in die nimmereindigende stroom wat mens al na die graf toe trek. En as niemand meer hierdie goed beliggaam nie, dan is al wat oor is in die wêreld net geld en syfers en mense wie se “siele” koud gemaak is deur die aanbidding daarvan. Wel, OK, geld en blinde biologiese drange – die twee hou nou verband met mekaar.

En I guess dis hoekom ek sal aanhou doen wat ek doen, al weet ek dit maak geen verskil aan die toestand van die wêreld se lyding of aan mense se lafhartigheid, grootheidswaan, wreedheid en magsug nie. Dis heel moontlik dwaas, maar ek dink musiek kan vir party individue net daai fraksie van ’n kans gee: om, vir net ’n rukkie, iets meer te wees as mens. Of meer ván ’n mens.

  • 2

Kommentaar

  • Insiggewende onderhoud. ’n Ware progressiewe stem wat uitstaan bo alles en almal wat gemiddeld is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top