Menslike verganklikheid in Vos se Weerloos lewe

  • 0

Titel: Weerloos lewe
Skrywer:
Cas Vos
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN:
9781869195519

 

Klik hier om Weerloos lewe te koop by Kalahari.com.

Die digter-teoloog Cas Vos se sewende bundel, Weerloos lewe, het onlangs by Protea verskyn. Vos debuteer in 1999 met Vuurtong en het homself spoedig as ’n gerekende digter gevestig.

Die titel is ontleen aan ’n aanhaling van die Nederlandse digter, Lucebert: “Alles van waarde is weerloos.”  Die titel sluit aan by die deurlopende tema van die bundel, naamlik die verganklikheid van die mens.  Net soos Eugène Marais en Elisabeth Eybers na menslike weerloosheid in hul onderskeie gedigte “Skoppensboer” en Waarneming” verwys, slaag Vos daarin om die weerloosheid van die mens in die titel saam te vat. 

Met die eerste oogopslag mag die gedigte vir die meerderheid lesers uitdagend voorkom – dit is immers deur ’n teoloog-akademikus wat oor ’n wye verwysingsraamwerk van die Bybel, mitologie en filosofie beskik, geskryf.  Veral die gedigte in die afdeling “Heimwee”, wat oor die Griekse mitologie handel, vereis ’n meer indringender mate van insig van die leser.  Die meerderheid gedigte is egter vir die gemiddelde leser toeganklik en dra veral by tot die verwoording van die gewone man en vrou se daaglikse bestaan en die worstelinge wat daarmee gepaard gaan.  Gedigte oor die liefde, eensaamheid, verlies en die dood kom regdeur die bundel voor.  Die sikliese aard van die bundel dra by tot die tema van menslike verganklikheid.  In “uit chaos tril die aarde” gebruik die digter Genesis 1 as stramien vir sy inleidende gedig:

uit chaos tril die aarde
en die see rol in duister
polsend op die rotse uit

daarna maak God die aarde droë grond
blaas lewensasem oor haar
en hou haar verruklik weerloos in sy hand.

Die agt afdelings, wat begin met “Uit chaos”, word gevolglik afgesluit met die afdeling getiteld “Woordlig” wat dui op die begin (donkerte) van die mens se bestaan en uiteindelik lei tot die “Woordlig”-fase (wat die mens se afsterwe verteenwoordig) en sodoende die mens se “lewensiklus” voltooi. 

Vos se gedigte oor die weerloosheid van die mens is van die mees geslaagde verse in die bundel.  Die mens se verganklikheid en liggaamlike broosheid word op ’n besonderse wyse in talle gedigte, soos “Wat bly oor na al die jare”, “By my graf”, “Tussen lewe en dood” en “Doodsmagtiging”, deur Vos verwoord.  In “’n swerwer” beskryf die spreker die mens se broosheid soos volg:

die mens
sal gou versplinter –
skerwe porselein
minder as ’n gedagte
of ’n duif wat doodbloei.

Vos maak verder gebruik van parallelismes wat tekenend van die godsdienstige poësie is.  Soos met die poësie van Sheila Cussons en TT Cloete, beklee die godsdiens as tema ’n belangrike rol binne Vos se oeuvre.  In “My anima is my herder” maak Vos van Psalm 23 as interteks gebruik.  Hy het reeds in sy bundel Duskant die donker (2011) die bekende Psalm as interteks vir sy gedig “Die Here is my herder nie” gebruik.  Ander gedigte, soos “Lot se vrou” en “Volstruis” (oor die ondergang van Babel), sluit ook sterk by godsdienstige en Bybelse intertekste aan.

Minder geslaagd is enkele verse oor bekendes soos Marilyn Monroe en Arthur Rimbaud.  Talle digters, onder wie Cloete en Hambidge, het al lykgedigte oor Marilyn Monroe gepubliseer.  In Vos se “Marilyn Monroe” word oor Monroe se lewensverhaal op ’n voorspelbare wyse gedig.  Monroe het, net soos Ingrid Jonker, ’n kultusstatus binne die Afrikaanse poësie verwerf. Aangesien daar reeds ’n aantal gedigte oor haar lewe en persoon geskryf is, kon Vos egter nie daarin slaag om met ’n nuwe perspektief vorendag te kom nie.  “Arthur Rimbaud” is bloot ’n herskrywing van dieselfde gedig wat vroeër in Vos se bundel Gode van papier (2001) onder dieselfde titel verskyn het. ’n Hele aantal gedigte raak diep onderwerpe aan en in sekere gevalle, soos met “uit chaos tril die aarde”, kon Vos meer uitgebreid oor die onderwerp gedig het. Hy kon ook ’n alternatiewe gedig gekies het om die bundel mee af te sluit aangesien die gedig “God se taal” die bundel op ’n soetsappige en sentimentele wyse afsluit en sodoende nie reg aan die bundel as geheel laat geskied nie:

in die apokalips dryf ’n visioen
waar hemel en aarde versoen:
leeu en lam lê in vrede saam.

Ten spyte van ’n paar gedigte waaraan nog geweef kon word, is Weerloos lewe ’n geslaagde versameling gedigte deur ’n uiters vernuftige digter.  Die bundel is tegnies goed versorg en spog met ’n indrukwekkende omslag bestaande uit ’n foto van ’n enkeling wat hom binne ’n groot uitgestrekte ruimte bevind.  Die voorblad verleen hom tot die titel van die bundel en sinspeel op die weerloosheid van die mens. 

Met die stygende prys van boeke moet menige leser en bibliofiel in die huidige ekonomiese klimaat sterk besin of ’n boek aangekoop moet word of nie.  Vos se bundel is ’n uiters geslaagde bundel wat ongetwyfeld ’n plek op menige leser se boekrak verdien.  Weerloos lewe sal die leser opnuut oor die wondere en kompleksiteite van die menslike bestaan laat nadink.  Die mens is immers, soos Lucebert tereg opgemerk het, ’n waardevolle, maar tog ook weerlose entiteit.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top