Mense agter boeke: Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis

  • 2

Nicol Stassen (foto: Naomi Bruwer)

Jaco Botha in gesprek met Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis.

Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?

Dit was vir my ’n Damaskus-ervaring toe ek die eerste keer agterkom dat ek boeke self kan lees. Vir die volgende 12 jaar was die hoogtepunt van die week om na die dorpsbiblioteek of die skoolbiblioteek toe te gaan en die maksimum aantal boeke te kan uitneem en te verslind. Uit die aard van die saak het ek al die Afrikaanse jeugreekse van daardie tyd gelees, en alle boeke in elke reeks – Trompie, Saartjie, Keurboslaan, Maasdorp, die Uile, Jasper, en nog meer. Ek onthou ook spesifiek die Huppelkind en veral Liewe Heksie, sekerlik die hoogtepunte uit my prille jeug. En dan natuurlik Asterix (waarvan slegs enkele boeke in Afrikaans beskikbaar was en ek dus in Engels moes lees) en Kuifie.

Arnon Grunberg en Nicol Stassen tydens die bekendstelling van die Afrikaanse vertaling van Tirza in Pretoria.

Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?

Ek het aanvanklik ingenieurswese gestudeer (en klaargemaak). My helde op dié gebied was onder andere Newton, Gauss, Euler, Kelvin, Planck, Einstein en Schrödinger. Later het ek Afrikaans, Duits en Russies by Unisa gestudeer en is ek blootgestel aan die werke van Dostojewski, Poesjkin, Boelgakof, Sjologof, Tsjechof, Gogol, Pasternak, Tolstoi, Zamiatin en talle ander aan die Russiese kant en onder andere Goethe, Schiller, Heine, Dürrenmatt, Kant en ETA Hoffmann aan die Duitse kant. Daar is talle goeie aanhalings by Goethe, maar kom ons volstaan met Friedrich von Schiller: “Mit der Dummheit kämpfen Götter selbst vergebens” – “Teen die domheid stry selfs die gode tevergeefs.”

Uiteindelik het ek ook ’n kursus of twee in die metodologie en historiografie van geskiedenis gevolg. Onder dié uitstaande skrywers kan ek Charles van Onselen, Karel Schoeman, PJ van der Merwe, Geert Mak, Johan Huizinga, Fernand Braudel, Marc Bloch en Edward Gibbon uitsonder.

Met die bekendstelling van die Afrikaanse vertaling van Tom Lanoye se Gelukkige slawe in Pretoria (Tom Lanoye, Rentia Bartlett-Möhl, Nicol Stassen).

Vertel ons van jou loopbaan: Waar het dit begin? Wat was van die hoogtepunte?

Ek was vir ’n paar jaar as chemiese ingenieur werksaam, maar het mettertyd besef dat ek nie vir die res van my lewe chemiese ingenieur wil wees nie en dat ek graag my eie baas wil wees. Omdat ek eintlik ’n “beroepsleser” is en boeke onlosmaaklik deel van my lewenstyl is, was dit maklik om die besluit te neem om in die boekbedryf betrokke te raak. Ek het toe net mooi 24 jaar gelede ’n klein tweedehandseboekwinkeltjie begin. Sedertdien het dit gegroei tot so 14 boekwinkels wat spesialiseer in akademiese boeke en sommige van hulle ook in algemene en Afrikaanse boeke. Die uitgewery het omtrent 18 jaar gelede begin toe ons hier en daar begin het om boeke uit te gee. Tans is Protea Boekhuis een van die 15 grootste uitgewers van algemene Suid-Afrikaanse boeke in Suid-Afrika en een van die drie groot Afrikaanse uitgewers.

Hoogtepunte:

  • Die drie Hertzogpryse waarmee ons publikasies bekroon is.
  • Die talle wonderlike letterkundige boeke en kinderboeke wat ons vertaal en in Afrikaans publiseer.
  • Die publikasie van my eie boek, Die Dorslandtrek, 1874–1881.

Angela Lebedeva, Piet Grobler en Nicol Stassen klink ’n glasie vodka op Piet Grober en Philip de Vos se boek Prente by ’n uitstalling tydens die Bologna Boekebeurs 2016.

Vertel ons van Protea Boekehuis. Wat maak julle anders? Watter gaping vul julle in die mark?

As uitgewer moet jy maar self jou nis in die boekbedryf vind en nie probeer herhaal wat ’n ander uitgewer reeds uitstekend doen nie. Tans is die kompetisie tussen Afrikaanse uitgewers nogal groot, maar daar is tog enkele gebiede waarop Protea konsentreer:

  • Die publikasie van Afrikaanse poësie. (Toe ons begin het, is dit nogal redelik afgeskeep deur ander uitgewers. Deesdae is die kompetisie baie fel en kan jy nie op jou louere rus nie.)
  • Die publikasie van Afrikaanse dramas. (Hier is ons publikasies met drie Hertzogpryse bekroon.)
  • Die vertaling en publikasie van die beste kinderboeke ter wêreld in Afrikaans.
  • Die publikasie van belangrike niefiksie- en geskiedkundige werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Benewens bogenoemde is ons ’n alternatief vir skrywers wat dalk nie ander keuses sou gehad het by wie hulle kan uitgee nie. Dit beteken dat ander uitgewers eweneens nie op hulle louere kan rus nie. Die gevolg hiervan is dat die Afrikaanse uitgewersbedryf gedurende die laaste tien jaar skouspelagtig gegroei het.

Ena Jansen en Nicol Stassen vier die toekenning van die UJ-Prys vir haar boek Soos Familie in Amsterdam.

Wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat die Afrikaanse uitgewersbedryf vandag in die gesig staar? Is daar nuwe skrywers en strominge wat jou opgewonde maak?

Dis miskien heiligskennis, maar dit begin eenselwig raak en daar is min nuwe stemme in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Die uitsonderings is SJ Naudé, Willem Anker en Nicola Hanekom. Ongelukkig begin uitgewers baie selfgenoegsaam en selftevrede raak en hulle konsentreer op die publikasie van bestaande groot name eerder as die ontwikkeling van nuwe talent. Daarteenoor is daar veel meer in die Nederlandse en Vlaamse letterkunde wat my rasend opgewonde maak, onder andere Arnon Grunberg, Tom Lanoye, Stefan Hertmans, Peter Buwalda, Erwin Mortier, Ilja Leonardo Pfeijffer, Dimitri Verhulst, Saskia de Coster en AFTh van der Heijden.

Watse raad of wenke sou jy vir 'n voornemende skrywer gee? Waarna moet hy/sy in sy/haar manuskrip kyk?

Die heel belangrikste is om baie te lees, en dan selfs nóg meer te lees.

As ’n skrywer ’n manuskrip instuur, moet dit goedversorg wees. Geen uitgewer wil graag die skrywer se werk vir hom doen en spelfoute korrigeer nie. As jou manuskrip nie goed versorg is nie, kan ek jou amper waarborg dat ’n uitgewer nie gaan belangstel nie.

Nicol Stassen staan tussen Jean-Yves Ferri en Didier Conrad, die skeppers van die nuwe Asterix-boeke wat deur Protea Boekhuis in Afrikaans gepubliseer is.

Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?

Nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie:

  • The Fellowship of the Ring, The Two Towers, The Return of the King & The Hobbit (JRR Tolkien)
  • Misdaad en vergelding (Dostojewski)
  • Die meester en Margarita (Boelgakof) of En stil vloei die Don (Sjologof)
  • Oorlog en vrede en Anna Karenina (Tolstoi)
  • Faust (Goethe)
  • Die verandering (Kafka)
  • Die werke van Plato
  • Dramas van Sofokles, Euripides en Aeschylus
  • Bart Nel (Jan van Melle)
  • Versamelde gedigte (Van Wyk Louw).

Elkeen van hulle het op ’n ander manier my uitkyk op die lewe verander en my insig gegee wat ek voorheen nie gehad het nie.

Behalwe boeke, wat is jou ander passies? Gee ons asseblief 'n effens meer persoonlike blik op jou lewe.

My lewe wentel om boeke, maar ek is ook baie lief vir musiek en reis. Ek is veral lief vir klassieke musiek en luister amper daagliks daarna. Ek luister betreklik min Engelse musiek, maar luister dan weer baie eerder Portugese musiek (fado’s), Spaanse musiek (flamenko), Franse, Italiaanse, Duitse en Afrikaanse musiek. Ek doen ook voortdurend navorsing oor die Afrikaners in diaspora – op die oomblik veral die Dorslandtrekkers en die Angola-Boere, maar tussendeur ook die Boere in Argentinië en Oos-Afrika. Verder woon ek twee keer per jaar die boekebeurse van Bologna en Frankfurt by, en gebruik dan die geleentheid om navorsing in Europa te doen of om te reis – in die laaste paar jaar veral Portugal, Spanje, Italië, Namibië en Angola. Tuis wentel my lewe om my gesin – my vrou Chrissie-Jane, die tienjarige Anna, ’n hond en twee klein skilpadjies. Die drie groter kinders – Talita, Liesl en Nicol – is al uit die huis, maar ons kuier gereeld saam.

Watse boodskap het jy vir skrywers en lesers oor die algemeen?

Dit sal fantasties wees as elke Afrikaanse leser één boek per jaar koop. Ek sal dan waarskynlik in weelde kan aftree en voltyds navorsing kan doen.

  • Foto's verskaf
  • 2

Kommentaar

  • Amanda de Stadler

    Baie dankie vir al die kosbare kinderboeke wat Protea Boekhuis vir ons toeganklik maak deur dit in Afrikaans te vertaal. Ons is gelukkig om julle te hê!

    • Dr E Stan Miller

      Ai! Dit was nou absoluut heerlik en verkwikkend om Nicol Stassen van Protea Boekhuis se storie te lees!
      Mag hy so wonderlik voortdoen dwarsdeur 2017 en vir solank as wat hy vir onse mense en Afrikaans gespaar bly!
      Pas jouself GOED op en mooi loop!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top