Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met oud-uitgewer Danie Botha

  • 3

Danie Botha (foto: Denvor de Wee)

Skrywer en voormalige uitgewer, Danie Botha, vertel vir Jaco Botha van sy liefde vir boeke en sy loopbaan in die uitgewersbedryf.

Bevalling en weervoorspelling

Op Vrydag 28 Februarie 1947 berig Die Burger teen twee pennies dat die Wit Trein met die Britse koningsgesin deur Uitenhage gejáág het. Die polisie het dit aanbeveel nadat ’n konstabel met klippe in ’n oproerigheid gedood is. Koning George VI en die drie dames is daarna in oop motors vervoer na St Georgespark waar hulle op die verhoog plaasgeneem het. Die koninklikes  het “die eerste amptelike verwelkoming van die nie-blanke gemeenskap ontvang. Daar was duisende kleurlinge en duisende kleurlingskoolkinders byeen”.

En die weervoorspelling? Dit het gelui dat teen die namiddag verspreide donderwolke in die Noordelike Karoo sou opkom. Iemand het hom in die Hexriviervallei bevind bokant die nasionale pad in suster Groenewald se, van buite beskou, vreedsame kraaminrigting.  Dis nou ek, Daniel Stephanus Botha (Danie, Daan, Danny, Daantjie, Dana, weermagterm: Liefling). My ouma-hulle  aan my ma se kant het op Orchards gewoon en wou my ma bystaan.

My pa was in daardie jare voorman (nie toe plaasbestuurder genoem nie) by boere in die Breëriviervallei, maar ons het, toe ek so vier jaar oud was, teruggekom na die familieplaas onder die soms toornige Brandwachtberg ten noorde van Worcester. Pa, sy broer Jan en later my neef Thomas het om die deel geboer vir Oupa Danie. Oupa en Stiefouma Hanna het in die Groot Huis gewoon; Oom Jan-hulle in die ou huisie aan die onderkant van die hawerland. Die stalle aan die oostekant is in ’n vierkamerhuis vir Pa se gesin van vier, later vyf, omskep.

Ontdekking van boeke

In dié omgewing het ek dan boeke ontdek. In ons huis was daar Pa-hulle se Bybel, en Uit die beek waaruit Ma vir hulle twee soggens by kers- of lanternlig voorgelees het. Eers het Ma ook twee keer daagliks uit ds Willem Conradie se Afrikaanse Kinderbybel gelees – ’n kwartbladsy teks; en een kleurprent om na te kyk. Daarteenoor het ek al baie die lof besing van Herman B Scholtemeijer se Die Kind se Bybel met sy helder formulerings en omvangrykheid.  Ma het  toegewyd vir ons ook daaruit voorgelees en vir ons gebedjies geleer.

Vrydagmiddae was dit my en Sus Dria se werk om op te loop na onse tant Wiesie, pa se suster, om leesstof by haar en oom Kosie te kry: Die Huisgenoot, verlede naweek se Landstem en Byvoegsel.  Kinderlose Ta’ Wiesie het ons gemaan met die opdraandstappery: “Kyk voor julle voete vir slange.” Sy het ook vir ons radio laat luister in haar skemer voorhuis. Eenkeer het die radiotannie  uit die  kis met óns gepraat, ons op ons name genoem en toe vir ons ’n liedjie gespeel: “How much is that doggy in the window?”

Saterdae het Ma stories uit  die vorige Klein Burger voorgelees. In die laerskool het ons eers Vrydagmiddae Die Kleinspan met Rakkertjie Rob gekry en later Die Jongspan met TO Honiball se Jakkals en Wolf  by meneer Gouws. (In die jare sewentig het mnr Honiball al sy strokiesprente weer uitgegee, nou in ’n groot formaat. Ek as jeugboekredakteur het hom jou werklik gevra om sekere teksveranderings aan te bring. Ek bring die veranderings aan in potlood en hy herskryf, herteken.)   

Terwyl Ma kos gemaak het oor die rokerige Doverstoof het sy van die lekkerste Bybelse stories vertel: Josef, Ester, Rut, Dawid en Goliat. Ook wêreldse stories. Soos van Rooikappie en Repelsteeltjie. En van die voëls wat bietjie vergeet hoe hulle hul neste moes bou. Pa het nie juis baie goed gehad om te vertel nie. Wel van die skilpaaie wat met gaatjies in hul doppe ingespan is. Hy het darem sterk daarby gehou: Vir elke dier op land is daar ’n ondersese maat. Koei = seekoei; perd = seeperd, seeskilpad ... Neef Niel was so agt en ek seker vyf toe hy een laatmiddag voor ouma se hoë en ook langwerpige kombuiskaste vreeslik laggerig staan en vertel het van die drie varkies wat so ’n stryd gehad teen die blasende wolf.

Reeds voor ek skool toe is, het Ma my gediggies geleer opsê. Soos “Klein ondeug” (Jan F E Celliers), en “Blou Maandag” (Hilda Postma: “My mammie is laat, / en Pappie is kwaad”). Dikwels in ’n vakansie, as jy nog ’n bietjie vroegoggend wil wegdommel, kom maak Ma my en Broer Koos se slaapkamervenster wyer oop met die woorde: “Cast the window wider, sonny, / let me see the veldt, / rolling grandly to the sunset.” (Perceval Gibbon)

Maar langsaan  by Oupa-hulle was dit anders. Daar was ’n boekrak met drie rye  aan die voorhuismuur, reg langs ouma se grammofoon -  so ‘n regopstaande een met die voorraad plate in ’n kassie onderaan met deurtjies vir beskerming en om die klank te beheer. Ouma se twee kinders van haar eerste man, die Duitser, het verder skoolgegaan as my pa-hulle. Op hierdie rak en ook in ’n wastafel in die vrykamer was hulle voorgeskrewe boeke opgegaar. (Ek het Oom Herman en Tannie Joyce een oggend rêrig sien vry in dié kamer!) 

Op die rak in die voorhuis was daar tot ’n kinderboek met kleurillustrasies. Dit was die avonture van Tyl Uilspieël. So halfwas met Ouma se toestemming het ek dié  boeke te lese gekry hier teen standerd ses (graad agt) rond. Sommige boeke  het ’n tuiste by my gevind, waar ek ook al gegaan het. Sommiges is nou nog hier.

Radio

Teen standerd 5 (graad 7) het die radio en teater ’n al hoe groter rol in my lewe begin speel. Nog later die biblioteek en in 1972 die uitgewerswese. Dit het nie letterkunde verdryf nie; al die dissiplines het mekaar juis ondersteun.

Van die belangrikste invloede van die radio was verkiesingsuitslae, streeknuus, hoorspele, kinder- en jeugprogramme en die verskillende soorte vervolgverhale. Aanvanklik het ons gesin nie ’n eie radio gehad nie. Ek het baie saam met Oupa Botha geluister. Hy het maar sy dae met rondsit deurgebring, ’n bietjie tuinwerk of diereversorging verrig. Ouma het veral saans, nadat sy eers ’n bietjie huisgodsdiens gelei het, ook ingeskuif voor die roomkleurige transistorradio. Radioteater en Meesterradio het aangehou tot hier ná kwart oor nege, soms later. In die winter was die ander in ons huis almal al in die bed en moes ek pynlik koulik deur die slaapkamervenster klim.

Vir die kleinspan en veral Ons roep die jeug het nog verdere kultuur beteken. Ken Swart, broer van Audrey Blignault,  het byvoorbeeld Minnie Postma se Sotho-verhale gedramatiseer. Mari Schoeman, koorleidster in die Groote Kerk, het afsigtelike hekse uitsonderlik goed vertolk. Jare later stel Hennie Aucamp ’n keur uit dié verhale saam: As die maan oor die lug loop. Ek is die redakteur. Wanneer  Ta’  Minnie op Stellenbosch by familie kom kuier, bring sy haar weefapparaat  saam. Toe ek by haar opdaag, vra sy my hulp met die toestel wat wil staak. Vir my?! Ek wat weliswaar nog in die Middeleeue leef en nie motor bestuur nie ... Ek weef darem nie! Moet ek nou in ’n handige man ontaard? Ek herinner my dat ’n wonder gebeur het en dat sy later vir my ’n kleedjie in my gunstelingkleure geweef het: grys, ligblou, donkerblou. Eintlik ’n bedanking vir my versorging van haar bundel.

Pieter W Grobbelaar het ons jeugdiges nader aan die letterkunde gebring met ’n radiorubriek “By die boekrak”. Deel daarvan is ’n wedstrydvraag. Soos: wat was CJ  Langenhoven se skuilnaam? Ek wen die prys; ek kan uit twee boeke kies. In daardie tyd, in die begin van die jare sestig, begin ek om my eie uitsendings te behartig by Radio Opelug:  Vanuit ‘n buitekleinhuisie wat in onbruik  verval het, op die Groothuis se stoep onder die veranda, of saans as ek deur die hawerland loop om melk vir ons te gaan haal by Oom Jan-hulle; dan het ek optogte beskryf.

Binne die eersgenoemde “uitsaaistasie” boots ek vir Esmé Euvrard en Jan Cronjé na met die resepte wat so herhalend gelees word in “Só maak mens!”. Kerkdienste word geskep met godsdienstige plate speel en preke van ds Latsky uit Die Huisvrou voorlees.

En ek versorg die Afrikaanse letterkunde. Daar het ‘n sepiakleurige bylaag in die Naweekpos verslyn. Ek kon nog nie in my geliefde NALN in Bloemfontein vasstel wie dit saamgestel het nie. Ek vermoed dit was die geestesskepping van Berta Smit, toe ’n redaksielid daar. Per bladsy ’n foto van die skrywer, ’n bibliografie en enkele gedagtes oor sy of haar werk. By Radio Opelug het ek Tsjaikofski se “Suikerfee-valse” as kenwysie gespeel (omdat dit van die min ernstige musiek op plate was tussen die Gene Autries en Chris Blignauts in ons huis). Dan het ek, sê maar, iets oor GH Franz voorgelees. Ek het ook uittreksels uit Afrikaanse dramas opgevoer. Tussen twee damme het waterslote geloop. Naby die koeistalle het die water oor ’n rots gestort. Naby hierdie “waterval” sit ek en lees uit ‘n bloemlesing deur DF Malherbe.  Ek lees almal se rolle en maak “byklanke” met skeppe water. Dis eintlik ook agtergrondmusiek vir byvoorbeeld Malherbe se Koringboere.

Pryswenner

Nou is ek ’n pryswenner, maar ek weet nie watter boek om te kies nie. Ken nie boeke nie. Of nee, wag, so ’n maand vantevore het die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens vir Worcester die wonderlikheid van ’n biblioteek vir volwassenes en kinders gebring. Teen daardie tyd het die skoolbiblioteke ook ’n groter toegang tot  boeke beteken. Soos die hartseer storie van Sita  se Bennie-boet. Ons twee was albei kunsterig met ’n boer vir ’n pa, ’n man wat in die sweet van sy aanskyn ons kos kombuis toe gebring het en wat nie reggekom het met aansitterige seuns nie. Vir hom was sulke seuns “trassies”. My eie storie oor so iets staan in Die Soft Rock Klub (Tafelberg, 1995).

My tweede versoek vir die prys is Die Ark van Margot Benary, wat ek pas by die nuwe kinderbiblioteek uitgeneem het; Hanna Hoekstra het dit uit Duits vir JL van Schaik se Libri-reeks van klassieke jeugboeke vertaal. En my eerste keuse kom vermoedelik uit juffrou Berta se lys: N P van Wyk Louw se Lojale verset.  Pieter W Grobbelaar het sy gehoor gekén en Die Ark was die wenboek. Dit staan al jare lank naby die rak met my eie  publikasies. Voorin ’n strokie van die SAUK  wat getuig dat ek die prys gewen het.

Werk vir die biblioteek

Daar in 1962 het ek my op ’n oggend by die hoofbibliotekaris, mev Fergusson, aangemeld om Saterdae en vakansies by hulle te “help”. Ek “wou van geweet wees” soos P G du Plessis se Tiemie in Siener in die Suburbs. Het dit nie vir hulle gesê nie! Ek het tot in matriek baie ondervinding gekry van boeke, musiek, mense, smake. Dit was ook goeie voorbereiding op die werk in die naslaan en Afrikaanse boekekeuring van die biblioteekdiens in Kaapstad. Ek het elke jaar studieverlof geneem en  honneurs in Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch behaal.  By hoofkantoor gewerk ek daarna twee jaar voltyds. Skryf byvoorbeeld artikels oor Afrikaanse skrywers vir Kaapse Bibliotekaris tot ek in 1972 redakteur van fiksie by Tafelberg-uitgewers word.

Rubriekskrywer 

Teen 1963 het ek elke Donderdag toestemming by ons skoolhoof gekry om my handgeskrewe kinderrubriek af te neem na die Worcester Standard. Daarin het ek ook kinderboeke aangekondig en stories oorvertel. Toe skryf ek ’n wedstryd uit. Daar is nie ‘n enkele inskrywing nie. Die rubriek het nie weer verskyn nie. Intussen het tannie Willa de Vos van Die Kerkbode die een na die ander van my outobiografiese of geskiedkundige tekste in Die Kinderbode geplaas, met ’n duidelike sedeles ingeskryf indien ek dit nie verskaf het nie. Dr Frits Gaum het my in die jare neëntig tot 2002 laat saamwerk met die skrywers van die rubriek Stilhouplek in Kerkbode.

Terug na die radio

Terug na die radio. Toe ek so 16 was, het ek George H Weideman ontmoet deur Ons roep die jeug  se afdeling "Skrywers van die toekoms". Pieter W Grobbelaar het elke week ’n Weideman-gedig gunstig bespreek. Danie Botha stuur ’n gedig in. “Die brief” is op Croxley in ink geskryf. Dié wintermiddag so vyfuur se kant luister oupa weer saam. En Grobbelaar  bespreek “Die brief”. Oupa is ’n baie sterk hoeser. Toe hy bedaar, is “Die brief” se bespreking helaas verby.

Intussen het Monica Breed luisteraars uitgenooi om hoorspele in die SAUK-radiobulletin te bespreek. Ek het by meneer Du Toit, ons Afrikaansonderwyser, darem iets van drama geleer en nou het ek mejuffrou Breed gepeper met my mening oor ‘n uitsending en sy het die insendings gereeld gepubliseer.

Vir “Skrywers van die toekoms” stuur ek hoorspele en die organiseerder Morkel van Tonder aanvaar Drie uile en dit word in Kaapstad opgevoer. Kort, jong! Het dit ooit tien minute geduur? ’n Meisie hardloop die nag in om hulp vir haar sterwende vader te kry. Kort-kort hoor hy ’n uil en dit beteken telkens ’n gedramatiseerde herinnering aan iets vreesaanjaends. Jare later ontdek ek ’n afskrif in die Kaapse Akademie vir Dramakuns en sien dat Chris Fourie die sterwende vertolk het. Hy het in daardie tyd by die Akademie klas gegee en ook in professionele teater opgetree. Ons sou so van 1980 bevriend word en talle toneelopvoerings bywoon. Ook het ons deelgeneem aan Suzanne van Wyk se radioteaters en Springbokradio se sepies  by Driaan Engelbrecht. Van 1986 het ek eers as Christo Behrens en later onder my eie naam veral studente- en amateurteater geresenseer vir Die Burger.

In my later jare as lid van die beoordelaarskomitee vir die Fleur du Cap-toneelpryse was Chris ’n ideale metgesel vir nóg ’n opvoering. Daar was en is ook talle ander mense wat van my uitnodigings en kaartjies kry vir verskillende  soorte teatersoorte en, soos prof John Kannemeyer genooi het, “velerlei kulinêre voortreflikhede”. Ná my toneelopleiding by die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad het ons ‘n toneelvereniging vir die destydse huidige en oudstudente gestig, die Akademiespelers. Ek het vir hulle gespeel, ook vir ander amateurgroepe en enkele beroepgeselskappe.

  • Die onderhoud tussen Hennie Aucamp en Danie Botha hieronder het deel gevorm van 'n reeks skrywersonderhoude wat LitNet geskep het ter ondersteuning van die NALN-argief. Dit was geborg deur die Erfenisstigting. Kyk na nog 'n gesprek wat Danie Botha met Hennie Aucamp voer.

Drama

Ek het ook dramaturge se werk gekeur en geredigeer vir publikasie, gewoonlik ná suksesvolle opvoerings.

Waar is die aand toe ek in die Kloofstraatse bus sit en wag vir die huis toe gaan ná die openingsaand van Pieter Fourie se Faan se trein in die Hofmeyr? Moet ek, sal ek dit aanbeveel? Sal dit vir skoolvoorskrywing werk? Dis die gewone bemarkingsvraag.  Die antwoord op albei vrae is ja.

Tydens my skrywersbesoeke in Gauteng het ek en Barrie Hough, die veelbekroonde jeugboekskrywer, dikwels saam teater toe gegaan. Hy was immers ook ’n bekroonde teaterkritikus. So was daar  die oorrompelende  opvoering van Deon Opperman se Môre is ‘n lang dag. Daarna was daar gelukkig nog heelwat Deon Oppermans. Ek is hom dankbaar dat ek uit sy reaksies op my keuring en redigering sulke kragtige skryfteorie en -praktyk kon kry. As ek skryf dat so en so ’n karakter darem so weinig sê, herinner hy my daaraan hoeveel dra die speler met gesigspel en ander lyftaal oor. Ek was bevoorreg om sy Fleur du Cap-prys vir beste nuwe teks in 1999 namens hom by prof Rosalie van der Gucht in  in ontvangs te neem vir Stille nag.

Tydens die redigering het ek nogal ’n ongewone ervaring op die tweede verdieping van die Waalburg-gebou gehad. Op bladsy 21 lees ek: “Die swartes staan op soos koring op die land. Dit het tyd geword om te oes, om te wys wie’s baas van hierdie plaas. As Christus my kan help om dit te doen, dan staan ek nou hier op my kop en fluit ’n Kerslied deur my poephol!” En juis toe weerklink daar ’n protesoptog vanuit Waalstraat. Asof die teks byklanke kry.

Ek het talle ander  dramaturge se tekste hanteer in versamelde werke, bloemlesings, heruitgawes en dan ook nuwe werk: Louis Leipoldt , CJ Langenhoven, NP van Wyk Louw, DJ Opperman,  Uys Krige, H A Fagan, WA de Klerk, George Louw, PG du Plessis, Hennie Aucamp, Chris Barnard, Dick Findlay, Pieter Fourie, Esta Steyn, Charles J Fourie, Temple Hauptfleisch, Nico Luwes, LB Odendaal, en meer. Ek het by die radio en die Akademiespelers opgetree in sommige van dié dramaturge se werk.

Vir RSG en sy voorgangers het ek veral onderhoude gevoer met skrywers in die programme van Daniel Hugo en af en toe van Nic Swanepoel. In my eerste jaar op Stellenbosch in 1967 vertaal ek die eenbedryf Eldorado  deur Bernard Gilbert. Wena Naudé vertolk ‘n hoofrol. Oor haar skryf ek onder meer in Voetligte en applous! (Protea Boekhuis, 2005). Ek verwerk Langenhoven se “My spook-ontmoeting op die En-See-See” uit my bloemlesing Die beste spookstories van C J Langenhoven (Tafelberg, 1992) en Johan Rademan voer dit op ‘n ongewone manier op.

Vir Margot Luyt was ek al bevoorreg om “Vers en klank” op te stel en selfs aan te bied. Ook help ek ’n paar keer met die beoordeling van die radiodrama-kompetisie. En sy en haar kollegas voer my verwerkings van kortverhale uit Om ’n man te koop van Dalene Matthee op: “Die Woensdagmiddag van mevrou Retief”, “Jy ken nie vir Pa nie”, “Die harde klippe”, “Kranspoort se kragprobleem”, “’n Mens weet nooit” en  “Om ’n man te koop”. My outobiografiese  Die Helder Dae (Tafelberg, 2014) laat Ampie Muller my uitnooi om Afrikaanse boeke te bespreek in Fine Music Radio se maandelikse boekeprogram. Ek is ook beskore om saam met sy opvolger, Amanda Botha, besprekings by te dra tot “Boekkeuse”.

Hierdie foto is geneem rondom die verskyning van Die helder dae. Op die foto is Danie Botha, George Louw (redakteur) en Etienne Bloemhof (uitgewer). (Foto: Die Burger, 2014)

Werk as uitgewer

Terwyl ek nog heeltyds as senior redakteur by Tafelberg-uitgewers gewerk het, het ek ons of ander uitgewerye se boeke nie in die pers bespreek nie.  Ek wou nie hulle werk positief of negatief  benader nie. Ek het wel agtergrondartikels gepubliseer oor die ontstaansgeskiedenis van ‘n boek.  Ek het boekbekendstellings by feeste en in biblioteke en boekwinkels gelei.  Ek bespreek steeds boeke by leeskringe.

Nou het ek nog nie uitgekom by die stigting van Homeros, ‘n afdeling vir gayboeke nie. En die webruimte Gay@Litnet.  Het destyds dit as ‘n uitdaging beskou en gaandeweg ’n kwota teleurstelling en frustrasies ervaar. Dit verg heelwat navorsing en besinning.

Uitgewerswerk kan baie spanning meebring. Ek het sielkundige hulp nodig gekry in die jare tagtig. Ek tree reeds in 2000 uit en beleef daarna wonderlike ondersteuning van “die ou Firma” wat betref vryskutwerk. En toe breek 2011 aan. In Augustus ondergaan ek hartomleidings . En in November 2011 ontvang ek ’n oorkonde van die ATKV vir dié soort werk wat ek hier beskryf het.

  • 3

Kommentaar

  • Lekker om jou lewe te lees Danie. Ek onthou ook met 'n glimlag die dae van Homeros en Brandt Vermeer

  • So lekker gelees. Soos die meeste goeie geskrifte/onderhoude/dramas ens is dit te kort. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top