Mens

Mens
(Jaco Botha, 1972–2016)

Jy het grofstem soos ’n Joodse koning deklameer:
“Die lewe is nie ’n feëverhaal nie.”

’n Mens beplan en prakseer. Jy wen vriende. Jy maak lesers die hof.
’n Mens verkwis nie tyd nie.
’n Skrywer marsjeer in waar ander soos kanaries onder in die myne sterf.

Wat is verkwisting as dit nie hierdie vrees om elfuur in die aand is nie?
Wat is vrees as dit nie oor verlies gaan nie?
Wat is verlies as ’n mens nie rou nie?
Wat is rou indien jy nie tyd het nie?
Wat is tyd indien nie toegelaat deur alleenheid nie?
Wat is alleenheid anders as die straf vir samesyn?

Jou erns het ander s’n oortref,
jou lag was skerper as jou tong.
Wanneer jou oë vonkel,
het mense ag geslaan.
Jy was die harde slag in ’n stil straat,
die onrustigheid wanneer die sigarette op is,
’n dagbesoek aan ’n ander kontinent.

Wanneer jy jou jongste vriend inlyf,
Het jy die eksklusiwiteit hoog aangeslaan:
“Wyn behoort net aan sekere mense beskikbaar te wees.”
Jy kon jou in ’n tikkie duiwelsheid verkneukel:
“Ek het iets oor jou ma gehoor, van toe sy jonk was.”
Moeg gekuier, het jy verklaar jy het nie die liefde nie en nors gaan lê.

Ek wou nog:
jou lewensverhaal weer hoor
jou opgewekte vriende ontmoet
jou gesofistikeerde mentors peil
jou afwagtende dissipels bekyk.
Ek wou vir jou ’n ding of twee wys.
Soms wou ek jou guns wen.
Dit was nie doodsake nie.

Nou verklaar jy aan al dié wat na jou kom:
“Die hiernamaals is nie ’n feëverhaal nie.”
Jy raak hulle aan die skouer, sê bedaard soos ’n ou profeet:
“Ons was mos net mens.”

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top