In memoriam: Sybil Sands

  • 0

Sybil Sands (foto: Twitter)

My pa, die onderwyser/akteur Dawie Maritz, was op Sybil Sands se boeke. Toe ek my eerste treetjies in die bedryf begin gee het – as laerskoolkind, seker so 1971 - het ek die dierbare tannie ontmoet. Sy het my op haar boeke geneem, en my eerste professionele werk in film en TV is deur haar hanteer.

Haar kliënte was ‘n paar swaargewigte – mans en vroue. My pa, en as ek reg onthou André Rossouw, Cobus Rossouw, Louw Verwey, Nerina Ferreira - eintlik al die Kaapse akteurs, want sy was jare lank die eerste en enigste Kaapse akteursagent. Sommige van die ou hande was nie maklike kliënte nie. En Sybil se werk was om hulle, hul nukke en behoeftes, die werk en hul  loopbane te fasiliteer. Maar Sybil was dáár; geliefd, omstrede, die simpatieke oor, die streng baas. Immer onneerdrukbaar. Altyd gereed om terug te bons.

‘n Prentjie wat vreemd genoeg oor en oor in my kop bly afspeel, wat dalk nie eens bestaan nie, is Sybil en die reus, Ben Dekker, langs mekaar. Ben was in die TV-reeks Die Vlakte duskant Hebron. En ek was saam met my pa toe hulle die oudisies daarvoor bygewoon het. Ek onthou hoe koddig dit was – hy, self ‘n vyf voet nege, wat so sit en opkyk na die reus van ‘n man, daar waar hulle langs mekaar op ‘n sofa gesit het.

Maar ja, ek dink die unieke akteur, kunstenaar, politikus, avonturier, natuurmens, Ben sou op haar boeke wees.

En niemand word jonger nie. Op ‘n dag het sy haar agentskap gesluit. Haar mense is uitgeplaas na ander agente toe. Dis merkwaardig hoe Sybil tot op die laaste in aanraking gebly het met die industrie en sy mense.

Sy was sedertdien by openingsaande en funksies, en altyd positief. In ‘n kort gesprek sou sy bevestig – want ek het altyd gevra: "Yes, my deary, I am still attending the gymnasium. A person have to."

Aande soos die Fleur du Cap-funksies sou mens bybly om ‘n paar redes. Een van hulle is Sybil wat vir my ‘n ster van draad gee, geborduur met kraletjies, met die woorde: "You’re a star." En ek is nie die enigste een wat so vereer is nie. En nie net die een aand nie. Sybil was ook ‘n instelling by Maynardville-openingsaande. Daar het sy ook sterre uitgedeel. En sekerlik by talle ander geleenthede, aan talle “sterre”.

Toe ek ‘n televisiereeks begin maak waarin ons helde van die film en teater huldig, was een van my eerste stoppe Sybil. Tydens ure se gesprek het sy die lof besing van elkeen van die legendes op haar boeke. ‘n Groot deel van ons gesprek het gegaan oor haar swaer, die ewe legendariese akteur, Percy Sieff.  Sy was op hoogte van wie waar is en wat doen. 

Percy en Sybil het eerder soos grootbroer en kleiner sustertjie  gelyk. Die tipiese Joodse gelaatstrekke was ‘n uitstaande kenmerk. Percy het na Australië uitgewyk, en ook daar sukses behaal. Sybil se lof was ruim. By sy begrafnis was die room van SA se vermaakindustrie. En Sybil – ewig krommer en kleiner; steeds ‘n aktiewe gymmer.

Almal het ‘n sell-by datum. As daar een mens was wat dit sou kon verbysteek, was dit Sybil. En sy het.

Nou praat ons almal van haar in die verlede tyd. Sybil is dood. Maar haar nagedagtenis sal leef. Sybil is een van daai mense wat jou die hiernamaals kan laat verbeel. Wat mens laat dink sy is steeds daar; steeds betrokke; glimlaggend soos ‘n wyse ou uil aan die toekyk en toesig hou. Aan die aanmoedig en bemoedig. Aan die sterre uitdeel.  Lank leef Sybil, die maker van sterre. 

Meegevoel met die talle wie se lewens sy aangeraak het. Wie se lewens sy kon ophelder met ‘n ster tot die sterre – dié wat sy help maak het en dié wat sy waardeer het en dié vir wie sy geskyn het.

Die reënmaker (foto verskaf met erkenning aan KRUIK)

Vergelegen (foto verskaf met erkenning aan KRUIK)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top