In memoriam: Ryk was genadeloos eerlik

  • 1

Ryk Hattingh by die US Woordfees 2017.
Foto: Rebecca Pretorius

Ryk Hattingh was ’n anargis wat ’n genadeloos eerlike sin kon skryf.

Ons het van graad 2 af ’n vriendskap en ’n parallelle bestaan gehad. Nou met sy dood is dit moeilik om te besin oor ’n kreatiewe gees wat hom heeltyd op die randjie van malheid probeer vind het.

Dankie tog dat hy voor sy dood erkenning gekry het vir sy briljante Huilboek. Erkenning deur dieselfde Afrikaanse gemeenskap wat hom oor jare verwerp en gedemoniseer het. By die afgelope Woordfees op die verhoog in gesprek met Antjie Krog het ek hom gevra oor die ironie dat hy nou na al die jare erken word deur dieselfde mense wat hom voorheen verwerp het. Hy het met sy malse laggie geantwoord.

Al Ryk se boeke was dun. Die Tonnel in 1984 was 84 bladsye lank. Markus vermoed ’n verhaal in 1987 was nog dunner, met net 74 bladsye. Ignatius Brand in 1990 was 86 bladsye. Witskrif in 1997 was 111 bladsye. Ek weet nie hoe lank sy drama Sing jy van bomme is nie, maar ek weet hy het elke aand gaan kyk met die opvoering daarvan in die Windybrow in Hillbrow.

In daardie sin was hy die versinnebeelding van Elmore Leonard se diktaat: skryf wat jy wil sê en dan haal jy die stukke uit wat die leser in elk geval gaan oorslaan.

Ryk was obsessief en het ’n persoonlikheid gehad wat hom geleen het tot verslawing en selfvernietiging. Ter illustrasie: hy het die term selfdood lagwekkend gevind; selfmoord was vir hom erg aantreklik. Selfdood, het hy gesê, vermoed ’n sagte heengaan. Dis kak, het hy gesê. Om jou eie lewe te neem is ’n gewelddadige besluit. Jy besluit fok dit alles en fok al my naastes. In die reg is daar nie iets soos selfdood nie. Om dit te versag is oneerlik. Hy het self selfmoord telkemale oorweeg omdat hy gedink het die lewe is ’n fokop. Sy dood het waarskynlik ’n selfmoord vooruitgeloop. By die Woordfees – terwyl ons opgevang het – het hy my op sy indringende manier aangekyk en gevra: “Is jy gelukkig?”

“Ja. Meesal.”

“Jy is fokken ongelukkig om te dink jy is gelukkig. Ek is inherent ongelukkig.”

As jong vriende – na die gebeure in Huilboek – het ons in Benoni baie perd gery. Syne se naam was Lena en myne Boesman. Ons was van vroeg soggens in vakansies in die saal. Hy kon ’n kan koffie uitdrink. Ons het in die veld ’n vuurtjie gemaak en hy het altyd ’n steenkool in die kan gegooi om die moer te laat sak. Ons het gerook. Hy het gehou van ’n cigarillo wat in piesangskil gerol is. Die naam ontgaan my.

Na sy pa en sy broer dood is, het hy hom al meer van sy familie vervreem. Sy onttrekking was so radikaal dat hy met ons gesamentlike vakansie langs die Kromrivier geweier het om ’n huis met sy stiefpa te deel. Ons het in ’n tent gebly, obsessief na “Wild thing” geluister en knorhane gevang. Sy ma was erg ontsteld. Vir sy blinde stiefsuster het hy bloot gesê dat sy as ’n “mol” nie kan sien wat aangaan nie.

Sy ma het hom vir sy hoërskoolopleiding Groblersdal toe gestuur en ek is Suidwes toe. Ons het kontak behou en toe weer op universiteit persoonlike bande gesluit. Hy was toe ’n volslae anargis en het met sy baard en army jas ’n bekende figuur op kampus geword. Toe hy en Celia ’n erge tragedie beleef, het hulle eenvoudig opgepak en na Knysna vertrek, waar hulle ’n hippiebestaan op ’n kleinhoewe met hoenders en aaptwak gevoer het. Dis ook daar waar hy byna verdrink het. Dit vind in Huilboek ’n belangrike plek en soos hy aan my gesê het, “My lewe is heeltyd ’n stryd teen verdrinking.”

In daardie opsig het hy ’n voortdurende stryd teen verslawing gevoer. Eers was dit drank, maar later het hy erken hy sal enige ding snuif wat oor sy pad kom. Ook het hy deur ’n stadium gegaan waar hy seksueel enige uitdaging aanvaar het.

Later toe hy by Vrye Weekblad gewerk het, was ek by Beeld. Dikwels het ons laataand by die Yard of Ale by die Markteater ontmoet. Hy kon dringend drink. Byna met ’n doel. En die doel was om dronk te word. Daarna kon hy weer vir lang tye skoon wees. Toe Vrye Weekblad gevou het, wou hy met Belgiese befondsing ’n nuwe weerstandkoerant stig. Ons het lank daaraan beplan. Op die ou einde was die einde van die droom omdat hy daarop aangedring het om die redakteur te wees en die span wat ons beplan het, het nie gedink het hy is die aangewese persoon nie.

Daarna het hy die uitgewery Hond begin saam met Breyten Breytenbach. Dit was bestem om ’n kreatiewe botsing te word en na ’n paar publikasies was dit ook so.

Toe hy besluit het om na Nieu-Seeland te emigreer, het hy die middag by ons huis in Kensington in Johannesburg opgedaag met die nuus. Sy vrou was die vorige aand in ’n mislukte motorkaping betrokke. Ons is na hulle huis daar naby op Langermankoppie waar ons lang geheues uitgepak het.

En toe, in die middel van baie alkohol en harde woorde, het hy op my vraag oor wat hy in die land van die lang wit wolk en nie veel anders behalwe die All Blacks nie, gaan doen, gesê: “Ek het uitgewerk hoeveel mense daar in Nieu-Seeland is. Ek het die getal gevat en met twee gemaal en toe uitgewerk hoeveel skoene hulle nodig het. Ek gaan skoene maak.”

Hy het dit net so presies aangepak as wat hy ’n sin aangepak het en bekend geword as ’n uitsonderlike vakman.

Hulle sal hom miskien onthou as iemand wat ’n besonderse skoen kon maak. Ek sal hom onthou as ’n gefolterde individu wat ’n genadeloos eerlike sin kon skryf.

Lees ook:

Ryk Hattingh: “Hy was iemand wat die lewe gevréét het.”

Zirk van den Berg
In memoriam

"Ryk het gesê hy probeer die onmoontlike met Huilboek: hy probeer vir Outa Toon, wat dood is, lewend maak. Ek wens ek kon so iets regkry. Ek wens ek kon vir Ryk terugsit in sy huis, terug in die lewe waarin hy hom so verlustig het."

 
In memoriam: Ryk Hattingh (26 Julie 1957 – 10 Oktober 2017)

LitNet
In memoriam

"Skrywer en vertaler Zirk van den Berg het NB-Uitgewers vanuit Nieu-Seeland ingelig oor Hattingh se afsterwe vanoggend, 10 Oktober 2017. Hy is oorlede aan ’n hartaanval. Hy laat sy vrou en drie kinders agter."

  • 1

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    'n Goeie vignette, rou én eerlik en met 'n ingehoue weemoed. Ryk Hattingh het vir seker baie fasette gehad - soos van 'n opreg eerlike en reguit maar komplekse mens verwag kon word. Dis egter nie saam met my wat Hond begin is nie. (Ek betreur dit - alhoewel dit nooit eers as 'n opsie genoem is nie.) Ek vermoed u het Tienie du Plessis in gedagte gehad. Ek het wel baie jare later, hier teen die einde, 'n bundeltjie verse by Hond gepubliseer. Dit was wonderlik mooi en helder uitgegee, skoon en sonder komplikasies. Ons sou almal véél kon leer by Ryk en Tienie se vakmanskap, kennis, belangstellings, onbaatsugtigheid, styl en doodgewone medemenslikheid. Dit was goed om Ryk te kon ken en meemaak, al was dit ook slegs 'n bietjie en skrams.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top