In memoriam: Johan Malherbe

Johan Botha en Johan Malherbe (langs die bed) in 'n toneel uit die toneelstuk Faan se trein.

Hoe sleg is hierdie nuus nie. Ek moes weer en weer lees. Johnny wat nooit ophou gym nie. Johnny die superster van Kaapse verhoë in die 70’s. Johnny van Nerina Ferreira, Johnny van funny tantrums, Johnny die cowboy, die modeman, die internasionale model, die dominee in Pieter Fourie se Faan se Trein in 2005/6. Johnny se heengaan is ’n reuse verlies. ’n Reuse hartseer. Johnny is gans te yl gehuldig.

Die ou wêreld het mos bietjie verander. In die ou dae is ’n lywige huldeblyk oor so iemand geskryf. So iemand se afsterwe sou op SAUK-nuus prioriteit geniet het. Ek onthou die ou wêreld as eenvoudiger.

’n Paar gesigte doem altyd in my geestesoog op as ek dink aan my kleintyd en die mense wat ek op die verhoog sien speel het – in dae dae van NET radio, die odd film, en verhoog. En ek kan hulle opnoem – maar die lys is lank. Om net ’n paar te noem: Johan Malherbe en Pieter Joubert en Nerina Ferreira en Fitz Morley en Cobus Rossouw en Pieter Geldenhuys en Babs Laker en Paul Malherbe en Fanie Bekker en die lys gaan aan.

Johan Malherbe en Pieter Joubert was gereeld teenwigte vir mekaar se karakters, en sjarmante, interessante akteurs wat vermáák het. Die stukke het gewissel tussen erns en komedie. van Arme Moordenaar tot Hond se gedagte tot Chekhov.

Ek het met ’n hele paar van die mense gedurende daardie jare kennis gemaak – meestal by die radio. Paul en Nerina en Babs en ander name, soos Louw Verwey, Pietro Nolte en Albertus Bosman was gereelde en sterk radiospelers. Enkele name wil-wil my ontgaan. Maar dan spring hulle terug: Irmela Pakendorff wat die sexy stemmetjie in Die Heuningnes was. Die Rousseau-dame wat haar, soos Elsabé, gereeld oor my ontferm het. Ek onthou nie dat ek Johan Malherbe juis daar raakgeloop het nie.

Maar as ek nou daaraan terugdink, was hy dalk te flambojant vir ’n radioateljee. Johan, een van twee broers van Robertson se wêreld. Met serpe en leerbaadjies en styfspanbroeke, prominente belde, Paul selfs met handskoene. Maar ek dink dis omdat hy hande had soos Chris Barnard, die hartpionier. En die ongeskrewe reël – vergelyk nie die twee broers nie. Daar was kompetisie. Hulle sou dit self doen – veral Johan.

Johan sou met sy vermenging van effense plat plaasuitspraak, met ’n titsel kamp daarby, ’n paar redes kon vind om sy talent bo Paul s’n te verhef. Ironies genoeg – dalk omdat die algemene opinie andersom was – omdat Paul, die ouer broer, eerder as die meer klassieke akteur beskou is.

Ek noem bogenoemde, nie omdat dit ’n politieke bloedbad was nie. Nee wat. Juis dít was vir my oor baie jare deel van die unieke, tekstuurryke, mildelike uitdeel van talent, kwelling, lief en leed van ’n hele generasie. En Johnny was deel van die middelpunt daarvan. Johnny was ook deel van die oorgang met die koms van televisie in Suid-Afrika. Dalk was dit vir die beeldskone jong man ’n tragiese oorgang; dalk net-net te laat vir sy skoonheid.

Die verhoog het in daardie tyd vir ’n periode sy glans verloor. Later – met die nuwe, goor politiek na 1990, het alles in SA ’n verdere knou gekry. En baie akteurs het nie meer werk gehad nie. Johan kon darem aanhou werk. Nie gereeld nie, maar darem. En daar was ’n luukse Clifton woonstel en nog eiendomme – selfs in Johannesburg.

In 2005 stel ek Johan aan in die rol van die dominee in Faan se Trein. Die stuk speel vir twee jaar. Reeds gedurende die eerste jaar neem ek ’n klompie risiko’s. Ons gaan speel onder andere in Pretoria by die Staatsteater. In Pretoria voel Johnny verontreg om ’n rede wat niemand tot vandag weet nie – iets te doen met die twee dames (ek dink Hannetjie Smit en Sophia Passerini) wat oorkant hom woon. Maar niemand is juis ontsteld nie, want dis deel van die pakket. Johnny gaan eet saam en repeteer saam, maar van sosialiseer is daar min sprake. Francois Potgieter – ’n emosionele steunpilaar vir almal op toer – ken Johnny al van vorige produksies af. In die kombi op pad na die Staatsteater trek hy Johnny se siel uit. Hy hou ’n kontrepsie naby Johnny se gehoorstuk, en dan is daar kringfluit. Dan stel Johnny aan sy gehoorstukkie. Dan sê Francois: “Wie hoor ’n papegaai?” Dan lag almal, maar nie Johnny nie. Want hy het gewéét.

So drie dae later ry ons teater toe. Skielik verbreek Johnny die stilte. Met ’n “Haai, kyk! Daar stap ’n wit vrou”, som hy die politieke ervaring wat ons van Pretoria gehad het, op.

Dis ook aan die einde van hierdie speelvak –die laaste aand – toe hy en Johan Botha die curtain call amper mis. Die teater het soos die week vorder en die word of mouth versprei, voller en voller geword. Die laaste aand is dit gepak. Alles verloop klopdisselboom. Met curtain call is dit eers Paul Eilers wat buig, dan sluit die twee outoppies by hom aan, naamlik Johan en Johan Botha. Maar vanaand gebeur dit nie. Ek hoor net die twee pare voeteval soos hulle uit die kleedkamer aangehardloop kom, met groot glimlagge hier by my verbystoom, en met moeilike asems laaste op die verhoog verskyn.

Met ’n trippie tussen Potchefstroom en Kimberley wil Eilers tussen die meisies ry. Ek en Paul maak dus die voorhoede uit in die voorste voertuig. En ek en ons tegniese assistent, wat later gaan opera studeer het, trek daar los in lied! Die pad was kort, want daai kombi is deur die hele FAK, die Freddy Mercury oeuvre, en gewilde operas en operette. Toe ons anderkant uitklim sê Johnny: “Dit was sommer lekker heelpad cabaret.” Altyd die Engelse touch deur sommige woorde net so uit die Engels te gebruik.

Op ’n trip per bus tussen Johannesburg en Bloemfontein sit ek langs Johan. Daai lang pad raak net so kort. Ons raak aan sy fynste hartsdetail.

’n Paar jaar vantevore het ek met hom – gedurende opnames van ’n TV program wat ek maak – oor sy loopbaan en lewe gesels (ek het steeds die ure se materiaal, ongebruik). Ook oor hom en sy broer, Paul. Oor die dae toe hy die Kaapse verhoë verruil het vir die modewêreld in Europa. Johan was ’n baie, baie mooi jong man. Hy het vertel van die partytjies by sy huis, hulle Clifton sonsoek, stranddae.

Tydens die nuwe dae laat gaan KRUIK hulle akteurs. Akteurs word die wêreld ingestuur met ’n klein pensioentjie. Johnny is in stukke vir Marthinus Basson. Cabaret is een. Hy word op kontrak aangestel by TRUK. Ek loop die senior man raak in Johannesburg. Ek sien hom een aand by ’n partytjie staan, asof verlore. Ek ken hom sleg; gaan praat met hom, noem hom Johan en vra of hy okay is. Hy reageer met dankbaarheid en sjarme.

Maar hy kòn so verlore lyk. Ek dink daar was ’n onvervuldheid in hom. Wat hom by ’n partytjie voor die huis alleen op die sypaadjie laat beland het. Dit het so gewerk. Ek word vyftig. Ek besluit om onder meer mense te nooi wat deel was van die boublokfases van my lewe. Een so ’n gas is Johan van Jaarsveld. Tydens my radiodae as laerskoolkind moes ek saam met my pa SAUK toe ry. Hy was gereeld laat. Ek onthou ’n Johan van Jaarsveld wat vir my pa sê: “Dawie, f*&$# tog!” En vir my agter hom: “As jy ’n lisensie gehad het, was ek vir jou ook kwaad. ” Ook op my 50ste is my kunsjuffrou van skool, beste vriende – die wat nog lewe – en ook Francois, die steunpilaar van Faan se Trein. Ek berei onder andere ’n perlemoenpotjie tuis. Dit reën. Dis ’n rush. Almal is al by die restaurant as ek, twee potjies en nog ander ingewikkeldhede opdaag. Almal wens my geluk, sommer met die intrap-en-swaar-dra-slag. So sweet-sweet en steun en kreun ek verby die groepie wat uit Francois, Koos Marais, die geniale kunstenaar wat die stel van Faan se Trein geskep het en Johnny bestaan. Francois en Koos sê “Geluk”. Nie Johnny nie. “Johnny, Albert verjaar. Wens hom geluk!” sê Koos geïrriteerd. “Fok hom, hy gee nie vir my werk nie”, seg Johnny met die Robertson cum camp affektasie.

Ek dink nie Johnny het na Faan se Trein juis weer gewerk nie. Dalk was hy juis nóú reg vir radio. Vir genadebrood vir die siel. Dis ’n hartseer ding van ons landjie. My pa het baie gepraat van “fuck you Jack, I am all right”. Dis ’n mentaliteit by sommige mense hier. Ongelukkig het ’n paar van hulle invloed. En te min sin vir humor. En dalk het dit hand aan hand gegaan met karma. Maar Johnny sou nog kon werk, soos baie mense wie se name ek nou kan noem; mense wat in Faan se Trein en Faan se Stasie nog kwiksilwer werk gedoen het. En nie weer nie.

Een aand by ’n tienertoneelfunksie by die Hoërskool Jan van Riebeeck sit Johnny by ’n tafel agter my. Hy was ’n gas van die Therons, wat hom jaar in en jaar uit as vriend betrek het, en sy lewe help ophelder het. En om watter rede ook al kan ek nie onthou nie, bied Johan vir my dié opinie aan: Faan se trein was die lekkerste ervaring van sy lewe. Die lekkerste twee jaar van sy lang loopbaan.

Daarna: niks.

Omdat ons by so ’n verskeidenheid van lokale gespeel het met Faan se Trein, en later met Faan se Trein én Faan se Stasie, het ek ’n gebruik geskep. By elke lokaal sou ek die spelers en my tegniese personeel bymekaarbring met die personeel van die lokaal/teater/wat ook al. Dan sou ek elkeen ’n kans gee om homself bekend te stel. “Hallo, I am Ephraim. I am the technical boss. I have been here for 15 years.” Dit was gereeld die mees ervare persoon by ’n lokaal. Die ander sou een, twee of dalk vyf jaar ervaring hê. Dan kom Johnny een of ander tyd aan die woord: “Ek is Johan Malherbe. Ek was eers by KRUIK, daarna by elke ander streeksraad, toe by TRUK, en nou vryskut ek. Ek is al 50 jaar ’n akteur.”

Dis vir hulle – hierdie pioniers – wat ek na ’n misplaaste KKNK resensie opgekom het toe ek voor twee gehore geprotesteer het teen die media se lukrake manier van omgaan met die mense in dié bedryf. Toe ek daar staan en praat – tydens pouse, van die mense agter die gordyne wie se loopbane dit is, wat ’n besondere spesie is, wat nie bang is om hulle hande vuil te kry in die nuwe, moeilike dae van teater nie – was die gesigte wat in my geestesoog my genoop het: Johnny, Paul en Johan. Johnny eerste.

Ek weet nie wie Johnny se lewenspartners was nie. Maar hy en Nerina was op ’n stadium verloof, het hy vertel. Dit vertel hy my op die bus na Bloem. Ja, hulle het soveel jare saamgewerk, en was beide so eksplisiet in hul unieke leefstyle en roem; geen wonder. Hy het vertel hoe Nerina, as hulle met ’n toerstuk die dag terugkeer na Kaapstad, reeds agter in die kombi haar grimering begin aansit het. Dan was sy reg vir aksie. Sy was ’n klubdier, en legendaries baie gesog onder die mans van ander nasionaliteite wat Kaapstad per skip besoek het. Die verlowing het nie gehou nie.

Johnny se geld blykbaar aan die einde ook nie. Hy was toendertyd bekend vir suinigheid. Op toer met Faan het ons seker altyd almal saam gaan eet. Dan moes jy weet – as Johnny in die groep is wat vroeg waai en hul geldjie vir die rekening agterlaat – jy betaal vandag in.

Ek loop Johnny in Johannesburg raak by die huis van die ewe nimlike Christine Basson. Ek het daarvan gehou om die dag so lank as moontlik te strek as ek ’n lekker tyd het. Dié aand was ek en my meisie by ’n openingsaand. Loop Christine raak. Sy nooi ons na haar huis in Mayfair. Ons drink alles onder die son, en filosofeer en vertel stories. So tweeuur die oggend verdwyn Johnny. “Waars hy?” vra ek vir Christine. “Nee, hy slaap daar en daar”. Ek's gang-af en ja – daar’s die bedjie. Johan sit op die rand. Onverbiddelik neem ek die nuutgevonde vriendskap verder deur hom terug te nooi sitkamer toe. Sy tweede escape was so 40 minute later. Toe ek by sy bedjie kom, was hy al horisontaal. Toe hy my sien, swaai hy gehoorsaam sy voetjies van die bed af en kom saam. Met die derde verdwyn het Christine en Kimmie my aangemoedig om hom maar te los. Ek het.

Uit al die kuier vra Johan daai jaar of hy saam Kaap toe kan ry Desember. Ja, graag, seg ek. Dit was die gebruik dat die saamryspan die petroluitgawes deel. Toe het ek al gehoor van Johan se suinige siekte. So, toe ek hom gaan oplaai by sy loft penthouse in Hillbrow – ja, mens kon eens daar woon, in rykdom nogal, ry ons met my Pulsartjie garage toe. Ek laat hom die eerste tenk ingooi. En moedswillig gee ek die kar ’n paar stampe. Skud hom. Dan sak die petrol en hy vat meer liters. Die frons op Johan se voorkop, en die effense prewel van “wat, huh, hônou”, was die begin van my lag en ons louter vreugde, stoppe vir koffie uit ’n fles en piekniekgoedjies langs die pad, die uitsig oor die Kaap van bo in Du Toitskloof, en ’n onverwagse pad saam verder die toekoms in.

Ek wou hom nooit Johnny noem nie. Uit respek. Maar nou ja – nou is ek amper so oud. En kan ek net sê: Johnny, die uitsig wat jy nou het, is beter. Jy’s one-up op ons. En jy het gedink jy is one-up op jou broer! Nou kan julle dit self uitklaar.

Sterkte aan sy naastes. Dankie vir Charl Theron en Barbara, Johan Oosthuizen en Marianna wat hul altyd oor hom ontferm het en die doodsberig geplaas het.

Kommentaar

  • Albert Maritz. Hoe verskriklik mooi kan jy met woorde toor. Jou liefde vir teater en veral sy mense in onvergelykbaar. So mooi ek huil sommer. Viva Johnny en al die oues - die wat met ons is of nie meer nie ...

  • Johan Esterhuizen

    Dankie Albert! Een - gepaste - straaltjie by: ''August, August, August'', 1970, my eerste stuk met die KRUIK elite... Percy Sieff, Gretha Fox, Pieter Joubert en natuurlik die nimlike Johnny Malherbe. Die Nar wat tot sy einde kom deur homself op te trek met 'n tou wat van die verhoog af tot bó in die Hofmeyer Teater dak gespan is en soos hy uit die gehoor se siglyn verdwyn dié skitterwoorde kwytraak: ''Inderdaad, 'n dawerende sukses!'' Dit was jy, Johnny - wel te ruste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top