Meme en die Waarheid herbesoek

  • 5

Soos gewoonlik gaan die kruks van die saak oor sogenaamde ‘meme’ by Angus verby.

Die skrywers van spiral dynamics, waarna ek in my artikel verwys, gebruik sogenaamde meme as die basis vir hulle bespreking en koppel dit aan mites wat deur meme ontstaan.

Eintlik is die definisie wat ek daar weergee, in lyn met hulle gebruik daarvan en is ook heeltemal te versoen met die definisies wat Angus voorsien.

Die kruks van die saak is dít – die term ‘meem’ is geskep deur (vermoedelik) Dawkins  om iets te probeer beskryf wat hy nie weet waar dit vandaan kom, nie. Wat weet hy immers as agnostikus van die dinamika en werking van spiritualiteit? Deur te erken dat hy ’n agnostikus is, nogal die ateïstiese weergawe daarvan, erken hy noodwendig dat hy nie net ongevoelig is oor sake Gods, nie, maar ook wesenlik onkundig.

Die paar Dawkinsse van hierdie ou wêreld sit nou met dié dilemma wat hulle onderskei van die biljoene, normale, gelowiges om hulle heen – hoe nou gemaak met hierdie eienaardige, rare onvermoë wat veroorsaak dat hy sy eie spiritualiteit nie kan herken, erken en ontgin, nie? Skep ’n mite daaromheen. Dus, ’n ‘meem’ is vir daardie agnostikus die selfgeskepte prop vir sy eie onkunde oor sake Gods. Daar sê Angus dit by noodwendige implikasie ook self – Dawkins het die term geskep om sy eie onkunde en insigloosheid omtrent die oorsprong en werking van spiritualiteit (waarvan die agnostikus niks wil weet nie) by die mens te probeer verklaar.

Dit moet seker báie moeilik wees om uit selferkende onkunde en insigloosheid (die selferkende titel van agnostisiteit) ’n verklaring te bied vir ’n fenomeen (spiritualiteit) wat hy voor sy oë sien manifesteer, maar self dood en onkundig is daarvoor. Nou is dit mos logies dat hy vanuit sy eie verwysingsraamwerk daaromtrent – dié van volslae insiglose onkunde – ’n verklaring gaan fabriseer om  die knaende vrae daaromtrent in sy eie gemoed mee te probeer stil – en siedaar, die ‘meem’ neem gestalte aan. ’n Mite gebou uit onkunde en insigloosheid wat die werklikheid rondom hom te probeer verklaar. Só dien die meem dan as prop vir ’n bottel vol onkunde, ’n deksel vir ’n emmer onkunde. Só word die sigbare, die manifestasie – die gevolg van menslike spiritualiteit, dus - geneem en misbruik daardeur tot oorsaak te probeer verhef.

Daar is baie maniere om ’n meem as mite, as onsin, uit te wys. Ons kan verhandelinge daaroor skrywe. Kom ons raak net hier en daar ’n aspek aan.

Dit sal nie help om Angus weer te maan om my artikel te lees nie, want hy begryp nie wat ek skrywe nie. As ’n meem werklikheid was, sou geen kind of kleuter enige teken van spiritualiteit toon, nie. Ek noem juis die geval van die spiritualiteit van kleuters en kinders wat dit nie kón bekom anders as inherente spiritualiteit, nie, weens die feit dat hulle nog nie lank genoeg blootgestel is aan die sosiale en kulturele strukture om dit op dáárdie manier ‘aan te leer’ of te ‘ontvang’ – soos wat die ‘meem’ noodwendig suggereer - nie en dit weerlê die poging om te verklaar dat die fenomeen van spiritualiteit (as kamstige meem) by wyse van oordag van kulturele gebruike, idees, ens., ‘geskep’ en oorgedra, word.

Dan is die volgende aspek wat die kwessie van die bestaan van ’n meem verongeluk, juis die fenomeen waarvan die meeste agnostici self, voorbeelde is – agnostisiteit. As spiritualiteit werklik ’n meem sou wees, dan sou hulle algar gelowiges wees, want hulle sou noodwendig die kultuur volg waarbinne hul hulle blootstelling as sodanig gekry, het. Maar weens hulle gebrek aan ontwikkelde inherente spiritualiteit, het hulle direkte en langdurige blootstelling aan die ‘kultuur’ van religie, geen vrug afgewerp nie. Kyk maar na Angus, Thomas (’n pastoriekind), Chris, Redelinghuys, Gericke, ens. Algar kom vanuit ’n vaste en gevestigde kultuur van gelowiges. Maar tóg had dié blootstelling en kulture nie uitwerking op hulle nie - hulle is agnostici – dus, geen ‘meem’, nie.

Daar is ook die ander kant van die saak. As meme werklikheid sou wees, sou daar in ’n kultuur van agnostisisme, soos in die destydse Sowjetunie en in Rooi-Sjina, tot baie onlangs, ’n vaste kultuur van agnostisiteit en gebrek aan religiositeit, geen gelowige wees, nie. Tog het massas gelowiges ten spyte van daardie kulture, aan hulle inherente oorspronklike spiritualiteit wat vir baie jare latent was, gevolg gegee toe die geleentheid hom voordoen. Ook geen teken van die bestaan van ‘’n sogenaamde ‘meem’ nie.

Daar is dieselfde te siene met kinders van geharde agnostici, selfs van ateïste – meeste van dié kinders word mettertyd diep gelowiges, ten spyte van die ouerhuis kultuur. Geen meem dáár, nie.

Dan is daar ook die onomstootlike werklike ervaring oor baie eeue heen van talle der talle ware gelowiges wie ’n vaste en sinvolle persoonlike verhouding met die lewende God en SY Woord, het, wat met géén mite, hipotese, teorie of sinisme weerlê ken word, nie en wie hulle kulture en Godsdiens rondom hul Spiritualiteit en persoonlike verbintenis met God  vestig en beslis nie andersom, soos ’n meem noodwendig sou suggereer, nie.

Dit is dus juis die feit dat spiritualiteit op sigself nóóit kan ontstaan as gevolg van kulturele blootstelling of gebruike of idees, nie, want dit is inherent tot die mens deur God só geskape, maar kultuur kan slegs deur gebruike en idees ’n invloed hê van hóé die mens sy spiritualiteit sal beoefen – ons sien dit met die Katolieke, Jode, Indiërs, ens. elke met sy spesifieke en besonderse  religieuse gebruike. Hierdie fenomeen inherent aan die mens is ook al by wyse van onafhanklike, objektiewe studie van die Oxfordse universiteit aangetoon – ironies genoeg, dieselfde universiteit as waar Dawkins sy snert vandaan verkwansel.

Maar dit is juis die feit dat suiwer Spiritualiteit inherent tot die mens is, wat dan later veroorsaak dat mense vanuit hulle religieuse kulture wegbeweeg na suiwer Godsdiens wat ’n persoonlike verhouding met God, sal verseker – dit sien ons daagliks gebeur.

As Dawkins reg was met sy meem, sou daar nie soiets soos agnostici gewees het wat uit kulture van gelowiges gekom het, nie. Maar die blote bestaan van sulke agnostici vanuit ’n kultuur van gelowiges (meeste kom juis uit kulture waar religie die norm is), is juis die bewys daarvan dat daar nie  soiets soos ’n meem bestaan, wat die ontstaan van spiritualiteit kan verklaar, nie.

Mense soos Dawkins kan dus nie onderskei tussen spiritualiteit as oorsaak en die kulture waarin dit vryelik manifesteer op verskeie maniere, nie, bloot omdat hy (en ander soos hy) self dood is vir sy eie (en ander soos hy, vir hulle) spiritualiteit. Dus, al wat hy deur observasie kan agterkom weens sy spirituele ongevoeligheid en doodsheid, is die manifestasie van die beoefening daarvan in die verskeie kulture, bloot omdat dit fisies sigbaar en tasbaar is. Dan neem hy oploop weens sy eie gebrek aan kennis en insig omtrent die spirituele oorsaak daarvan en skep vir hom ’n prop om die bottel vol onkunde omtrent die oorsprong en werking van sake Gods en sake Spiritueel, toe te stop – die meem.

Die sogenoemde meem is ’n mite, wat die agnostikus juis skep en aanwend om sy onkunde rakende sake Spiritualiteit mee te onderdruk.

Dawkins se ‘meem’ is dus niks meer as ’n agnostiese mite nie (hulle is erg oor mites en fabels – vra maar vir Angus) en sommige agnostici volg hom soos ape in ’n trop, sonder dat hulle self in staat is om te evalueer wat daardie mens hulle probeer wysmaak weens sy eie onkunde  – maar dit sien ons gewoonlik met dié dat hulle klakkeloos ander aanhaal sonder om te (kan?) evalueer wat werklik aangaan.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 5

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Kobus, jy maak oor en oor dieselfde fout, en dit begin regtig vervelig raak om dit oor en oor aan jou uit te wys. Met of sonder die idee van die meem, met of sonder ’n natuurlike neiging om te glo aan die spirituele/gode het jou taak om te wys dat daar enige waarheid in die realiteit van sulke weses maar net begin. Selfs al sou jy die bestaan van geeste kon bewys, sou jy dan nog steeds moet wys dat hulle behoort aan die wêreld van die Bybel en nie die van die duisende ander waaraan mense die afgelope honderd duisend jaar geglo het nie.

    Wat het jy bereik met hierdie twak-bydrae hierbo? Ons laat weet dat jy nie hou van Richard Dawkins en sy idee van die meem nie. Deur emosioneel gelaaide taal het jy gepoog om jou patetiese bydrae te laat klink soos ’n argument, terwyl jy het nog nie eers jou skoene aan getrek om die eerste stappie te neem om jou troetel-godjie te bewys nie. Jy kan definitief hierdie bydrae las by jou lys van strontruikers.

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    As my skrywes jou sou verveel, is jy natuurlik welkom om hulle te ignoreer – maar ons sien mos dat dit nie die geval is, nie. Jy is voor met al jou kommentaar en beledigings oor my skrywes en dit is baie duidelik dat jy hulle ook aandagtig deurlees, hoewel al te dikwels nie begryp, nie. Hou op om mense te probeer bluf – dit is erg genoeg dat jy so hard werk om jouself te bluf weens daardie selfdesepsie sindroom.

    Nou is jy weer by die ou kwessie van dat ek God moet bewys, terwyl dit net so min nodig is om God se bestaan en werking te bewys as jou bestaan en werking. Daar is die karige paar agnostici op hierdie aardbodem wat eenvoudig net blind is vir wat die biljoene gelowiges wel kan sien. Hoe bewys mens as siende persoon vir ’n blinde wat jy as siende, wel sien? Jy doen nie. Jy vertel hom daarvan en as hy jou nie glo nie, is dit sy verlies – soos ons wel deeglik met julle sien.

    Ek het nie die verwagting dat julle sal verstaan wat ek skrywe nie – dit is teen julle disposisie as spiritueel blindes. Maar ek weet dat die talle ander mense met geringe inspanning maklik sal verstaan wat ek skrywe en dit is die belang daarvan.

    Die probleem is dat julle nie in staat is om onderskeid te kan tref tussen God en Godsdiens, nie. Ek sien jou  gekarring as kommentaar by Angus se artikel en besef net weereens dat julle wragtig nooit die pyp sal kan rook, nie – tensy julle bekeer en tot insig kan kom. God ne die spirituele wesens (geeste, soos jy na hulle verwys) bestaan onafhanklik van enige mensgemaakte religie omtrent hulle. Hoe kan mens dit meer eenvoudig aan julle stel?

    Religie is bloot die mens se poging in metodiek  om hom tot God te wend en ander weer, om met die spirituele wesens om te gaan (okkulte). Daar bestaan geen religie (behalwe julle s’n) wat die bestaan van die Godheid en spirituele wesens ontken, nie.

    Dus, God en die geesteswêreld bestaan ongeag die mens se benadering en hantering van hulle religieuse praktyke. dat daar talle verskillende praktyke is wat almal poog om op hule eie manier tot God te nader, is natuurlik so, maar dit het geen effek hoegenaamd op die bestaan van God en die geesteswêreld, nie. Partye van die religieë is God tot aanstoot, ander word deur God verbied, en ander weer, is God welgevallig.

    Maar hoe julle nie kan insien dat God nie ’n skepsel van religie en religieuse kulture is nie, gaan verstom ’n mens want dit is so eenvoudig om te begryp.

    So is julle meem om die religie begrip gebou en mis julle die hele punt. Uiteraard sal jy ook nie die logika van my skrywe hierbo, insien, nie.

    Maar nou ja as julle instaat was om iets daarvan te begryp, sou julle nie agnostici wees, nie.

    Wat het ek bereik? Wat ek hierbo weergee, stel julle meem-kruk in die perspektief waarin dit hoort – ’n klug.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Ek sien jy gebruik die meervoud in "Party van die religieë is God tot aanstoot, ander word deur God verbied, en ander weer, is God welgevallig".

    Vertel ons watter ander religieë, behalwe jou eie fundamentele weergawe, is aanvaarbaar vir God? Sou jy/hy byvoorbeeld Jehovah Getuies wat nie die Seun as gelyk aan die Vader beskou, die Heilige Gees ontken en so ook die hel as plek van ewige straf beskou as aanvaarbaar? As dit onaanvaarbaar is, sou dit beteken dat jy dink Duitswester gaan brand vir sy lasterlike geloof? Ek sal ook wil weet van ander gelowe buite die Christelike tradisie.

    Jy is reg, ek sien nie die logika in enige iets wat jy kwyt raak. Ons weet almal dat ’n ronde wiel baie beter werk as een met drie hoeke.

  • Kobus de Klerk

    Baie gelowiges en twyfelendes gaan gebuk onder tydelike wanpersepsies en verkeerde indrukke omtrent God, as gevolg van afwykende kulturele invloede ens. en God is geduldig dat dit uitgesorteer sal word (2 Petrus 3:8-9). Die probleem is maar net dat sommige hulle nog soms deur hulle eie doktrines as insigte laat lei instede van deur die Gees van God – ’n fout (Spreuke 3:5-8; Jeremia 33:3). Dit is die probleem met die Jehovas. Sulke dinge is God wel tot aanstoot tot dit uit die weg geruim, is.

    Jy is ook verkeerd as jy sê hulle ontken die Heilige Gees (tipiese wanvoorstelling) – hoewel hulle nie die Heilige Gees as die Persoon van die Drie-eenheid (hulle sukkel met die begrip) sien, nie, beskou hulle wel die Heilige Gees as God se aktiewe krag en mag.

    Kortom, hulle probeer die Drie-eenheid wegredeneer met hulle eie denkpatrone en daar kom die probleem is vir hulle.

    Nêrens in die Woord of die Leer van die HERE, is daar iets wat vir my aandui dat mense hel toe sal gaan bloot op grond van hul persepsie van die hel as sulks, nie. Volhardende onopregte mense (lou gelowiges) en mense wat volhard in hul ongehoorsaamheid teenoor God sal, as hulle tot bekering kom nie,  wel uiteindelik in die hel beland (Spreuke 13:6; Prediker 12:13-14; Esegiël 18:19-32; Mattheus 10:28)

    Okkultiese en valse religieë word deur God verbied. Hieronder sal ook religieë val wat die HERE Jesus Christus  misken as eniggebore Seun/Woord van God (Johannes 14:6-7). Dus, Christelike 'tradisie' het nie veel daarmee uit te waai, nie, maar wel geloof in die Drie-enige God soos God Homself openbaar. in die Woord.

    Terloops, die HERE Jesus Christus is inderdaad gelyk aan die Vader, en hoewel HY nie die Vader is nie, maar die Woord van die Vader, is HY is net so deel van die Drie-enige God soos die Vader Self. HY is immers die Woord van die Vader (Johannes 8:19; 12:49 g.m. Jesaja 55:10-11 en Johannes 16:28).

    Ek is ook nie bewus van enige leerstelling van die HERE waar HY leer dat enige mens tot die hel verdoem word voor die Oordeelsdag, nie. Waar kom jy daaraan? Daar is dus selfs vir jou nog hoop.

    Net vir jou inligting – jy het dit blykbaar nie geweet nie, lyk dit my. ’n Driehoek is nie ’n wiel nie en ook andersom, nie. Net jy sal van die een die ander probeer maak. Verstaan jy wat ek sê?

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    "’n Driehoek is nie ’n wiel nie en ook andersom nie". Dis presies die punt wat ek maak: Logika is nie Kdk-praat en ook nie andersom nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top