Meerkat Maantuig: ’n Onderhoud met Hanneke Schutte

  • 0

Hanneke Schutte gesels met Naomi Meyer oor die film Meerkat Maantuig, wat aandag getrek het by die Silwerskermfees van 2017 en nog net 'n kort rukkie lank in Suid-Afrikaanse filmteaters speel.

Hanneke, jy het die draaiboek geskryf en was ook regisseur van die film Meerkat Maantuig. Die film is losweg gebaseer op Riana Scheepers se jeugboek Blinde sambok, wat in 2003 verskyn het. Waarom nou 'n film daarvan maak, en wat was jou inspirasie?

Ek het die boek Blinde Sambok omtrent ses jaar gelede gelees en ek was mal daaroor. Dis 'n donker storie en ek het dadelik aanklink gevind by die temas asook die hoofkarakter Gideonette. Ek het kontak gemaak met Riana en sy't ingestem dat ek die boek kon omskep in 'n filmteks. Ek het eers probeer om meer getrou te bly aan die boek, maar ek het gou besef dat die storie groter en meer “cinematic” moes wees. 

Wil jy dalk iets van die storie vertel, of iets van jou hoofkarakters?

Gideonette is 'n vreesbevange jong meisie wat glo dat daar 'n vloek op haar en haar pa se name rus. Sy's 'n donker, kreatiewe en komplekse karakter en sy lewe in haar eie verbeeldingswêreld. Haar ouma en oupa, wat sy voorheen glad nie geken het nie, is baie dieselfde as sy, maar hulle gebruik hul kreatiwiteit en verbeelding in positiewe en opbouende manier, 'n les was sy by hulle gaan moet leer. 

Die storie is al beskryf as 'n donker feëverhaal en bevat beslis magiese elemente. Vertel my iets van die ruimte waar die verhaal afspeel: dalk as storieplek, maar ook as werklike land, naamlik Suid-Afrika, met sy komplekse verhoudings.

Ek wou van die begin af 'n mitiese storiewêreld skep — ek het vir die produksie ontwerper gesê dat ons nie moet weet waar ons is nie en ook presies wanneer die storie afspeel nie — dis 'n tydlose plek. Ek wou die gevoel skep van 'n sprokie wat  "lank, lank gelede, in 'n plek ver weg" afspeel. Maar tog was dit belangrik om die plek en karakters geloofwaardig te maak en details in te bring wat ons help om met hulle te identifiseer — "verisimilitude" soos die Engelsman sal sê. En ja, dis 'n plek in Suid-Afrika, en dit speel af in verlede, so ons kan nie wegkom van ons geskiedenis en die impak daarvan op die karakters en hul verhoudings nie. Magoebakloof was ook die perfekte plek om hierdie magiese atmosfeer te skep. 

Wie is jou teikengehoor en dink jy dat 'n hele gesin die film saam sal kan kyk?

Dis 'n tawwe een, want dis hoofsaklik 'n vroue teikenmark wat oorvloei na tieners, maar dis 'n diep fliek en verseker nie ligte kindervermaak nie. Ek dink dit was een van ons grootste uitdagings sover, kykers dink dis lekker ligte ontvlugting en dan word hulle bietjie onkant betrap. 

'n Foto geneem tydens die verfilming (foto-erkenning: Dehan Janse van Rensburg)

Daar word nie soveel Afrikaanse films vir jonger mense gemaak nie, stem jy saam? Wat is jou kriteria as dit kom by die maak van 'n film, en die maak van 'n film vir jonger mense? Raakpunte, verskille?

Soos ek gesê het dis nie 'n suiwer kinderteikenmark nie, maar dis vir my belangrik om nie kinders te onderskat nie. Sprokies was nog altyd donker en skans nie weg van moeilike onderwerpe soos die dood nie. Dis ook vir my belangrik om komplekse kinderkarakters te skep: Gideonette is bang en braaf, soms is sy besorgd oor iemand, soms is sy lelik en afgunstig — sy's 'n driedimensionele karakter waarmee tieners kan identifiseer — soms oorvereenvoudig en stereotipeer ons kararkters as heeltmal goed as hulle die protagonis is, of heeltemal sleg as hulle die antagonis is, en die lewe is nie so eenvoudig nie. Ons het almal goed en sleg in ons en Gideonette se reis forseer haar om haar slegte eienskappe in die oë te kyk — iets wat ons almal daagliks moet doen as ons wil groei as mens. 

Hierdie film het al aandag getrek by die 2017 kykNET Silwerskermfees en in die buiteland. Daar word oor en oor verwys na die skoonheid en estetika van die film. Hoe het jy dit gevisualiseer terwyl jy dit geskryf het en lyk dit vir jou eenders en anders?

Ek werk nou al soveel jare lank aan die projek en het mettertyd 'n Pinterest board geskep waar ek foto's versamel het wat die visuele uitbeelding asook die atmosfeer van die fliek vasvang. Ek het amper 'n duisend foto's gehad wat ek met die cinematograaf en produksieontwerper gedeel het. Ek wou 'n donker sprokie skep en dit was vir my belangrik dat die estitika die storie moet ondersteun. As Gideonette in haar donker verbeeldingswêreld inkruip reflekteer dit ook in die kamerawerk, die beligting en die produksieontwerp. So al die estetiese elemente beeld haar gemoedstoestand en karakterontwikkeling uit — dit help om die storie te vertel op 'n visuele en nieverbale vlak. 

Waarom maak jy films en waarom hierdie film? 

Ek maak flieks met temas wat my help om die lewe beter te verstaan. Ek hou van stories wat my uitdaag om my terkortkominge, vrese en menslikheid van nader te bekyk. En daar's nie noodwendig 'n antwoord of 'n oplossing nie, maar dit bied 'n nuwe perspektief. Hierdie fliek handel oor 'n meisie wat haar vrese in die oë moet kyk en ek kon baie daarmee identifeseer. Ek's 'n skaam en skugter mens en ek wil dikwels net wegkruip in my gemaksone waar alles veilig en maklik is, maar dis ongelukkig nie die plek waar ons groei nie. Met elke draaiboek wat ek skryf of fliek wat ek maak moet ek myself blootstel en broos wees, dis baie moeilik en my selfbeskermings instink is om eerder weg te kruip en sjuutjies te lewe sodat niemand my kan kritiseer nie. So ek veg daagliks daarteen en ten spyte daarvan hou ek maar aan met skryf. 

'n Foto geneem tydens die verfilming (foto: Dehan Janse van Rensburg)

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste aspekte van die aanmekaarsit van hierdie film?

Die lekkerste en moeilikste aspekte was snaaks genoeg dieselfde ding. Dit was ongelooflik moeilik om vir vier weke lank in 'n woud te skiet waar dit elke dag gereën het en ons die fliek kniediep in die modder moes maak. Maar dit was ook by verre die lekkerste deel van die proses. Magoebaskloof is sprokiesmooi en dit was so 'n voorreg om elke dag diep in die woud te kon werk met honderde voëltjies wat ons toesing en aanpor. 

Waar kan mense nog Meerkat Maantuig sien (of is dit al beskikbaar op DVD)?

Die fliek is nog hier en daar in filmteaters te sien en sal oor so drie tot vier maande op DVD en DStv beskikbaar wees. 

Enige raad aan voornemende filmmakers in die Afrikaans filmbedryf?

Hou moed! Ha! Ek weet dit klink soos 'n leuse wat eerder jy op 'n skoolwapen moet wees. Flieks maak is 'n lang en uitgerekte proses en jy moet baie geduld hê. Ons almal wil vinnig iets skryf en 'n tjoef-tjaf 'n fliek maak, maar dit vat jare. Dit het my vyf jaar gevat om my eerste fliek te maak en ses jaar om Meerkat Maantuig te maak — dit leer jou om "Zen-like patience" te kweek. Dit skei ook vinnig die koring van die kaf, want as jy in die bedryf is om vinnig ryk of beroemd te word gaan jy 'n harde les lees. 

Silwerskermfees 2017: Die wonderwerk van ons onvertelde stories

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top