Matt Carstens: "Ek glo nie regtig in genres nie"

  • 0

Matt Carstens is nog bloedjonk, maar sy eerste versameling liedere het talle musiekliefhebbers gaande. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die hede, die toekoms, inspirasies, en die lewe.

Goeiedag, Matt. Hoe's dinge?

Hei – goed, dankie.

MattC2grootweb
Foto: Louise Pieterse

Man, die vyf snitte van jou wat tans aanlyn luisterbaar is, lyk of dit wyd gespeel en geluister word. Benewens dit is die songs heerlik en getuig van soveel energie en oorspronklikheid – baie geluk met die besonderse debuutwerk. Volgens jou biografie skryf jy al liedjies sedert jy 12 jaar oud is ... Dit moes dus nogal moeilik wees om te besluit watter liedjies ingesluit word op jou eerste EP? Of hoe het jy te werk gegaan om die EP te beplan? Is daar vir jou ’n goue draad wat deur die snitte loop? Wat wil jy hê moet mense wat die EP van begin tot einde deurluister daaruit wen?

Baie dankie vir die gawe woorde. Ek is bly jy hou van die liedjies. Ek skryf baie gereeld – soms elke dag. Ek skryf liedjies omdat dit vir my terapeuties is. Mens kan sê dit is ’n selfsugtige proses, want ek skryf vir myself en ter wille van myself.

My liedjies weerspieël waar ek is op die stadium wat ek die liedjie skryf. Die liedjies wat ek besluit om op te neem moet aan twee vereistes voldoen: eerstens moet ek regtig sterk voel oor die liedjie en die boodskap wat dit oordra, en tweedens moet ek daarvan hou om dit live te speel.

Daar is nie noodwendig ’n goue draad wat deur die snitte loop nie, behalwe die feit dat dit my persoonlike gevoelens is wat ek deel. Ek wil graag hê die mense wat my musiek luister, moet dit geniet. Daar is op hierdie stadium nie subtiele boodskappe en lesse wat ek vir mense probeer leer nie. Omdat ek so jonk is, moet ek nog self te veel lesse leer!

Snitte soos "Paper planes" en "Scars" kan ’n mens waarskynlik reeds as treffers beskryf: dit het al die nodige toeganklikheid en ook sterk hooks om wyd en lank lugtyd te beleef. Het jy, toe jy die snitte vir die EP skryf, daardie soort mikpunt gehad, in terme van "radiovriendelikheid"? Die genre (hoe sal mens dit beskryf ... stomping acoustic folk ... behalwe nou vir "Sinners & stars", wat aan die veel harder kant van ruk en rol lê) waarin dié snitte val, is natuurlik ook een wat amper in die rigting van oorbevolk neig deesdae, wêreldwyd. Hoe gaan jy te werk om seker te maak jou musiek staan uit bo die res? Wat sou jy sê is die "anders"-faktor wat jy wil bring met jou werk, en hoe sal jy nog in die toekoms daarmee wil eksperimenteer?

Dis ’n groot kompliment dat jy “Paper planes” en “Scars” as treffers beskou. Ek luister na ’n geweldig wye verskeidenheid musiek (kommersieel en niekommersieel). In ’n mate word ek sekerlik beïnvloed deur waarna ek luister (wat struktuur aanbetref). Ek het nog nooit ’n liedjie geskryf met die doel om dit radiovriendelik te maak nie. Ek weet nie mooi wat radiovriendelik is nie? Ek skryf omdat ek moet. As mense daarvan hou en dink dit is radiovriendelik, is dit ’n bonus.

Ek glo nie regtig in genres nie. Ek eksperimenteer konstant met nuwe klanke en nuwe maniere van skryf. Ek word uiteraard beïnvloed deur die musiek waarna ek luister. En ek luister letterlik na elke tipe musiek waarop ek my hande kan lê.

Wanneer ek ’n nuwe liedjie skryf, is dit ’n natuurlike evolusie van klank. Ek glo musikante bly relevant as hulle bereid is om te groei en nie bang is om risiko’s te neem met nuwe klanke en idees nie. Die akoestiese scene werk op die oomblik, maar ek wil nie vasgevang raak in ’n hokkie nie. My volgende album kan byvoorbeeld jazz/metal/rap wees.

As musikant het ek die vryheid om te kies hoe ek klink. Ek glo nie ek het die “anders”-faktor nie. Ek is wie ek is, en ek klink soos ek klink. Vir my gaan dit net oor eerlik skryf.

Dis altyd interessant om te hoor hoe jong liedskrywers se prosesse werk. Ek aanvaar jy het reeds ’n magdom liedere geskep, en dat jou proses voortdurend verander, maar hoe werk dit in die algemeen aan jou kant? Wat kom eerste, die akkoorde of die lirieke? En hoe gaan jy te werk om hulle onderskeidelik en saam uit te bou tot die lied reg is? Trouens, hoe weet of besluit jy ’n lied is "reg" of "gereed" soos hy nou staan? Verander strukture en so aan soms tydens jou opnameproses – in samewerking met vervaardigers – of is jy redelik gemaklik teen die tyd dat jy voor ’n mikrofoon gaan sit om op te neem?

Ek skryf konstant konsepte neer. Die proses wissel van liedjie na liedjie. Ek sit soms met my kitaar en eksperimenteer met nuwe chord progressions, en bou dan daarrondom ’n liedjie. Ander kere skryf ek ’n gedagte neer, en daarrondom ontwikkel dan lirieke. En soms gebeur die twee net deurmekaar. Ek werk grotendeels op gevoel – daar is min reëls vir my wanneer ek liedjies skryf.

Ek weet instinktief wanneer ek klaar is met ’n liedjie. Wanneer ek voel dit is goed genoeg, stop ek. As ek dit overthink, verloor dit karakter.

Wanneer ek gereed is om op te neem, weet ek presies hoe ek wil hê my liedjie moet klink. Ek sal luister na die insette van die vervaardigers met wie ek werk, maar ek het nog nooit gevind dat my liedjie merkwaardig verander tydens die opnameproses nie. My visie van die uitkoms van elke song wat ek opneem is baie duidelik in my kop.

Gerugte wil dit hê dat jy al die pad van Vaalwater af kom en onlangs na Hermanus getrek het, deels om nader aan die Kaap te wees vir die musiekloopbaan. Hoe is dit om op ’n klein plek soos Vaalwater ’n musiekloopbaan te bou? Watter soort inspirasie dink jy het jy wel daar gekry (in terme van omgewing, mense en dies meer) wat jy nie op ander plekke sou gekry het nie? Hoe werk die nuwe omgewing, en ook die verandering, as inspirasie? Of beskou jy jouself as meer ingekeer in terme van waar die idees en liedjies vandaan kom?

Daar is uitdagings om in ’n klein dorpie ’n musiekloopbaan te probeer bou. Dit het groot opoffering van my ouers geneem om my aan te ry vir lesse/opleiding ens. Aan die ander kant kon ek baie fokus om my vaardigheid uit te bou – te oefen, oefen, oefen (daar was niks anders om te doen nie). Daar was baie min geleentheid om op te tree in my tuisdorp, en ons moes maar optredes soek in groter dorpe in die omgewing. Die positiewe daarvan is dat ’n mens leer om nooit nee te sê vir enige geleentheid om op te tree nie.

Die nuwe omgewing bied baie meer geleenthede. Die verhuising was vir my ’n baie positiewe ervaring. Verandering stimuleer die kreatiewe proses. Ek het regtig baie gegroei in die laaste jaar, as mens en musikant.

Jy is 18 jaar oud en nog op skool – sjoe, moeilik om te glo. Maar dis interessante tye om ’n opkomende musikant te wees. Aan die een kant kan mense so maklik jou musiek hoor (aanlyn), en aan die ander kant taan verkope, die aard van die bedryf verander gedurig, en so aan. Hoe beskou jy die Suid-Afrikaanse musiektoneel op die oomblik? Wat is kief daaraan, en wat suig? Hoe sou jy jouself wil posisioneer op hierdie landskap, in terme van waar mense jou sien en van jou hoor?

As gevolg van die feit dat die verkope van CD’s afneem, moet musikante nou harder werk, en baie goeie live shows kan lewer om suksesvol te wees. Kaartjieverkope raak nou belangriker as CD-verkope. Ek dink dit is ’n evolusie in die musiekbedryf. Ek wil nie net CD’s verkoop nie – ek wil entertain.

Ek maak gebruik van tegnologie en sosiale media soos Facebook/Twitter/Instagram/YouTube/Soundcloud om mense te inspireer en te motiveer om na my live shows te kom kyk. Alhoewel dit vir my belangrik is dat mense my opnames besit, is ek veel meer gefokus op die live element. Dis baie meer pret.

Ek verneem jy beplan om later vanjaar ’n vollengte-album, genaamd Sinners, uit te reik. Heelwat musikante en bands verkies deesdae om sommer net sporadies singles aanlyn te versprei, eerder as om die moeite met ’n album of selfs ’n EP te doen. Wat dink jy wen en verloor ’n mens met die onderskeie benaderings, en dink jy jy sal altyd eerder neig in die rigting van EP's en albums? Is daar ’n filosofie aan verbonde, of is dit maar net praktiese oorwegings?

Singles en albums gaan vir my hand aan hand. Dit is vir my as opkomende kunstenaar belangrik om EP’s te maak. The joy of making an album is refining your own sound. Ek hoop ook om eendag te colab met ander kunstenaars. Dan maak dit groot sin om singles vry te stel. ’n Album is vir my meer as net ’n klomp singles bymekaar. Dit laat mense toe om te sien hoe ek as kunstenaar ontvou. Dit gaan oor ’n gevoel.

Soos nou al reeds genoem, is jy ’n besonder jong musikant, maar jy het reeds ’n swetterjoel groot optredes agter die rug – in jou ou tuisdorp en nou in die Kaap. Wat staan tot dusver vir jou uit as hoogtepunte? Watter knyp-jouself-het-dit-regtig-gebeur oomblikke was daar, positief of negatief? Enige gebeure wat jy nie graag sal wil herleef nie?

Ek het die geleentheid gehad om vir Francois van Coke te open by Die Boer- restaurant. Dit was vir my ’n hoogtepunt. Soos met enige opkomende kunstenaar het ek al goeie en minder goeie optredes gehad. Ek het al opgetree in ’n wye verskeidenheid venues (van kroeë tot die Spar Women’s Challenge by Supersport Park). Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek groei met elke optrede (goed of sleg).

MattC1grootweb
Foto: Louise Pieterse

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Matt Carstens, in so verre jy dit kan beheer?

Ek begin einde Oktober met my matriek-eindeksamen, en kan nie wag om klaar te maak nie! Volgende jaar begin ek my studies by Stellenbosch-universiteit. Ek gaan studeer terwyl ek my musiekloopbaan uitbou. Ek wil soveel as moontlik toer in die nabye en verre toekoms, om bekend te raak in die land, en ek wil baie graag eendag internasionaal optree. Ek wil graag my album vrystel, en nog ’n paar in die toekoms. Ek wil nooit ophou skryf en musiek maak nie.

Wat is die sin van die lewe?

Dit moet ek self nog leer ... As ek geweet het, het ek maar min gehad om oor te skryf!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top