Martin Luther – die onbekende

  • 2

Die Schlosskirche in Wittenberg

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 Stellinge teen die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg vasgespyker. Op 19 April 1529 het hy voor die Ryksdag van Spier verskyn. Martin Luther het dié historiese figuur geword wat reeds vir vyf eeue dwarsoor die wêreld die verbeelding aangryp. Vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu was die Kerkhervorming ’n integrale deel van die geskiedenisleerplan. (Die geskiedenishandboeke van 50 jaar gelede het, terloops, “die Schlosskirche” verkeerdelik as “die Slotkerk” vertaal, ipv “die Kasteelkerk”.)

In 2004 was ek bevoorreg om op die spoor van Luther deur Duitsland te loop. Plekname soos Augsburg, Worms, Speyer, Wittenberg en Eisenach het ’n werklikheid geword.

In snerpende koue het ek die Wartburg-kasteel waar Luther vir maande lank geskuil het, besoek. In my geestesoog het ek die Hervormer in die koue kamertjie by die tafeltjie sien sit, besig om die Bybel in ’n rekordtyd in Duits te vertaal.

Met ’n terugblik op die Wartburg-kasteel, steeds stewig gevestig teen die rotswande, het die ware betekenis van Luther se woorde, “’n vaste burg is onse God”, sin gemaak.

Vanjaar is dit dwarsoor die wêreld Lutherjaar, maar veral in Duitsland word Luther op verskeie maniere gehuldig. Baie publikasies oor sy lewe en werk het die lig gesien. Die skrywer-filosoof Christine Eichel se boek Deutschland, Lutherland – Warum uns die Reformation bis heute prägt [Waarom die Hervorming nog steeds vandag sy stempel op die Duitsers afdruk] is besonder insiggewend. Volgens haar kan die Duitsers se hardwerkendheid, hul vrygewigheid, hul spaarsin en hul sosiale gewete teruggevoer word na die Hervorming. Die tweede grootste boekemark in die wêreld bewys hul liefde vir lees, ook as produk van die Hervorming. Met meer simfonie-orkeste as die res van die wêreld saam, laat die musikale Luther steeds sy invloed geld.

Die Duitse skuldgevoelens en die swaar dra aan hul donker geskiedenis kan eweneens met die gebeure van 1517 verbind word. Luther se anti-Joodse uitsprake het opnuut in die kollig gekom.

Op die vraag of Luther in die 21ste eeu steeds die jubileumvieringe verdien, sê die teoloog Thomas Kauffmann: “’n Verantwoordelike mens van die 21ste eeu sal nie ’n 16de-eeuse dokter blindelings vertrou nie; dus kan Luther se teologie vandag ook nie blindelings gelees word nie.”

Oraloor het mense al met Luther se kalwers geploeg. Die woorde “As ek weet dat ek môre gaan sterf, plant ek vandag ’n boompie” is byvoorbeeld aan Martin Luther King toegedig.

“Hier staan ek”, woorde wat ook aan Luther toegeskryf word, is enkele jare gelede deur die Nuwe Hervormers as titel vir hul belydenisboek gebruik. Tog is daar geen historiese bewyse dat Luther dit ooit geuiter het nie. Die veelkantige Luther het wel gebid: “O, Here, laat die mense sien dat ek ’n God van liefde dien, uit die manier waarop ek my hond behandel.”

Selfs Karl Marx het in één opsig met dié kerkman akkoord gegaan: “Martin Luther was reg – ’n man wat nie van wyn hou nie, kan nie vertrou word nie.”

  • 2

Kommentaar

  • Sakkie Spangenberg

    Nouja, wat sal 'n mens sê van al die woorde wat aan Luther toegedig word, maar waarskynlik nie deur hom gespreek of geskryf is nie? Woorde kry oor tyd heen stertjies. Soos die stelling dat die boek Hier staan ek deur die Nuwe Hervormers gekonsipieer, saamgestel en as 'n belydenisboek die wereld ingestuur is. Die idee agter die boek Hier staan ek het by nie een van die sogenaamde "Nuwe Hervormers" ontstaan nie. Van ons is wel genooi om 'n bydrae te skryf.

  • Wilhelm Fourie

    Dis 'n baie interessante artikel waaruit ek heelwat geleer het. Luther is beslis nog vandag relevant (met ietwat versigtigheid soos die skrywer hier tereg noem). Ek wens ek kon Duits lees. Dan sou ek graag die boek van Christine Eichel wou lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top