Martie Preller (1948–)

  • 0

Gebore en getoë

Martie Coetzee (Preller) is op 2 November 1948 in Potchefstroom gebore. Sy het op hierdie dorp met sy akker- en wilgerbome langs die Mooirivier grootgeword. Haar pa was ’n professor in Latyn en haar ma ’n onderwyseres. Sy is die middelste kind met ’n ouer broer en ’n jonger suster.

Martie het later gesê haar lyf is op Potchefstroom gebore, "maar haar gees swerf oral rond tussen boeke en mense en die dinge wat gebeur en nie gebeur nie". (Storiewerf)

As laerskooldogter woon sy die Laerskool Mooirivier by en behaal haar matriek in 1966 aan die Hoërskool Gimnasium, beide skole op Potchefstroom.

Martie vertel aan Deborah Steinmair in Kakkerlak (2007) meer oor haar kinderjare op Potchefstroom: "Hoëveld en meestal mielielande rondom die dorp. Ysig en wit geryp in die winter en hetig warm in die somer. Ek het onder die akkerbome grootgeword en op my fiets, biblioteek toe, swembad toe en ja, natuurlik, skool toe ook gery! Die seisoenale verkleuring van die akkerblare is vir ewig ingeprent in my siel. Die blare wat verkleur het van liggroen tot donkergroen tot geelgroen tot bros en bruin en dan krakerig onder my voete verkrummel en kompos geword het vir nuwe groei en nuwe liggroen blare, was vir my van kleins af die organiese sirkelloop van die lewe. Ek vermoed nou, as ek terugdink, dat ’n deel van my elke dag gefunksioneer het en ’n ander deel op ander plekke geloop of gedroom het."

Verdere studie en werk

Martie bly aan in Potchefstroom nadat sy matriek gemaak het en skryf haar aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (vandag Noordwes-universiteit) in vir ’n BA-graad met Engels (cum laude) en Latyn as hoofvakke. In 1970 verwerf sy haar onderwysdiploma, ook cum laude.

Daarna gaan gee sy onderwys by haar alma mater, Hoërskool Gimnasium, waar sy Latyn en Engels onderrig. Gedurende haar tweede jaar van onderwys (1972) is sy met Johan Preller getroud.

In 1973 trek Martie en Johan na Johannesburg waar sy aangestel word om Engels en Latyn te onderrig aan die Hoërskool Fakkel. Hulle eerste kind, Siegfried, is in 1974 gebore, Johan in 1976 en Martie in 1978. Sy vertel aan Naln: "Hulle ouderdomme verskil slegs 19 maande – ek het iemand die opmerking hoor maak dat as jy vir een kind in die sandput moet sit, jy net sowel vir drie in die sandput kan sit – en ek het dit letterlik opgeneem!

"Die daaropvolgende jare was ’n oorlewingstryd en ek kon kwalik kop bo al die doeke en bottels hou. Ek het my kinders geniet en geniet hulle steeds. Ek is nie net lief vir hulle nie, ek hou ook van hulle."

Martie en haar man is in 1988 geskei.

Martie het later Kaap toe getrek waar sy eers in Gordonsbaai en later in Vermont naby Hermanus gewoon het. Sy en haar dogter Martie (Kruger) skryf in 2008 saam ’n kinderboek met die titel Jamie en Sebastiaan en die storiemool.

Martie vertel aan Marguerite van Wyk (Beeld, 25 September 1996) dat haar kinders haar baie meer geleer het as wat sy hulle kon leer. "Ek is nie ’n konvensionele ma nie. My kos brand dikwels aan en my kinders móés maar selfstandig wees. Hul aanvaarding van my as méns maak my diep gelukkig."

In 1974, voor haar eerste kind se geboorte, gee sy vir een kwartaal Engels aan die Hoërskool Randburg en gee daarna privaat Engelse en Latynse klasse.

Dit was egter eers in 1985 dat sy vir die eerste keer haar pen op papier gesit het nadat ’n vriendin, Susan Gouws, ’n dosent aan die Sebokeng Onderwyskollege in Vanderbijlpark, haar genader het om ’n stuk te skryf vir die Afrikaanse Toneel vir Onderwyskolleges (ATO) se toneelkompetisie. Susan se woorde aan Martie was: "Jy sê altyd jy wil skryf – doen dit nou."

Die gevolg was Die groot slang en die ongehoorsame kind: ’n Tsonga-legende. Met hierdie stuk wen Sebokeng ATO '86 se kompetisie. Dit was ’n groot hupstoot vir Martie se skryfloopbaan en in 1989 word Moditjhaba deur Via Afrika Uitgewers aangewys as die beste oorspronklike stuk op die Interkollege Dramafees te Vanderbijlpark.

Haar skryfwerk is toe vir ’n paar jaar op die agtergrond geskuif toe sy vanaf 1988 tot 1998 Sielkunde I, II en III aan Unisa studeer. In 1991 behaal sy haar honneursgraad in sielkunde aan RAU (vandag Universiteit van Johannesburg). Sy het haar ingeskryf vir ’n meestersgraad in sielkunde, maar toe die universiteit haar laat weet dat sy nie gekeur is nie, was sy "eindeloos verlig. Die besluit was vir my geneem. Tóé weet ek: Nóú gaan ek my hartpad volg. Dié pad wat vir my vreugde gaan gee. Ek gaan voltyds skryf." (Sarie, Oktober 2003)

In 1990 word vier van haar bydraes in ’n bundel vir standerd vyf-leerlinge (graad 7) opgeneem in Die wind sal weet wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is.

Martie was ongeveer 40 jaar oud toe sy begin skryf het. Sy verduidelik aan Amanda Botha (Die Burger, 22 Februarie 2014) dat sy nie geglo het dat sy kan skryf nie. En al het ander mense vir haar probeer oortuig dat sy wel kan skryf, het sy hulle nie geglo nie. "So ’n paar jaar voor 1992 het ek probeer skryf. Ek kry toe ’n baie nice verslag wat sê ek moet dít en dát probeer doen aan die teks, en toe verstaan ek niks en is seker ek kan nie skryf nie. Plaas ek tel die foon op en bel hulle en vra. Maar nee, ek kan nie skryf nie."

Nadat sy haar Sielkunde-studies afgehandel het, vat Martie se skryfloopbaan behoorlik vlam. In 1992 verskyn haar eerste kinderboek getiteld Jy en die draakakkedis by Van Schaik, met ’n Engelse weergawe You and the dinosaur wat terselfdertyd die lig sien. Dit is die eerste kies-jou-eie-avontuur boek wat in Afrikaans verskyn het. Die swart-en-wit illustrasies wat die teks pragtig aanvul, is deur Elizabeth Pulles gedoen. Een van haar kinders was siek en dit is hoe sy begin het om Jy en die draakakkedis te skryf. Sy het gedink dat wanneer ’n mens siek is, jy sommer beter sal voel as jy ’n mooi storie hoor.

Marina le Roux skryf in Die Burger dat met hierdie manier van aanbieding, die leser self aktief aan die teks kan deelneem. Die keuses waarvoor die leser gestel word, bepaal hoe die avontuur verder gaan verloop. Ook die feit dat daar op die voorblad staan dat hierdie boek op eie risiko gelees gaan word, behoort voldoende motivering te wees om Jy en die draakakkedis op te neem en te lees, selfs vir kinders wat traag is om te lees.

Martie vertel aan Marguerite van Wyk (Beeld, 27 Oktober 1992) bietjie meer oor Jy en die draakakkedis se skryf: "Kinders word mos gefassineer deur dinosourusse. ’n Draakakkedis is niks anders nie as ’n sinoniem vir ’n dinosourus. Met die skryf van dié boek het ek sommer weer kind geword. Dit het net vanself uit my gestroom."

Vir Martie is dit belangrik dat kinders altyd gerespekteer moet word: "Dit help nie jy praat 'af' na ’n kind toe nie. Jy moet probeer om op sy vlak te dink. Dit help ook nie jy probeer ’n doelbewuste les aan die kind leer nie. Die subtiele aanslag is die wagwoord. Omdat ’n kind nog nie geïnhibeer is deur allerlei sosiale konvensies nie, is hy/sy eerlik. Hy weet as jy vir hom jok. Hy sien deur jou. Hy wil nie voel iemand is besig om die figuurlike lepel pap in sy keel af te druk nie."

Martie het hope navorsing gedoen vir die skryf van Jy en die draakakkedis, vertel sy aan Marguerite van Wyk. Sy het vir twee maande navorsing gedoen by onder meer die universiteite van die Witwatersrand en RAU en ook by ISKEMUS (Instituut vir Kinderlektuur en Media van die Universiteit van Stellenbosch).

Sy het ook meer gelees oor die konsep om die leser ’n karakter in die boek te maak en het die leerplanne van graad 3 tot graad 7 fyn deurgewerk om te probeer om die kind te verstaan en sy het gebruik gemaak van bronne van oorsee waar hierdie konsep nie meer so nuut was nie. So die lesertjies kan verseker weet dat hier nie sprake is van feite wat uit die lug gegryp is nie. Ook die illustrasies is deur ’n argeoloog nagegaan om seker te maak dat daar geen verkeerde feite en prente in is nie.

In 1992 palm Martie haar eerste prys vir haar kinderboeke in toe ’n manuskrip van haar Boskapades Jong Dames Dinamiek se landswye kompetisie vir kinderverhale gewen het.

Haar volgende kies-jou-eie-avontuur boek is Jy en Hercules (1993) en in 1994 verskyn Jy en Toetenkat wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. In 1994 word Daar's ’n spook in my kas gepubliseer en dit is in 1996 die eerste van Martie se boeke wat bekroon word met die ATKV-kinderboektoekenning vir ses- tot sewejariges. In 1996 wen Jy en Toetenkat dieselfde toekenning vir agt- tot negejariges.

In 1994 verskyn Nicola B: streng privaat, Martie se eerste boek vir tieners. Nicola Benade is ’n veertienjarige tiener en daar gebeur nooit iets opwindend in haar lewe nie, totdat daar op ’n oggend ’n groep terroriste in hulle skoolsaal instorm en vir Nicola en vier ander leerlinge as gyselaars aanhou. Nicola se storie word in die vorm van ’n dagboek vertel en strek oor drie maande.

In Sarie (17 Augustus 1994) skryf Marina le Roux dat die grootste verdienste van hierdie boek in die byderwetse, maar tog ook eenvoudige taalgebruik lê en dat dit ook vir trae lesers aanbeveel kan word. Die uitbeelding en ontwikkeling van die karakters is egter oppervlakkig en die afloop van die avontuur kan maklik voorspel word.

Met Martie se tweede boek vir tieners, Anderkantland (1994) behaal sy groot sukses. Dit word bekroon met die Silwer Sanlamprys vir jeuglektuur 1994, asook die CP Hoogenhout-medalje vir beste kinderboek in 1994/95.

In Anderkantland word die werklikheid en die sprokieswêreld vermeng. Vir Marina le Roux (Die Burger, 21 Desember 1994) het die skrywer nie altyd daarin geslaag om hierdie herskryf van sprokies en vermenging van fiksie en werklikheid suksesvol uit te voer nie. Ook is haar styl, volgens le Roux, "lomp en verbeeldingloos". Daar is "enkele slim fondse en humoristiese momente", maar die storie oortuig nie.

Barrie Hough (Insig, Desember 1994/Januarie 1995) beskryf Anderkantland as ’n "hoogs oorspronklike en vermaaklike" storie. Die hoofkarakter is ’n veertienjarige meisie wie se ma oorlede is en toe haar pa weer wil trou, is sy baie ontsteld. Op hulle plaas is ’n bos waar sy ’n poort tot ’n sprokieswêreld ontdek. Sy vermaak haarself deur in die sprokies in te meng. Wat gebeur, is soms amusant. Sy besef egter dat dit nie altyd goeie gevolge afgee as ’n mens in ander se werklikhede inmeng nie.

In 1996 en 1998 skryf Martie ’n reeks van vier boeke vir die tienermark met Tersia Thom, ’n student op universiteit wat graag speurverhale skryf. Haar assistent is die ewe mooi Helga wat ’n deeltydse model is. Saam pak die twee allerlei sake aan wat hulle dan soos wafferse speurders oplos.

Die reeks is losweg op die Nancy Drew-reeks gegrond. En hoewel die karakters en hulle ontwikkeling oppervlakkig is, is die intrige tog boeiend, het Elsabe Steenberg in Beeld (5 Augustus 1996) geskryf. Hoewel die boeke ’n leemte in die Afrikaanse jeuglektuur vul, is dit voorspelbaar en raak die karakters irriterend.

Met haar volgende tienerboek, In die tyd van Esob (1996) palm Martie die Sanlam-prys: goud vir jeuglektuur in. Die aanbeveling vir In die tyd van Esob is deur Petra Müller geskryf en sy het dit beskryf as "werklik wáágsame jeugfiksie, weg uit die gewone skryfvorme, en wat van lesers verwag om dieselfde avontuur te onderneem". Sulke tipe boeke kom nie dikwels in Afrikaans voor nie.

"In die tyd van Esob beweeg letterlik buite die mure van ’n geprojekteerde toekomsstad, waar vier agtienjariges, die uitgesoekte bestes van die jeug uit die leerskool van die 'stad met die son en twee mane' nou as finale toets van oorlewingsvermoë buite die stad afgelaai word. Hulle moet deur woestyn, moeras en oerwoud hul weg terugvind en die een wat eerste terugkom, word dan die wenner van daardie jaar se inisiasiegroep en die draer van die heldebeeld in hierdie stad waar die Esob, dit wil sê die Boser, heers, en die betekenis van die pilare van Deog, dit wil sê, wat goed is, reeds verlore geraak het vir die inwoners.

"Dis ’n besonder gesofistikeerde verhaal, ’n allegorie wat met die een hand teruggryp na die verlede en met die ander ver na die toekoms uitreik. ’n Mens wil nie te veel van die boek verklap nie, maar wat ’n mens wel kan sê, is dat onvolkomenheid en voorlopigheid ook hier ’n rol speel – want die sentrale karakter, wat ook die wenner word, is ’n onvolkome persoonlikheid, en die getekende skryfster van die boek, wat uiteindelik ook in die teks manifesteer, laat ’n duidelike aanwysing dat die teks nog nie klaar is nie. Dis ’n voorlopige verslag oor ’n buitengewone gebeurtenis, dinamies onvoltooid.

"In die tyd van Esob is ’n inisiasie- en quest-verhaal wat in die besonder die televisie- en fliekgeslag sal aanspreek, asook die internet-geslag, wat gewoond raak daaraan dat ’n mens oënskynlik perfekte vorms kan skep met enkele vernuftige maneuvers van die hand en die verstand."

Behalwe vir haar storieboeke wat sy vir kinders en jongmense skryf, het sy ook ’n storieskryf-kursus op die internet ontwerp. ’n Uitvloeisel van hierdie kursus is die boek Eendag was daar ’n storie! wat in 2003 gepubliseer is. Soos Marina le Roux in haar resensie in Die Burger (6 Oktober 2003) geskryf het, is daar maar weinig van dié tipe boeke in Afrikaans en is die publikasie daarvan baie welkom. Dit is ’n praktiese handleiding vir diegene wat graag wil skryf, asook vir diegene wat klaar besig is om vir kinders en die jeug te skryf. In Volksblad (28 Julie 2003) skryf Jaco Jacobs dat die boek met vrug gebruik kan word deur diegene wat inligting soek oor aspekte van die skryfproses soos karakterisering, dialoog, die publikasie van boeke en hantering van kritiek.

Oor hierdie praktiese storiemaakkursus vertel Martie aan Jaco Jacobs (Taalgenoot, Junie 2003) dat dit vir mense is wat hulleself en hul eie lewensverhale beter wil leer ken: "Want ons is almal skrywers, al word net sommiges gepubliseer. Ons almal se lewe is stories wat ons dag vir dag skryf en byskryf.

"Die kursus bevat ook onder meer die lesse van die internetskryfkursus, hierdie keer met baie meer inligting om jou tot skrywe van dalk gepubliseerde stories, maar ook tot die skryf en herevaluering van eie lewenstories te bring. Skryf is op ’n manier terapie vir die self asook ’n ongelooflike ontdekkingstog. Ek het mos nooit geweet ek het ’n Balkie of ’n Babelela in my voor ek begin skryf het nie."

Dit is egter met die skepping van Balkie en Babelela wat Martie haar in die harte van Suid-Afrikaanse kinders gevestig het. Sy het Balkie in 1992 geskep toe hy begin het om jong lesers en hulle ouers in rooi rose met sy eie rubriek te vermaak. In 2000 is die eerste Balkie-boek gepubliseer en in die voorwoord vertel hy vir almal wat wie en wat hy is: "nie ’n kind, of ’n donkie of ’n beertjie nie. Ek is ’n Balkie en ’n Balkie is ’n Balkie is ’n Balkie".

Saam met Elizabeth Pulles wat vir Balkie in prentjies verwek het, slaag Martie daarin om haar lesers te "oorrompel" met Balkie se "unieke siening van gewone dinge en aktiwiteite, sy frisse lewensvreugde en naïewe humor. Die dialoog is besonder oortuigend, dikwels ’n mengsel van vertedering en onvermydelike irritasie," skryf Marina le Roux in Die Burger van 24 Mei 2000.

Balkie is ook in 2001 bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Alba Bouwerprys vir kinderlektuur.

Elizabeth Pulles vertel aan Piet Grobler dat sy eendag op pad was van die poskantoor af huis toe, toe sy iets wat lyk soos ’n hond onder ’n bos gewaar. Maar dit was nie "heeltemal ’n hond nie. Wel ’n honderige ding met ’n groterige kop – amper soos ’n dinkietjie s'n en ’n liewe gesiggie soos dié van ’n beertjie. Ek is nie heeltemal seker wat dit was nie. Toe teken ek hom en gee die prent vir Martie Preller en sê sy moet iets daarmee doen. Ek en Martie deel ’n sin vir humor én een vir fantasie. Sy kom toe met Balkie vorendag. Spot on. Presies wat ek gesien en geteken het. Dit was toe al die tyd ’n balkie."

Elizabeth sê sy wou deur middel van die illustrasies, soos Martie met die teks, Balkie se onskuld en kinderlikheid beklemtoon. "Hy is iemand tussen ’n kind en ’n diertjie. Die mengsel van hulpeloosheid en bravade laat hom baie soos ’n kleuter voorkom. Balkie is soos die jongste kind in die huis. Dis soms asof hy regtig daar is, hoor! Ek is ’n sentimentele wese en seker maar kinderlik."

In rooi rose (Julie 2001) skryf Martie dat sy die tekening van Elizabeth teen haar muur geplak het en "soms, as niemand kyk nie, het ek hom uitgevra. En hy het begin babbel. Sonder ophou. Vir meer as agt jaar al (in 2001) in rooi rose. Oorgeloop na Die Balkieboek en daar is nog boeke aan die word. Daar is geen keer aan hom nie. Hy is baie, baie besig. Soms bekruip die moeilikheid hom. Soos vir ons almal. Maar hy het altyd ’n plannetjie. Hy laat hom nie onderkry nie. Hy is ’n kind. ’n Harige kind, maar ’n kind. Kinders is ongelooflik spesiaal, ons moet mooi na hulle kyk."

Nadat Balkie met die Alba Bowerprys bekroon is, het Martie en Elizabeth bespiegel hoe Balkie die prysoorhandiging sou hanteer het. "Hy sal waarskynlik onophoudelik na alle kante toe buig en dalk met ’n donker bril en serpie opdaag om meer soos ’n skrywer te lyk," vertel Martie in rooi rose (Julie 2001).

Balkie is ook die hoofkarakter in leerdersboekies wat Martie vir grade vier tot ses geskryf het.

Martie vertel meer oor die verwantskap met Balkie aan Terésa Coetzee (rooi rose, 29 Maart 2000): "Ek dink nogal daar is in elke mens ’n tikkie kinderlike onskuld. Al is ek nou al in die vyftig, kry ek elke keer wat ek ’n Balkie-storie skryf weer die kans om deur die oë van ’n kind na die lewe te kyk. Ek besef opnuut wat ’n wonderlike, naïewe en baldadige manier kinders het om goed raak te sien. Balkie het so in my en Elizabeth se harte ingekruip dat sy stories glad nie vir een van ons soos 'werk' voel nie."

In 2000 maak Babelela wat diep, diep in ’n donker bos woon, sy verskyning. En net soos Balkie kruip hy diep, diep in die kinders se harte in. Ook Babelela loop met ’n toekenning weg, naamlik die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur vir 2003 (saam met Lisa het ’n plan). Andries en Erica Maritz is die taak opgelê om Babelela op papier vas te lê en hulle was in die kol met die skepping van die pers karaktertjie.

Babelela is die Sotho-woord vir "kleintjie" en dis hoe hy sy naam gekry het. Ook Babelela se opvolg, Diep, diep in ’n donker bos, is in 2006 met die Tienie Holloway-medalje bekroon. Twee ander titels oor Babelela en sy maatjies in die bos, Los ons uit! en Ons kan! het al die lug gesien.

Babelela en sy maatjies van die bos het ook al op die verhoog ’n draai gemaak. By die Kunstefees in Bloemfontein in 2012 is dit opgevoer en het Dúlinda Pieters die regie waargeneem met studente van die Universiteit van die Vrystaat as die akteurs.

Haar karaktertjies soos Jamie en Sebastiaan en Balkie en Babelela is soos "ekstra kinders" vir haar, vertel sy in Taalgenoot (Junie 2003) aan Jaco Jacobs. "Elkeen van hulle is uniek en anders, soos elkeen van ons. Balkie staan met sy harige voetjies plat op die aarde. Hy het ’n plannetjie vir al die moeilikheid wat hom so eindeloos agtervolg – al het hy niks gedoen nie. En die Babelela het ook veel meer geword as net ’n karaktertjie in ’n boek. Hy veroorsaak 'Babelela-koors' in almal wat met hom te doen het. Miskien is dit dat ons almal weet dat ons nie 'geboks' kan word nie. Etikette kan nie om ons nekke gehang word nie. Ons is almal uniek en kwesbaar en anders. En ons het almal vlerke om te kan ontsnap uit die plekke waar ons nie wil wees nie.

"Kinders, al is hulle nog net drie jaar of jonger, weet dit, al kan hulle dit nog nie verwoord nie. En hulle, net soos ons almal, wil soms ook arms vou, voete stamp en brul: 'Ek is ’n Babelela! Los my uit!’ Natuurlik het ek niks hiervan geweet toe ek die storie geskryf het nie. Dit was net ’n storie. En dit is ook die wonder van stories – wat alles daarin verskuil lê."

Vir Martie is daar geen twyfel hoe belangrik lees vir kinders is nie: "As ons ouers bewus kan maak van hoe belangrik hul kinders is, het ons in ons doel geslaag. En kinders moet lees – die leessaadjie moet reeds in hul eerste vormingsjare geplant word. As kinders nie geleer word om te lees en na stories te luister as hulle nog baie klein is nie, het hulle vir die res van hulle lewe ’n agterstand. Storieboeke speel so ’n groot rol by die kreatiwiteit van kinders, ek wens ek kon dit elke dag vir ouers sê!"

Martie is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Benewens haar kinder- en jeugboeke, asook haar skoolboeke, skryf sy ook vir die televisie en radio en die strokiesreeks Jamie en Sebastiaan vir die tydskrif Vrouekeur. Dan is daar ook nog die werksessies in "storiemaak" wat sy op ’n gereelde basis aanbied.

Jamie en Sebastiaan se avonture is ook te boek gestel. Jamie woon by sy ouma Klara omdat hy nie meer ’n ma en pa het nie. Hy is alleen, maar wil nie met meisies soos Allie en Simonei speel nie. Dan verander die vakansie handomkeer toe Jamie vir Sebastiaan, ’n pratende kat met ’n arrogante houding, ontmoet. Ook is Sebastiaan onbeheerbaar lief vir tuna met room. Jamie en die twee meisies word tog maats en saam met Sebastiaan beleef hulle wonderlike avonture in ’n towerwêreld waarvan die grootmense glad nie bewus is nie.

Marina le Roux (Die Burger, 10 April 2004) beskryf Jamie en Sebastiaan as ’n "heerlike, opwindende storie waarin realiteit moeiteloos in fantasie oorgaan. Geen vrae of skeptisisme word geduld nie. Die skrywer maak staat op die jong leser se gewillige en gretige suspension of disbelief. Die avonture is wel vergesog, maar verbeeldingryk. Die dialoog is natuurlik. (...) Dit is ’n gawe voorlees- sowel as saamleesboek. Veral as die volwassene die korter dele in kleur aan die trae leser oorlaat. (...) Daarby pas Vian Oelofsen se humoristiese illustrasies pragtig by die holderstebolder, aksiebelaaide teks."

Met Die hart van Zeebak wat in 2004 by Tafelberg verskyn het, lewer Martie weer eens ’n storie vir tieners wat van hoë gehalte is. Dit is ’n wetenskapfiksie-verhaal met Ferdinand, die hoofkarakter, wat pas sy matriekeksamen afgelê het. Hy ry oral rond op sy fiets en toe gebeur daar iets wat hy nooit verwag het nie – Leandra, ’n inwoner van Zeebak, ontvoer hom na ’n ander dimensie. Op Zeebak is dinge egter nie pluis nie en Ferdinand moet inspring om te keer dat die gevangenes daar nie op planeet aarde gestort word nie.

Jacques de Wet (Beeld, 21 Februarie 2005) meen dat die ontknoping van die verhaal te maklik na sy sin is, maar die skrywer gebruik die naasmekaarplasing van droom en werklikheid baie suksesvol. "So word ’n suksesvolle spanningslyn geïntegreer met die karakters se sielkundige profiel en dít op vernuftiger wyse as in die meeste lektuur vir volwassenes. Die hart van Zeebak is uitstekende fiksie vir jong lesers. Maar dit bied veel meer omdat dit aandag gee aan eg menslike vraagstukke soos bestemming, skuld, jaloesie en keuses sónder die (bekende) pedagogiese trant wat dié lesers verveel."

Vir Mariana Loots in Die Burger (8 Januarie 2005) is Die hart van Zeebak 'n “opwindende, aksiebelaaide jeugroman wat te midde van alles wat gebeur, ook onder die oppervlak kyk. Deur Ferdinand se ervaringe sien lesers hoe om ook dieper dinge te hanteer, selfs al voel dit deel van ’n ander wêreld. Weer eens ’n roman met die Preller-gehaltemerk."

In 2013 verskyn Martie se volgende jeugboek, Onderwater – haar eerste verhaal vir die jeug sedert Die hart van Zeebak wat in 2004 verskyn het. Oor die ontstaan van Onderwater vertel Martie ’n bietjie meer aan Naomi Meyer op LitNet: "Die meeste stories 'kom' so stuk-stuk, nie in ’n aha-moment nie. Ek het prentjies in my kop begin kry van so ’n klein verlaterige dorpie en Christien wat daar rondloop. En van haar ouma wat onverwags kom kuier met ’n baie swaar tas (vol familiegeheime) ... En so het die storie ontwikkel en die karakters het hulle een vir een kom aanmeld, totdat ek ook begin agterkom het wat regtig in die dorpie aangaan. 'Ek' het net agter Christien aangeloop en gekyk wat sy doen en dit begin neerskryf en later oor en oor en weer oor en nog baie kere oorgewerk totdat alles 'volledig' gevoel het om hierdie bepaalde storie te vertel."

Solette Scheeres skryf op Maandblad Zuidafrika dat Onderwater lekker lees. Martie Preller skryf in ’n direkte skryfstyl en sy maak eerder gebruik van dialoog as beskrywings. Dit dra daartoe by dat die storie altyd momentum het. Haar sin vir humor bly ook altyd ’n bonus.

"Die storie speel in ’n tydsbestek van vyf dae af. Christien is ’n doodgewone tiener wat op ’n baie vervelige ou dorpie woon. Haar beste vriendin is verlief op ’n nuwe ou, haar ander maats werk ’n bietjie op haar nerwe en haar enigste kommunikasie is met die onbekende Jay via Facebook. Buitendien is daar ook iets tussen haar ouers aan die gang wat sy nie lekker verstaan nie. Maar dan kom haar Ouma onverwags kuier met ʼn tas vol ou foto’s en Christien kom agter dat haar gesin nie heeltemal is wat hulle voorgee om te wees nie. In die vyf dae gebeur daar soveel onverwagte dinge dat Christien se hele lewe holderstebolder verander in ʼn spannende avontuur.

"Hoewel die kans dat ʼn familie ʼn geheim so lank kan bewaar, vir my hoogs onwaarskynlik lyk, slaag Preller tog daarin om die verhaal geloofwaardig te hou met ʼn bevredigende ontknoping. Onderwater is geskik vir meisies vanaf 11 jaar, maar ek glo dat seuns dit ook sal geniet. Onderwater is leesplesier uit die boonste rakke."

Beeld (27 Maart 2000) het aan Martie Preller gevra watter boek haar lewe verander het. Haar antwoord was dat daar nie een boek is waaraan sy kan dink nie, maar dat boeke haar lewe verander het. "Van kleins af, het ek al wat ’n boek is verslind, kon net nie genoeg kry nie; daar is altyd nog soveel meer en meer en meer boeke. Ons is mos maar beperk in ons daaglikse kontak; kan net met soveel mense gesels, soveel dinge te wete kom, maar dan is daar altyd boeke!

"So saam met boeke het ek derduisende lewens gelewe, dinge besef en ervaar waarvan ek nooit sou geweet het nie, mense (karakters) ontmoet wat uit die hart en tot die hart met my gepraat het. En ’n boek praat nie teë nie, is nie ongeduldig nie, word nie vies vir jou nie. Soos die betroubaarste van vriende is hy altyd daar om sy woorde met jou te deel.

"’n Boek wat my lewe verander het? Nie net een boek nie, maar almal wat ek gelees het. Want soos met enige ontmoeting verander iets in jou. Ons is mos altyd aan die word. Boeke en woorde dwarrel deur my kop. ’n Paar wat uitspring om genoem te word, is Grapes of wrath van John Steinbeck, JD Salinger se boeke, Midi van André P Brink veral 'Die dag van die pampoen'. Maar ek verslind alles van Asterix tot Umberto Eco. Toe die kinders klein was, het ek saam met hulle Marietjie de Jong se Tandkitaar uit my kop geken.

"Die beste boek wat ek nog gelees het, dink ek, is Gabriel García Márquez se One hundred years of solitude, bloot net omdat my persoonlike kriterium is dat wanneer ’n skrywer jou dwing om elke woord te lees, dit ’n meesterstuk is. Want ek is ’n haastige leser.

"En die reuk van biblioteke en boekwinkels, daardie boekreuk – totaal verslaaf daaraan! En die opwinding van met ’n nuwe boek in jou hand staan! Niks lekkerder nie!

"Vandat ek self my hand aan stories waag, lees ek minder, want die leestyd word nou broeityd oor jou eie stories. Maar boeke skep skrywers en skrywers skep boeke, en so is daar altyd iets om na uit te sien."

Martie verstaan baie goed hoe kinders se koppe werk. Dit blyk duidelik uit wat sy aan Amanda Botha vertel het in Die Burger van 22 Februarie 2014: "Ek glo vas kleiner kinders veral hou van ’n boek in die hande. Ek dink hulle soek die konkreetheid van ’n boek. Dit is my missie om veral vir kleintjies ’n deurlopende blootstelling aan die betowering van stories te bied sodat lees deel van hul lewens word. Soos ek self as kind ervaar het, maak stories wêrelde van rykdom vir mens oop.

"’n Kind is ’n klein ontdekkingsreisiger. Hulle bevind hulle skielik in ’n wêreld wat hulle moet verken. Hulle voel verward en oorweldig deur soveel vreemde dinge en dan moet hulle, nes elkeen van ons, hul eie lewenspaadjies vind."

Martie is nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaanse jeugliteratuur nie, want solank skrywers, lesers en uitgewers saam daaraan werk om vir kinders boeke te produseer, sal dit goed gaan met die Afrikaanse boekemark vir die kinders. "Om te skryf vir ’n lewe, is om erg te waag – maar dan ... ’n haas moet doen, wat ’n haas moet doen." (Taalgenoot, Junie 2003)

Publikasies

Publikasie

Jy en die draakakkedis

Publikasiedatum

1992

ISBN

0627017703 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels uitgegee

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jy en Hercules

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2007

ISBN

  • 0627018661 (sb)
  • 9780799339161 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Van Schaik
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

The friendly elephant (Deel van die Fountain Series)

Publikasiedatum

1994

ISBN

 

Uitgewers

Londen: Hodder & Stoughton

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Daar's ’n spook in my kas

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2003

ISBN

  • 0798131950 (sb)
  • 0625033884 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-kinderboektoekenning (6-7 jaar) 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jy en Toetenkat

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2007

ISBN

  • 0627019420 (sb)
  • 9780799339178 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Van Schaik
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-kinderboektoekenning (8-9 jaar) 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Nicola B: streng privaat

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032515 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Anderkantland

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2004

ISBN

0624033325 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

  • Silwer Sanlamprys vir jeuglektuur 1994
  • CP Hoogenhout-medalje vir beste kinderboek in 1994-1995

Vertalings

Nederlands 2000

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Haas moet doen wat ’n haas moet doen

Publikasiedatum

1995

ISBN

079813464X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tersia Thom 1: Vriend of vyand

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034208 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Thersia Thom 2: Die Donkerhoek-driehoek

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034356 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tersia Thom 3: Skerwe in drome

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034593 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

My naam is Alexander en wat daarvan?

Publikasiedatum

1996

ISBN

0789639016 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

In die tyd van Esob

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624035131 (ab)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

  • Sanlamprys vir jeuglektuur 1996
  • Ererol vir IBBY

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Op die spoor van die lesea-vanger: ’n kies-koes-kopkrapboek

Publikasiedatum

1997

ISBN

0702140511 (sb)

Uitgewers

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Droomvangers

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137576 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tersia Thom 4: Bloed is die kleur van ivoor

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036391 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Maar my magtig, Moesoek!

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036790 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Balkieboek

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140275 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

  • Alba Bouwer-prys vir kinderlektuur 2001 (beste boek vir kinders 9-12: 1998-2000)
  • ATKV-Kinderboektoekenning (6-7 jaar) 2002

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Babalela

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2011

ISBN

  • 0799328014 (sb)
  • 0799329800 (sb)
  • 9780799346657 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur 2003 (saam met Lisa het ’n plan)

Vertalings

Pedi 2002

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lisa het ’n plan

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2008

ISBN

  • 0799329142 (sb)
  • 9780799342468 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur 2003 (saam met Babalela)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Eendag was daar ’n storie: joernaal van ’n reis en praktiese storiemaakkursus

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041573 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Handleiding vir skrywers

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ek is Simon

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624040011 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

MER0PRYS VIR Kinderliteratuur 2004

Vertalings

Engels 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jamie en Sebastiaan

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2015

ISBN

  • 0799331848 (sb)
  • 9780799351033 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skilpad sonder ’n dop

Publikasiedatum

2003

ISBN

  • 062503287 (sb)
  • 0625032861 (sb) (grootboek)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Diep, diep in ’n donker bos

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799331821 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afrika vertel

Publikasiedatum

2004

ISBN

0625032659 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Balkie en die kleurdief

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798143053 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hart van Zeebak

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624041387 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Balkie en die son se slaapplek. Graad 4. Leerdersboek: ’n lees-, leer- en taalreis saam met Balkie

Publikasiedatum

2004

ISBN

1770020012 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Balkie en die woeste virus. Graad 5. Leerdersboek: ’n lees-, leer- en taalreis saam met Balkie

Publikasiedatum

2004

ISBN

1770020020 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Balkie en die lugrowers. Graad 6. Leerdersboek: ’n lees-, leer- en taalreis saam met Balkie

Publikasiedatum

2005

ISBN

1770020063 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Best Books

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2005

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jy en die dinousourus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339185 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Jamie en Sebastiaan en die storiemol / saam met Martie Kruger

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2011

ISBN

9780799341348 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Emma en die Blêg

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343977(sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Los ons uit! (Babelela 3)

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2012

ISBN

978799345063 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder water

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799361100 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons kan! (Babelela 4)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799362800 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jason en die boekwurm

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799374056 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur Martie Preller beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top