Marita van der Vyver oor Donald Trump en hierdie 9/11

  • 79

Marita van der Vyver (foto: Naomi Bruwer); Donald Trump (foto: wikipedia)

Wat gee my die reg – as Afrikaanse skrywer wat in Frankryk woon – om kommentaar te lewer op 'n Amerikaanse verkiesing? Dis wat ek my afvra, leepoog en emosioneel uitgeput ná 'n slapelose nag voor die TV, waarin ek aanhoudend van Franse na Amerikaanse na Britse en ander nuuskanale gespring het, desperaat op soek na 'n sprankie hoop om sin te probeer maak van die vreemde nuwe wêreld waarin ons almal nou verder moet lewe. Nie Aldous Huxley se Brave New World nie. Nee, Donald Trump se angswekkende nuwe wêreld.

Ek dink onwillekeurig aan wat Lou Reed amper drie dekades gelede in sy album New York gesing het:

Give me your hungry, your tired, your poor, I'll piss on 'em
That's what the Statue of Bigotry says.

En ek wonder waarom hierdie lirieke skielik klink of dit vir Trump se New Yorkse oorwinningsbyeenkoms geskryf is?

Om my inleidende vraag uit die weg te kry (en dis waaragtig die enigste vraag wat ek vandag sonder te veel wroeging kan beantwoord): As daar al ooit 'n verkiesing was waar 'n buitestander die reg sou hê om haar sê te sê, dan is dit hierdie ene. Donald Trump is immers 'n buitestander in die internasionale politiek – 'n miljoenêr wat 'n bofbalpet dra en nog nooit enige politieke amp beklee het nie – wat pas verkies is as leier van die VSA, waarskynlik steeds die magtigste land op aarde, of ons nou daarvan hou of nie.

Maar daar is nog minstens twee redes waarom ek nie kan swyg nie.

Ek het die uitslae van die verkiesing die hele nag lank met 'n aaklige gevoel van déjà-vu gevolg. Franse kommentators oor die radio en op TV praat van “die ondenkbare” wat gebeur het – “Niemand het dit voorspel nie!” roep hulle geskok uit – maar hulle geheue is bitter kort. In 2002, net 14 jaar gelede, het g'n enkele meningspeiling voorspel dat die verregse Jean-Marie le Pen van die Front National sou deurdring tot die finale ronde van die Franse presidentsverkiesing nie. Kiesers lieg in meningspeilings, veral oor kandidate of keuses wat deur die alwetende media geminag word – dis die les wat die Franse moes leer.

Dis dieselfde les wat die Britte vroeër vanjaar met die Brexit-katastrofe moes leer. Dis die les wat bykans elke verkiesing en referendum deesdae vir ons leer. Keer op keer. Meningspeilings is onbetroubaar, want mense lieg. En die media is nie meer in voeling met wat die sogenaamde man op straat dink en glo nie. Die oggend van die Brexit-uitslag het ek in my bed na my man gedraai en gesê as dít in Brittanje kan gebeur, gaan Trump waarskynlik die volgende Amerikaanse president word.

Maar omdat ek so graag wil glo dat ons tog lesse uit die geskiedenis kan leer, het ek bly hoop die Amerikaanse volk gaan my verkeerd bewys. Anders sou ek nie heelnag wakker gebly het nie.

En nou wonder ek, tussen al die ander dinge deur waaroor ek vandag wonder, of dit toevallig is dat Marine le Pen van die Front National die eerste Franse politikus is wat Donald Trump geluk gewens het met sy verkiesing.

Gelukkig het die Franse in 2002, soos in elke Franse verkiesing, die luukse van 'n tweede ronde gekry. Al my Franse vriende en familie wat in 'n eerste ronde vir toetentaal onwaarskynlike kandidate van die Daggaparty of die Hansworsparty of wat ook al wil stem, kom in die tweede ronde te staan voor realpolitik. Dan stem jy nie vir jou ideale kandidaat nie, jy knyp jou oë toe en jy stem vir die minder onideale ene. In 2002 was dit vir baie Franse wat ek ken, 'n keuse tussen “cholera en die plaag”, soos my man altyd sê, tussen Chirac se regs en Le Pen se verregs. Die meeste het hulle trots gesluk en regs gestem om 'n verregse katastrofe te verhoed.

Die Amerikaners kry net een kans.

En in 'n verkiesing waar daar so 'n geringe getalleverskil is tussen die stemme vir die twee “hoofkandidate” – volgens meningspeilings wat ons in elk geval nie behoort te vertrou nie – word dit 'n enorme morele waagstuk om te stem vir kleiner kandidate wat nie 'n kans het om te wen nie. Veral as een van die enigste twee moontlike wenners boonop 'n kru, seksistiese, populistiese vreemdelinghater is.

Ek wou die laaste paar weke dikwels ween van wanhoop as mense op sosiale media kla oor hoe unlikeable Hillary Clinton is – asof sy 'n deelnemer aan 'n tienderjarige Miss Personality-wedstryd is eerder as aan 'n presidentsverkiesing! Hulle kla sy's nie links genoeg nie, nie regs genoeg nie, nie mooi genoeg nie, nie spontaan genoeg nie, of sy's te slim, te ervare (!), te nasty – en hulle vergeet heeltemal van die enigste vereiste wat eintlik tel: dat sy meer bevoeg is as Donald Trump om die president van die VSA te wees.

Selfs iemand soos Susan Sarandon, vir wie ek 'n blindelingse bewondering koester sedert sy my tienerhart verower het as die onvergeetlike Janet in The Rocky Horror Picture Show, het in hierdie lokval getrap. Sarandon se uitlating dat sy nie vir Hillary sal stem nie “omdat ek nie met my vagina stem nie”, was onoorspronklik en onvanpas. As daar al ooit 'n verkiesing was waar vroue se geslagsdele wel saakgemaak het, is dit hierdie ene.

Trump was 'n kandidaat wat gespot het dat hy mooi jong vroue aan hulle geslagsdele wil gryp. Sy reaksie op 'n hele reeks vroue wat hom van seksuele teistering beskuldig het, was telkens om hulle fisieke voorkoms aan te val. She wouldn't be my first choice. Trump is 'n macho man wat sy eggenotes soos motors inruil vir nuwer, mooier modelle. As 'n vrou soos Hillary te slim begin klink, noem hy haar a nasty woman.

Dis die ander rede, dalk die belangrikste van almal, waarom ek nie vandag net kan stilbly en anderpad kyk en voortgaan met my lewe nie.

In Frankryk het vroue eers ná die Tweede Wêreldoorlog stemreg gekry. My Franse skoonma onthou 'n samelewing waarin haar ma en tantes nie mag gestem het nie. Nou is ek die ma van 'n Frans-Afrikaanse dogter vir wie ek só graag 'n sagter, regverdiger, minder seksistiese wêreld wil agterlaat. En dit word by die dag moeiliker om dit reg te kry. In groot dele van Afrika en die Midde-Ooste word vroue om godsdienstige redes al hoe meer onderdruk. In die “beskaafde” Westerse wêreld word regte waarvoor ons ma's en oumas geveg het, soos om ons eie lywe en ons seksualiteit te beheer, ook toenemend bedreig.

Ek wil nie hê my dogter moet vir die eerste keer haar kosbare stemreg uitoefen in 'n samelewing wat 'n man soos Donald Trump as president kan voortbring nie. Een van die dinge wat hierdie verkiesing ontbloot het, is die donker onderstroom van vrouehaat wat steeds deur die VSA vloei. Dis moontlik selfs erger as die vreemdelinghaat, omdat dit moeiliker erken word. En die hemel weet, die vreemdelinghaat is erg genoeg.

Nou sit die Amerikaners met 'n president wat Meksikane as verkragters uitskel, wat alle Moslems uit die land wil jaag, wat slim, sterk vroue as nasty women beskou. Die ewige optimiste onder politieke kommentators gryp reeds na sy amptelike oorwinningstoespraak, toe hy veel meer versoenend en minder aggressief as gewoonlik geklink het, as bewys dat hy van nou af redeliker gaan wees. Dit was alles net leë dreigemente om steun te werf, skerm hulle. Nou sal ons die ware Donald Trump sien.

Maar dis makliker om 'n brand te stig as om 'n brand te blus. Die vlamme van haat en vrees wat die kandidaat Trump maand ná maand onder sy landgenote aangeblaas het, gaan nie sommer net lê noudat hy president geword het nie. Wat jy saai, sal jy maai.

Hierdie 9de dag van die 11de maand word reeds deur baie mense 'n tweede Nine Eleven genoem, vir Amerika en vir die res van die mensdom. Dis dalk te melodramaties, maar iets het ongetwyfeld vir altyd verander. 'n Verbode deur is oopgemaak en 'n klomp demone het ingeglip en ons gaan hulle nie sommer weer uitgejaag kry nie. En die ganse wêreld voel vandag kouer en killer as toe die son gisteraand gesak het.

  • 79

Kommentaar

  • Wonderlik gestel. Ek het vanoggend hier in Bangkok my seun met 'n swaar hart wakker gemaak, sy nuwe wêreld nou, en op pad terug na ek hom by die skool afgelaai het, gedink aan toe ek jongmens in Europa was, toe die muur getuimel het, die einde van die koue oorlog, hoeveel hoop ons gehad het.
    En toe ek toevallig lees dit was presies 27 jaar gelede, het ek in trane uitgebars.
    Ons het niks gevorder nie!
    En ja, jy is ongelukkig reg, dit voel asof daar demone is wat ons nie maklik van ontslae gaan raak nie.
    Baie dankie vir jou pragtige insig.

  • Ek sukkel om saam te stem ... is dit die seksisme rondom Trump of is dit beskerming van vroueregte of miskien emosionele druk wat toegelaat het dat ons so oorweldigend geglo het Hillary was die regte kandidaat? In SA het ons as minderheid nie 'n keuse nie want die swart meerderheidstemme sal altyd die oorhand hê ... is Trump dan nie maar die oplossing vir jare lange misbruik van die VSA se politieke mag en miskenning van die middelklas ...werkloses ... siekes wat alles belowe is maar nooit gerealiseer het nie? Kom ons gee Trump 'n regverdige kans ... slegter as wat dit in die res van die wêreld gaan kan dit nie.

    • Trump het regverdig 'n groot oorwinning behaal / glo as hy behoorlike raadgewers saam met hom het kan hy in hierdie deurmekaar wêreld suksesvol wees en kan hy vorentoe in gewildheid toeneem! Gee hom 'n kans!👍🤔
      net TRAGIES dat die 911-storie nou weer as vergelyking gebruik moet word?

    • Nicky Rademeyer

      Ons situasie as die middelklas is miskien ‘n bietjie soortgelyk as die van Amerika, tog ook veel anders en meer kompleks. In Amerika is die middelklas hoofsaaklik wit. Hulle voel verontreg omdat regstellende aksie hulle direk benadeel. Regstellende aksie konsentreer op die minderhede. In SA word regstellende aksie toegepas om die meerderheid te affirmeer en te bemagtig ongeag klas. ’n Opsigtelike middelklas onder die minderhede is besig om verder te verdwyn. Die verskil is dat daar nie so ’n groot middelklas bestaan onder witmense in SA nie, eerder die ander uiterste; meestal ryk witmense. Waar dan maak politieke opinie van die middelklas meer saak? In Amerika waar witmense en spesifiek die wit middelklas in die meerderheid is.

  • Ek dink ons maak te veel van ’n verkiesing wat eintlik vir die Amerikaners bedoel is! Waarvoor hulle gestem het, het hulle gekry! Die res van ons moet daarmee saamleef; en hoe weet ons, vir seker, dat die man nie 'n goeie President van die VSA sal uitmaak nie ? Clinton is geen bewonderbare kandidaat nie, en, as ons na die vorige verkose Presidente kyk is Trump so goed as enigeen van hulle! Kom ons gee die man 'n kans!

  • Joan Burgdorf

    Ag, van die twee swakstes wat Amerika kon uitspoeg, is ek persoonlik Bly Donald Trump het gewen.
    Hy draai geen doekies om nie. Sy, Hillary Clinton is ’n siek, kwaad en bedrieglike vrou. Gee Donald Trump kans, hy is nie die enigste persoon verantwoordelik vir die wiel wat draai nie.
    Angela Merkel is die volgende skok wat kom.

  • Gerhard Strydom

    Marita, jy is die een wat in ’n lokval betrap is, die een van die hoofstroom media. Die wêreld was op pad na ’n eenwêreld regering, Trump en Brexit het dit vir nou gestop. Hillary is nie meer bevoeg om President te wees nie, dis nie gegewe nie, sy het gefaal met Bengazi en met haar e-mails. Die midde- ooste is in chaos agv ISIS, dis haar en Obama se handewerk. Sy is die korrupste presidentskandidaat wat nog ooit in die VSA presidentskap verteenwoordig het. Die oorgrote meerderheid vd Amerikaanse bevolking kry swaar, terwyl die elitist in die stede floreer.

    • Jy is reg Gerhard. Ek hoop net nie hy is eintlik maar in dieselfde Zioniste-kamp as Hillary en al die ander nie. Kommunis Lenin het eenmaal gesê: "Die beste manier om die opposisie te beheer - is om hulle self te lei..." DIE Nuwe Wêreld Orde druk voort. Marilyn Manson se video een dag voor verkiesing vrygestel wys hoe Trump onthoof word en hy wat demoon Marilyn is bladsye uit 'n Bybel skeur en op 'n troon tussen 2 pilare sit. 9-11 gaan nog aan. Die nuwe president weer op 9-11 aangekondig ...
      Die sogenaamde RIOTS is met busse aangery. Groot show vir die wêreld terwyl die Illuminati dalk net weer hulle nuwe demoon in plek het ... tyd sal leer.

    • Daantjie Maartens

      Absoluut. Die spul liberale 'vrydenkers' was so op-gesyche in hul misleide sespoel van skeefgetrekte propaganda, hul bodem het behoorlik uitgeval.

    • Goeie antwoord Gerhard! Marita raak die grootste klomp bog kwyt - spul liberalistiese mainstream snert.

      • Definitief - en so kom alle leuens ook gelukkig tot 'n einde. Hierdie oordonderende klanke wat ons almal tot stilte boelie. Ek WIL na my man en my seuns kyk. Dit is vir my lekker en wanneer daar geluide buite is of 'n bottel oopgedraai word ... tel NET hulle. Hulle is alles in my lewe - nie die sisterhood nie.

        • Eva is Nie 'n Nagedagte van die Here Nie

          Judy, feminisme het onstaan om vrouens se keuse van hoe hulle hulle eie lewens wil lei voorgeskryf was deur die patriargie. Dit het altyd gegaan oor keuses hê. As jou familie vir jou alles is, en dit al is wat jy in belangstel, is dit reg so. As ek verkies om nie te trou nie, nie kinders te hê nie omdat ek my tyd en aandag anders wil bestee, is dit my keuse en wil so kan leef sonder om aangeval te word of vertel te word ek is verkeerd. Ek sal jou keuse wil beskerm en hopelik word ek dieselde guns bewys?

  • Hallo Marita

    Jy verwoord so presies hoe ek oor die hele petalje voel, en ek is verlig om te weet ek is nie die enigste persoon (en meer spesifiek, vroulike persoon) wat gister verwond rondgeloop het oor 'n ánder land se verkiesingsuitslag nie. Daar mag wel verskeie "checks and balances" wees wat Trump as president in toom kan hou, maar daardie deur wat hy oopgemaak het, dís die groot probleem.

  • Die lesse wat ons nie leer nie is die volgende. Al die mense wat ongelukkig is oor allerlei sake word of geignoreer deur die gevestigde orde, of die ongelukkiges word verklaaar tot "deplorables" dommes, idiote, ongeletterdes, ens. Die gevestigde orde spreek nie die probleme aan nie. Die massamedia verdraai alle uitsprake van die woordvoerders van die ongelukkiges en maak hulle belaglik. Dit voed juis die ongelukkigheid. Absoluut die verkeerde strategie!

  • ONGELOOFLIK. julle mense het geen navorsing oor Hillary gedoen nie. Sy is 'n krimineel. Die kleinste van haar dade was dat sy en Bill die WITHUIS besteel het toe hulle daaruit is. Ek is verstom oor "Afrikaners" se oningeligte opinies. Wanneer was Trump rassisties? Dis 'n internet President - as die ander so deursigtig was soos hy sou hulle dit nooit gemaak het nie. Nadat die Withuis se deure agter hulle toegeklap het was hulle soms varke van formaat.

  • Hierdie dame, wat soos vele literêre figure, en ander vakkundiges, leef in 'n idealistiese 'bubble'. 'n Wêreldjie vêr verwyderd van die realiteit. Voetsool blootstelling. Klink of die wêreld tot stilstand gaan kom na Trump se sege. Hy gaan verskeie beperkende kanale hê waardeur hy sal moet opereer. Min gaan werklik verander in die Amerikaanse samelewing. Gee dinge kans. Snaaks hoe die sogenaamde demokrate nie so demokraties is as dit teen hulle sienswyse draai nie. 'Man up', die stem van demokrasie het gepraat.

  • Marita, wil jy nie ook 'n ontleding van Hillary met haar twyfelagtige agtergrond doen nie? Die keuse in die VSA wat tussen 'n korrupte Demokraat en windbol Rupublikein. En die mense het die laasgenoemde as die mindere van twee euwels verkies.

  • Mattus met de BSA

    Dat die linkse betweters bidden dat ZA een president krijgt als Trump, het zou vlug gedaan zijn met de plaasmoorden en andere kriminaliteit!

    • NET SO Mattus, ek stem! Maar ongelukkig is dit hier ter plaatse te laat. Ek het elke woord wat uit Trump se mond gekom het geleer en bestudeer. Ons het grootgeword met hierdie man op TV. Dis 'n goeie mens en 'n mens van VREDE. Geen meer (HOPELIK) verwoesting van Midde-Ooste nie. Groete Suid-Afrika in groot kommunistiese korrupte bestel. Ons mag nie eens FOX NEWS hier kry nie. NET alles wat links van aard is. TOT KYKNET. My arme ma kyk dit oor Afrikaans. Sal NOOIT OOIT weer enige van hulle nuus kyk nie. Kan NIKS glo nie.

  • Ek kan regtig net met Marita van der Vyver saamstem. Sy stel dit goed. Ek kan nie glo dat die Amerikaners geval het vir die los retoriek, teenstrydige stellings, infame leuens, stotterende herhalende en niksseggende veralgemenings wat uit hierdie grillerige man se mond kom nie. Sowat van toegelate kru het mens nog net op gewaagde laataand komedieprogramme gehoor.

    “Common”, sou my ouma hom genoem het. So vol klatergoud – selfs die hare – wil ek my nou nie die “Leier van die Westerse Wêreld” voorstel nie. Dit voel vir my asof hy die verpersoonliking is van die tipies afstootlike van die Amerikaanse krasse materialisme en verbruikersamelewing. Kompleet met belastingontduiking en vele vrouemodelle of modelvroue - dan het hy nog tussen ‘n paar ander se bene gevroetel net omdat hy “famous” is.

    So dit is blykbaar nie die punt nie. Daardie algemene verskuiwing na fundamentalisme in ‘n “bang” wêreld is soos Marita dit uitspel hierso aan die werk. Dit voel vir my Brittanje het hulself oor die rand van die kloof gegooi, Amerika het hulleself nou ook oor daardie rand gegooi en wonder of ons nie al lankal al daaroor gegooi is nie ...

    • Daantjie Maartens

      Uhm ...
      Toe skielik wys die ware kleure van ons kumbaiya-kleuterkoor waartoe hul in staat is, in verset van 'n demokratiese proses/uitslag?
      Wys jou: Libtertjies se moraliteit oor 'fair play' strek ook maar net so ver, 'pending' van hoe die wind waai.

      • Mattus met de BSA

        Een Parijse linkse salonschrijfster van ZA-se komaf, die met alles saamstem wat de afhankelijke (want gesubsidieerd) media ons moet doen geloven !

      • Dankie, Herman, ek waardeer jou reaksie. Ek is al so moeg vir valse beskuldigings oor my 'vlugtelingskap' wat opduik elke keer as ek kommentaar lewer op enigiets wat iewers op aarde gebeur, dat ek nie meer die krag het om daarop te reageer nie. Ek het wel gehoop ek sou darem nog die reg hê om iets te sê oor wat in die VSA gebeur, want dit het absoluut niks te doen met my Suid-Afrikanerskap nie, maar helaas nie.

        • Ek dink nie iemand het jou 'n vlugteling genoem nie - hoekom sou hulle? As ek kan weg sal ek. Die gesprek het hier gegaan oor TRUMP. My mense is almal landuit omdat ons nou niemand meer ken wat nie iewers 'n geweer of ander wapen teen hulle gehad het nie. Dis nie die punt nie. Jy is in geheel nie 'n politiese buitestaander nie. Waarom dan hierdie artikel skryf? O ja, en SUID-AFRIKA se tegnoloë is deur CNN gevra oor die peilings en vir hulle nooit gewys hoe dit werk. Trump het oorweldigende guns gewen. Dit kon maklik deur die internet bepaal word; die dae van mense bel is verby. Trump het iets gesê, maar dit nie uitgevoer nie, maar daar wag 'n groot skok op die Clintoniete. Wikileaks is op dreef.

          • Almal kyk rolprente en niemand druk hulle ore toe vir die MotherF...s en openlike seks ens nie. 'n Video wat deur Billy Bush versprei is, waarin 'n man iets teenoor ander mans sê en hulle praat saam is maar wat dit is. NIEMAND van ons is bo 'n ander nie. Ons is ALMAL te lig gevind.

  • Dis fantastic! Almal wat redelik en normale mense is moet meer openlik standpunt inneem; net dan kan ons collective energy ’n verskil maak in die wêreld vol skape wat eerder blameer en quick fixes soek as verantwoordelikheid vat vir hulself en gevolge van hul besluite. So ek sê fantastic well done vir jou mag ons almal wakker word en ons monde oopmaak ipv moan saggies moan en niks doen nie.

  • Of dalk wou Amerika bloot nie stem vir 'n skelm korrupte liegbek wat deur haar eie Guptas ge-capture was en met bloed aan haar hande nie. Anyone but crooked Hillary!

  • Snaaks dat die sagte, nie-seksistiese wêreld wat sy vir haar dogter wil agterlaat, juis bedreig word deur die mense in streke deur haar genoem, wat juis deur Trump geteiken word! Het daar geen vernietigende aanvalle in haar wonderlik Frankryk plaasgevind nie? Ek sê maar net.

  • Annatjie Kruger

    Ek wonder of Marita van der Vyver my kommentaar sal lees. Ek sal kommentaar lewer met die hoop dat sy dit wel lewer. As ek 'n Amerikaner was sou ek beslis nie vir Hillary Clinton gestem het nie. Nie nadat ek gesien het waarvoor sy staan, aborsies tot net voordat die baba natuurlik gebore sal word. Dit is MOORD. Jy ontneem 'n mens die reg aan lewe wanneer jy 'n aborsie uitvoer. En sy sou ook nog erger saam met haar ander soortgelyk denkende feministe daarop aangedring het dat Christen-dokters en verpleegsters wetlik verplig moet word om die aborsies uit te voer. Dit is 'n inbraak op mense se demokratiese reg om self te besluit wat hulle keuses is of nie. Vir my is veel erger die moord van ongebore babas as die feit dat 'n man hom vergryp aan jong vrouens. Daardie jong vrouens het ten minste die geleentheid om 'n saak teen die man te maak. 'n Ongebore geaborteerde baba sal nooit in der ewigheid 'n geleentheid hê om enigiets te doen. En hoe kry die vrou dit reg om aborsies te pleeg, haar verskoning is dat sy die reg moet hê om self te besluit wat sy met haar liggaam wil doen. Sy vergeet die wonderlike voorreg wat sy het, en wat 'n man nooit sal hê nie. Die voorreg om 'n nuwe lewe te laat ontwikkel. Dit is vir my geweldig interessant dat vroue wat skree dat ander vrouens die reg op aborsies moet hê, gewoonlik self kinders het. Dan ook om 'n president te hê wat nie huiwer om geheime en vertroulike inligting aan die wêreld bekend te maak nie, is ook iemand om te vrees. Dit het sy gedoen deur duisende eposse op 'n oop e-posadres te dra en ook deur inligting (reaksietyd vir die Amerikaanse atoombom) in een van haar toesprake uit te blaker. Hoe weet 'n mens wat sy in die geheim aan ander staatshoofde uitblaker. En dan moet ook nie vergeet word wat haar houding was ten opsigte van die vroue met wie haar man Bill Clinton verhoudings gehad het. Sy as 'n vrou, het omgedraai en eintlik maar presies gedoen aan daardie vroue wat Trump aan die vroue in sy lewe gedoen het. Marita van den Vyver se treurmare is taamlik eensydig. Die enigste ding wat Clinton miskien 'n beter president sal maak as Trump is die feit dat sy reeds jare in politiek is, maar aan die ander kant Trump is reeds jare lank die CEO van groot ondernemings. Wat beteken dat hy ook ondervinding het met die bestuur van groot maatskappye. Hillary Clinton het die man op die straat met minagting behandel of geheel en al geïgnoreer. Trump het die vrees van die menigte raak gesien en dit aangespreek. Clinton was te besig om die klein groepies gelukkig te maak.

    • Eva is Nie 'n Nagedagte van die Here Nie

      Annatjie Kruger, hoe dink jy word ongewensde swangerskappe geskep? Deur mans wat hulle vergryp aan vrouens wat nie hulleself kan verdedig nie.

  • André Badenhorst

    Maritha, skink 'n Franse rooietjie en ontspan. Daar is eeue-oue "cheks & balances" wat die kieser met rede waagmoedig maak. Hulle het 'n beproefde grondwet en 'n kongres. En nie al Trump se skapies is in een kraal nie.

  • 'n Mens moet fyn lees en die koring van die kaf skei. Teumo het nooit ooit gesê hy wil alle Moslems uit die land jaag nie, hy het bloot gesê die vlugtelinge moenie toegelaat word voordat hulle nie seker is wat eintlik aangaan nie. Die media het dit uit verband geruk. So ook die sg seksuele kommentaar jare gelede. Anders as oud president Clinton vir wie Hillary steeds ondersteun nè. En ongelukkig was dit nie media hoor-hoor nie maar feite. Nee wat. Kry ’n slag iemand wat dalk minder o so diplomaties is, maar meer eg is. Trump is dalk net die man!

  • marie bredenkamp

    Ek voel of ek my heeltemal met hierdie skrywe kan identifiseer. Ek het dit in 'n effens-satiriese gedig probeer inskryf. Ek het ook die "kilte van die dag" gevoel. En die verwarring. En ek het weer vanaand na die opinies van verskillende verslaggewers geluister: dit lyk asof hulle opinies net so verdeeld is as wat die ganse Amerika nou is. Dankie Marita.

  • Frans van Rensburg

    Marita
    Dit is verontrustend dat daar so 'n behoudende konserwatisme oor ons spoel - sal interessant wees om jou kommentaar hierbo weer oor so vyf jaar te herlees.

  • Marie de Kock

    Ons is almal geregtig op kommentaar en 'n opinie. 1) Feit is dat die Clintons die werklikheid op grondvlak verloor het. En Trump sê hardop wat baie dink maar nie hardop kan sê nie. Dit verander die prentjie baie. 2) Baie lande sit met die tameletjie dat al die "humanistiese prekies" hul kniediep in die gemors beland het . Dit is daardie selfde prekies en optredes wat hulle omtrent verdrink en spartel vir hul eie menswaardigheid, oorlewing en versorging van die vreemdelinge en misdaad wat nie daar was nie. 3) Dit is mense soos jy wat nooit die GUTS het om daaroor te skryf nie maar alles onder die kombers vee.

  • Toemaar Marita jong. Ek dink dis die ouer tannies en ooms van Amerika wat so outyds is. Die kids of America sing 'n ander deuntjie. Veral die jong vroue van Amerika ... Die wêreld kannie agteruit nie en die jeug is die toekoms. Intussen, as Trump NIE die wêreld totaaaal opbogger intussen nie, sal die jong vroue ouer raak en stemreg verwerf. En uiteindelik sal die wiel draai. Maar soos jy tereg sê: dis jammer dat so 'n bekwame vrou soos Clinton nou nooit die kans gegun gaan word nie. BITTER jammer. Net so jammer soos Al Gore destyds. Die wêreld kan dalk net VINNIGER vorentoe beweeg sonder die ooms en ou tannies wat nog aan hul pioneer's kappies vasklou! Ek glo hierdie "mislukte generasie" (die jeug) gaan nog BAIE dinge opfix wat die ouer garde verbrou het die afgelope 100 jaar ... oa om te begin stem vir WARE politici en nie Showbiz-persone nie. Dit geld SA ook.

  • Marita -
    jy klink ongelukkig soos die kieskeurige ma wie se dogter, teen haar wense en beterwete, 'n seun van die verkeerde kant van die spoorlyn gevra het vir haar matriekafskeid, by haar spogskool. Ja, die duiwel is beslis los! Jy dink honderd en een verskonings uit hoekom dit beslis 'n ramp gaan wees, nog voordat jy die arme outjie ontmoet het en jy aanvaar ongevraagd dat enige seun van die regte kant van die spoorlyn, baie "meer bevoeg" sou wees.
    Ek het meer verdraagsaamheid, insig en objektiwiteit van 'n liberale denker soos jy verwag.
    NS: ek hoop jy het ook 'n nag lank wakker gelê oor president Zuma wat Donderdag weereens 'n mosie van vertroue in ons parlement ontvang het. Vir my is dit 'n baie groter tragedie en nader aan my bas as die ongetoetste Trump-geval wat jou so ooglopend ontstel het. Die kwaai beer in Amerika is die minste van my bekommernisse terwyl ek besig is om vir my lewe te hardloop.

  • Nella Liebenberg

    Ek is 'n Suid-Afrikaner wat ook Amerikaanse burgerskap het. Ek het vir Trump gestem.
    Julle almal wat buite Amerika staan het ongelooflik baie opinies oor 'n land en 'n verkiesing met inligting wat julle maar net op TV en die internet kry. Kom ek sê julle die media het geen geheim gemaak aan wie se kant hulle staan nie, so 'n ongelooflike hoeveelheid inligting wat julle (en ons hier) gevoer word is totaal verkeerd en skeef. Elke keer as hy iets sê word dit 10x opgeblaas en dan oorvertel as die waarheid en julle eet dit almal vir soetkoek op.
    Persoonlik dink ek alle mense van ander lande moet uit Amerikaanse politiek uitbly en nie hulle oningeligte opinies lewer nie. Marita dit sluit jou in!

  • Hi Marita,

    Susan Sarandon is 100% correct. She has always maintained that she is not going to vote for Clinton just because she is a woman. Watch some of Sarandon's interviews and you will see that she endorsed Bernie Sanders - a candidate whose policies aligned with hers. Hillary Clinton's policies did not align with her views. Also, you might have gained a lot of insight into the ugly world of the Democratic campaign if you followed all that Wikileaks has released in the last few weeks - a trove of bad stuff. Also - see the released documents about the Clinton Foundation? She is a corporatist Wall Street person who never cared about the working class - she is the symbol of what was wrong with American politics and she was deeply unpopular.

    She never lost because she was a woman - she lost because Democrats did not come out to vote for her - a massive decline in turnout from 2012. Trump got fewer votes than Romney in 2012 - yet still beat Hillary! The Democratic National committee (DNC) was supposed to promote a fair primary season - instead they colluded against Bernie Sanders. It was always known that Bernie Sanders would beat Trump in a general election (polls showed this since the beginning of the campaign) - and in her last days of campaigning, Hillary pandered to centrist Republicans - not to Democrats!

    So playing the woman card is dishonest in my opinion - it is not the real reason she lost. By the way more white woman voted for Trump than for Hillary.

  • Wat heeltemal uit die prentjie hierbo verlore is, is dat met Trump se verkiesing is die opbouende moontlike kernoorlog tussen Rusland en die VSA vir 'n wyle afgewend. Hillary het te kenne gegee sy sal nie daarvan wegskram nie. Trump is bereid om betrekkinge met Rusland te normaliseer, met wedersydse gevoel van Putin. Vir die rede alleenlik sou ek bereid gewees het om vir Trump eerder as Hillary te gestem het.

  • Die meningsvormers en die media stel my teleur met 'n oppervlakkige eensydige opinie. Daar was meer agter die verkiesing gewees as net 'n stem vir Hillary of Trump, dit wys na 'n verset teen die 'establishment' waarvan Hillary 'n simbool geword het (Benghazi, Clinton Foundation, Huma Abedin, Podesta, ens) en Trump, wat ook al sy kritiek, het 'n onvolmaakte simbool geword vir die vernietiging van die 'establishment'. Hoofstroom-media (nou nog) gaan voort om 'n baie negatiewe boodskap uit te dra, sonder om, soos goeie (lankal vergane) joernalistiek dit behaag, na alle kante objektief te ondersoek en verslag te lewer. Hoe donker die prentjie ook al mag voorkom, die misbruik van mag in die Wit Huis moes gebreek word.

  • Kaalvoet Klong

    Die oorwinning van Donald Trump is net bewys dat elke individu wat vir hom gestem het voel hulle het rede om so te doen. Om spreekwoordelike klippe te gooi na politikusse en politieke party, hetsy betrokke by die verkiesing of nie, gaan nie die situasie verander nie. Donald Trump is die nuutverkose president van die VSA en net tyd sal leer of dit ten bate van Amerika is of nie! Dis algemeen bekend dat elke politikus oor die algemeen dinge doen en beloftes maak tydens welke verkiesing, van hulle hou daarby en ander nie. As skrywer sal ek net byvoeg uit die Engelse literatuur: Don’t judge a book by its cover, open it and read and then you will know more.

  • Ernest Viljoen

    Feit:
    1) Amerika kry ’n nuwe president.
    2) Demokraties verkies ... en het Hillary ’n behoorlike pak slae gegee!
    3) Daar was vyf vorige mense wat Amerika se President was sonder "ervaring as politikus".
    4) Donald Trump is die man vir die daad ... nuwe uitkyk en nuwe idees.
    5) Probeer positiewe feite net so diep uitdelf soos u net die negatiewe kon uitdelf ...
    6) Ten spyte van doemprofete wen hy die verkiesing. Kon soveel Amerikaners verkeerd wees? Glo nie ....
    7) Hoekom mag hy nie ’n regverdige kans kry nie? Obama te same met Hillary het hulle werklike kleure gewys met hul kans wat hulle gekry het ... en nou?
    TRUMP ... TRUMP ...TRUMP ...
    make America great again!

    • Ag bols. Beide Trump en Clinton is net daar vir eie belang. Bernie Sanders was die enigste kandidaat met integriteit.

    • Absoluut, meneer Kobus. Ek sê mos in my inleidende paragraaf ek is 'n politieke buitestander wat nie langer kon stilbly nie. Ek verwag nie dat jy - of enigiemand anders - met my saamstem nie.

  • Toemaar Marita, ons is fine hier in Amerika! Als werk en life is good! In fact America makes the world go round and will always be great ... Trump sal homself beheer, daar is 'n werkende stelsel om dit te verseker! Net oor hy wit is en nie nonsens vat nie maak hom nie 'n swak president nie ... gee hom n kans!

  • Marietjie Luyt

    Die Demokratiese Party se besluit om Hillary Clinton bo die uiters gewilde Bernie Sanders as presidentskandidaat te benoem, was duidelik 'n flater. Hillary se elitisme, die geesdrif waarmee sy haar by die sogenaamde 1% ingewurm het (en die honderdeduisende rande wat sy uit praatjies aan Wall Street-verwante instansies gemaak het), gepaard met haar algehele gebrek aan charisma, en onvermoë om aanklank by gewone mense te vind, was haar ondergang.

    Daarmee stem ek saam dat Donald Trump se verkiesing 'n algehele ramp is, veral vanweë sy oningeligte, anti-wetenskaplike siening van seker die grootste bedreiging wat die mensdom in die gesig staar, te wete klimaatsverandering.

    Trump dink dis alles sommer net bollie, al stem letterlik 99% van alle klimaatswetenskaplikes saam dat mensgemaakte klimaatsverandering 'n werklikheid is wat hand en tand beveg moet word.

    Voor die Industriële Revolusie was daar sowat 270 deeltjies koolstof per miljoen in die lug. Wetenskaplikes reken dat 350 deeltjies per miljoen omtrent die maksimum is waarby ons ekostelsel min of meer kan oorleef. Ons trek nou egter reeds by 400 deeltjies koolstof per miljoen. Hoe meer deeltjies, hoe warmer word die wêreld. (Kyk gerus wat sê Bill McKibben, die stigting van die wêreldwye omgewingsorganisasie 350.org hieroor.)

    Trump steun nie die ontwikkeling en gebruik van nuwe tegnologieë as skoon en volhoubare energiebronne (via die son, wind en water) nie. Inteendeel. Hy sit oorgehaal om soveel olie, gas en steenkool uit die grond te haal. Sy motief: geldmaak. Die welstand van die omgewing, en die mense wat daarin woon, kan hom nie skeel nie.

    Trump se verkiesing is dus nie net 'n katastrofe vir Amerika nie, maar veral vir ons. Na verwagting gaan klimaatsverandering veral sub-Saharalande baie sleg tref. Ons beleef reeds die versengende hitte en katastrofale droogtes, wat met klimaatsverandering gepaard gaan. Dit gaan nog baie vererger: op die oomblik beleef die planeet maar 'n verhitting van 1 graad Celsius, en reeds smelt die pool-ys, die gletsers, ens. Hoe gaan dinge lyk as ons by 2 grade Celsius, of meer, trek?

    Die mense op hierdie blad wat bly is Trump het gewen, moet weer dink.
    Soos Bill McKibben in 'n onderhoud met Democracy Now sê: Opinies is een ding, fisiese realiteite iets heel anders.

    • Hi Marietjie
      Vir my verstommend dat niemand hier enige navorsing gedoen het nie. Dis BEWYS deur wikileaks en James O'Keefe met foto's, videos en lekkasies dat Hillary Sanders verneuk het. Dis NOG 'n misdaad op haar kerf. Daarom is Wasserman-Schultz afgedank. As dit Trump was, het alle hel op die aarde losgebars. Die AltMedia is AL wat reg gekies het. Hulle peilings was in die kol met 'n "gecrookery" en al. En kyk bietjie op die einde het TRUMP ook die "popular vote" gewen maar jy gaan vir nou eers lank wag vir die Hoofstroommedia (so Passe) om dit bekend te maak.

      • Marietjie Luyt

        Hallo Judy. Al wat my absoluut interesseer, is dat klimaatsverandering, indien enigsins moontlik, gestop moet word. Trump glo sonder rede in sy eie insigte hieroor. Iemand verwys iewers na ''magical thinking". Oor hy dink iets is so, is dit so, reken hy, heel klaarblyklik.

        My grootste wens is dat die man tog maar by kundiges gaan kers opsteek - hulle sal hom presies kan vertel wat die navorsing duidelik uitwys. Dit sal wel sy hare laat rys. Ek wens dat hy hom deur hierdie wetenskaplike kennis laat lei, en dat hy dan daarvolgens handel. Maar dit klink of die Grootbek reeds, met die aanstellings wat hy gemaak het, in hierdie geval ook net sy eie kop gaan volg.

    • Uiteindelik - iemand wat verder kyk na wat die realiteite is wat ons in die gesig staar.

      Albei hierdie kandidate was uiters onaantreklik en het hulle elkeen soveel geraamtes in die kas dat hulle letterlik hulle eie spookhuise kan opsit.

      Van die twee was Trump egter die een met die minste substansie, geen deurdagte beleidsbeplanning nie en om die kersie op die koek te sit druk hy sy kop in die sand oor een van die grootse uitdagings wat die mensdom in die gesig staar.

  • Tjaart Lemmer

    Trump, Brexit, toenemende regse sentiment in Wes-Europa is maar simptome van die uitdagings van globalisering. Dit gaan maar ’n uitgerekte pynlike proses wees. Die werkersklas in ontwikkelde lande moet toenemend kompeteer met goedkoper migrasie-arbeid uit ontwikkelende lande wat desperaat is om hulle lewensomstandighede te probeer verbeter.
    Hierdie werklikhede word geïgnoreer of afgemaak deur die linkse liberalistiese "thought fascists ". As jy oor enigiets van hulle verskil word jy doodgeskree en stilgemaak en beledig. Jou standpunt word gesensor as so onaanvaarbaar dat dit nie gehoor mag word nie. Die linkses het uit voeling geraak met hierdie werklikhede. Die mense wie se stemme stilgemaak is het toe maar gewag tot die verkiesing om hulle stemme te laat hoor.
    Globalisering gaan die verskil tussen ryk en arm net nog groter maak. Daar is ’n enorme vloei van welvaart na die 1% elite v d wêreld. Is dit wat die linkses wou gehad het?

  • Ag nee wat Marita van der Vyver, wat 'n mors van tyd om hierdie gesanik van jou te lees. Die snot en trane loop amper van my rekenaarskerm af.
    Donal Trump is die beste ding wat kon gebeur vir die VSA en die mensdom. 'n SAKEMAN wat die VSA soos 'n besigheid kan bestuur, nie 'n lae laks van 'n skelm slang wat in dit vir eie gewin is nie, maar die liberales kan dit skynbaar nie sien nie.

  • Mariette Hammann

    Marita, as Hillary Clinton gewen het, sou haar man weer in die Wit Huis wees, waar hy weer die geleentheid sou hê om meisies seksueel te teister. Hy het dit reeds gedoen toe hy president was, en niks oorgekom nie. Waarom moet die mense dit weer toelaat? Waarom sê jy niks daarvan nie?

    Hillary het nooit haar man se dade veroordeel nie, maar dit liewer probeer doodswyg.

    Mense wat aborsie ondersteun, ondersteun die moord op babas.

    Op 9/11 is baie Amerikaners en ander buitelanders oorlede. Die oorsaak daarvan was die Moslems wat dit beplan het. Tog ondersteun Obama, en blykbaar ook Hillary, hulle. Dit is belaglik om die feit dat Hillary nie president geword het nie, te beskryf as 'n tweede 9/11.

    DANKIE TOG TRUMP HET GEWEN!

  • Jammer dat jy so voel Marita, jy is ongelukkig omring deur linksstroom mense wat totaal liberaal is. Jy kan nie anders dink nie.

    • Het wragtig nie geweet die Afrikaners van nou is so ver links nie en dit het NIKS (IN HEMELSNAAM) met ras te doen nie. NIKS! Die nuwe SJW-feminisme vernietig ons jong wit seuns. En dis meestal WIT VROUE wat daaraan verbonde is. Gaan kyk op Youtube onder SJW cringe. Logika het net verdwyn uit 'n wêreld, soos my ma se: Jane Fonda het die inflasie so laat opgaan dat hulle almal moes gaan werk om haar (Jane Fonda) se gewete oor haar kinders te sus. En so is die baba's opgeoffer (crèches moes hulle groot maak) vir 'n damn blooming cause wat 'n "sisterhood" genoem word. En hulle't gedink die VROUE is ALMAL vir HILLARY - toe nie. Wat met Amerika gebeur raak ons almal. Ons Universiteite het OOK NOU safe spaces. Wa-t??? Dis as hulle nog in 2017 bestaan.

  • Weet julle nie daai vrou het die Withuis besteel nie? Gaan kyk The New Clinton Chronicles en baie ander ook. Hulle moes die Lincoln-hemelbed uit haar huis in Chappaqua gaan uithaal. Sy't ook Washington se fyn porselein weggedra. Dit was 'n vernedering destyds wat uit die nuus gebly het.

  • Marita, jy het sekerlik die reg op 'n mening, maar so ook mense wat van jou verskil. Wil jy ons nie die guns doen om 'n ontleding te doen oor die korrupte en moreel bankrot politieke leierskap van Jacob Zuma en sy party te doen nie - dis tog immers ook jou president, of distansieer jy jou van ons klomp vir wie daar geen alternatief is nie? Dit kan Trump dalk na 'n engel laat lyk! Buitendien het die man (Trump) nou die kans om sy kritici verkeerd te bewys.

  • Die volk het gepraat. Elke land verdien die regering vir wie hy stem. Die Don het sy Trump gespeel en die Eerste Dame het in die stof gebyt. Vatso mevrou, kry vir jou.

  • Ek bly al meer as 26 jaar in Amerika. Komende van SA, was ek altyd baie geïnteresseerd in politiek. Maar na die George Bush gemors, het ek alle belangstelling in enige politiek verloor. In die ou dae in SA (1960 - 1975), het ons altyd aanvaar die politici het die belange van die land op sy hart gehad! Nooit het ons kon droom die hele ou spul was altyd daar vir eie belang, ryk word en tjommies nie (nie net SA, maar ook in res van die wêreld), Al die dingetjies is mooi blootgestel deur die ontploffing van kennis (internet), en al die heilige koeie het geval (dink maar aan die spul Kennedys, ou pik Botha, De Klerk etc.). So waarom sal ou Trump enige iets doen behalwe as dit gaan om sy eie verheerliking? Dink weer.

  • Eva is Nie 'n Nagedagte van die Here Nie

    Ek glo dit nie. Dit staan hier swart op wit maar ek glo dit nie. Die wêreld is duidelik nie gereed vir verligting nie, in die metafisieke bedoeling en andersins. Die graad van morele onvolwassenheid wat hier ten toon gestel is, is skokkend. Marita van der Vyver, ek is jammer, mense is net nog nie gereed nie. En nou gaan dit nog 'n 100 jaar neem. Ai tog!

    • Marietjie Luyt

      Maar ons het nie 'n honderd jaar nie. Klimaatsverandering geskied veel vinniger as wat enigeen gereken het dit sou gebeur. Vier jaar is 'n lang tyd. Minder koolstof in die lug is nodig, nie meer nie.

      Soos sake nou staan, het 100 miljoen bome in Kalifornië die afgelope tyd gevrek - 'n derde van al die bome in die deelstaat. 'n Regstreekse gevolg van die verskriklike droogte wat daar heers, wat weer die gevolg is van klimaatsverandering en aardverhitting.

      Mense moet maar hieroor, en ander manifestasies van wegholaardverhitting lees. Gaan teken maar in op die blad vir klimaataktiviste wat Bill McKibben - 'n eerbare en ordentlike man as ek ooit een gesien het - geskep het. Dit is 350.org.

      Maar ek stem saam die mentaliteit van te veel mense op hierdie blad is maar al te primitief!

  • Annora Eksteen

    Inderdaad ontspoor en hier kom ek ook nog ingedrentel. Ek het nou so lekker almal se sienings gelees. Ai, ek was so hartseer oor Dame Hillary, maar sy het nie die stamina gehad nie, en vreeslike foute gemaak; na die verkiesing is al die glamour ook sommer van haar afgestroop en het sy inderdaad gesê sy wil net gaan lê op 'n hoop. Sy het darem 62 miljoen stemme gekry. Donald Duck gaan sy ding doen en Amerika gaan steeds 'n great land bly, met fenomenale skrywers, amazing flieks en reekse, fantastiese simfonie-orkeste, ontwikkeling in die wetenskap en tegnologie en 'n miljoen ander 'causes'. Sal ook darem Hillary se kinderboek wil lees oor die Withuis, sy was altyd 'n flukse dame, maar ek vermoed haar gô is nou uit. Nou moet Angelina Jolie maar haar ding doen oor agt jaar. (Hehe, ek grap net: voor julle die tamaties gooi.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top