Maria se armoire deur Johan en Ode Krige: ’n lesersindruk

  • 0

Voorblad en agterblad van die boek. Op die foto verskyn Ode en Johan Krige met Mietsie Andrag in die middel.

Maria se armoire
Johan en Ode Krige
(Geen uitgewers – geborg deur Stellenbosch Moederkerk se Historiese Bediening)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die woord armoire vind sy oorsprong in Frans en verwys na ’n groot (sieraad)klerekas of -kabinet, oorspronklik vir wapens gebruik. In Maria se armoire was daar nie wapens gestoor nie, maar het die kas vir ses generasies as ’n trousseaukis gedien.

Johan en Ode Krige vertel met die hulp van Mietsie Andrag (die vierde Maria-erfgenaam) ’n storie wat die oorsprong van die kas aan die leser ontvou. Die projek het begin toe Mietsie vir die NG Moederkerk vra of Maria se armoire in die kerk kon staan, omdat sy na ’n tehuis sou trek en daar nie plek vir die kas sou wees nie. Ongelukkig het die Historiese Bediening van die Moederkerk bevind dat die kas te groot is. Hulle neem toe die verantwoordelikheid om die historiese verhaal van hierdie trousseaukis op te teken.

Die verhaal begin in die jaar 1824 toe ’n mjinheer Stegmann vir sy dogter, Maria Stegmann, ’n trousseaukis maak as trougeskenk vir haar huwelik met Andrew Murray, ’n Skotse predikant wat na Suid-Afrika immigreer het en die stamvader is van baie Suid-Afrikaanse NG Kerk-predikante wat daarna sou volg. Murray en sy agt seuns (van wie vyf predikante was) het ’n beduidende rol in die stigting van nuwe gemeentes in Colesberg (1826), Middelburg (1852), Aliwal-Noord (1852), Murraysburg (1855), Aberdeen (1855) en Dordrecht (1856) gespeel.

Hiervanaf word die kas van een generasie Maria na die volgende Maria-erfgenaam oorgedra. Alhoewel die kas se eerste staanplek in die voorportaal van ’n pastorie in Graaff-Reinet was, het die kas hoofsaaklik ’n staanplek in historiese plekke in Stellenbosch gehad.

Die kas se tweede staanplek was in die NG Moederkerk se pastorie in Stellenbosch, aan die bopunt van Dorpstraat. Daarna word dit verskuif na Vredelust, ’n huis in Die Laan 8 langs die Eersterivier wat nou bekend staan as Moedersloon. Die vierde staanplek was in Gearholm (nou bekend as Saxenhof), een van Stellenbosch se historiese geboue in Dorpstraat. Daar het die kas vir twee generasies gebly totdat dit later na Dennerandweg in Dalsig verskuif is.

Maria se armoire sluit egter teleurstellend af, aangesien die kas nie meer ’n staanplek by ’n Maria-erfgenaam het nie. Tans staan dit in Utopia, ’n huis vir bejaardes, waar die oorspronklike pastorie, die kas se tweede staanplek, was.

Die boek bestaan uit twee dele. Die eerste helfte bestaan uit die vertelling oor die verskillende staanplekke en wie die kas elke keer geërf het. Hierdie vertelling word deur middel van die ek-verteller vanuit die oogpunt van die kas vertel, terwyl die tweede gedeelte van die boek, met die gebruik van ’n derdepersoonsverteller, geskiedenisdokumente oor die families en Stellenbosch aan die leser voorlê. Dit kom in die vorm van addendums voor, maar word in die boek as “laaie” uitgeken, asof die geskiedenis in die laaie van die kas weggebêre is.

Die gebruik van die ek-verteller kan dalk ’n kinderlike gevoel skep, wat nie noodwendig gepas is by die aanbieding van ’n historiese verhaal nie. Dit dra wel by tot die sterk waardevolle band wat sigbaar is tussen families, erfgoed en die herinneringe wat daarmee geassosieer word.

Maria se armoire is ’n boek wat uitbeeld hoe die samelewing met die jare verander het. Families en gesinne wat kleiner word, doopname wat hul waarde verloor, erfgoed wat agtergelaat word weens die kleiner leefareas van vandag se lewe.

Dit is verder ook gevul met waardevolle inligting oor prominente figure in Stellenbosch se geskiedenis, soos Andrew Murray en ds Johannes Henoch, van wie daar ’n standbeeld by die Fakulteit Teologie opgerig is. Die boek is verder gevul met inligting oor die ontstaan van historiese geboue (Bloemhof, Paul Roos, die Kweekskool en die Universiteit) in Stellenbosch. Net soos hierdie prominente figure en geboue vorm ook Maria se armoire eintlik deel van Stellenbosch se geskiedenis, omdat dit by sommige van hierdie prominente figure gehuisves was. Daarom is ook die geskiedenis daarvan veronderstel om bewaar te word.

(Die foto’s kom uit die boek.)

Foto van die ou pastorie in Dorpstraat

Foto van die kas se derde staanplek langs die Eersterivier

Foto van die kas se vierde staanplek in Dorpstraat

Foto van die huis in Dalsig wat die kas se vyfde staanplek was

Foto van Utopia, tehuis vir bejaardes, die kas se huidige staanplek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top