Mandela-dag 2017: SBA-jeugleiersforum

  • 0

As bydrae tot die gees rondom Mandela-dag het die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) op Vrydag 28 Julie 2017 by Artscape 35 matrikulante van verskillende skole byeengebring.

Ivor Price, tans bestuurder van sakevernuwing en spesiale projekte by Media24, het as fasiliteerder opgetree vir groepbesprekings rondom temas van oa diversiteit, leierskap, gemeenskapsbetrokkenheid en die toekoms van Suid-Afrika.

Gespreksfasiliteerder, Ivor Price, aan die woord tydens die interaktiewe gespreksessie

Die jongmense se vars, toekomsgerigte sienings het gesorg vir opwindende gesprek en die SBA glo dat die ervaring hulle ook vorentoe sal motiveer en inspireer om met vrymoedigheid as jong leiers daarop aan te dring om ’n daadwerklike bydrae binne hulle gemeenskappe te maak.

Die verrigtinge is afgesluit deur die huidige Mej Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, wat die leerders toegespreek het en met ’n optrede deur die Afrikaanse kletsrymkunstenaar HemelBesem.

Gespreksfasiliteerder Ivor Price, Anke Vlok (Hoërskool Montana), Mej SA 2017 Demi-Leigh Nel-Peters, Jannezene Tieras (Langeberg Sekondêre Skool), HemelBesem, Ridwhaana Jacobs (Esselenpark Sekondêre Skool) en Adin Pieters (De la Bat Skool)

Enkele reaksies van individue wat die geleentheid bygewoon het:

Ek wens ek kan weer ’n aand soos Vrydag beleef. – Adin Pieters, De la Bat Skool, Worcester

Dit was, so veel soos wat dit inspirerend was, fassinerend ook, om te sien hoe ’n klomp jongmense van verskillende agtergronde, kulture, omgewings en rasse bymekaar kan kom om ’n gemeenskaplike probleem te identifiseer en aan te spreek. Om te sien hoe n generasie wat gebore is uit die donker putte wat ons gesegregeerde voorouers gegrawe het, saam opstaan vir wat reg is en weerstaan wat verkeerd is, het werklik die gees van Mandela-dag voortgebring. – Martin du Plessis, Hugenote Hoërskool

Die hoogtepunt van die jeugforum was die gesprekke wat ons gevoer het oor watter aspekte ons dink Suid-Afrika ’n beter toekoms kan verseker. – Prudence Adonis, Bergrivier Sekondêr

Wiwe Ras-Pretoruis, Wes-Kaap se beste onderwyser 2016 verbonde aan Desmond Mpilo Tutu High, Mboweni vertel van een van haar leerders se belewenis:

Ayabonga was so gelukkig. Voel dat hy dinge beleef het wat hom verryk het, en kan nie ophou daaroor praat nie. Baie dankie aan julle vir die verskil wat julle in sy lewe gemaak het. Hy praat nou heeltyd met my in Afrikaans en klink my hy het ’n groot liefde vir ons taal ontwikkel. 

Matrikulante wat die forum bygewoon het saam met gespreksfasiliteerder Ivor Price

Hier is terugvoer van leerders wat die geleentheid bygewoon het:

Martin du Plessis
Hugenote Hoërskool, Wellington

Ek het eerlikwaar nie geweet wat om van die aand te verwag nie en was daarom nogal op my senuwees. Maar ek is onmiddellik gerusgestel toe die vriendelike gesigte van ander matrikulante my groet – ook maar net mense dieselfde as ek.

Die aand was ’n wonderlike geleentheid en ek is baie dankbaar vir die voorreg om dit te kon bywoon.

Dit was, so veel soos wat dit inspirerend was, fassinerend ook, om te sien hoe ’n klomp jongmense van verskillende agtergronde, kulture, omgewings en rasse bymekaar kan kom om ’n gemeenskaplike probleem te identifiseer en aan te spreek. Om te sien hoe ’n generasie wat gebore is uit die donker putte wat ons gesegregeerde voorouers gegrawe het, saam opstaan vir wat reg is en weerstaan wat verkeerd is, het werklik die gees van Mandela-dag voortgebring.

Ek is ’n persoon wat baie pro regverdigheid is. Daarom is die massiewe wanbalans tussen ryk en arm as gevolg van selfsugtigheid en gierigheid vir geld en mag ’n werklike doring in my vlees en ek dink ook in die vlees van die multikulturele en diverse land waarin ons woon. Daarom is ek werklik geïnspireer deur die idees, gedagtes en inisiatiewe afkomstig van ons tafelbesprekinge en breinblitssessies.

Dit is gerusstellend dat die generasies voor ons die foute kan sien wat hulle gemaak het en ’n verskil probeer maak in die toekomstige geslagte. Wat nog meer vir my gerusstellend was, was om die gretigheid en ywer te sien waarmee my generasie die probleme in hulle omgewing wil oplos en so die wêreld, stukkie vir stukkie, ’n beter plek wil maak – nie net vir ons nie, maar vir die generasies na ons ook. En ek dink dat dit werklik die motivering agter Mandela-dag is.


 

Adin Pieters
De la Bat Skool, Worcester

Ek is Adin Pieters van De La Bat skool in Worcester. Ek is half doof en bly in Parow Valley.

Dit was baie interessant om te sien hoe jongmense of jong kinders die wêreld sien. En dat hulle ook idees het vir ’n oplossing vir ons land.

Die jongmense verstaan hoekom die mense nou so lewe en ek was verbaas dat daar iemand is wat gesê het: "Ons jongmense is nie gebore onder rassisme nie."

Baie van die mense probeer nou om ’n dooie koei uit die sloot uit te grawe.

Jongmense is nie tussen rassisme gebore nie, en hulle sien ander jongmense nie vas aan hulle vel nie. Jongmense kyk baie in hoe die persoon is en gee nie om van watter ras die persoon is nie.

’n Paar van die jong kinders se ouers is rasbewus en probeer hulle kinders weg hou van die ander rasse. Maar die kinders sal nie hulle ouers se opinie volg nie, want dit is nie wat hulle sien nie.

Vir my voel dit dat jongmense die lewe van vandag verstaan omdat hulle weet wat in die geskiedenis gebeur het tussen die apartheidtye.

Die antwoorde wat ons kinders gegee het op die vraag "Suid-Afrika maak my kwaad ..." was baie oor rasse en samelewing wat ons jongmense in Suid-Afrika sien.

Ons raak ook kwaad vir wat in die politiek gebeur. Alles wat daar gebeur, is nie net om ons land te beskerm nie, dit is meer dat die leiers net hulle kulture beskerm.

Leiers van Suid Afrika het ook ’n groot invloed op Suid-Afrika, want hulle dink nie aan hulle land nie, net aan hulleself en hulle eie ras of kultuur. ’n Swart leier sal byvoorbeeld nooit ’n wit persoon se voorstel aanvaar nie, want hy/sy is rassis.

Dit werk nie so nie, want alle mense in Suid-Afrika het idees hoe om die land te kan verbeter. Nie net swart mense nie of nie net wit mense nie – almal kan. Dit maak nie saak of die persoon wit of swart of bruin of geel in nie, almal kan.

Ons hoop vir suid-afrika is dat die verlede in die verlede sal bly ...

En dat ons die toekoms beter sal maak.


 

Anneen Uys
Curro Langebaan

Nelson Mandela is die Suid-Afrikaanse simbool vir vrede en barmhartigheid. Meng dit met ’n paar ure en ’n bietjie gees en jy het ’n wenresep vir ’n toekoms so helder soos ons reënboognasie. Mandela-dag is vir my ’n dag waarop ek tyd neem om regtig te fokus op my medemens en sy behoeftes. Dit is ook nie net beperk tot Mandela-dag self nie, maar deur die hele jaar.

Die SBA het al my verwagtinge oortref deur ’n fantastiese aand te reël vir jong leiers in ons land. Ivor Price het op ’n kreatiewe manier ons almal se koppe aan die dink gesit oor die toekoms van Suid-Afrika. Jy leer nuwe mense ken, kom nuwe uitdagings teë en geniet wonderlike gassprekers wat waarlik rolmodelle is.

Rolmodelle is beslis nodig in vandag se tyd. My ma sê altyd daar bestaan nie so iets soos slegte kinders nie, net slegte ouers. Die jeug van vandag het nie mense om na op te kyk nie; ons land se leiers inkluis. Ons kort meer rolmodelle om kinders op ’n positiewe wyse te beïnvloed, leer en inspireer.

Drie dinge wat ek glo ons jeug nodig het vir ’n beter toekoms is positiwiteit, geloof en medemenslikheid. Ons land is pragtig. Ons het tonne hulpbronne, beeldskone strande en natuurreservate. Ons fokus so op die negatiewe houdings van ons ouers/leiers dat ons vergeet in watter mooi land ons bly. Deur gefokus te bly op die beloftes en die plan van God vir ons lewens sal al die ander dinge in plek val. Laastens moet ons leer om onsself in mekaar se skoene te plaas. Ons hoef nie met mekaar saam te stem nie, maar om tot ’n ooreenkoms/oplossing te kom moet ons mekaar se standpunte verstaan.

Besluit vandag waar jy môre wil wees en vergeet van die verlede.


 

Anke Vlok
Hoërskool Montana, Worcester

Madiba – wêreldberoemde ikoon, rolmodel vir jonk en oud en vader van ons trotse reënboognasie. Wat beteken reënboognasie? Dit verwys na ons land se diversiteit van natuur, ras en kultuur, maar meer as dit getuig dit van die beloftes van eenheid, gelykheid en ’n nuwe begin wat Suid-Afrika vir almal bied.

Vandag, meer as 23 jaar na ons land se eerste demokratiese verkiesing, word dié beloftes dikwels onvervuld gelaat. Mandela-dag is daar om ons te herinner aan die verlede en die ideale waarvoor daar gewerk is, sodat die drome van reuse soos mnr Mandela, ’n realiteit vir Suid-Afrikaners vandag kan wees. Mandela-dag is daar om jong leiers te inspireer en ons te herinner aan die opofferinge wat gemaak is deur generasies voor ons sodat ons as jeug, ongeag kleur of kultuur, in harmonie met mekaar kan leef.

Ek moet bieg, ek het ’n stokstywe, formele konferensie verwag toe ek ingelig is van die SBA-jeugforum ter ere van mnr Mandela waar ek my skool moet verteenwoordig. Die forum was egter baie ontspanne en die leerders wat daar was, kon gemaklik wees en gesels oor ons land se probleme, behoeftes en die toekoms van ons land.

Een van die onderwerpe wat by die forum deur HemelBesem aangespreek is, is rolmodelle en hoe plaaslike rolmodelle van kardinale belang is, aangesien hulle ons definisies van sukses beïnvloed. Goeie rolmodelle inspireer jongmense om aktief as burgers deel te neem. Rolmodelle kan strek van parlementslede en Suid-Afrikaanse vermaaklikheidspersoonlikhede tot onderwysers en familielede, met mnr Mandela as die vernaamste voorbeeld van ’n goeie rolmodel vir die jeug van Suid-Afrika. Rolmodelle vorm ons op maniere wat moeilik is om te beskryf. ’n Rolmodel is iemand na wie jy opkyk en soos wie jy streef om te wees. Ons as jeug móét rolmodelle in ons eie gemeenskap en ons eie land hê na wie ons kan opkyk, anders gaan vaderlandsliefde onder die nuwe generasie, die toekomstige leiers, verlore gaan.

Na afloop van die besprekings is daar vasgestel dat onderwys ’n groot rol speel daarin om ’n beter toekoms vir die jeug van Suid-Afrika te verseker, want skool is waar jy jouself begin ontdek. As jy die wêreld instap sonder ’n goeie opvoeding, begin jy alreeds met ’n agterstand. ’n Opgevoede nasie kan ingeligte besluite neem en Suid-Afrika se koers bepaal om ’n blink toekoms vir elkeen te verseker.

Ivor Price, Corné Pedro (Skurweberg Sekondêre Skool), Renata Booisen (Clanwilliam Sekondêre Skool), Mej SA Demi-Leigh Nel-Peters, HemelBesem, Nicole Joubert (Hoërskool Graafwater), en Riana Mostert (Citrusdal Akademie)


 

Brian-Lee Cupido
Rusthof Sekondêre Skool, Strand

Die Nelson Mandela-dag-viering op 18 Julie is ons manier om ’n reus van ’n man te vereer vir sy bydrae tot die wêreld en sy visie wat hy gedeel het met die mensdom. Hy het die wêreld verander met wat hy geglo het, en ek glo die doel van Mandela-dag is om ons te herinner dat ons moet strewe om die wêreld te beïnvloed. Soos Nelson dit sy lewensdoel gemaak het vir die verbetering van ander se lewens ten koste van sy eie beteken dit vir my ek moet lewe om ander persone se lewens beter te maak.

My verwagting van die SBA-jeugforum was om myself in ’n omgewing te vind waar ek sal omring word deur persone van dieselfde denke met betrekking tot politieke, sosiale welsyn en ekonomiese kwessies van Suid-Afrika, so ook die wêreld. Om nie net probleme raak te sien nie, maar eerder werksame oplossings te vind vir die kwessies. En ook om die positiewe ontwikkeling van Suid-Afrika raak te sien en die mooi toekoms.

My ervaring van die jeugforum sal ek beskryf as insiggewend, want dit het my as jong volwassene en toekomstige leier ’n nuwe perspektief omtrent dinge gegee. Die sprekers het geïnspireer deur hulle lewenstories en ervarings en het my laat besef dat ek ook ’n lig kan wees vir ander en dat ek my rolmodelle om my moet waarneem.

Ek glo werklik rolmodelle is nodig in ons land om burgers te inspireer om aktief deel te wees in gemeenskapswerk. Hierdie ikone is nodig om burgers te motiveer en die moed te gee om te doen wat van hulle verwag word.

Vir Suid-Afrika om ’n beter toekoms vir die jeug te verseker sal ons eerstens beter politieke leiers nodig het en ook die land se visies en waardes moet ontleed. Ons sal meer moet fokus op opvoeding, wetstoepassing en ons Grondwet. Ons leiers moet meer “selfloos” word en aandag gee aan die welvaart van ons land se burgers en hulle ontwikkeling.

As jongmens sal ek die leier wil word wat ek graag sou wou hê. Ek glo deur dit sal ek ’n groot bydrae kan maak tot ons die land se ontwikkeling. Ons sal Suid-Afrika beter maak soos Mandela as ons besef ons is ’n eenheid.


 

Christiaan Burger

Hoërskool DF Malan

Mandela-dag is die geleentheid vir alle Suid-Afrikaners om die ongelooflike nalatenskap van Nelson Mandela, wat 67 jaar van sy lewe gewy het aan menslike geregtigheid, te vier. Op die dag verenig landsburgers om elk vir 67 minute ’n positiewe verskil in hulle gemeenskappe te maak.

Suid-Afrikaners het vandag ’n baie groot uitdaging, met ’n negatiewe verandering in ekonomiese klimaat, armoede wat groei, werkloosheid wat veral onder die jeug toeneem en die welvaartgaping wat vergroot, wat die alledaagse lewe al hoe moeiliker maak. Suid-Afrika is afhanklik van sy jeug om die katalisator te wees om Suid-Afrika positief vorentoe te neem. Gevolglik is die jeug afhanklik van navolgenswaardige rolmodelle.

Die SBA het ter ere van Mandela-dag ’n jeugforum aangebied waar ons die geleentheid gekry het om dié kwessies waarmee Suid-Afrika gekonfronteer word, te bespreek. Nelson Mandela sal altyd die grootste rolmodel vir Suid-Afrikaners wees en selfs internasionaal dien sy nagedagtenis as inspirasie.

Suid-Afrika se jeug benodig rigtingwysers en geleenthede om ’n konkrete bewuswording van Nelson Mandela se ideale en visie te ervaar. Die SBA speel onteenseglik só ’n rol. Die sprekers by dié geleentheid het my beïndruk, veral HemelBesem, wat ek sien as ’n invloedryke figuur en rolmodel met wie die jeug hulle kan vereenselwig.


 

Henronita Kupido
Groenberg Sekondêre Skool, Grabouw

Mandela-dag is die dag waarop Suid-Afrikaners regoor die land aangemoedig word om 67 minute van hul tyd aan ’n goeie daad te spandeer wat ten doel het om oudpresident Nelson Mandela se lewe te vier. Vir my beteken hierdie dag baie, want daar is ongelooflik baie maniere om terug te gee en niks terug te verwag nie.

Ek het ’n asemrowende ervaring van die SBA-jeugforum ter ere van Mandela beleef. Dit was ’n wonderlike geleentheid wat aan my gebied was. Ek is besonder dankbaar om deel te kan wees van die SBA.

Suid-Afrika het nou ’n besonderse soort leierskap en rolmodelle nodig om die ongelooflike potensiaal van die land te help ontgin asook ’n beter toekoms vir die jeug te verseker. Sterk leiers is van die grootste belang, want ’n mens kan nie ander lei indien jy nie oor die vermoë beskik is om jouself te lei nie. Leiers soos Mandela is nou dringend nodig in ons land. Na sy dood het die persepsie hier ontstaan dat die land erosie van leierskap ervaar. Die ander belangrike eienskap wat benodig word is vertroue, goeie waardes en jy moet bereid wees om opofferings te maak. Die agteruitgang van ons land is kommerwekkend en ons as môre se leiers moet ons stemme dik maak en verantwoordelikheid neem vir die toekoms. Ons is die reënbooggenerasie. Na die storm is daar altyd lig.

Vir seker is die doel om elke dag van jou lewe iets goed vir iemand anders te doen. Jy moet altyd trots wees op jou land. Ons moet mekaar se hande neem, mekaar ondersteun en moet nooit moed opgee nie.

Ons is die toekoms van Suid-Afrika.

Foto's: Stephen Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top