Mampoer en breinplaak

  • 5

Hel, sedert ek die Marico-mampoer so af-en-toe vat in klein snarsies, voor slaap, voel dit sommer of dit ou plaak uit die breinare verwyder het. Ek moet bieg, ek het ook 'n kapsule met Cannabis-ekstrak gesluk en het vir drie dae aan slapbene gely... 

Sedertdien lees ek na 24h00 baie op Google, want om nog boeke vir stof vang op te gaar, maak nie meer sin nie. Na 24h00 tot 06h00 is data goedkoop en ek het byna 100 Gigs vry data tyd opgegaar met tyd. Ek dink dat ons motors al rekenaars het, sommige slimmer as ander. Die een probleem met al die tegnologie, is dat dit beperkte leeftyd het, beide die hardeware en programmatuur se versoenbaarheid met opgraderings.  Ons praat deesdae van rekenaargeheues van 100'e gigabytes. Selfs dit is nou verouderd. In al die jare van rekenaars, was nog nooit 'n program geprogrammeer as regte spraak tot tik en ander aksie, as 'n persoonlike assistent sonder probleem nie. Ek weet nie hoe politici nog wilde uitsprake maak van 1 miljoen werkgeleenthede binne x maande skep nie. 

Deesdae kan 3-D drukkers al geboue "druk". Motorkarre sal ook gedruk word. Waar gaan werkgeleenthede vandaan kom in SA? 

Dit maak nie regtig saak wie of wat as verskoning deesdae vir swak rand of jongste afgradering blameer word nie, SA is deesdae tegnologies agterlik en bied met vele nikswerd BA-grade, nie veel hoop aan voornemende beleggers vir tegnologiese ontwikkelingsbeleggings nie. 'n Vaardige rekenaarprogrammeerder met aanleg en diploma, is veel meer werd as iemand met bv doktorsgraad in kunsgeskiedenis. Ons agterlike idee dat 'n akademiese papierkwalifikasie meer werd is as sg indiensopleiding met uiteindelik sertifikaat of diploma. Groot paradigmaskuiwe is nodig, want tans smous universiteite perdedrolle as vye oor kwalifikasies. 

 

  • 5

Kommentaar

  • Hans, jy skryf van bietjie natuurlike middels vir medisinale doeleindes gebruik. Ek het eerstehandse kennis daarvan. Iemand het my vertel van die resep vir oa "gout", hoë bloeddruk en cholesterol. Die ou sê vir my om 'n vuurhoutjieboksie met dagga (en pitte) in 'n bottel Gilbeys Jenewer in te gooi. Jy los dit vir so paar dae om te "trek". Die eerste wat jy in die oggend doen wanneer jy jou oë oopmaak is om 'n proppie vol van die vloeistof te sluk. Ek het na sowat twee weke 'n tinteling in my ledemate (vingers en tone) begin voel. My af en toe hardlywigheid het ook verdwyn. Ek het die hele bottel op gebruik. Ek is ook vir 'n mediese ondersoek en alles was in orde. My cholesterol-vlak was laag en bloeddruk ook binne die aanbevole grense. Ek het een keer in my lewe die papegaaislaai gerook, maar gelukkig het dit nie vatplek aan my gekry nie. Ek dink tog die gewas het goeie voordele. Die mampoer vat ek sommer vir die lekkerte. Medisinale voordele is net 'n bonus.

  • Hans Richardt

    Die swael ... Dalk was hy net geswael.
    Reusedwerg, dis ekstrak wat soos ander essensiële olies met "stookpit" verkry word. Dis nogals kwaai ...

  • O, die goed kom nou in kapsulevorm? Jare gelede het my oupa 'n voorman gehad wat 'n ingewikkelde stelsel gehad het om dit te rook. Dit was kleipype in die grond en die rook het deur 'n waterfiltreerder gegaan voordat dit in die longe ingesuig is. Ek en my broer het, toe ons nog jonk was, gereeld vir Oupa en Ouma gaan kuier, en dan het ons ons vergaap aan ou Isak se se manewales as hy die ding rook. Sy verbeelding het dan ook sulke drogbeelde opgetower, wat hy in rympies aan ons voorgedra het, terwyl hy sy een oog so bot toe geknyp het. Dit het hom nie slapbene gegee soos by jou nie, Hans; nee, dan het hy die werk gedoen van tien ander mense, totdat hy eers weer 'n suigie moes vat van die pypie in die grond.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top