Malhuis – ’n gesprek met Anel Heydenrych

  • 2

Malhuis
Anel Heydenrych

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903062

Trisa Hugo gesels met Anel Heydenrych oor Heydenrych se sielkundige riller, Malhuis.

Dit is baie moeilik om oor hierdie besondere verhaal van Helena Harmse te gesels sonder om die storielyn te verklap. Die donker poele van menswees waarin Helena wegsink en soms ook tog kan dryf, ondersoek baie temas deur al die gefolterde karakters wat eintlik nie oor gepraat word nie. Hoe het Helena se donkerte jou as skrywer geaffekteer? Self het Helena soms baie lig daarmee omgegaan, maar karakters vryf soms op ’n skrywer af?

Dit was inderdaad ’n moeilike reis saam met Helena. Ek het soms gehuil oor haar terwyl ek geskryf het. Ek dink daar is geweldig baie skrywers wat die “ligter” kant van die lewe ontgin en karakters skep wat nie met die donker poele (soos jy dit stel) van die lewe gekonfronteer word nie, maar ongelukkig is die lewe nie vir almal maklik nie. Alhoewel alle mense soms moeilike tye en krisisse beleef, is daar so baie wat deur die lewe hard in die gesig geslaan word. Hierdie mense se lewens is vir my ’n bron waaruit ek put om karakters te skep wat met wreedheid gekonfronteer is.

Miskien probeer ek ook om “’n stem” te gee vir so baie (veral vroue) wat deur die soort hel gaan wat Helena beleef het. Ek het ook nie ’n maklike kinderlewe gehad nie en enkele aspekte van Helena se ervaring as kind grens aan my eie. Ek was egter gelukkig nie verkrag nie en daar was nie ’n “pastoor Gert” in my lewe nie.

Ek stem met jou saam dat karakters soms aan skrywers “afvryf”. Ek het dikwels in die middel van die nag opgestaan en geskryf omdat ek nie kon slaap nie; sy het regtig by my gespook en daarop aangedring om geskryf te word. Helena is ’n baie komplekse karakter en omdat ons so ’n lang reis saam beleef het (ek het altesaam tien jaar aan die verhaal gewerk), het ek gemengde gevoelens gehad nadat die boek voltooi is. Sy het lank daarna steeds by my gespook.

Ek het die eerste keer met jou skryfwerk kennis gemaak in ’n kortverhaal, “My pa se blokkiesbaadjie”, wat in 2006 opgeneem is in die kortverhaalbundel Viersprong. Helena verwys in Malhuis ook vlugtig na haar pa se blokkiesbaadjie. Die pa in Malhuis het ook ’n drankprobleem, en daar is ’n sus Rika en ’n broer in die weermag, net soos in die kortverhaal. Beide hoofkarakters is Helena. Sou jy sê Malhuis het voortgebou op karakters wat hulle reeds voorheen in jou kop aangemeld het?

Ja, beslis. Ek is baie dankbaar dat ek eers kortverhale oor Helena en die geestesiek karakters kon skryf. Dit het baie gehelp om die karakters te ontgin. Ek het reeds aan Malhuis begin werk terwyl ek in die inrigting vir geestesiek pasiënte in Londen gewerk het. Dit was eintlik vir my maklik om oor die karakters te skryf, omdat hulle so ’n groot indruk op my gemaak het.

Nadat ek teruggekeer het na Suid-Afrika, was ek bevoorreg om saam met Nadia de Kock, Vincent Pienaar, Trisa Hugo en Annemarie Coetzer van die kortverhaalbundel Viersprong deel te wees. Dit het baie gehelp met die struktuur van Malhuis en om dieper in Helena se karakter in te delf.

Malhuis het uiteindelik deel van my meestersgraad in kreatiewe skryfwerk geword. Ek is besonder dankbaar vir die insette van Henning Pieterse en my medestudente.

My broer het, soos die karakter in Malhuis, selfmoord gepleeg en ek dink dat hy ook nooit die “bosoorlog” verwerk het nie.

Wanneer ek terugkyk, besef ek dat die Helena-karakter baie jare lank in my kop gebroei het voordat sy op papier beland het.

Soos jy reeds genoem het, het jou werk in die inrigting in Londen jou uiteraard in voeling met versteurde pasiënte geplaas. Wil jy meer vertel?

Ek was baie bevoorreg om vir ’n jaar in Engeland te kon bly en werk. Ek het in die inrigting gou besef dat die mense besonders is, en hulle het my beslis geïnspireer. Die karakters bestaan almal; ek het slegs hulle vanne verander. Ek het eendag na ’n sessie met ene Naomi (met haar haas Blossom in haar kamer) gedink dat dit moontlik interessant kon wees om ’n verhaal te skryf waarin ook die sielkundige “ietwat versteurd” is. Die haas in die “malhuis” het ek ook gesien as simbool van die vasgevangenheid van mense wat in so ’n inrigting moet bly. Die titel was aanvanklik Blossom in die Malhuis, maar vriend Vincent Pienaar het voorgestel dat dit bloot Malhuis moet wees.

Ek het geweldig baie notas gemaak terwyl ek daar gewerk het, maar wanneer ’n mens fiksie skryf, oordryf jy soms en laat die karakters ook maar toe om hulle eie pad te volg. Ek het baie lief geword vir die mense in die inrigting en ek is dankbaar dat ek, alhoewel slegs vir ’n rukkie, hulle reis kon deel.

Dit was ook vir my belangrik om humor in te werk, want as alles net donker is, sal die leser nie die verhaal kan verteer nie. In die inrigting het ek gou besef dat ’n sin vir humor noodsaaklik is om in so ’n instelling te oorleef.

Helena het besonderse geduld met pasiënte. Is jy self so geduldig en deernisvol van aard? Ek twyfel of ’n ongeduldige mens dit so eg sou kon laat oorkom.

Alhoewel ek nie altyd baie geduld het met myself nie, dink ek tog dat ek deernis het met mense wat nie ’n baie goeie “kaarthand” deur die lewe uitgedeel is nie. Ek het iewers gelees dat PG du Plessis sê dat ’n mens nie kan skryf as jy nie ’n soort deernis met die mensdom het nie.

Almal het nie dieselfde vermoëns nie en ek het deernis met mense wat seer het, veral dié wat as kinders mishandel is. Ek dink my eie moeilike kinderlewe het my gehelp om empatie te hê met mense wat ’n harde pad loop. Almal het tog maar net aanvaarding en begrip nodig.

As terapeut het Helena besondere persoonlike dingetjies gedoen, byvoorbeeld Gladys se skurwe bene ingesmeer met Vaseline. Dit was vir my in skerp kontras met die koelbloedigheid waarmee sy die mans hanteer het – sy het hulle geslaan, genaai, gehaat en gebruik. “Dit het ek alles gedoen, die wêreld oor, maar vandag moet ek hier by jou voete bely dat ek nie altyd die liefde kon uithou nie. Dat ek soms mens geword het langs ’n ander lyf.” Wie was Helena werklik?

Ek dink Helena was eintlik ’n baie sensitiewe, intelligente kind wat verander het as gevolg van die verskriklike ervaring wat sy gehad het. Ek glo sy sou ook graag ’n “normale” lewe en “normale” verhoudings wou hê. Die trauma wat sy moes deurmaak, het haar egter magteloos laat voel. Die enigste manier wat sy kon vind om “weer mag te kry” was om seks te gebruik as ’n manier om mans, en veral haarself, te straf.

Seks bied vir haar ontvlugting, maar sy is tog deurgaans daarvan bewus dat dit ook sinneloos is; dat sy tog nie vir altyd kan weghardloop nie. Ek het gepoog om ’n karakter te skep wat met ’n soort van balanseertoertjie besig is en waar die skeidslyn tussen “waansin” en “normaliteit” nie altyd duidelik is nie.

Die vrou in swart: Cas van Rensburg het in sy resensie gesê daar is ’n duidelike verband tussen dié vrou en Helena se negatiewe moederbeeld. Vir my was dit eerder Helena se eie donker kant wat sy moes konfronteer? Help my hier!

Ek stem beslis eerder met jou saam. Die vrou in swart is inderdaad haar donker kant, ’n soort alter ego en moontlik ook haar gewete wat haar oral volg en folter. Dié dimensie het eers baie later bygekom.

Jy het genoem daar was regtig ’n Blossom in die inrigting waar jy gewerk het. Het dieselfde lot die regte Blossom getref?

Gelukkig het dieselfde lot nie die regte Blossom getref nie. Ek dink nie Naomi sou dit oorleef het as dit werklik met haar Blossom moes gebeur het nie. Dit het vir my gevoel asof die storie wel in dié rigting moet neig. Dit is dan ook waar Helena die streep trek en besef dat haar tyd in die inrigting verby is.

Grade van normaliteit was vir my ’n groot tema van die boek, en die wisselwerking tussen normaal en versteurd. Het jy vooraf besluit hoe jy hierdie aspek sou uitbeeld?

Dit was regtig moeilik om ’n karakter te skep wat so op die randjie leef; dit kan so maklik ongeloofwaardig wees. Dit was deurgaans ’n gestoei met hoe ver ’n mens haar waansin kan dryf terwyl sy nog steeds ’n geloofwaardige karakter kan wees met wie die leser kan identifiseer en deernis mee kan hê.

Ek het net die konsep gehad toe ek begin het, maar soos wat ek aan haar verhaal geskryf het, het sy so half vir my voorgeskryf presies waar die streep moet wees. Dit was moeilik, maar ek glo dat alle mense maar tot ’n meerdere of mindere mate “abnormale” gedagtes koester. Gelukkig leef almal dit nie, soos Helena, uit nie.

Ek het uit die staanspoor besluit om haar reis met haar kinders op dié manier te hanteer, maar die tweede deel van die slot het eers baie later vir my duidelik geword.

Die groot vraag: Wat wag vir ons as lesers uit jou toetsbord?

Sjoe, dis mooi gestel. Ek is tans besig met ’n “onortodokse” misdaadroman. Die werkstitel is Die afloerder, en dit handel oor ’n reeksmoordenaar wat hier in die Noord-Kaap aan die werk is. Ek probeer om in die karakter, wat ook mishandel is as kind, se kop te klim. Ek vermoed dat die tema “wat met mishandelde kinders kan gebeur wanneer hulle volwasse is”, my fassineer. Die verhaal word vanuit verskillende perspektiewe vertel: daar is ’n reeksmoordenaar, ’n speurder, ’n joernalis en ’n gemeenskapsleier. Dis baie kompleks en ek gooi maar die dinge in die pot, roer en hoop daar kom iets sinvols uit. Dit voel vir my asof ek nou al ’n miljoen boeke oor reeksverkragters en -moordenaars gelees het. Dit is regtig vir my belangrik om ’n geloofwaardige karakter te skep.

Ek moet bieg dat ek baie banger is vir dié karakter as wat ek vir Helena was. Dit is veral effe grillerig om in die nag oor hom te skryf. Ek maak maar altyd seker die deure is gesluit wanneer ek saam met hom in die studeerkamer is. Maar weer eens probeer ek ’n karakter skep wat, ten spyte van sy wreedheid en gruweldade, tog ’n mate van simpatie by die leser ontlok.

Is daar enigiets wat jy graag wou antwoord wat ek nie gevra het nie?

Nee, jy vra lekker moeilike, dog sinvolle vrae en ek dink ons het alles gedek.

Dankie, dankie, dankie!

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top