Magaqa se dood: keerpunt vir politieke moorde in Suid-Afrika?

  • 2

Die afgelope week was propvol betekenisvolle gebeure. Bell Pottinger se lidmaatskap van die Britse beheerliggaam vir openbare-betrekkinge-maatskappye, PRCA, word vir vyf jaar beëindig in wat algemeen as ’n triomf vir ons jong Suid-Afrikaanse demokrasie beskou word. Van hul belangrikste kliënte sien nie kans vir die negatiewe publisiteit nie, en onttrek hul rekeninge aan die firma. Lord Bell, uitvoerende hoofbeampte van Bell Pottinger, kondig sy bedanking aan. #CountryDuty op sy beste, sou mens dink.

Plaaslik is daar onderhoude om ’n nuwe SABC-raad saam te stel, te midde van intense mediabelangstelling. Die DA bring, in ’n skuif wat selfs politieke leke kon sien gaan misluk, ’n mosie om verkiesings te vervroeg en vervreem terselfdertyd van hul belangrikste alliansievennote. Die EFF, Cope en UDM bring ’n Konstitusionele Hof-aansoek om die speaker te dwing om met impeachment-prosedures teen die President te begin.

In dieselfde week beswyk Sindiso Magaqa aan sy wonde van ’n sluipmoordaanval en Kenny Kunene kondig aan dat daar ook ’n aanslag op sy lewe was.

In Lesotho word senior lede van die weermag om die lewe gebring.

Dit lyk dalk of hierdie gebeure niks met mekaar te doen het nie, maar bietjie nadere ondersoek dui op ’n ragfyn goue draad wat dit als verbind.

Kom ons begin by die aanvalle. Volgens Kunene en sy stergetuie, Gayton McKenzie, was daar 21 skote geskiet, en is dit blote geluk dat hy met sy lewe ontkom het. Die nuus was skaars uit, of die memes het begin.

In vele opsigte is die beweerde Kunene-aanval selfs meer tekenend van die Suid-Afrikaanse situasie as die een op Magaqa, uit die reaksies en die memes te oordeel. Niemand het dit ernstig opgeneem nie – en nie weens die gebrek aan beserings of getuies (of koeëlgate) nie. Dit het eers later uitgekom. Die onmiddellike reaksie was dat dit nie waar kan wees nie, want Kunene is nie polities belangrik genoeg om die onderwerp van ’n sluipmoordaanval te wees nie.

Magaqa, daarenteen, was ’n jong politikus met aansienlike invloed binne en buite sy onmiddellike sfeer, ’n ster wat vir dekades in die toekoms nog sommer helder sou kon geskyn het. ’n Bedreiging vir gevestigde belange, met ander woorde. Julius Malema het ook feitlik dadelik kommentaar gelewer dat van dieselfde persone wat nou so hul simpatie betuig, óf persoonlik betrokke was by die aanval óf weet wie die skuldige partye is. ’n Ernstige aantyging, want dit sou beteken dat lede binne dieselfde politieke party mekaar uitwis.

Daar is onlangs ’n kommissie aangestel om ondersoek in te stel na die vlaag van politieke moorde wat die afgelope tyd plaasgevind het. Almal na 1994, en almal skynbaar met die doel om vakatures te skep en tussenverkiesings af te dwing.

Politieke moorde is natuurlik niks vreemd vir ons nie, en nie uniek aan ons nie. Die Romeine het dit gedoen. Die Grieke het dit ietwat meer elegant gedoen. Wat ons in Suid-Afrika aan elegansie en poësie ontbreek, het ons voor opgemaak met die absolute bloeddorstigheid en entoesiasme van ons politieke moorde. Tsafendas met sy mes. Die gly-op-die-seep-moorde in die tronke gedurende apartheid. Briefbomme. Vlakplaas. Die KZN-panga-moorde voor 1994. Plaasmoorde met vuurhoutjie en panga en mes en geweer. En nou, in die 21ste eeu, semi-outomatiese vuurwapens op kamerade. Tussen 1994 en 2013 was daar in KwaZulu-Natal alleen ongeveer 450 politieke moorde.

Wat wel onnatuurlik en onheilspellend is, is die feit dat politieke moorde skynbaar gesien word as normaal in ’n demokrasie. Dit is nie. Demokrasie beteken juis dat daar strukture is waarbinne regimeverandering vreedsaam gedoen word. Demokrasie is uit bodem onversoenbaar met politieke moorde, met politieke geweld, met die afdwing van een wil op ’n ander.

Dit laat die vraag: Hoekom sal enigeen binne ’n demokratiese bestel deur geweld wil heers? Is dit omdat hulle nie regtig in die konsep van demokrasie glo nie? Is dit omdat die strukture waarbinne hulle moet werk, so fataal gebrekkig is dat dit nie werk nie, en geweld die enigste ander opsie is? Is dit omdat geweld al vir so lank die eerste oplossing is dat hulle nie meer ander oplossings oorweeg nie? Is dit omdat hulle kan, en glo hulle sal wegkom daarmee?

En as hulle bereid is om kamerade te vermoor vir ’n betreklik klein politieke prys, wat kan ons verwag wanneer daar op medium termyn omvangryke, regimeveranderende politieke verkiesings plaasvind? Kan ons verwag dat dieselfde persone wat nou moord pleeg, die uitslae sonder meer sal aanvaar en beheer vreedsaam sal oorhandig?

Dis die teenstrydigheid van hierdie pragtige land van ons. Ons kan hof toe gaan in ’n poging om van ’n onwelkome president ontslae te raak. Ons kan vryheid van spraak beskerm wanneer ons joernaliste bedreig word. Ons kan buitelanders wat die vrede probeer versteur, polities en ekonomies vernietig deur saam te staan. En dan kan ons, in dieselfde asem,  dieselfde demokratiese strukture wat ons toelaat om dit als te doen, ignoreer en onsself van binne vernietig.

Die goue draad wat deur al die gebeure in hierdie week loop, is dat ons besig is met ’n geveg vir die hart en siel van demokrasie. Alles balanseer op ’n mespunt.

Nkosi sikelel’ iAfrika.

  • 2

Kommentaar

  • Waarskynlik een van die belangrikste stukkies kommentaar oor ons demokrasie. Ek hoop almal wat dit lees dink daaroor en kom met antwoorde. Die mespunt waarop alles nou balanseer is waarlik te skerp om net te laat gaan met die hoop dat dit sal oorwaai. Dit is die tipe “goue draad'' wat eers gewoonlik by die ontleding van grootskaalse volksmoord gevolg word van die verkeerde kant af om redes te kry vir die vernietiging. Daar lê dit voor ons nou om te stuit, of om soos goeie joernaliste te volg en te rapporteer en toe te kyk hoe dit ontwikkel en tot daar niks meer aan gedoen kan word nie. 'n Kommissie van ondersoek sal niks daaraan kan doen nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top