LVSA/SAALA/SAVTO-jaarkongres 2013

  • 0

Die gesamentlike jaarkongres van die Linguistevereniging van Suider-Afrika (LVSA), die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Toegepaste Linguistiek (SAALA) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig (SAVTO) is 1–4 Julie in Stellenbosch aangebied. Die kollig het vanjaar geval op Taal: beleid, beplanning, praktyk en beginsels. Die kongres is gesamentlik deur die Taalsentrum, die Departement Afrikaans en Nederlands en die Departement Algemene Taalwetenskap gereël.

Wanneer studente, myself ingesluit, aan die woord “kongres” of “konferensie” dink, dink hulle gewoonlik aan ’n stywe affêre waar daar net “ou” akademici, wat nooit glimlag nie, betrokke is. Akademici wie se lus vir die lewe al geblus is deur dekades in die akademie en hierdie konferensies maar net bywoon om dit op hul CV’s te kan skryf. Groot was my verbasing toe ek agterkom dat hierdie mense ook maar net gewone mense is met ’n baie groot voorliefde vir taal en taalkunde, net soos ek!

Vir my as nagraadse student was hierdie konferensie my vuurdoop – die eerste keer wat ek een bygewoon het én die eerste keer dat ek ’n referaat moes lewer. Om voor ’n klas te staan en klas gee, en om ’n referaat te lewer verskil hemelbreed – ek sal jok as ek sê die senuwees het nie geknaag nie. Dit is egter goeie ondervinding wat ek opgedoen het, aangesien die kenners in die veld óf met jou navorsing saamstem en dink jy lewer ’n bydrae, óf van jou gaan verskil.

In die menigte sessies wat ek bygewoon het, was ’n paar meningsverskille onvermybaar (soos in die gees van enige akademiese aangeleentheid), of is mense geprys vir die navorsing wat hulle doen, aangesien dit nodig is dat daar meer op sekere onderwerpe gefokus moet word.

Interessante referate was onder andere dié van Colleen du Plessis, wat ondersoek ingestel het na die geldigheid van die graad 12-eksamenvraestelle van Engels as huistaal, asook die een van Jako Olivier, wat gepraat het oor taalinstandhouding en -verlies van Afrikaanssprekende emigrante. Wat ook baie opvallend was, is dat die aanbieders hul sessies nie té ernstig opgeneem het nie en steeds ’n grappie of twee kon inwerk, soos dr Johan Oosthuizen, wat die sintaktiese boomdiagramme in sy navorsing as “mooier as Charlize Theron” beskryf het. In die algemeen was dit baie professioneel, insiggewend en interessant.

Asof die spanning van ’n eerste referaat nie genoeg was nie, het ek verneem dat ek ook by ’n sessie ingedeel is as voorsitter, waar ek die spreker moes bekendstel, vertel watter universiteit hy/sy verteenwoordig en ook wat die titel van sy/haar referaat is. Die eerste hekkie was om nie my woorde deurmekaar te kry nie en daarna moes ek die stophorlosie fyn dophou – 20 minute per referaat (waar die laaste vyf minute, drie minute en minuut aangedui met kaarte moes word) en dan vyf minute per vraagsessie. Die probleem was egter dat party referate so interessant was dat ek self nie wou ophou luister nie, maar in die gees van regverdigheid moes die sprekers (soms) ongelukkig in die middel van hul sinne herinner word dat die tyd nou wérklik verstreke is. Dit was moeilik om die “kwaai” voorsitter te speel, veral wanneer die spreker met sulke smekende oë vir nog 30 sekondes gesoebat het.

Dit was nogal pret om die kenners in lewende lywe te sien en om uiteindelik die name by gesigte te kon voeg, onder andere dié van Tobie van Dyk, Albert Weideman en Leon de Stadler, wat reeds ’n bekende gesig op kampus is. Reeds sedert my voorgraadse studiejare gebruik ek gereeld artikels en boeke van hierdie “akademiese reuse” vir eie navorsing, juis oor hulle bydraes tot sekere navorsingsgebiede, en kon ek uiteindelik die outeurs sien wat ek jaar in en jaar uit by my bronnelyste gevoeg het. Benewens sy bydraes ten opsigte van taalbeplanning en die taalbeleid by die Universiteit Stellenbosch, was prof De Stadler ook een van die mees passievolle dosente by wie ek in my finale jaar klas gehad het, en sy klas was elke Vrydagoggend om agtuur vol wawydwakker (of dalk net-net wakker) studente.

Ek het gereeld gedurende die week “aha”-oomblikke gehad wanneer ek besef het wie is wie. Dan kan ek ook noem dat hulle waarlik vriendelik, heel ontspanne en aangenaam was. Ons het gedurende die vier dae van die konferensie taamlik genetwerk en kontakte opgebou met akademici van plaaslike universiteite, met die hoop op die lange duur dat die een hand die ander sal kan was.

Die fokus van my eie navorsing is vreemdetaalverwerwing, en daarom was die referate wat gehandel het oor taalbeleid, moedertaalonderrig en tweede- en vreemdetaalverwerwing vir my baie interessant. Nuwe perspektiewe op ou debatte (soos byvoorbeeld die taalbeleid aan die US en die implementering van parallelmedium-onderrig) is uitgelig, nuwe navorsing is bekendgestel en in sommige gevalle (hoop ek) is die kongresgangers met stof tot nadenke gelaat. ’n Hele aantal referate is in Afrikaans gelewer en die tolke moes dus reeds ’n week voor die aanvang van die konferensie die PowerPoint-skyfies kry om voor te berei. Daar is egter net hier en daar ’n Afrikaanse referaat bygewoon deur ’n Engelssprekende konferensieganger en die tolke kon oor die algemeen maar net rustig sit en luister na wat gesê word.

Ek was kinderlik opgewonde toe ek die program vir die konferensie sien – so baie taalonderwerpe! Vir die man op straat is dit seker baie vreemd om te dink dat iemand so opgewonde kan raak daaroor en dat moedertale, verskeie onderrigmetodes en die nuutste toevoeging tot die matriekkurrikulum al is waaroor taalkundiges kan praat. Ek wil die leser egter verseker dat dit nie so is nie – by Woensdagaand se konferensie-ete het ons tafel, wat bestaan het uit ’n klomp taalkundiges, se gesprek op ’n stadium gaan draai by gelatien en Boer soek ’n vrou. Ons is ook maar net gewone mense.

Vanjaar se kongres was werklik interessant en veral goeie ondervinding vir ’n “beginner” op die akademiese speelterrein. Ek sien uit na volgende jaar se samekoms.


Lees ook Menán van Heerden se verslag oor die konferensie hier op LitNet.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top